sommer net hier neer, en jy, boetie, bring vir my die tuinslang,” beduie sy aan Gerrie wat naas haar staan. “Daar is niks wat so vinnig vir ’n floute help soos ’n bietjie koue water nie.”
“Tannie soek moeilikheid,” waarsku Gerrie. “As tannie Sanet met ’n tuinslang natspuit, klap sy tannie se ore vuurwarm!”
“Ons moet haar hospitaal toe vat,” besluit Peet gewigtig. “Maar ons sal haar eers moet bad, want sy is darem vreeslik vuil en vol stof, nè, oom Jean-Pierre? Moet ek oom Lukas gaan roep sodat hy haar kan bad? Hy kuier by oom Gideon, hier op die hoek.”
“Dit sal nie nodig wees nie, dankie, Peet. Ek sal mond-tot-mond-asemhaling toepas,” antwoord Jean-Pierre bedees, buig sy kop nader en soen Sanet vol op haar lippe.
Haar oë vlieg oop en sy ruk haarself orent in sy arms, vlamme van verontwaardiging gloeiend op haar wange.
“Hoe durf jy, meneer Du Pont?” vra sy driftig en spartel in sy arms sodat hy verplig is om haar op haar voete te laat staan.
“Maar jy het mos daarna gesoek, Doringrosie,” antwoord hy. “Ken jy nie jou sprokies nie? Jy is veronderstel om innig dankbaar te wees omdat my soen jou wakker gemaak het, en om onmiddellik met my te trou.”
“Sulke stuitigheid!” laat hoor tant Ellie wat soos ’n veglustige bantamhaantjie uit loutere ergernis heen en weer tussen Jean-Pierre, die tweeling en Elrina rondtrippel, telkens voor een van hulle vassteek en dan verder trippel. “Elrina, het jy niks te sê nie? Kan jy nie sien Jean-Pierre is van die duiwel besete nie? Hy tree soos ’n skoolseun op, nie soos ’n man met ’n praktyk wat ten gronde gaan terwyl hy by die buurmeisie rondlê nie?”
Sanet betrag tant Ellie met openlike nuuskierigheid asof sy heeltemal seker wil maak dat die stekelrige vroutjie van vlees en bloed is, en nie net iemand wat in haar verbeelding bestaan nie. Wat ’n uitgesproke mens, dink sy, en kyk simpatiek na Elrina. Dank die hemel sy het nie ’n ma wat haar so in die verleentheid kan stel nie.
Sanet besef met die eerste oogopslag dat Elrina van Duuren nie haar simpatie nodig het nie. Ondanks haar jeugdigheid is Elrina ’n meisie met ’n selfversekerdheid wat by ’n veel ouer vrou pas.
Sy is onberispelik volgens die jongste mode geklee en haar haarstyl kom uit ’n haarkapsalon. Haar grimering is met professionele kundigheid aangewend.
In ’n ander era sou Elrina beslis ’n skoonheid gewees het, maar selfs nou slaag sy daarin om haar sterk, byna manlike gelaatstrekke met slim grimering te verbloem, en beklemtoon die besondere skoonheid van haar groot, swartbruin oë en die volheid van haar sensuele lippe.
Geen wonder Jean-Pierre het gesê sy is maer nie, want in haar stowwerige langbroek en bloesie en met ’n blou doek om haar kop om haar hare skoon te hou, voel sy soos ’n voëlverskrikker, dink Sanet en kyk met ’n tikkie afguns na Elrina.
“Sanet,” sê Elrina met ’n kopknik en ’n glimlaggie wat die volheid van haar mondjie beklemtoon. “Dan is jy oom Lukas se nuwe huishoudster?”
Sanet wil Elrina iets katterigs toevoeg, maar besef dan sy is wel haar oom se huishoudster.
Maar waarom kan sy nie byvoeg dat sy ook ’n bekwame rekenmeesteres met ’n B.Com-graad is nie? wonder Sanet grimmig, maar besluit dan dat dit dalk veiliger is dat niemand weet dat sy ’n rekenmeesteres is nie, want iemand kan dalk net ’n koerantberig van vier jaar gelede onthou.
“Sanet is ons stiefma,” kondig Gerrie met ’n vername stemmetjie aan, oortuig daarvan dat Elrina Sanet beledig het, maar nie seker hoe sy dit gedoen het nie. “Is jy ook iemand se stiefma, tannie?” vra hy vir Elrina.
Elrina se lag is koel. “Ek is veels te jonk om nou al aan moederskap te dink. Ek glo dat ’n geëmansipeerde vrou haar geleerdheid en haar talente moet gebruik voordat sy aan ’n huwelik dink, anders verval sy te maklik in die antieke rol van onderhorige kneg vir die man,” antwoord sy, haar blik betekenisvol op Sanet.
“Sy lyk nie jonger as jy nie, Sanet,” merk Peet vies op. “Ek wed sy was al lankal dertig, want sy is baie vetter as jy.”
“Stil, Peet,” sê Sanet berispend, maar innerlik verheug oor Peet se woorde omdat Elrina haar so duidelik laat verstaan het sy is ’n onderhorige kneg. “Gaan speel julle twee nou. As julle my almal sal verskoon …” Sy raak aan haar kopdoek. “Ek was besig om die soldervensters te was.”
“Wat van ons geld, oom Jean-Pierre?” vra Gerrie en frons hewig. “Het oom onthou om die geld te trek, of moet oom nou eers weer bank toe gaan?”
“Nee, ek het die geld saamgebring,” antwoord Jean-Pierre en haal twee vyfrandstukke uit sy hempsak. “Een vir elkeen. Baie dankie vir julle hulp.”
“Oom moet net sê as oom weer met Sanet wil praat,” sê Peet en glimlag van oor tot oor terwyl hy die vyfrandstuk in sy hande ronddraai en behoorlik beskou. “Solank oom ons vyf rand betaal, sal ons haar elke dag vir oom vang.”
“Nou wat praat die kind alles, Jean-Pierre? Haai, boetie, kom terug! Kom vertel my …” roep tant Ellie, maar Gerrie en Peet klap die tuinhekkie agter hulle toe en kies koers winkel toe om hulle groot beloning te gaan uitgee.
“Dit klink vir my ook na ’n interessante manier om geld te maak,” sê Elrina spottend. “Betaal jy enigiemand vyf rand om Sanet vir jou te vang, Jean-Pierre? Mag ek saamspeel?”
“Ek sal dit waardeer,” sê Sanet vinnig. “Sanet is die naam van ’n oulike molslang wat eers aan die tweeling behoort het, maar omdat ek nie van slange hou nie, het hulle hom aan meneer Du Pont gegee. Die molslang kruip op die oomblik êrens in die huis rond. Ek sal jou met liefde tien rand betaal as jy hom vir my kan vang, juffrou Van Duuren.”
Elrina glimlag meerderwaardig. “Lyk ek vir jou soos ’n meisie wat ter wille van tien rand agter ’n slang gaan rondkruip?” vra sy.
“Die ou slangetjie is reeds veilig in sy hokkie,” sê Jean-Pierre en lê sy hand liggies onder Sanet se elmboog. “Kom, Sanet, ek wil sommer daardie boeke wat oom Lukas by my geleen het, in sy studeerkamer gaan haal. Sien julle, tant Ellie … Elrina?”
“Moenie van ons afspraak vanaand vergeet nie, Jean-Pierre,” herinner Elrina hom. Sy glimlag met die selfversekerdheid van ’n meisie wat weet sy hoef haar nie oor die lojaliteit van haar toekomstige man te kwel nie. “Tot siens, julle,” groet sy en stap sonder meer weg.
“Elrina, hoe kan jy die twee saam vertrou? Waarom kan jy nie wag totdat Jean-Pierre sy boeke en die slang gekry het nie? Ons kan hom vra om middagete saam met ons te eet, anders kuier hy dalk …” kerm tant Ellie in haar dogter se ore en draf agter die elegante Elrina aan.
“Ma … asseblief! Bly net stil, dan sal niemand agterkom Ma is ’n onderdorper nie, soos ouma Christina altyd sê!” sis Elrina bytend. Sy hou haar stem gedemp, maar Sanet en Jean-Pierre wat op die grasperk voor die huis bly staan, hoor haar.
Sanet kyk onwillekeurig op na Jean-Pierre. Asof hy haar blik op hom voel, kyk hy na haar en hy glimlag. “Oulike bure wat jy het,” sê hy sardonies.
“Ek wonder wie ’n mens die jammerste moet kry, tant Ellie of Elrina?” antwoord sy.
“Jy bedoel dit tog seker nie, Sanet? Tant Ellie het haar bes gedoen om jou te beledig, omdat sy doodbang is ek stel dalk werklik meer in jou as in Elrina belang. Elrina was net haar gewone, hooghartige self. Die arme meisie het so ’n opinie van haarself dat goeie maniere vir haar onbelangrik is. Maar sy is nog bitter jonk … sy sal moontlik nog leer.”
“Het haar ouma Christina ooit geleer?” vra Sanet sonder om na hom te kyk.
“Dan ken jy Elrina se geskiedenis?” vra hy, versterk sy houvas op haar arm en dwing haar om saam met hom na die voordeur te stap.
“Oom Lukas het my vertel van die trotse tant Christina en die arme oom Abraham wat toe met tant Ellie van die onderdorp getroud is. Tant Christina het beslis daarin geslaag om Elrina te leer om haar eie ma te minag,” sê Sanet afkeurend.
“Dit