die bos sleutels op en hou dit boetvaardig na haar uit. “Sorrie, sussie, ek is ’n kluit met ’n kop vol watte. Ek sal dit môre begin uitpluis, belowe-belowe …”
“Geen skade nie, ’n bietjie huil is goed vir ’n baba se longe.”
Hendro hoor nie. Hy tel die geel melkbeker op en streel afgetrokke met sy wysvinger oor die boepensvorm. Dan plak hy dit met ’n klapgeluid terug op die kas, draai om en stap weg.
Herinneringe en assosiasies … Suri se hart skrei. Sy moes die beker weggebêre het. Maar elke enkele ding in die huis hamer seker sy verlies in … Moet sy hom gaan troos? Aanbied dat hy iets eet of drink?
“Los hom,” sê ’n diep stem.
In haar kommer oor Hendro het sy van sy baas vergeet. Sy het die swartkop-ou tydens die diens in die kerk opgemerk. Van naderby is hy jonger as wat sy geraai het. Vroeë dertigs, so ’n jaar of wat ouer as Hendro. Effe langer en skraler. Mooi man, maar haar eerste indruk was reg: stug en kortaf. Sy moet seker gevlei voel dat hy hom darem verwerdig het om met haar te praat. Darem twee volle woorde met ’n onbenullige “niks-weet” …
“Ek was nie van plan om agter hom aan te loop nie.”
Haar stemtoon was skerper as wat sy bedoel het. Om haar stelling te bewys, verdwyn sy in die teenoorgestelde rigting, uit by die agterdeur na waar haar motor ’n entjie weg onder ’n koraalboom geparkeer is. Sy besef sy het nie genoeg ervaring van dinge met een hand doen terwyl sy ’n wriemelende bondel op haar heup balanseer nie. In die skemer sukkel sy om die sleutelgat te vind en laat die sleutels val. Sy onderdruk ’n moedelose sug en buk om daarna te soek, maar dieselfde rustige stem van netnou keer haar.
“Laat ek …” Hy tel die sleutels op, sluit die motordeur oop en haal die sak uit. “Al wat jy nodig het?”
Sy het nie gesien hy volg haar buitetoe nie. Pligsbesef omdat hy bang was sy struikel of laat die baba val?
Suri knik kortaf. “Dankie, ja.”
Hy wys na die bokse breekgoed wat by die agterwiel staan. “Moet dié in?”
“Ek sal dit netnou inlaai. Ek of Hendro. Los, asseblief, Hendro sal help …”
Suri se stem sterf weg toe hy haar ignoreer, doodluiters die luikrug oopmaak en die bokse inlaai. Hy neem die sak en kyk vlugtig na haar. “Douw van der Linde. Ek en jou swaer werk saam.”
“Ek weet.”
Sy wil nie te eie met Hendro se baas wees nie, en sy glo nie hy stel belang wie sy is nie. Sy wil aanstap, maar hy is ’n groot ou en staan die tuinpaadjie vol, sodat sy nie kan verbykom nie. Blykbaar wagtend dat sy haarself voorstel.
“Hendro se skoonsuster …” sê sy onwillig.
“Jy het seker ’n naam, anders as ‘Sussie’?”
“Ja.” ’n Koel bries waai en dit dra by tot Maja se ontevredenheid met die situasie, sodat sy luidkeels uiting aan haar misnoeë gee. Suri probeer haar stilkry, maar sy kan nêrens die fopspeen kry nie. Dit het blykbaar iewers langs die pad geval. Sy is vies vir haarself. As sy ’n tweede keer op die grond rondkrap, gaan dit lyk of sy onbeholpe is, en dis nie die indruk wat sy wil skep nie.
Douw van der Linde wag met ’n frons tussen sy wenkbroue. Daar is donker kringe om die meisiekind se besonderse oë en sy is so tingerig, dit lyk of die eerste wind haar sal omwaai. Toe sy heel duidelik nie regkom met iets om die kleintjie mee te sus nie, probeer hy help. Hy tree nader en trek met sy vinger aan die stukkie pienk lint wat tussen die knippies van die groeipakkie uitsteek. ’n Fopspeen kom aan die punt van die lint te voorskyn, en hy druk dit behendig in die wyd oop, huilende mondjie.
Suri is kleingeestig genoeg om te wens Maja spoeg dit uit sodat sy ’n ronde teen Douw van der Linde kan wen. Maar babas weet nie van kompetisies en onderstrominge nie. Maja is dadelik tjoepstil, suig asof daar heerlike roommelk uitkom en loer slaperig na die man wat oor haar buig. Dit lyk of die roosknopmondjie ’n dankie-lag regkry.
“Ghoe-ghoe …” gorrel sy soos ’n geblokte dreinpyp.
“ ’n Plesier, poplap,” antwoord Douw.
Hy beskou die kleinding se tannie, met die heuningkleurige poniestert wat haar sestien laat lyk. Of darem agtien, as sy ’n motor en ’n rybewys het. Hy onthou Hendro het gesê sy is by ’n skool in Port Shepstone. Seker in matriek.
“Marie? Annie? Lettie?” vra hy.
Suri kyk onbegrypend na hom.
“Jou naam,” verduidelik hy. “Maar ek dink ek raai verkeerd. Jy lyk nie soos ’n Marie, Annie of Lettie nie.”
“Hoe lyk ’n Marie, Annie of Lettie?”
“Nie soos jy nie.”
Wat beteken dít? ’n Verleë blos stoot in Suri se gesig op. Hy is besig om vir haar te lag. Of haar te spot. En sy weet nie hoe om te reageer nie.
“Ek wil die ketel gaan aansit,” sê sy, om die onderwerp te verander en as skimp te dien dat hy die pad vol staan.
Douw staan die paadjie aan haar af en kies kortpad oor die grasperk. In die kombuis plaas hy die doekesak op die tafel, tap die ketel vol en skakel dit aan. “Weet jy hoe om ’n bababottel aan te maak, meisie?”
Sy weet sy het seker nie vreeslik slim voorgekom nie, maar darem seker nie absoluut onnosel nie! Onder ander omstandighede sou Suri hom die soort antwoord gegee het wat hy verdien. Maar sy het nie die energie nie. “Ek oefen al nege dae.”
Douw besef sy vraag het seker verkeerd geklink. Miskien is die meisiekind bekwamer as wat sy lyk. In die kombuislig bekyk hy die bleek gesiggie van naderby: hoë wangbene, en bokant die donker kringe die paar ongelooflikste persblou oë met digte swart wimpers. ’n Pragtige meisie, maar met ’n weerlose trek om die mond wat ’n onverwagte deernis in hom wakker maak, soos teenoor ’n jonger sussie: ’n drang om die tenger figuurtjie teen sy skouer vas te hou en teen seerkry te beskerm.
Hy neem die kleintjie by haar en sit haar in die hoë eetstoeltjie langs die tafel. “Ek is jammer oor jou ousus,” sê hy sag. “Ek het Irene nie baie goed geken nie, maar wat ek die beste van haar onthou, is haar uitbundige lewenslus – haar klokhelder lag, en dan natuurlik die twee kuiltjies in haar wange.”
Die kuiltjies … Dis wat Suri ook eerste onthou as sy ’n prentjie van Irene in haar gedagtes oproep. Dit, en die klank van haar lag, wat sy nooit weer sal hoor nie …
Douw van der Linde se simpatie vang haar onverhoeds. Voor sy kan keer, stroom die trane oor haar wange. Sy vryf met haar hand oor haar oë, maar die vloed kom vinniger as wat sy kan keer. Die damwal wat sy geweet het gaan breek, wat sy probeer keer het en geweet het naby oorloop was …
“Huil,” sê Douw. “Dis goed. Moenie opkrop nie. Huil oor haar, want sy was dit werd.”
’n Mooi huldeblyk. Maar dit sou beter gewees het as hy liewer bot of ongeduldig was. Suri was van kleins af so: meer paraat as mense raas en baklei. Dis makliker om te hanteer, soos tant Raal se uitvraery en kritiek. Maar as iemand simpatiek is, gaan sy aan die huil.
’n Nuwe stortvloed snikke laat haar skouers ruk, en sy soek naarstig na ’n sakdoek iewers in haar mou.
Douw sien die flentertjie verfrommelde snesie wat sy opdiep, gaan nie genoeg wees nie. Hy soek deur sy broeksakke en bied vir haar sy sakdoek aan.
Die poniestert skud heftig heen en weer. “Ek kan nie.”
“Wat kan jy nie?”
“My … my neus in jou … j-jou sakdoek blaas nie.”
“Hoekom nie?”
“Hy is skoon … Splinternuut.”
Douw mompel iets wat sy gelukkig nie hoor nie. Hy skeur ’n stuk papierhanddoek af en gee dit vir Suri. Om Maja tevrede te hou, doop hy die fopspeen in ’n bietjie suiker. Dan haal hy haar bottel uit die sak en ’n blik melkpoeier, wat hy noukeurig volgens die