Schalkie van Wyk

Iemand soos jy


Скачать книгу

begin Arendt, en swyg toe die voordeur agter hom oopgaan.

      “Hallo, al die gesonde mense!” groet Sonette van Breda sonnig uit die deur.

      Sy trek die gapende Dawie Coetzer die vertrek binne. “Maak jou mond toe en jou oë oop, Dawie, en groet vir Elzeri en Arendt.”

      Elzeri glimlag onwillekeurig toe die lang, atleties geboude Dawie sy arms moeg strek asof hy hoop om só wakker te skrik, en dan opnuut agter sy hand gaap. Dawie werk so hard tydens sy hospitaaljaar dat hy voortdurend te min slaap kry, dink sy simpatiek. Maar vaak of wakker, hy is haar Dawie – haar vriend en broer en beste maat vandat sy kan onthou.

      Dawie stoot die vingers van sy regterhand deur sy kort, blonde kuif en glimlag verskonend. “Jammer, julle, maar dinge het vannag mal gegaan in die hospitaal. Bly te kenne, Arendt,” groet hy met ’n vriendelike kopknik.

      Hy loop na Elzeri en druk ’n soen op haar hare. “Hallo, my pop. Trek jou sandale aan en laat ons weg wees. Sonette vertel my julle ry oor ’n uur Oggendglorie toe.”

      “Is nie,” protesteer Elzeri terwyl sy haar sandale aantrek.

      “Is,” kom dit nadruklik van Arendt. “Dis ’n lang pad Noord-Kaap toe, en die plaaspaaie het nie genade met klein motortjies nie. Jou selfoon en sleutels lê op die muurtafeltjie, Elzeri. Jy kan maar jou hare en tande by die huis gaan borsel. Ons laai jou stiptelik om halfnege op.”

      Elzeri ignoreer hom en kyk pleitend na Sonette. “Ek kan nie vanoggend reeds vertrek nie, Sonette. Oupa Gideon het my gisteraand van my ma vertel en daar is nog ’n duisend dinge wat ek wil weet. Ek sal oor ’n dag of twee met my eie motor kom.”

      “Alleen?” vra Arendt afkeurend.

      Elzeri kyk in sy ligbruin oë, wat haar met die waaksaamheid van ’n roofvoël betrag, en knyp haar oë styf toe. “Vat hom weg, Sonette. Asseblief, vat hom net weg!” pleit sy desperaat.

      Sy kyk verwytend na haar oorblufte vriendin. “Ek veronderstel julle is goeie vriende as hy en sy vrou hulle woonstel vir jou leen, maar ná vandag wil ek hom nooit weer sien nie. Hy is arrogant, onbeskof en befoeterd, en hy behandel my asof ek net nog ’n skaap is. Ek kan heeltemal verstaan waarom jy my nooit van hom vertel het nie. Ek sou ook skaam gewees het om oor hom te praat as hy my vriend was.”

      “Wat het jy met haar aangevang, Arendt?” vra Sonette en draai beskuldigend na hom.

      “Op die aarde niks nie, maar nou wens ek ek het!” antwoord hy onstuimig.

      “Toe nou maar, Elzeri,” kom dit paaiend van Dawie terwyl hy sy arm om haar skouers slaan en haar ’n drukkie gee.

      “My meisie is altyd omgekrap as sy nie in haar eie bed geslaap het nie,” verduidelik hy partydig en kyk krities na die rusbank. “Geen mens kan op so ’n smal bank slaap nie. Jy het Sonette gebel om te sê Elzeri het op die bank aan die slaap geraak, Arendt. Kon jy haar nie na ’n bed toe dra nie?”

      “Nee. My skape slaap waar hulle gaan lê,” snou Arendt hom toe.

      Hy draai na Sonette. “En nou gaan ek my tande borsel en in die badkamer wegkruip totdat jy van jou lastige kuiergaste ontslae geraak het, Sonette. En sê vir jou oupa en ouma ek sit nie my voete in hulle opstal terwyl hierdie snipperige meisiemens daar kuier nie!”

      Sonette staar hom verdwaas agterna toe hy met lang hale die sitkamer uitstap.

      Sy draai verward na Elzeri. “Wat het jy gedoen om van Arendt ’n vyand te maak, Elzeri? Hy is die verdraagsaamste mens wat ek ken, maar as hy as gevolg van jou nie by my oupa-hulle wil kuier nie …” Nuuskierigheid laat verhelder haar gesig. “Vertel, mens! Waaroor het julle rusie gehad?”

      “Dalk is dit my swart hare en my groen oë,” antwoord Elzeri misnoeg. “Ek wed sy vrou is ’n lang, slanke rooikop met blou oë soos jy, want Arendt het my aangegluur nog voordat oupa Gideon hom aan my voorgestel het. Sal jou oupa-hulle vies wees as Arendt ter wille van my wegbly van Oggendglorie af?”

      “Natuurlik nie. En as jy werklik nie saam met my en Arendt wil ry nie, verwag ons jou voor die naweek op Oggendglorie,” antwoord Sonette, en vergesel Elzeri en Dawie geselsend na hulle motors.

      Gideon laat sak sy koerant en kyk met vonkelende oë na Elzeri, wat ná ’n vinnige stort sy studeerkamer binnekom.

      “Jy lyk silwerskoon en splinternuut, kleinding. Het dit gehelp om gisteraand met Arendt oor jou onbekende ma te gesels?” vra hy en poog om met ’n glimlag sy kommer te verberg.

      “Ek was so simpel, Oupa. Ek het soos ’n baba gehuil, selfs al weet ek nou nog nie waarom ek gehuil het nie,” vertel sy afgehaal terwyl sy op ’n donkerbruin leerstoel voor sy lessenaar gaan sit. “Dalk was dit die skok om te hoor my ma leef nog, of die hartseer omdat sy my nie wou gehad het nie. Dit was so ’n deurmekaar aand en Arendt …”

      Sy swyg fronsend, haar oë nikssiende op die tapyt. Dan kyk sy op en sê venynig: “Hy is die dominerendste man wat ek ken! Oupa weet mos: daar is mense wat ’n mens kriewelrig laat voel. Arendt laat my kriewelrig voel, so asof ek nie in my eie vel pas nie.”

      “E … ja, as jy so sê.” Gideon verbloem ’n glimlag met ’n kuggie agter sy hand en vra belangstellend: “Kon Arendt jou enigiets oor jou ma vertel?”

      “Net dat sy ’n mooi blonde vrou is en dat sy haar maklik deur ander mense laat voorskryf – of so iets. Is my ma ’n swakkeling, Oupa?”

      “Allermins. Jou pa, Dandus, en jou ma, Riana Benadé, het soos jy en Dawie saam as buurkinders grootgeword. Riana was –”

      “Ek onthou nou!” val Elzeri hom in die rede. “Leon Benadé was oupa se vennoot, totdat hy en sy vrou na Nieu-Seeland geëmigreer het. Hy is my oupa! En Oupa gaan volgende week by hom kuier. Hoekom kan ek nie saamgaan nie, Oupa?”

      “Stadig, Elzeri, stadig. Leon Benadé is ’n neef van jou oupa Gerhard Benadé. Riana se ouers was meer as twintig jaar ouer as ek en Beth, en Riana was hulle enigste kind en ’n laatlammetjie. Jou oupa en ouma Benadé is albei reeds oorlede, kleinding,” verduidelik Gideon, sy stemtoon paaiend.

      “O … Ek het darem nog vir Oupa,” troos sy haarself en vra nuuskierig: “Was Oupa en ouma Beth bly toe my pa en ma getroud is? Het Oupa-hulle van my ma gehou?”

      “Ons was baie lief vir Riana, maar hulle huwelik … Nee, ons was nie gelukkig oor hulle besluit om op een-en-twintig te trou nie. Riana was volwasse genoeg vir so ’n belangrike stap, maar Dandus?” Gideon skud sy kop. “Dandus was ’n intelligente, talentvolle jong man, met die klem op jonk. Beth … ek en jou ouma het te maklik aan Dandus se versoeke toegegee, en hom moontlik tot in die afgrond bederf omdat hy so kosbaar vir ons albei was.”

      “Maar Oupa bederf my ook,” kom dit onbegrypend van Elzeri.

      “Nie soos ons Dandus bederf het nie. Hy was veronderstel om op universiteit te wees, om soos Riana sy graad binne vier jaar te verwerf, maar Dandus het vir avontuur geleef. Hy was dol oor bergklim, diepseeduik en gereelde skivakansies in Switserland. Ek het soms my stem dik gemaak, maar Beth het my altyd daaraan herinner dat Dandus jonk is, dat hy die reg het om sy jeug te geniet, en dat daar oorgenoeg tyd was vir studie en die verantwoordelikheid van ’n volwassene.”

      “Maar waarom was hy so haastig om te trou as hy soveel van ’n avontuurlike lewe gehou het, Oupa?”

      Gideon glimlag wrang. “Wat sy motivering was, kan ek jou nie sê nie, maar ek weet wat ons kant van die saak was. Ek het jou gister so te sê gedwing om saam met Arendt die Sterkfonteingrotte te besigtig omdat ek reeds vir twee kaartjies betaal het. Ek en Beth het jou geleer om nie geld te mors nie, en ons het ook geleer om nee te sê vir jou. Wat Dandus gevra het, het hy gekry. Daarom het ek en Beth ná enkele halfhartige besware ingestem dat hy en Riana trou. Moontlik het ons albei heimlik gehoop dat ’n huwelik Dandus verantwoordelikheid sou leer en groter bestendigheid in sy lewe sou bring. Ongelukkig het dit nie gebeur nie.”

      Elzeri sien die uitdrukking van teleurstelling en selfverwyt op Gideon se gelaat en sê aarselend: