Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua-keur 11


Скачать книгу

jy hoe hard fluister die gaste, Lizelia?” vra Tina saggies. “Hulle is almal in vervoering oor my broer se skone bruid.”

      “Ag nee, jy verbeel jou dit,” laat Lizelia met blosende wange hoor. “My spieël het nog nooit vir my gesê dat ek buitengewoon mooi is nie.”

      Dan is hulle by Edoardo en Marco, en Tina is genoodsaak om te swyg.

      Lizelia neem die arm wat Edoardo na haar uithou, en is meteens steurend bewus van haar skamel lengte langs hierdie lang, swartgeklede man wat oor ’n paar minute haar wettige eggenoot sal wees.

      Alles verloop vir Lizelia soos ’n onwerklike droom. Sy hoor hoe die predikant hulle man en vrou verklaar, maar sy is nie eens daarvan bewus dat Edoardo, behalwe die trouring, ook ’n fabelagtige verloofring wat uit twee yslike blou diamante bestaan aan haar vinger steek nie.

      Eers toe sy hom saggies langs haar hoor sê: “Ek het nog nooit ’n vrou met sulke fyn handjies teengekom nie,” kyk sy af na haar hand en merk die twee blou diamante wat so groot soos ertjiepitte is. Sy besef dadelik dat die verloofring slegs bedoel is om die skyn voor die familie te bewaar. Sodra hulle vertrek het, sal sy die ring weer vir hom teruggee.

      Die predikant vertrek dadelik nadat hy die egpaar gelukgewens het, om sy gebruiklike oggendbesoek by die hospitaal af te lê. Hierna word hulle deur die familie gelukgewens, foto’s word deur ’n paar verslaggewers geneem, en dan gaan sit almal aan vir ’n feestelike noenmaal.

      Sjampanje vloei vrylik, maar Lizelia drink net een glasie en sy merk dat Edoardo dieselfde doen.

      Die gaste vertoef nog ’n rukkie ná ete, toe maak almal aanstaltes om te vertrek – behalwe die baron se swaer en suster wat deur hom genooi is om ’n paar dae te kuier.

      Nadat die gaste vertrek het, maak Lizelia verskoning om te gaan verklee. Maar dan hoor sy Edoardo skielik sê: “Ek wil graag voel hoe jy lyk voordat jy gaan, Lizelia, as jy nie omgee nie.” Hy staan van die rusbank af op en vervolg: “Kom staan asseblief hier voor my. Al het ek nie oë om jou te sien nie, kan my vingers my net so baie vertel.”

      Edoardo voel eers liggies oor haar gesig en haar hare met sy vingers, dan voel dit vir Lizelia of sy hande saggies, liefkosend oor haar skouers, haar arms, haar dun middeltjie en haar heupe streel. Sy voel hoe ’n warm blos teen haar nek opstoot. Dan hoor sy hom weer sê: “Jy is inderdaad ’n mooi bruidjie.” Die baron laat sak sy hande en vervolg sag: “Jy kan nou maar gaan verklee, Lizelia; verkieslik in ’n tabberd wat ook geskik sal wees vir ’n besoek aan jou moeder. Ek sal vanaand saam met jou hospitaal toe gaan.”

      Lizelia neem sy arm en sê sag: “Laat ek jou net eers help om te sit, dan sal ek gaan verklee …”

      “Toe maar, ek sal Eduardo help, Lizelia,” bied Marco vriendelik aan en kom terselfdertyd orent.

      Maar Edoardo tree dadelik tussenbei deur half gebiedend te sê: “Laat staan vir Lizelia, Marco. Dit is van vandag af haar plig om my by te staan en my oë te wees.”

      Lizelia help hierdie vreemdeling wat nou haar man is versigtig om op die rusbank te gaan sit. Dan verlaat sy die ontvangskamer en gaan na haar slaapkamer. Alles voel nog steeds vir haar vreemd en onwerklik, so asof dit met iemand anders gebeur en nie met haar nie. Maar dan dink sy aan Edoardo se woorde dat dit van vandag af haar plig is om hom by te staan, en dit tref haar dat vandag se gebeure ’n werklikheid is en dat dit een van die redes is waarom hy vandag met haar getrou het.

      Dit voel nog steeds vir haar of sy droom toe sy een van die nuwe uitrustings aantrek wat sy gister op die baron se bevel moes koop.

      Lizelia se oog val weer op die kosbare diamantring aan haar vinger en sy besluit om dit sonder versuim aan die baron terug te gee. Sy weet hy het dit bloot aan haar vinger gesteek om die skyn voor sy familie te bewaar, maar noudat die ring sy doel gedien het, moet sy dit liewer teruggee. Sy weier om die verantwoordelikheid vir so ’n kosbare juweel te aanvaar.

      Met hierdie gedagte gaan sy onmiddellik terug na die ontvangskamer, waar sy Edoardo alleen aantref.

      “Mag ek jou asseblief vir ’n oomblik spreek, Edoardo?” vra sy beleef. Sy staan ’n entjie van die rusbank af.

      “Ja, kom sit hier langs my en vertel my waaroor jy met my wil praat, Lizelia,” nooi hy saaklik.

      Sy stem klink so onvriendelik dat sy meteens huiwerig voel om langs hom te gaan sit. Maar sy staal haarself en neem langs hom plaas.

      Haar stem klink onseker toe sy sê: “Daar is nie eintlik iets waaroor ek met jou wil praat nie. Ek wil graag … e … Ek bedoel, ek wil maar net jou kosbare diamantring teruggee. Ek besef dit is ’n erfstuk …”

      “Jy het gelyk,” val hy haar ongeërg in die rede, “dit is ’n erfstuk. Dit is die familiering waarmee elke De Mashantini- erfgenaam verloof raak.”

      “In daardie geval hoort die ring in jou brandkluis.” Sy haal die ring van haar vinger af en plaas dit versigtig in die edelman se hand.

      “Nee, ek glo nie die ring se plek is in my brandkluis nie. Sy plek is aan jou vinger,” hoor sy Edoardo met ’n besliste stem sê. Hy hou sy hand na haar uit. “Gee my jou hand sodat ek die ring weer aan jou vinger kan steek. My familie sê almal jy is die mooiste vrou onder die son, en ’n mooi vrou moet ook mooi juwele dra. Die ring bly dus aan jou vinger.” Sy stem klink koud en afgetrokke, asof Lizelia se aanvalligheid hom nie in die minste beïndruk nie, asof dit hom glad nie kan skeel hoe sy lyk nie.

      Hy steek die ring weer aan haar vinger en hou haar hand in syne terwyl hy vra: “Hoe laat wil jy jou moeder besoek?”

      “Ek dink dit sal beter wees om haar vroeg te besoek. Dan kan sy ten minste vroeg gaan slaap en goed uitrus vir die operasie wat môreoggend voorlê,” doen Lizelia aan die hand.

      “Nou goed,” sê hy en los haar hand stadig, “ontbied asseblief vir Mario om my te help verklee; daarna kan ons maar dadelik gaan.” Hy verduidelik aan haar waar sy die klokkie se knoppie sal vind, en ná ’n rukkie maak Mario sy verskyning in die ontvangskamer.

      Edoardo is baie deftig uitgevat in ’n roomkleurige pak met bypassende skoene en kouse. Hy is ’n lang, skraal man en die snit en die lengte van sy baadjie laat hom nog langer lyk. Sy blink, swart hare is netjies agteroor gekam en sy skraal gesig met die fynbesnede gelaatstrekke is uitdrukkingloos – nie soos ’n bruidegom op sy troudag behoort te lyk nie

      Onderweg na die hospitaal is dit stil in die motor. Lizelia se gedagtes draai nou onophoudelik om haar moeder wat môre ’n uiters gewaagde operasie moet ondergaan. Edoardo dink aan die ongeluk wat hom sy sig ontneem het en die hartelose optrede van sy gewese verloofde.

      Vir ander mense wat so ’n ramp oorleef het, was daar genesing en berusting, maar vir hom sal daar geen berusting wees voordat hy weer die gebruik van sy oë het nie. Dit is die afgelope maande al die belangrikste ding in sy lewe om weer te kan sien.

      Gino hou voor die hospitaal stil en help Edoardo om uit die motor te klim.

      “Jy kan vir ons hier in die motor wag, Gino,” spreek die baron sy motorbestuurder op Italiaans aan. “Die barones sal my nou verder bystaan.”

      Lizelia neem Edoardo se arm en lei hom versigtig binnetoe. Gelukkig is haar moeder se kamer op die grondverdieping en is dit nie nodig om trappe te klim of ’n hysbak te gebruik nie. Dit neem hulle ook nie lank om Irma se kamer te bereik nie.

      Haar moeder is nog wakker toe Lizelia en Edoardo die siekekamer binnestap en langs haar bed gaan staan.

      “Ou Moeksie, ek wil graag die baron Edoardo de Mashatini aan Moeks voorstel,” sê Lizelia op Engels. “My moeder, mevrou Irma Heyns, Edoardo.”

      Die baron erken die bekendstelling en dan help Lizelia hom om op die stoel langs die bed te gaan sit. Sy buk af en groet haar moeder met ’n liefdevolle kus op haar bleek voorkop.

      Lizelia wou net na haar moeder se gesondheid verneem, toe Edoardo sê: “Ek veronderstel u is gereed vir die operasie wat voorlê, signora Heyns. Professor Landuzzi is een van die wêreld se bekwaamste