is om haar klere in te pak vir julle kuiertjie op Oggendglorie,” antwoord Gideon gerusstellend. Dan vervolg hy met ’n tikkie kommer in sy stem: “Van Oggendglorie gepraat: is jy nog van plan om saam met Sonette by haar grootouers te gaan kuier?”
“O ja, Oupa. Oupa weet net nie hoe bly ek is dat Sonette my na hulle plaas uitgenooi het nie, want om saam met Oupa by nog ’n emeritusregter in Nieu-Seeland te gaan kuier …”
’n Glimlag van verleentheid verf ’n sagte blos op haar wange en sy gaan verskonend voort: “Ek bedoel dit nie beledigend nie, Oupa. Maar ek wil nie maande lank op ’n yslike skaapplaas saam met twee oudregters en een tannie kuier nie.”
“Een ou tannie en duisende skape,” terg hy. “Solank jy onthou Oggendglorie is ook ’n skaapplaas. Maar daar is ’n verskil: dis jóú skaapplaas.”
“Oupa se skaapplaas. Ek weet ek gaan Oggendglorie eendag erf, maar Oupa sal nooit doodgaan nie – nie voordat ek ook stokoud is nie,” antwoord sy. Die vrees wat op haar ouma se dood gevolg het, is weer vars in haar geheue.
“Ek dink nie jy luister altyd wanneer ek praat nie, Elzeri,” verwyt Gideon.
Hy kyk haar oomblikke lank swygend aan en verduidelik dan: “Jy weet tog reeds: jou pa is kort ná jou geboorte dood, en vanselfsprekend het jy jou ouma Beth se erfgenaam geword. Oggendglorie was haar erfplaas, en dis nou joune. Vreemd, ná die eerste Elizabeth – vir wie die skaapboer Hendrik Weidemann die pragtige ou opstal gebou het – was daar altyd net dogters. En dit was altyd ’n Elizabeth wat die plaas geërf het. Jou pa, Dandus, was die eerste seun wat Oggendglorie sou erf. En jou ma …”
Elzeri hoor die huiwering in sy stem, sien die onsekerheid in sy oë en sê vinnig: “My pa en ma het saam in ’n sneeustorting in Switserland gesterf, maar ek en Oupa praat nie oor die dood nie. Nie meer nie, want ons is moeg van hartseer wees. Oupa het beloof!”
Gideon sug hoofskuddend en sê met ongewone erns: “Ons moet praat, Elzeri, anders durf ek jou nie op Oggendglorie laat kuier nie. Ek kan nie toelaat dat jy die waarheid oor jou ma uit die monde van vreemdelinge hoor nie.”
“Die waarheid oor my ma? Maar sy is dood, Oupa! Dis wat Ouma gesê het. As mense oor my ma wil skinder, kan hulle maar. Dis nie nodig dat ek alles oor haar moet weet nie. Sy is dood … en dis al,” protesteer Elzeri.
Sy voel ineens vreemd onveilig en pleit met haar oë dat Gideon die ou waarheid sal bevestig.
“Nee, Elzeri, jou ouma het jou nooit van jou ma se dood vertel nie. Toe jy die eerste maal besef het dat ander kinders deur ’n pa en ’n ma grootgemaak word, het jy jou ouma oor jou ouers uitgevra. Sy het jou van jou pa se dood in die sneeustorting vertel en jy het aanvaar dat jou ouers saam gesterf het. In daardie stadium was dit makliker om jou te laat glo dat hulle albei dood is, want jy was te klein om ’n verwarrende volwasse wêreld te verstaan.”
Elzeri staar hom oomblikke lank onbegrypend aan. Sy voel vrees vir ’n onaanvaarbare waarheid soos ’n klam, versmorende duisternis om haar vou en vra skor: “Wat insinueer Oupa? Lewe my ma nog?”
Gideon knik stom sy kop, sy gelaat ineens grysbleek. Hy strek sy hand met ’n hulpelose gebaar na haar uit. Hy maak sy mond herhaalde male oop, asof hy wil praat, maar laat sak weer sy hand, sy hele houding sprekend van verslae onmag.
Elzeri kyk met liefdevolle kommer na hom. Sy merk die strakheid van sy sterk gelaatstrekke, die pyn in sy donker oë, en krimp innerlik ineen. Haar oupa lyk weer soos die dag toe haar ouma dood is: so verskriklik oud en alleen, so hulpeloos en verlore. Asof hy nie langer die moed het om voort te gaan met die lewe nie. Maar hy mag nie doodgaan nie! Niks in die wêreld is belangriker as dat hy gesond en gelukkig moet wees nie.
“Oupatjie …” pleit sy. Sy spring op en gaan kniel aan sy voete. Sy sit haar hande weerskante van sy gesig en sê dringend: “Moenie hartseer wees nie, Oupa. Ons hoef nie oor my ma te praat nie, want ek ken haar in elk geval nie. Asseblief, Oupa, moenie so ongelukkig lyk nie!”
“My liefkind,” sê Gideon, ’n skaduglimlag om sy lippe. “Ons het al die jare besef ons doen jou ’n onreg aan, maar jy was so ’n gelukkige, gebalanseerde kind dat ons verkies het om die waarheid te verswyg. Met jou mondigwording het ek en Beth afgespreek om jou van jou ma te vertel sodra jy jou universiteitstudie voltooi het. Jy het verlede week jou finale eksamen afgelê en nou –”
“Nou weet ek my ma is nie dood nie. Kon sy my nie versorg nie, Oupa? Sy is nie dalk … kranksinnig of … of ’n misdadiger nie?” vra Elzeri ontsteld.
Gideon vee met sy regterhand oor sy mond, maar sy oë verraai sy glimlag. “My liewe kind, jou ryke verbeelding haal die angel uit die donkerste oomblikke van my lewe. Nee, Elzeri, jou ma is ’n normale vrou.”
“Maar sy het my weggesmyt?” sê Elzeri reguit. Sy ervaar ’n oomblik van bitterheid, maar haal dan haar skouers op. “Dis háár verlies, Oupa. Ek is bly ouma Beth het my grootgemaak.”
“Nee, Elzeri, jou ma het jou nie weggegooi nie. Sy sal die situasie beter as ek kan verduidelik – sy wil jou graag ontmoet. Sal jy haar ontmoet, kleinding?”
Elzeri kom orent, ’n kwelfrons tussen haar wenkbroue.
“Ek weet nie, Oupa. Ek dink ek sal solank na Sonette se woonstel toe ry. Ek het ’n sleutel en ek sal daar op haar wag. Dalk sal dit help as ek met Sonette oor my onbekende ma kan praat,” antwoord sy afgetrokke en soengroet Gideon.
Elzeri stoot Sonette se woonsteldeur oop. Sy merk dat die kombuislig brand en druk die voordeur agter haar toe.
“Haai, Sonette! Ek kan nie glo ek het jou eindelik opgespoor nie!” roep sy terwyl sy deur die donker sitkamer na die kombuis draf.
Die kombuislig word afgeskakel toe sy die deur bereik en sy ruk in haar spore tot stilstand. “Moenie laf …” begin sy onthuts, en snak na haar asem toe sy ’n donker gestalte voor haar gewaar.
Sy maak haar mond instinktief oop om te gil, maar ’n sterk arm gryp haar vas en ’n hand smoor die beangste gil op haar lippe.
2
Skok laat Elzeri se hart pynlik in haar bors ruk en laat versteen elke spier in haar liggaam. Sy het ’n inbreker in Sonette se kombuis betrap en nou … en nou … Sy moet iets doen!
Die man gaan haar versmoor, want sy kan nie asemhaal nie. Nee, sy kan, maar sy is só bang dat sy vergeet het om asem te haal. As die man se arm nie soos ’n staalband om haar bors en arms gesluit het nie, kon sy …
“Dis vir die onverdiende skop op my maermerrie, klein pes!” sê Arendt uittartend, sy asem warm in haar oor. Hy los haar en skakel die kombuislig aan.
Sy knip haar oë, verblind deur die onverwagte helderheid van die lig, en hou aan om haar oë te knip om van die onverwagte wasigheid voor haar oë ontslae te raak.
“Klein tjankbalie! Jy het my in die grotte verseker jy is ’n supersterk meisie met bultende spiere en kennis van karate, maar nou huil jy soos ’n baba,” jou Arendt haar uit. Hy tel ’n rol handdoekpapier op en druk dit in haar hande. “Blaas jou neus en droog jou trane af, meisiemens. Sonette sal nie plasse water op haar skoon kombuisvloer waardeer nie.”
Sy was nie eens bewus daarvan dat sy huil nie, dink Elzeri verslae, want dis asof haar oë sonder haar wete en sonder snikke huil. En sy weet nie waarom sy huil nie. Dit was ’n aaklige skok om in die donker deur iemand vasgegryp te word, maar gewoonlik is sy kwaad as sy skrik.
Maar sy is nie nou kwaad nie, dink sy en staar deur haar trane na Arendt, wat haar fronsend betrag. Sy is net ontsteld en hartseer, daarom kan sy nie ophou huil nie.
“Elzeri?” Arendt vat die rol handdoekpapier uit haar hand, skeur ’n strook af en klad haar trane met versigtige vingers. “Ek is nie spyt dat ek jou laat skrik het nie, want jy het my geskop, maar ek is jammer dat jy so verskriklik huil. Genugtig, meisiemens, dis nie nodig om dit te oordryf nie! Hoe vinniger ek jou trane afdroog, hoe vinniger huil jy! My ouma sê suikerwater is goed vir skok. Wil jy suikerwater hê?”