asem.
“Dankie,” kry sy dit hees uit.
Douw skud die bottel en toets die temperatuur met ’n paar druppels op sy gewrig om haar sodoende meer tyd te gee om tot verhaal te kom. “Dankie waarvoor?”
“Omdat jy my toegelaat het om die Victoria-waterval te wees.”
“ ’n Plesier, kleintjie,” antwoord hy asof hy met Maja praat. “Ek skat jy het die ontlading nodig gehad.”
Dringend nodig gehad, dink Suri, maar dis ’n luukse wat nie ’n gewoonte mag word nie. Sy klad oplaas haar wange en vee haar hare plat. Sy kan dink hoe sy lyk … erger as Antjie Somers.
“Ek is nie gewoonlik ’n tjankbalie nie,” maak sy verskoning.
“Ek glo jou. Jy is kalm en bekwaam, reg om die wêreld se laste en sorge aan te vat.”
’n Kompliment? Suri kyk agterdogtig na hom. Sy mond wys niks, maar sy oë lyk sagter terwyl hy die bottel na haar uithou. Hendro se baas is ’n vreemde man, dink sy. Nors en stroef, asof hy jou ’n guns doen as hy nie bo-oor jou loop sonder om jou raak te sien nie. Maar dan, sommer net so, is hy onverwags hoflik en verbasend hulpvaardig.
’n Komplekse man, wat haar gedurig op die agtervoet het. Dit irriteer haar as hy haar soos ’n dom kind behandel, tog is daar iets omtrent Douw van der Linde wat haar prikkel. Of is dit net omdat hy, soos Nessa sê, “sag op die oog” is? Al hou sy nie van hom nie, kan niemand sê die man is lelik nie. Trouens, in daardie donker pak en ligpers syhemp lyk hy soos ’n advertensie vir ’n eksotiese naskeermiddel.
Hy is goed met kinders, en hierdie is duidelik nie die eerste keer dat hy ’n bababottel hanteer nie. Is hy getroud, met ’n gesin? wonder sy. Toe sy Maja op haar skoot tel en die bottel vir die baba gee, loer sy onder haar wimpers deur na hom. Sy kan nie sien of hy ’n trouring dra nie. Hy leun teen die wasbak, enkels gekruis en met sy hande in sy broeksakke. ’n Breukdeel van ’n sekonde ontmoet hul oë. Maar terwyl Suri kyk, is dit asof ’n filter oor sy oë sak om hulle donker en broeiend te laat.
Hy kom abrup regop en sy wenkbroue lig vraend. “So ja … Sal jy nou self verder regkom?”
Suri kry die boodskap: hy het die begrafnis bygewoon, sy medelye betuig en sy plig teenoor die naasbestaandes nagekom.
“Ja, dankie,” antwoord sy net so saaklik.
Hy knik vaagweg in haar rigting en stap uit. Sy hoor sy voetstappe verdwyn in die rigting van die sitkamer.
Douw tref Hendro op die sitkamerbank aan met sy kop teen die rugleuning gestut, langs hom ’n asbak oorlopens toe vol sigaretstompies.
“Ek sal die verlofvorms môre vir jou bring om in te vul, en reël dat Zirk die ligdagskof oorneem,” sê Douw. “Nog iets wat jy nodig het?”
Hendro skud sy kop sonder om sy oë oop te maak. “Nee. Maar dankie.”
“ ’n Prokureur of berader? Kontant? Wiele?”
“Ek’s oukei.”
“En jou skoonsuster – is sy oukei met die baba?”
“Ja.”
“Help haar.”
Hendro knik net tam. Hy kon Irene nie help nie. Kan nie eens homsélf help nie.
Douw maak ’n venster oop vir vars lug.
In antwoord waai Hendro ’n koerant heen en weer en druk die sigaret dood. Al wat hy vra, is om in rus en vrede alleen gelaat te word. Douw het vanmiddag lank en hard met hom gepraat en hy het gedink die preek is verby, maar sy baas bly staan, blykbaar met nog ’n saak op die hart.
“Hierdie skoonsuster van jou – hoe oud is sy?”
“Suri?” Hendro lyk verward. “Drie en twintig, vier en twintig … Ek is nie seker nie. Sy is drie of vier jaar jonger as Irene.”
Douw trek die gordyn weg wat voor die oop venster flap. Hy kyk uit oor die branders en oor die verwaarloosde tuin, dan draai hy hom na Hendro.
“Ek dag jy het gesê sy gaan skool in Port Shepstone?”
“Hóú skool,” korrigeer Hendro. “Sy gee Engels. Irene was altyd die kunssinnige een en Suri die taal-een.”
“En die jong, onervare, ongetroude suster gaan nou julle kind grootmaak?”
Dit klink soos ’n beskuldiging. “Of dalk is sy vyf en twintig,” verweer Hendro homself. “Ek kan nie onthou nie. My kop is suf.”
“Is sy darem getroud, met ’n man wat haar kan help?”
“Suri is nie getroud nie. Ek weet nie of daar ’n liefdesteleurstelling of iets was nie. Die twee susters het elkeen hul eie lewe gelei en Irene het min oor haar gepraat, net altyd gesê haar kleinsus het ’n slim kop op haar lyf en gaan nog eendag ver kom. Dié dat sy Suri as Maja se voog benoem het, eerder as haar pa, wat al taamlik bejaard is.”
“Suri? Watse soort naam is dit?”
“Dis ’n afkorting van Surita.”
“Het sy genoeg geld?”
Hendro lyk verward. “Ek weet nie. Onderwysers kry seker redelike salarisse.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Kinders is ’n lopende uitgawe. Dis ’n reuse taak om ’n baba groot te maak; jy kan nie verwag sy moet boonop nog al die onkostes self betaal nie. As die pa is jy vir die onderhoud verantwoordelik. Indien jy geld kortkom, kan ek ’n voorskot op jou salaris reël.”
Hendro lyk ongemaklik. “Ek sal dit waardeer. Ek het nie só daaraan gedink nie.”
Vanwaar hierdie skielike beheptheid met sy skoonsuster? dink hy. Suri kom reg, sy het nog nooit gekla nie.
“In die haak. Dis te verstane, want jy het te veel ander dinge gehad om aan te dink.” Douw maak aanstaltes voordeur toe. “Onthou: As jy wil praat of my nodig het, Hendro, jy het my nommer by die kantoor en by die huis. Bel met vrymoedigheid. Ek sal môremiddag weer ’n draai maak met die tjek en die vorms. Sterkte!”
“Dankie.”
Hendro wend ’n halfhartige poging aan om regop te kom om saam te stap deur toe, maar voor hy sover kan kom, hoor hy ’n motordeur klap, gevolg deur die dreuning van Douw se viertrek. Hy sug en laat sy kop in sy hande sak.
3
Dis hoe Suri hom kry toe sy ’n ruk later in die sitkamer kom: vooroor geboë, hangskouers en grysbleek gesig in sy hande gedruk. Sy het nie raad nie. Gaan sit net langs hom en vryf oor sy arm om te sê sy is daar vir hom en hy is nie alleen in sy hartseer nie.
“… my skuld,” sukkel Hendro dit uit.
“Dit was ’n ongeluk, boet, dit was nie jou skuld nie.”
“Ek het te vinnig gery.”
“Dit was ’n oop pad en jy is ’n goeie bestuurder. Dit was laat, en julle was haastig. So iets kon met enigiemand gebeur het.”
“Ek het nie van die storm en die rotsstorting geweet nie. Ek het gebriek en probeer uitswaai, maar dit was te laat. Die regtervoorwiel het die klippe getref …”
“Die band het gebars. Niemand blameer jou dat jy beheer verloor het nie.”
“Ek het nie gedrink nie, ek sweer. Twee biere die hele aand, dis al. Irene het geslaap, maar ek moes gekyk het … gesorg het dat haar gordel vas is. Sy moes dit een of ander tyd in die ry losgemaak het, toe sy wou slaap.”
“Dit was so bestem. Aanvaar dit en moenie jouself verwyt nie. Put jou troos uit die wonderkindjie wat aan julle geskenk is om groot te maak. Moenie jou blind staar teen jou eie verlies en haar verstoot nie, want sy het haar pa nodig, nou meer as ooit. En jy vir háár – ’n hulpelose klein mensie wat aan jou toevertrou is en jou ’n doel gee om voor te lewe, ’n rede om soggens op te staan …”
Suri