Ettie Bierman

Vlinder teen die ruit


Скачать книгу

Een tree op ’n keer. Moenie te veel of te ver vooruit dink nie.”

      “Almal wat ek liefhet, word van my weggeneem – my ma, my broer wat ek skaars geken het, en nou my vrou. Almal weg. En ek is weer sielsalleen …”

      “Nee.” Suri neem sy koue hand in hare. “Jy is nie alleen nie. Ek is hier vir jou, boetie. Ek en jou dogter, plus ’n oupa en ouma. Jou familie … Jy hét ’n familie wat omgee, wat vir jou lief is.”

      Sy vingers klem om hare. “Bly hier, moenie my alleen los in hierdie museum vol herinneringe nie. Ek is bang vir myself en vir die depressie …”

      Bedoel hy hier, by hom in die huis? Tot môre of tot wanneer toe? Suri weet nie hoe om te reageer nie.

      “Ek sal op die bank slaap, ek sal nie aan jou raak nie. Môre sal ek meer moed hê. Maar net om te weet ek is nie vanaand alleen nie?” pleit hy.

      Hoe kan sy weier? Hendro lyk minder verward as vroeër, maar as hy iets oorkom, sal dit op haar gewete rus. “Ek moet vroeg môreoggend vir Nessa gaan oopsluit,” skerm sy. “En vóór skool die breekgoed by die kerksaal gaan aflaai.”

      “Ek werk nie môre nie, maar ek belowe om jou ligdag wakker te maak. Ek slaap sleg en sal maar te dankbaar wees vir iemand om mee te praat. Seblief, sus?”

      “Ek het nie ’n tandeborsel of pajamas of iets by my nie …”

      Die oomblik toe die woorde uit is, hou Suri asem op. Asseblief, hy moenie sê sy moet van Irene se goed gebruik nie. Asseblief, gee dat hy sensitief genoeg is …

      Hulle oë ontmoet en sy weet Hendro het dieselfde gedagte as sy gehad. Hy kyk anderpad en probeer ’n grappie maak. “Jy kan van my pajamas leen, ons knip net die moue en die broekspype af.”

      “En stik hulle môre weer aanmekaar?” speel Suri saam.

      Die begrafnis was traumaties, en sy is self ook vanaand bang vir die herinneringe. Hendro is darem nie ’n wildvreemde nie. Hy is soos ’n broer, en Irene sou wou gehad het sy moet na hom omsien. Hier is genoeg babadoeke, kos en frokkies vir Maja. Sy het haar netnou afgespons en warm toegemaak. Vanmiddag se koel Augustuswind waai sterker en sy is bang die kleintjie kry verkoue as sy haar in die aandlug uitneem.

      Suri oorweeg wat Wilma en tant Raal sal sê, en besluit sy gee nie om nie. Hulle sal in elk geval skinder, wat sy ook al doen.

      “Goed, ek sal bly. As jy ons vroeg môreoggend woonstel toe kan neem, sal ek met Franciska reël om my daar te kom oplaai. Dan kan jy die breekgoed terugneem, my motor die res van die dag gebruik en my vieruur die middag weer by die skool kom oplaai.”

      Hendro soen haar op die wang. “Jy’s ’n engellief. Dankie, ook vir die baab se versorging en al jou ander opofferings. Ek skuld jou big time.”

      Suri staan op en vryf oor sy songebleikte hare wat oor sy kraag krul. Sy gaan gooi die asbak uit, maak ’n pot vol sterk koffie en neem vir hom van die toebroodjies en frikkadelle wat oorgebly het.

      “Jy sal beter voel as jy iets geëet het. Kos is ook ’n soort troos.”

      Hy neem ’n hap en kou nadenkend. “Is dít hoekom daar soveel vet mense op aarde is? Almal wat gevoel het soos ek en jy vandag voel?”

      “Ja, en hoekom daar berge kos by die begrafnis was – genoeg vir jou vir ’n week, van mense wat saamvoel.”

      “Pak vir jou daarvan in. Ek het min eetlus, en dan kan jy op kruideniersware spaar. Jy het seker baie uitgawes met die baab, die op en af ryery, my wasgoed, die huis en so aan.”

      Suri is verbaas. Dis nie dat hy ondankbaar of selfsugtig is nie, maar dis die eerste keer dat sy ’n praktiese kant van Hendro sien. Hy is soos Irene – ’n kunstenaarsiel, vir wie alledaagse realiteite soos geld, kruideniersware of brandstof onbelangrik is. Die werk by Suidkus-radio is net ’n vuller, sodat hy hom aan sy eerste liefde kan wy: sy beeldhouwerk. As hy met sy hamers en beitels besig is, raak hy obsessief en vergaan sy hoor en sien. Hy slaap nie, eet nie, skeer nie, antwoord nie die foon nie … Maar blykbaar was daar êrens ’n sneller om ’n meer realistiese sy in Hendro uit te bring, en dit gee Suri hoop vir die toekoms. En vir die gesprek wat hulle moet hê om die vrese en vrae in haar binneste hok te slaan.

      “Sal dit jou nie help om ’n tyd lank verlof te neem, alles te vergeet en jou aan skeppende werk oor te gee nie?” stel sy voor. “Sluit die ateljee se deur, sit die selfoon af en jou oorfone en rockmusiek op, en kap en timmer en kerf uit ’n stuk dooie hout die mooiste mooi beeld wat jy nog ooit gemaak het.”

      Hendro se uitdrukking raak wrang. “Freud sou gesê het ’n vróú: uit die gestorwe houtstomp ’n vrou wat ontwaak, wat léwe, wat die dood oorwin.”

      “As so iets vir jou ’n uitlaatklep sal wees, ja, doen dit. Die talent en die toewyding het jy nog altyd gehad, en dalk het hierdie trauma emosionele diepte gebring wat tot uiting sal kom in jou werk.”

      “En dan hoef ek nie weg te vlug Peru of Italië toe om myself te gaan soek nie?”

      “Dit sal goedkoper en praktieser wees,” erken Suri reguit.

      “Jy is nie die eerste een wat so ’n uitweg voorstel nie.”

      “Wie anders het so gesê?”

      “Iemand nie so mooi soos jy nie, maar net so vol omgee soos jy.”

      Sy hand reik ingedagte na die pakkie sigarette, maar pleks daarvan om weer een aan te steek, skink hy vir hom nog koffie. Swart en bitter. Hy neem ’n diep teug, sit agteroor en vou sy hande om die warm beker.

      “Douw van der Linde sou ’n goeie sjirurg gewees het,” merk hy nadenkend op. “Hy het ’n manier om ’n man op ’n operasietafel te spalk, oop te sny en die probleem uit te haal – soos mangels of ’n blindederm; dit te dissekteer en te diagnoseer.”

      “Dit klink seer,” spot Suri.

      “Dis soos tandpyn, só seer jy is dankbaar as die dêm ding uitgetrek is.”

      “Is dít wat hy met jou gedoen het – jou oopgeslag en gediagnoseer? En wat is dokter Van der Linde se kuur? ’n Karibiese bootreis of ’n naweek in Mauritius?”

      “Ek wens …” Hendro se gesig trek suur, “jý was eerder my dok. Nee, nie eens ’n Sondagmiddag op Durbs se Suidstrand nie. Weliswaar ’n maand se menslikheidsverlof, maar dis om my banksake uit te sorteer, die state en kwitansies te soek wat die eksekuteurs benodig, die gras te sny en ’n ander ryding te soek.”

      “Jy gaan dus nie meer oppak en agter die muse aan trek nie?”

      Hy sug. “Wat baat wegvlug? Jou herinneringe en skuldgevoelens trek saam. Ek moet leer om daarmee saam te leef, my duiwels te besweer en ’n sterker mens anderkant uit te kom.”

      Suri se oë rek. Is dít waaroor die gesprek tussen Hendro en sy baas gegaan het, daar op die laagwaterstrand? Dit het haar baie bekommernis, oorreding en moeite gespaar, en dit het Hendro heel duidelik goed gedoen. Sy kry respek vir Douw van der Linde, al hou sy nie van baasspelerige macho-mans wat dink almal om hulle is onnosel nie.

      “Ek ken Douw al jare,” vertel Hendro. “Sedert ons studentedae. Hy was ’n vierdejaar, besig met sy M en SR-voorsitter, toe ek ’n eerstejaar was.”

      “Op Tukkies? Wat het hy geswot?”

      “Tale en kommunikasiekunde, dieselfde as jy.”

      “Ook maar goed dit was voor my tyd. Hy laat my hare rys.”

      “Hoekom?”

      “Hy is krities en dominerend. En nog allerhande ander goed ook … Maar ek dink die hoofrede is omdat ek kan aanvoel hy hou ook nie van mý nie.”

      “Wat laat jou so dink?” Hendro is verbaas, want hy het die teenoorgestelde gevoel gekry: eerder dat Douw in sy skoonsussie belangstel. Hoekom anders het hy oor haar uitgevra?

      “Hy is beterweterig en uit die hoogte. Hy behandel my soos ’n laerskoolkind wat nie