Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua-keur 11


Скачать книгу

sal u natuurlik by ons kom inwoon. So, moet u asseblief oor niks bekommer nie, ook nie oor Lizelia nie, want ek kan baie goed na haar omsien, al is ek blind.”

      ’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan die sieke se mond toe sy moeisaam sê: “Ek waardeer alles wat u vir my doen en vir my toekoms beplan, baron, maar ek verkies liewer om terug te gaan na my eie land sodra ek uit die hospitaal ontslaan word. Al my belange is in Suid-Afrika en ek is ook nie gewoond aan ’n lewe van niksdoen …”

      “Ons sal weer oor u toekoms gesels sodra u uit die hospitaal ontslaan word, signora. Op die oomblik kan ek nie insien waarom u alleen in Suid-Afrika wil gaan woon nie,” val hy Irma met ’n ligte frons in die rede, asof haar teëpratery iets is wat vir hom absoluut ongehoord is. “In elk geval, moet asseblief nie huiwer om my te laat weet as u iets nodig het nie.”

      Irma bedank hom en sê dan versigtig: “Ek veronderstel julle is vanoggend getroud. Ek weet nie of ek julle moet gelukwens met so ’n … e … vreemde verbintenis nie. Ek kan dit nie ’n huwelik noem nie, want wat my aanbetref, is dit nie ’n huwelik nie. Ek beskou dit eerder as ’n … e … eienaardige indiensnemingskontrak. Ek sal julle dus nie gelukwens nie, maar ek hoop alles werk vir julle ten goede mee.”

      Ná hierdie woorde gaan Irma se oë toe van vermoeienis, en sy raak omtrent dadelik aan die slaap.

      Lizelia, wat nog steeds langs haar moeder se bed staan, sug hoorbaar en sê met ’n bekommerde stem: “Ek dink my moeder slaap. Sy lyk totaal uitgeput, so asof ons besoek vir haar te veeleisend was.”

      “In daardie geval moet ons maar liewer gaan sodat sy kan rus,” stel Edoardo voor met ’n onpersoonlike stem wat byna hooghartig klink. “Ek sal die dokter van die villa af bel om te hoor hoe laat hulle môreoggend met die operasie begin.”

      Lizelia groet haar slapende moeder met ’n sagte soentjie op die voorkop, dan neem sy die baron se arm en lei hom terug na die motor toe. Sy sou graag nog langer by haar moeder wou bly om haar gerus te stel oor haar huwelik met die wildvreemde man, maar sy besef ook dat Edoardo op die oomblik in haar sorg is en dat sy hom nie alleen durf huis toe stuur nie. Sy sal probeer om môreoggend by die hospitaal te wees voordat hulle haar moeder teater toe neem.

      Onderweg na die villa is albei weer stil en besig met hulle eie gedagtes. Lizelia dink aan die operasie wat voorlê, en die baron is weer vol wrewel oor sy blinde toestand wat hom so weerloos maak, sodat hy verplig was om vandag hierdie halsoorkop huwelik met ’n wildvreemde meisie aan te gaan. Sy familie sê nou wel sy is die mooiste vrou onder die son, maar wat baat haar skoonheid hom terwyl hy Francesca liefhet!

      Sy huwelik met haar sal hom ten minste beskerm teen die fortuinsoekers wat soos aasvoëls sit en wag vir ’n prooi om wie hulle kan toesak … Dit is die enigste voordeel wat hy uit hierdie huwelik sal trek …

      Met hulle tuiskoms onttrek Edoardo hom dadelik na sy studeerkamer, van waar hy bedags meeste van sy sake telefonies behartig. Lizelia sluit weer by haar skoonsuster, wat op die voorstoep ontspan, aan.

      “Ek hoop dit gaan môre ná die operasie sommer baie beter met jou moeder, Lizelia,” sê Tina besorg. “Ek wens mý moeder het nog gelewe. Maar nou ja, Edoardo is al wat ek het, behalwe die ander familie met wie jy vandag kennis gemaak het. En Edoardo, my liewe sussie, is nie deesdae die vriendelikste mens wat leef nie. Hy praat nooit oor homself nie en ons het nie eens van jou geweet nie.”

      Lizelia kyk die ouer vrou stil aan en knik afgetrokke. “Dis waar,” sê sy sag, “ hy is baie beslis nie ’n vriendelike mens nie. Ek dink hy is sinies, kil en ongenaakbaar, en as hy nie oppas nie, gaan hy nog ’n regte ou suurknol word.”

      Tina begin saggies lag en sê ná ’n rukkie baie ernstig en vertroulik: “Edoardo was nie altyd so onvriendelik nie, Lizelia. Sy gewese verloofde, Francesca Bove, se harteloosheid het van hom so ’n verbitterde mens gemaak. Maar hy sal wel later besef dat nie alle vroumense so gewetenloos soos Francesca is nie. Ek vrees net dat dit dan te laat sal wees om te vergoed vir al die skade wat sy verbittering gedoen het.”

      “Ja, ek het opgemerk dat hy selfs wantrouig is teenoor mense wat hom opreg goedgesind is,” kom dit van Lizelia.

      Tina knik. “Jy het gelyk. My broer vertrou op die oomblik niemand se vriendskap nie. Hy verkeer onder die indruk dat mense slegs vriendelik met hom is omdat hy ryk is, daarom is die familie nie juis gretig om hom te besoek nie. Ek en Marco besoek hom net Sondae en maak dan baie seker dat ons die aand weer vertrek. Trouens, ek voel baie jammer vir jou, Lizelia, want my broer is op die oomblik ’n moeilike mens om mee oor die weg te kom. Maar miskien is jy die anker wat hy nodig het om weer aan sy lewe balans te gee.”

      “Ek wonder of ek opgewasse is om vir hom as anker te dien,” sê Lizelia ingedagte. “Hy is so wêreldwys en gesofistikeerd …”

      Hulle sit nog op die voorstoep en gesels totdat dit tyd is om vir aandete te gaan verklee.

      Lizelia is opvallend stil waar sy teenoor Edoardo aan die tafel sit. ’n Uur of wat, terwyl sy en Tina op die voorstoep gesit en gesels het, het Tina daarin geslaag om haar gedagtes van haar moeder se siekte af te lei. Maar noudat sy Edoardo so trots en ongenaakbaar aan die bopunt van die tafel sien, dink sy onwillekeurig hoe haar moeder vrugteloos probeer het om met hom te redeneer.

      Lizelia is so diep ingedagte dat sy ruk soos sy skrik toe die baron skielik sê: “Jou moeder word om agtuur môreoggend geopereer, Lizelia. As jy halfagt by die hospitaal is, kan jy haar moontlik nog sien voordat sy na die teater geneem word.”

      “Dankie, ek sal so maak, Edoardo,” antwoord sy afgetrokke, want die onrus oor haar moeder neem weer vinnig toe. Sy hoop en bid dat die operasie suksesvol is en dat haar moeder gou sal herstel, want sy voel so eensaam en alleen in hierdie groot, vreemde stad met sy vreemde taal en gewoontes waarvan sy niks verstaan nie.

      Lizelia is so diep in haar eie ongelukkige gedagtes versonke dat die ander drie se stemme net vaag tot haar deurdring. Sy is bly toe die maaltyd eindelik ten einde loop en Tina haar na die klein sitkamertjie nooi. Later sluit die twee mans ook by hulle aan en hulle gesels oor dinge en mense wat vir Lizelia heeltemal vreemd is. Ná ’n rukkie maak sy verskoning om te gaan inkruip.

      “Ek sal die huishoudster vra om te sorg dat jy môreoggend betyds wakker gemaak word, Lizelia,” stel Edoardo haar gerus. “Ek dink jy het ’n goeie nagrus nodig ná so ’n vol dag soos vandag.”

      Lizelia wens almal ’n aangename nagrus toe en verlaat die vertrek. Toe sy later in die bed klim en die bedlamp afskakel, onthou sy weer dat dit vandag haar huweliksdag is. Die heelmiddag het sy nie een maal daaraan gedink nie, want dit voel nie vir haar asof dit haar huweliksdag kan wees nie. Haar en Edoardo se troufoto was vanaand in al die koerante, en tog voel sy nie soos ’n bruid nie.

      Lizelia lê ’n lang ruk aan haar en Edoardo se vreemde huwelik en dink. Sy weet dat sy wettiglik met hom getroud is, maar dit voel vir haar glad nie of sy getroud is nie. Sy beskou hom ook nie as haar man nie, maar eerder as haar werkgewer.

      Haar gedagtes kring nog om die aantreklike, ongenaakbare baron, toe die slaap haar oorval en haar moeë gees tot rus kom.

      Edoardo het woord gehou, want sy huishoudster maak Lizelia die volgende oggend betyds wakker om gou te bad, aan te trek en ’n haastige ontbyt te nuttig voordat sy hospitaal toe vertrek.

      Almal behalwe die bediendes slaap nog toe Lizelia die villa verlaat. Sy wou die huishoudster vra of Gino haar hospitaal toe sal neem, maar die huishoudster kan nie ’n woord Engels verstaan nie en Lizelia kan weer nie ’n woord Italiaans praat nie. Sy besluit dus maar om ’n bus te haal.

      Sy moet so lank vir ’n bus wag dat sy hopeloos te laat by die hospitaal aankom om haar ma te sien. Sy vind haar bed leeg en besef dat sy alreeds na die teater geneem is.

      Sy moes vroeër gekom het … sy moes nooit ontbyt geëet het nie, dan sou sy betyds hier gewees het om haar voor die operasie te sien, verwyt Lizelia haarself terwyl sy met traanbenewelde oë na die leë bed staar.

      Die saalsuster kom die vertrek binne en groet Lizelia vriendelik. Sy raak ’n lang string Italiaanse woorde kwyt, waarvan Lizelia