se polisiekantoor gekom het, het Suri se pa haar gebel om saam met hom hospitaal toe te gaan. Hy het nie kans gesien om die een te wees wat sy dogter moet uitken nie.
Dit was ook hy wat besluit het hulle moenie eens probéér om Ma in haar rolstoel by die begrafnis te kry nie. Dit sal vir haar te vermoeiend wees, en sy sal tog niks verstaan nie. Dis genadiger as sy onbewus bly van wat gebeur het. En hy verkies om by Ma te bly, in hul bekende milieu waar hy beskut voel. Van die familie het hom kwalik geneem, maar Suri het verstaan en haar arms troostend om die geboë oumanskouers gesit; gewens sy kon ook wegvlug, in ’n donker gat inkruip en eers weer uitkom as alles verby is.
“En dié, is dit ook die kerk s’n?” Tant Raal hou ’n vet geel melkbeker omhoog. “Moet ek dit by die res van die breekgoed sit wat môre moet teruggaan?”
Suri kom met ’n ruk terug na die pers kombuis en die opwasbak waar die koekie seep nie behoorlik wil skuim nie. Haar hoofpyn is erger.
“Nee, dis … dit wás Irene s’n,” mompel sy en draai haar kop in die rigting van die gang. “Ek hoor Maja huil; ek beter gaan kyk of Nessa regkom. Dis tyd vir haar bottel.”
“Jy lyk uit op jou voete, kind. Gaan gerus, ons is amper klaar hier.”
Nessa staan sussend voor die kamervenster, met die woelende kombersbondeltjie teen haar skouer. “So ja, toemaartjies … Is jy honger? Tannie Soe sal nou-nou vir jou melk bring.”
Die frons op Suri se voorkop wat saam met die hoofpyn gekom het, verdwyn en haar oë word sag toe sy Maja by die ouer vrou neem. “Dankie, Nessa, dat jy so geduldig was. Ek was besig met tee skink en alles …”
“Natuurlik, Soetjie, dis mos hoekom ek hier is.” Nessa kyk ondersoekend op. “Jy lyk soos ’n gees wat wil omtiep. Loop sit ’n bietjie, laat iemand vir jou ’n drinkding bring.”
“Ek sal later. Nou moet ek eers die bottel gaan aanmaak. Waar het Hendro die sak met haar goed gesit?”
“Ek het nie gesien nie en ook gesoek, flussies.”
“Is dit nie in die ander slaapkamer nie?”
“Daar’s net van Hendro se tromme en beeldgoeters, die hele kamer vol. Is dit sy werkplek? Dit lyk soos ’n walvis wat gekalf het. ”
“Die groot dubbelgarage is sy ateljee waar hy werk. Die kamer langsaan is net ’n stoorplek. Dalk is die sak nog in my kar. Maar Hendro het die sleutels en ek het hom nêrens gesien nie. Weet jy dalk waar hy is?”
Nessa beduie deur die venster, waar twee figure in die verte langs die laagwatersee loop. “Hy en daardie swartkopman is hoeka hier weg, lyk my besig om kopgoete te gesels.”
Suri kyk deur die kantgordyn. “Dis Hendro se baas by Suidkus-radio. Douw of Louw of iets. Stuggerig. Praat min, staan net eenkant en kyk.”
“Douw van der Linde wat op die radio praat?”
“Ja, hy’s die programhoof.”
“Suinig met daai sexy stem van hom. Spaar dit seker vir sy luisteraars en wil dit nie opgebruik op ons klomp niks-weets nie.”
Suri kyk haar eers skuins aan en toe sy die snaaksigheid van die opmerking insien, borrel ’n spontane lag uit haar keel. Maar dan skrik sy en hou ’n hand oor haar mond. Sy lyk skuldig, want dit voel verkeerd onder die omstandighede.
Nessa lees die uitdrukking in haar oë. “Irene was altyd mos vrolik, sy sou nie wou gehad het ons moet soos suurknolle rondloop nie.”
“Ja, sy het maklik gelag. En arme Hendro ook …”
Suri sluk aan die knop in haar keel en verander die onderwerp – bang die wal breek en haar tranedam loop oor. “Het jy al oor die radio na dié Louw-ou geluister?”
“Douw. Douw van der Linde,” korrigeer Nessa en lig die gordyn om beter te kan loer. “Elke liewe dag. Maar dis die eerste keer dat ek sien hoe die man ágter die stem lyk. Nogal sag op die oog, hè? Hy doen smôrens die Dagbreek-dagboek van vyfuur tot agtuur – als van die nuus en die weer, inbelle, briewe en sulke goeters. Diep, warm stem, soos gesmelte tjoklits … En hy speel die mooiste mooi musiek, al my favourites.”
“Vyfuur slaap ek nog, en halfagt is ek al by die skool. Daar’s nie tussenin tyd om radio te luister nie.”
Suri gaan sit op die bed, met Maja op haar skoot. Sy soen die slaapwarm wangetjies en vee die klam hare van Maja se voorkop weg. Hendro se blonde krulle … Maar sy het haar ma se donker oë. Ouma se effe vierkantige ken … en iéts van Oupa in die manier waarop haar mond trek as sy haar sin wil hê.
’n Benoudheid laat Suri se keel toetrek. ’n Duisend vrese maal deur haar binneste en dis asof die maalkolk haar insleep, sodat haar verstand wegskram en sy haar besig hou met oppervlakkige detail soos bottels maak en winde uitvryf. Maar een of ander tyd moet sy stil raak; moet sy en haar swaer sinvol gesels.
Hy is lief en gaaf en sy kan verstaan dat Irene met die eerste ontmoeting halsoorkop vir hom geval het. Soos sý dalk ook sou, as die omstandighede anders was en hy nie reeds aan haar suster behoort het nie. Hendro Cuyler het ’n onweerstaanbare sjarme. Sy het van dag een af vir hom verskonings gesoek; toegewings gemaak vir sy verstrooidheid en onpraktiese redenasies. Maar háár kop is anders vasgeskroef, en nie soos syne bo in die wolke nie. Gister by haar woonstel het Hendro gepraat van die pad vat Italië toe – Florence of Milaan – of dalk weer die Andes, of soos die muse hom lei.
Suri is bereid om vir Maja pleegma te wees, maar dis ’n enorme verantwoordelikheid en sy het die pa se insette, hulp en ondersteuning nodig. Sy weet hy is nie in ’n toestand om logies te dink nie, maar hy kan nie sommer net oppak en verdwyn nie. Hy het ’n plig teenoor sy kind.
Hulle moet praat, sodat sy sin in sy deurmekaar kop kan inprent. Maar sal hy na haar luister? Irene was dol oor hom, soos die meeste vrouens seker oor hul man is, tog het sy gekla Hendro is moeilik, dwars en eiewys as hy ’n ding wil doen. As sy vrou nie veel met hom kon uitrig nie, wat is die kans dat hy na sy skoonsuster sal luister?
2
Suri wag ongeduldig in die kombuis, met ’n knieserige Maja op haar heup. Tant Raal en Wilma is lankal huis toe. Hulle wou haar help om die kerk se breekgoed in te laai, maar haar motor is gesluit. Sy kan nie by die doekesak kom nie en al waarmee sy die honger mondjie kan sus, is ’n fopspeen. Gelukkig kon haar niggie Nessa oplaai tot by die taxi-staanplek. Dit was ’n lang dag en Nessa het haar eie gesin tuis om te versorg.
Sy wou Hendro en sy baas nie onderbreek as hulle belangrike werksake het om te bespreek nie, maar dis bitter laat en sy moet by die huis kom. Maja bad en in die bed kry en dan wag daar nog ’n berg nasienwerk. Genadiglik het die twee manne darem nou omgedraai en praat-praat begin terugstap … Sy gaan wag hulle by die agterdeur in.
Hendro lyk verbaas om haar te sien. “Sussie-ding, is jy nog hier? Ek dag jy’t lankal gery.”
“Ek kon nie, my motor is gesluit en jy het die sleutels.”
“O heng, dis lastig. Het jy toe reggekom met al die mense? En met die baab?”
“Baab” is sy verdraaiing van “baba”. Suri kan nie agterkom of dit ’n troetelnaam of ’n soort ontkenning van die werklikheid is nie. Voor die ongeluk was sy dogter sy oogappel, maar nou lyk dit asof ’n teenreaksie ingetree het en skram hy weg van kontak met haar.
“Ja, min of meer.”
“Jammer ek was nie veel werd nie, sus. Ek sal vergoed …” Hy skrik toe ’n droewige klaagstemmetjie vanuit die pienk kombersie opklink. “Wat makeer? Hoekom huil sy? Is sy siek of iets?”
Tog darem besorg? “Nee, net honger,” stel Suri hom gerus.
Die lyne om sy mond is stram afgeëts teen die bleekheid van sy gesig. Sy hande voel na sy hempskraag en gee dit ’n pluk, asof dit hom wurg. “Hoekom gee jy nie vir haar kos nie?”
“Ek soek haar sak.”
“Dis in jou motor.”
“Ek