die stil verlange uit haar oë.
“Ek is seker daarvan dat Elrina vir jou ’n ideale vrou sal wees, meneer Du Pont. Sien, ek is ’n meisie met ’n verlede, daarom soek ek nie vir my ’n bruidegom nie,” sê sy gelykmatig en begin die agterdeur oopmaak.
Sy hand skiet uit, sluit om haar pols en dwing haar hand weg van die deurknop. “Ons het almal ’n verlede, goed of sleg. En wie het nie ’n ratelende geraamtetjie in die kas, soos die Engelse sê nie? Is dít wat jou kwel?” vra hy dringend.
Sy kyk na sy groot hand op haar pols, voel sy krag en weet in ’n flitsende oomblik dat sy altyd veilig sal wees as sy sterk hand hare vashou. As sy maar net kon … smag haar hart, maar haar magteloosheid om haar hand uit te steek en sy droom van liefde te aanvaar, laat ’n gevoel van onredelike woede in haar binneste opstu.
“Laat my gaan, meneer Du Pont. Ek stel nie in jou of jou ligsinnige liefdespraatjies belang nie.” Sy probeer haar arm losruk.
Hy los haar hand en kyk haar ’n paar oomblikke lank stil aan.
“Hy het jou baie seergemaak, nè? Anderdag vertel jy my van hom, maar nou moet ek eers gaan. Tot later, Sanet,” groet hy. Hy kyk haar besorgd aan en draai dan weg.
Sy staar hom verslae agterna en wonder of hy tog nie weet van dít waarvan sy so lank reeds wegvlug nie, en gaan die kombuis binne.
Oom Lukas kom by die voordeur uitgestap, ’n kierie in sy hand, juis wanneer Sanet met ’n skinkbord met koffie die voorportaal binnekom.
“A, ’n lekker koppie koffie is net wat ek nodig het,” sê oom Lukas en stap nader. “Môre, Sanet. Dan is jy ook vroeg op?”
“Ja, oom. Môre, oom Lukas. Ek was in die boord, maar … e … Gaan stap oom elke oggend?” vra sy en voel haar gesig warm word wanneer sy aan haar ontmoeting met Jean-Pierre in die boord dink.
“Elke oggend, winter en somer, klokslag sesuur,” antwoord hy en gaan sit op ’n stoel langs ’n muurtafeltjie in die voorportaal om sy koffie te drink. “Ongelukkig weet Ellie van Duuren, my buurvrou op linkerhand, dit ook en word ek elke oggend van my lewe deur ’n bleek gesig met krulpenne in die hare voorgelê.”
“O … O ja, tant Ellie,” prewel Sanet en sluk aan ’n mondvol koffie. Sou tant Ellie dalk iets van haar en Jean-Pierre gesê het? wonder sy en kyk sku na oom Lukas. “Is … is tant Ellie ’n weduwee?” vra sy en staar stip na die koppie in haar hand en voel hoedat haar wange warmer gloei en wens sy kan aan ’n verskoning dink om haar uit die voete te maak.
“Ja, tot my sonde en ergernis. Sy was jare lank met Abraham van Duuren getroud. Hy was ’n slim man en ’n vooraanstaande boer tot sy dood, sowat vyf, ses jaar gelede, het hulle op die plaas gewoon,” vertel oom Lukas en proe weer aan sy koffie.
“Ek het tant Ellie vanoggend daar langs die ringmuur gesien, maar ons … e … ek het nie met haar gepraat nie,” lig sy oom Lukas in.
“Nee, sy vertel my toe jy en Jean-Pierre het mekaar daar in die boord vasgeklou en sy het hoeka snaakse dinge begin dink, maar toe hoor sy jy het jou enkel verstuit. Watter enkel is dit, kindjie?” vra oom Lukas vroom terwyl hy met oordrewe belangstelling na haar enkels staar.
“My enkel makeer niks nie, oom,” Sanet frons. “Jean-Pierre is ’n stuitige … e … pierewaaier, en tant Ellie soek net geselskap. Ek het oom gesê ek stel nie in mans belang nie.”
“Dis waar, ja. Ellie soek geselskap en dat sy ’n skindertong is wat Elrina, haar en Abraham se enigste kind, dikwels in die verleentheid stel, is nie altemit nie. Maar jy begaan ’n groot fout as jy meen Jean-Pierre is ’n stuitige pierewaaier wat graag agter meisies aandraf. Daarvoor is hy in elk geval te besig, want hy is prokureur hier op die dorp, en het ook sy erfplaas, La Provence, daar langs die Groot Visrivier. Hy het jou seker daarvan vertel?”
Sanet skud haar kop woordeloos terwyl sy die nuwe inligting oor Jean-Pierre probeer verwerk. Hy is ’n geleerde man. Met ’n erfplaas, sy eie praktyk en ’n dorpshuis kan hy nie arm wees nie. Nogtans verspeel hy sy tyd saam met haar in die boord en vertel haar dat hy haar liefhet en met haar gaan trou. Hoe rym dit? wonder sy.
“Ons boer hier langs die Groot Visrivier met Durum-koring, of spaghetti-koring, soos ons boere dit noem, want ons kweek dit spesiaal vir die fabriek op Worcester waar hulle allerlei pastas maak. Ek het self ’n plasie langs die rivier, maar Jean-Pierre se plaasbestuurder bewerk my grond ook, want my jare van hard werk en sweet lê agter die rug.” Oom Lukas glimlag en kyk na Sanet wat hom luisterend dophou. “Dan het Jean-Pierre niks van sy plaas gesê nie?”
“Nee, oom. Ons het sommer gepraat oor … oor die tweeling se molslang en … en so aan. Woon Elrina saam met tant Ellie hier langsaan?” vra sy, weet dat sy geensins belangstel in Elrina van Duuren nie, maar besef terselfdertyd dat sy kan sterf van nuuskierigheid oor wie en wat Elrina presies is.
“Dalk moet ek dit stel dat Elrina hier langsaan woon en Ellie woon by haar.” Oom Lukas glimlag geheimsinnig en skud sy kop. “As jy oorlede Abraham se moeder, ou tant Christina van Duuren, leer ken, sal jy weet wat ek bedoel. Tant Christina is ’n vorstelike vrou, ’n ongekroonde koningin, wat haar man, haar enigste seun, haar huis en haar plaas met ’n ysterhand regeer het. Almal het na haar pype gedans, selfs die predikant en die kerkraad, maar toe gaan trou Abraham met Ellie Steen van Dorpstraat …”
“Tant Ellie was nie die vrou wat oom Abraham se ma vir hom sou gekies het nie?” vra Sanet, belangstellend in die bure se geskiedenis ondanks haar onverklaarbare gevoel van vyandigheid jeens die onbekende Elrina.
“Kind, daar was amper ’n rewolusie op ons dorpie. Tant Christina en haar getroue trawante wou met geweld Abraham en Ellie se huwelik nietig verklaar, want dat ’n meisie van Dorpstraat in die onderdorp met die enigste seun van Christina van Duuren kon trou, was ’n misdaad en ’n gruwel. Maar die twee was wettig getroud en tant Christina se vyande kon lank en hard lag omdat Abraham sy ma so lekker uitoorlê het.”
“Het tant Christina hom nie onterf nie?” vra Sanet nuuskierig.
“Sy sou as sy kon, maar ou Awie van Duuren, haar oorlede man, het die plaas aan Abraham bemaak en sy het net vruggebruik van die grond gehad. Nou ja, die mense het aanhou lag totdat klein Elrina grootgeword het …” Oom Lukas sit sy leë koppie op die muurtafeltjie langs hom en lag geamuseerd. “Jy sal haar nog self ontmoet, die jong Elrina van Duuren. Sy is haar ouma Christina se ewebeeld en as jy na die ongekroonde koningin van Bothasrus soek, is dit Elrina van Duuren.”
“Is sy baie mooi, oom?” vra Sanet.
“Mooi? Nou ja, aristokraties aantreklik is miskien ’n beter beskrywing. Seker mooi ook, want sy het groot, donker oë en digte, swart hare. Sy is ook ’n lang meisie, nes jy, maar … e … sy het ’n bietjie meer gewig as jy,” sê oom Lukas en Sanet bloos en onthou dat Jean-Pierre haar maer en benerig genoem het.
“Wat doen sy, of het sy nie nodig om te werk nie?” vra Sanet en byt kwellend aan die binnekant van haar lip. Hoe kon sy so dwaas gewees het om Jean-Pierre se stories te glo? Met ’n meisie soos Elrina as sy aanstaande bruid weet sy dat hy haar net vir die gek gehou het.
“Sy het ’n BA-graad, maar almal weet sy is net op aandrang van haar ouma Christina universiteit toe, want behalwe dat sy op elke dankbare en ondenkbare komitee dien, die armes van die dorp ophef en die rykes regeer, het sy niks anders te doen nie. Haar ouma Christina sorg dat sy soos ’n mannekyn aantrek, ’n blink motor ry en haar flikkers vir Jean-Pierre gooi.”
“Dan het sy en Jean-Pierre trouplanne?” vra Sanet en kug agter haar hand omdat haar stem ongewoon skor klink.
“So vertel ou Christina, Ellie en almal wat weet, maar Jean-Pierre swyg soos die graf,” antwoord oom Lukas. “Daar is mense wat meen dat Jean-Pierre glo Elrina is te jonk vir hom, want sy is maar twee-en-twintig, terwyl hy al ’n man van vyf-en-dertig is, maar ek glo nie so ’n probleempie sal in die pad van die liefde staan nie, veral as ’n mens onthou dat Elrina se erfgrond en Jean-Pierre se plaas aan mekaar grens.”
“Ja, dit