Schalkie van Wyk

Iemand soos jy


Скачать книгу

vertel jou ma is ’n mooi blonde vrou – ’n saggeaarde mens wat haar miskien te maklik deur ander laat oorheers. Maar dis omtrent al wat ek van haar weet. Het jy nie foto’s van haar en jou pa nie?”

      “Nee.” Elzeri byt tobbend op haar onderlip, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “My ouma het altyd gesê foto’s maak haar net hartseer, daarom het sy al haar foto’s van my pa en ma weggemaak. Maar dit was dan nie werklik die rede waarom sy nie eens een ou foto’tjie van my ouers gehou het nie: sy was bang ek herken my ma as ek haar êrens raakloop.”

      Hoop laat verhelder haar oë en sy gaan gretig voort: “Jy het gesê my ma het jare lank in julle kontrei gewoon. Kom kuier sy nog gereeld? Dalk ontmoet ek haar terwyl ek op Oggendglorie kuier!”

      Arendt huiwer en vra dan met nadruklike erns: “Is jy seker jy wil haar ontmoet, Elzeri? Op slot van sake is sy die vrou wat jou – in jou eie woorde – weggesmyt het.”

      “Ek weet wat ek gesê het, maar noudat ons daaroor gepraat het … Jy het tog gesê my ma sou nie ligtelik van my afstand gedoen het nie. Sy moes ’n goeie rede gehad het, maar watter rede? Ek wil weet, anders sal ek vir die res van my lewe daaroor wonder.”

      “Die waarheid is nie altyd aangenaam nie, Elzeri. Jy gaan jou ma haat as jy besluit haar redes was net oppervlakkige verskonings om van ’n lastige baba ontslae te raak. Is dit nie beter om haar nooit te ontmoet nie?” vra Arendt waarskuwend.

      “Hoe kan ek oordeel as ek nie weet nie? Ek dink … Nee, ek is seker my oupa het gesê my ma is gretig om my te ontmoet. Dalk kan ek haar sommer nog vanaand bel en ’n afspraak met haar maak!” sê sy opgewonde.

      Sy spring op, maar Arendt hou haar hande vas en trek haar weer op die rusbank langs hom neer. Sy kyk hom ergerlik aan en vra onvergenoeg: “Wat is dit nou weer? En hou op om my aan te gluur asof jy vermoed ek beplan ’n terroristeaanval! Hoekom lyk jy altyd kwaad as jy na my kyk?”

      “Ek is bekommerd, nie kwaad nie,” antwoord hy bruusk. “Eers verdrink jy in jou eie trane omdat jou ma jou weggesmyt het, en nou kan jy nie wag om haar te ontmoet nie. En jy wil haar ná nege in die aand bel. Jou oupa sal nie vir jou haar telefoonnommer kan gee nie, want hy is heel waarskynlik al in die bed. Laat jou oupa en jou ma met rus tot môreoggend, meisiemens. Gesels eers môre met Sonette en hoor wat dink sy van jou ma. Daarna kan jy met jou ma in verbinding tree.”

      “Jy is verskriklik geduldig, maar dis omdat dit nie jóú ma is nie,” sê Elzeri dikmond.

      Sy gaap dat haar oë traan en voel haarself bloos. “Gee jy om as ek vir ons gaan koffie maak? Ek voel vaak ná die lang, warm dag op Maropeng.”

      “Ek het ’n beter voorstel: ek sal vir ons aandete en koffie maak. Of het jy reeds aandete gehad?” vra hy en staan op.

      “Ek was nie vroeër honger nie. En ek weet al as ek en Sonette saam kuier, maak ons altyd iets lekkers te ete. Moet ek kom help?”

      “In ’n beknopte woonstelkombuis? Asseblief nie! Hier, hou die kussing vas en droom oor jou Dawie. Ek is nou-nou terug met ons koffie en ons ete.”

      Hy druk ’n roomkleurige stoelkussing in haar arms en loop kombuis toe.

      Dawie … onthou Elzeri. Sy leun met haar kop teen die rugleuning van die bank en sluit haar oë. Weet Dawie dat sy ’n weggooikind is? Nee, Dawie-hulle woon al die afgelope twintig jaar in die buurhuis. En al is hy drie jaar ouer as sy, sou hy nie haar ma geken het nie. Of sou hy? Hoe oud was sy toe haar ma weggegaan het?

      Sy moet onthou om haar oupa te vra, maar nie vanaand nie. Sy is so moeg van dink en wonder, so moeg van die tergende vrae wat deur haar brein warrel, dat sy net vir ’n paar oomblikke wil afskakel en van alles wil vergeet. Vreemd hoe lekker koffie ruik as dit geperkoleer word …

      Elzeri hoor deur newels van slaap die naderende gerinkel van eetgerei. Sy wonder waarom hulle huishoudster vir haar ontbyt in die bed aandra, en skrik haar oë oop toe Arendt vlak langs haar praat.

      “Koffie en ontbyt vir my kuiergas. Goeiemôre, meisiemens. Plak ’n kussing op jou skoot sodat ek die skinkbord kan neersit.”

      “Maar jy het aandete …” protesteer sy.

      Sy besef dat sy onder ’n ligte duvet lê en vra verward: “Het ek die hele nag op die bank geslaap? Is dit al oggend?”

      “Lyk so,” terg hy en beduie na die venster waardeur ’n streep sonlig val. “Toe nou, meisiemens. Sit jou kopkussing op jou skoot neer.”

      “Ja …” sê sy, nie seker of sy droom of wakker is nie, en voldoen aan sy versoek. “Alles is onderstebo. Jy sou vir ons aandete en koffie gemaak het, en nou is dit al oggend en –”

      “En jy praat in jou slaap,” val hy haar in die rede en sit die skinkbord op haar skoot neer. “Drink jou koffie sodat jy behoorlik kan wakker raak.”

      Sy drink ’n paar slukkies koffie en plak dan die beker hard op die skinkbord neer, haar oë rond van kommer. “My oupa! My arme oupa sal dink ek het verongeluk en dat ek dood of ernstig beseer in ’n hospitaal lê! Waar is my selfoon? Ek moet hom dadelik bel, voordat hy beroerte of iets kry. Help my, Arendt! Vat die ellendige skinkbord sodat ek na my selfoon kan soek.”

      “Genugtig, meisiemens, bedaar! Jou verbeeldingsvlugte is genoeg om mý ’n beroerteaanval te gee,” sê hy geïrriteerd. “Ek het gisteraand toe jy soos ’n soet kind op die bank geslaap het jou oupa gebel. Ons het saam besluit dat jy die rus nodig het ná ’n lang dag van fisieke en emosionele uitputting. Jy het so vas geslaap dat jy nie eens wakker geword het toe ek jou nagklere vir jou aangetrek het nie.”

      “Wát?” krys Elzeri kortasem van verontwaardiging. Sy kyk af en merk met verligting dat sy nog haar bloesie en denimbroek aanhet.

      Sy hoor hom lag en gluur met moord in haar oë na hom. “Jy het ’n siek sin vir humor, Arendt … Arendt Watsenaam!” vaar sy uit, en sê dan verras: “Ek ken nie jou van nie.”

      “Dalk is Arendt my van. Jy het self gesê mense noem nie hulle kinders na voëls nie. Toe, eet nou jou ontbyt voordat dit koud is.”

      “Ek eet,” mompel sy, hap ’n happie spek en eier en vergeet dan om verder oor Arendt se van te wonder. Geen wonder sy het so maklik aan die slaap geraak nie: sy was halfdood van die honger. Sy kou en sluk asof sy ’n week lank gevas het.

      “Elke krummeltjie,” sê Arendt oorbluf toe hy die skinkbord van haar skoot verwyder. “Jy lyk soos ’n tinktinkie, maar jy eet soos ’n honger hiëna. Jy gaan die arme oom Herman en tant Sannie bankrot eet daar op Oggendglorie. Ek hoop jy besef oom Herman is jou plaasbestuurder, nie ’n skatryk boer wat uitgehongerde gaste kan bekostig nie.”

      “Jy sê die mooiste dinge, skattige Arendt,” antwoord sy sarkasties. “Toevallig weet ek Sonette se pa, Ruan, besit ’n yslike skaapplaas in Nieu-Seeland. Oom Herman kan nie te arm wees nie, want hy het Ruan gehelp om sy plaas te koop.”

      “Slaap onder my dak en eet my kos en raak weer snipperig,” grom Arendt. “Die rooi tandeborsel is myne. Jy kan dit leen as jy rêrig wil.”

      “Dankie, maar ek kuier so dikwels by Sonette dat ek van ’n tandeborsel tot ’n haarborsel in haar badkamer bêre,” antwoord sy vermakerig.

      “Gaaf! Gaan maak klaar en kry jou ry, meisiemens. Of sal dit jou nie pla as jou Dawie hoor jy het die hele nag by my geslaap nie?”

      As die vent nie soveel groter as sy was nie, het sy hom nou ’n dwarsklap gegee, dink sy smoorkwaad, haar wange gloeiend van verleentheid. Gisteraand het sy haar skok en ontsteltenis oor haar ma met hom gedeel, maar vanoggend is hy weer die uittartende, arrogante Arendt wat haar so teësinnig deur die grotte vergesel het.

      Sy kyk hom met hooghartige misnoeë aan en antwoord selfversekerd: “Dawie ken my te goed om hom aan jou onsmaaklike insinuasies te steur. En ek het in Sonette se woonstel geslaap, nie by jou nie.”

      “Mý woonstel, meerderwaardige meisietjie. Dink jy werklik dat ’n arm student soos wat Sonette die afgelope vier jaar was ’n ruim