hy ’n klomp verskillende etniese groepe wat op hul eie elkeen ook ’n minderheid is. So is die Zoeloes dalk die grootste enkele groep, maar steeds ’n minderheid vergeleke met die res van die bevolking.
Die presidentsraad was ’n voorloper vir Botha se driekamer-parlement van 1983, wat ook bruin mense en Indiërs in die wetgewer betrek het. Die voorbehoud was natuurlik dat wittes se stemme altyd die meeste gewig dra om so te verhinder dat die ander groepe beduidende seggenskap kry.
Die PFP het Van Zyl Slabbert intussen as leier gekies. En hy maak geen geheim daarvan nie dat hy teen die sogenaamde hervormings is omdat dit steeds “70% van die mense uitsluit van dialoog en onderhandelinge”.22
Van Zyl Slabbert is ook gekant teen deelname aan die raad.
Maar Basson, in dié stadium voorsitter van die PFP-koukus in die volksraad, sê in die pers dat hy bereid is om in die presidentsraad te dien. Tot Van Zyl Slabbert se groot teleurstelling herhaal hy die standpunt in ’n debat in die volksraad.
Kort daarna is Basson uit die PFP. En ’n maand of wat later, wys Botha hom aan as lid van die presidentsraad. Die politieke opportunis se plan het gewerk.
Wiese bedank ook uit die PFP oor wat hy die party se “boikot-houding” noem.23
Hy beskou die presidentsraad as die grootste stap tot dusver in Suid-Afrika se onderhandelingsproses en ’n opregte beginpunt in die soeke na ’n algemeen aanvaarde grondwetlike bedeling.
“Dit behoort duidelik te wees vir alle objektiewe waarnemers dat die eerste minister en die regering, deur inter alia die aanwys van die presidentsraad, opreg is in die roete wat hulle volg vir onderhandeling met en tussen alle bevolkingsgroepe van ons land,” sê hy.
Hy beskryf die PFP se houding teenoor die presidentsraad as “onlogies en ondeurdag” van ’n party wat hom roem op onderhandelingspolitiek.24
Hiervan hou Van Zyl Slabbert glad nie en dít van iemand wat hy al van universiteitsdae ken en met wie hy goed klaarkom.
“As ek en my party gestereotipeer word as soekende na konfrontasie en radikalisasie, dan is ons in die goeie geselskap van gematigde swart en bruin leiers,” sê hy.25
Om ’n politieke opportunis, toevallig ook jou skoonpa, te volg, maak nie noodwendig van jou ’n kansvatter nie. Maar die tydsberekening laat baie mense snuf in die neus kry. Wiese verlaat die party net 10 dae voor die tussenverkiesing in Simonstad.
In Die Burger is dit voorbladnuus: “Slag tref PFP in Simonstad – Wiese uit oor boikot”.26
Nie eens die gewilde krieketspeler Eddie Barlow, wat in Wiese se plek teen Wiley staan, kan hond haaraf maak in ’n kiesafdeling wat as ’n bastion van die opposisie beskou word nie.
Die Engelse pers kritiseer Wiese. Wiley se oorwinning maak ook in die noorde opslae, met die Rand Daily Mail wat dit as hoofberig op sy voorblad dra.
Maar Wiese haal sy skouers op en sê hy het sy bedanking nie so beplan dat dit die tussenverkiesing moet beïnvloed nie.
Vir Wiley was dit die begin van groot dinge. Botha wys hom aan as minister van omgewingsake. Maar in 1987 sterf hy onder verdagte omstandighede met ’n skietwond aan die kop. Wiese beskryf hom in daardie stadium as “iemand wat ’n trotse nalatenskap vir sy mense en land agtergelaat het”.27
Dertig jaar later onthul ’n boek deur Chris Steyn en Mark Minnie dat sy nalatenskap nie heeltemal so trots is nie. In Die seuns van Bird Island word Wiley en die destydse minister van verdediging, Magnus Malan, se name genoem in verband met beweerde pedofilie en ’n bloedige toesmeerdery daarvan.
Terwyl Wiese lid van die Balie is, mis hy die opwinding van die sakewêreld. Terwyl hy in die diamantbedryf is, mis hy die Balie en sê “dis die beste klub op die dorp”.
In die agtergrond is daar planne om terug te keer na ’n klub wat nog veel meer sy eie is. ’n Klub ván sy eie dorp. ’n Klub met net soveel opwinding as die diamantbedryf, die politiek of die regswêreld.
Wiese sluit hom begin 1981 weer by Pep Stores aan.28 Teen die middel van die jaar is hy die uitvoerende ondervoorsitter. In November kondig die maatskappy aan dat Renier van Rooyen as uitvoerende voorsitter uittree en dat Wiese by hom oorneem.
Skaars 40 en aan die hoof van die land se opwindendste kleinhandelaar. Dit is mos iets om te vier.
Wiese hou ’n verjaardagpartytjie vir van sy beste vriende.
“Dit was ’n spoggerige affêre want 40 is ’n belangrike mylpaal in die lewe van ’n miljoenêr,” vertel een van die gaste, wat anoniem bly, aan die dagblad Beeld.29
Wiese het ’n hele restaurant in Bloubergstrand bespreek vir die geleentheid. Dit was sjampanje en eksotiese voorgeregte en die beste spyse onder die son, volgens die koerantberig. En die nagereg moet nog kom.
Groot was die verbasing toe elke gas ’n groot en doodeenvoudige oliebol op sy bord kry. Min het nog daarvoor kans gesien, veral nie ná die vullende watertandgeregte wat pas geëet is nie.
Maar toe kom die aankondiging dat drie van die oliebolle elk ’n diamant bevat. Die gaste weet natuurlik van die gasheer se ervaring met diamante. Hulle kou sorgvuldig aan die oliebolle. Beeld berig:
Een gas wat net nie kans gesien het om die oliebol te eet nie, het dit oral geknyp, niks gevoel nie en dit op die bord van ’n ander gas neergesit. Sy het die oliebol in stukkies gebreek en ’n pragtige diamant ter waarde van sowat R500 te voorskyn gebring.
Die ander diamante is nie dié aand gevind nie. En Beeld berig verder:
Na verneem word het heelparty van die gaste hul badkamergewoontes vir minstens die volgende twee dae heelwat verander om by die omstandighede aan te pas!
Die storie het versprei.
’n Jaar later hou ’n ryk egpaar in Johannesburg ’n spogpartytjie vir hul 15de huweliksherdenking. Ruscilla Joubert, die gasvrou, vertel dat sy gehoor het van ’n partytjie in die Kaap waar daar diamante in die nagereg was. Sy besluit toe om self iets spandabelrigs te doen en kry die spyseniers om buiten die kaviaar en ander lekkernye ook 22 karaat stofgoud op die sop te laat dryf, berig die Sunday Times.30
Die koerant vind toe meer uit oor die Kaapse partytjie wat die Goudstad se Jouberts geïnspireer het en spoor die stene terug tot by die Wieses van Clifton.
“Dit was ’n partytjie vir nabye vriende nadat Christo sy diamantmyn verkoop het,” vertel Caro.
Wiese se vennoot in Octha Diamonds het mos die vorige jaar sy belang in die onderneming oorgeneem. Maar was die nagereg regtig so ’n groot meevaller vir die gelukkige skattejagter?
“Ons het vir die grap ’n paar sirkonias in ’n klompie klein koeke gesit.”
Die koerant praat ook met haar man.
“Hul waarde was altesame R40,” sê Wiese.
6.
Pep Stores – die tweede keer
“Daar sal geen wesenlike veranderinge plaasvind nie. Die patroon, beleid en beginsels van die groep sal dieselfde bly. Moontlik net ’n verandering in styl.” 1
Christo Wiese, 1981
Een van die eerste dinge wat verander, is die naam.
Die Pep Stores waarvan Christo Wiese nou die baas is, is lankal nie meer net vyf klerewinkeltjies in die Noord-Kaap nie. Die groep het 500 winkels en verkoop meer as R200 miljoen se goedere per jaar. Dit is nie net meer klere nie, maar ook kruideniersware, want in 1979 het Pep Stores ’n ketting van agt winkels met die naam Shoprite gekoop. Verder is daar ’n eiendomsportefeulje en verskeie fabrieke.
Binne maande maak Pep Stores op die Johannesburgse aandelebeurs plek vir Pepkor.
Wiese en sy span herstruktureer die maatskappy in vier afdelings: klerewinkels, voedselkleinhandel, vervaardiging en eiendom.
Maar dié nuwe gedaante help niks as Wiese en sy span