Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 9


Скачать книгу

Elrina,” sê sy met ’n onskuldige glimlaggie. “Ek kon nie verstaan waarom hy so opdringerig teenoor my was nie … so asof jy hom begin verveel het en hy na nuwe weivelde begin soek het. Maar as dit alles net goedbedoelde simpatie en goeie buurmanskap was, sal ek hom vergewe en voortaan minder hard probeer om uit sy pad te bly.”

      Elrina se woede bars in ’n donker gloed op haar wange uit en smeul van verterende nyd in haar oë, haar aanloklike lippe ineens ’n smal streep van nouliks beteuelde woede.

      “Insinueer jy dat hy meer in jou as in my belangstel?” vra sy, haar stem skor en ingehoue. “Jou arme ding, jy weet nie waarvan jy praat nie! Jean-Pierre hou van baie geld en baie mag, en hy weet as hy met my trou, sal hy eendag die rykste man op Bothasrus wees. Wat kan jy hom bied, behalwe jou oujongnooiskap?”

      “Elrina.” Marie-Louise se stem is sag dog gebiedend. “Dalk het jy vergeet, maar op die oomblik kuier Sanet in my huis, daarom is sy my gas. Jy wil tog nie hê ek moet jou vra om liewer huis toe te gaan nie?”

      Elrina lig haar ken trots. “Ek kan seker geen lojaliteit van jou verwag nie, nè, Marie-Louise? Jy was nog altyd jaloers op my, maar nou ja … ek en jou broer gaan trou en ons sal jou nie as ons huishoudster nodig hê nie. Julle twee oujongnooiens kan mekaar maar geselskap hou,” antwoord sy en stap in die gang af na die voordeur.

      “Hoekom klap jy haar nie, Marie-Louise?” vra Gerrie vies terwyl hy sy mond met sy handrug afvee. “As ek groter was, het ek haar geklap, maar sy is ’n bietjie groot en vet … Is jy rêrig ook ’n oujongnooi, Marie-Louise?”

      “Lankal. Ek was al agt-en-twintig,” antwoord sy en haar oë vonkel onnutsig. “Het julle klaar geëet?”

      “Ek wil nog eet, maar ek kan nie meer nie,” kreun Peet, maar steek nogtans sy regterhand na die koekbordjie uit. “Mag ek ’n paar koekies saamvat, asseblief, Marie-Louise?”

      “Deel die koekies tussen jou en Gerrie,” antwoord Marie-Louise en kyk verontskuldigend na Sanet. “Hulle sal tog nie nou die middagete eet wat jy berei het nie, daarom sal ’n paar ekstra koekies geen skade doen nie.”

      “Ons gaan nou eers weer vir ou Jannie insekte vang. Tot siens, Sanet! Ta-ta, Marie-Louise!” roep Gerrie en draf agter Peet aan by die agterdeur uit.

      “Ou Jannie is hul molslang wat hulle in die een buitekamer hou,” verduidelik Marie-Louise ongemaklik. “Jy weet mos van hom?”

      “Ja, hy is as ’t ware ’n ou vyand.” Sanet glimlag halfhartig en vervolg met ’n ligte frons: “Jy moenie toelaat dat die tweeling misbruik maak van jou goedheid nie, Marie-Louise. Ek het hulle seker ’n bietjie afgeskeep, want ek het van vroegdag tot sononder huis skoongemaak, maar ek is nou klaar en van môre af sal ek hulle probeer besig hou.”

      “Watter kind kuier ooit lekker by sy eie huis?” vra Marie-Louise met ’n begrypende glimlag. “Moenie jou oor my of die tweeling kwel nie, Sanet, want hulle is welkome geselskap vir my. Jy het mos gehoor Elrina het gesê ek is ’n oujongnooi en ek veronderstel dis een van my komplekse wat veroorsaak dat ek dol oor kinders is.”

      “Ek was nog altyd lief vir kinders, selfs voordat ek die onbenydenswaardige status van oujongnooi verwerf het,” spot Sanet.

      “Ek ook, maar dít sal die jeugdige, slim Elrina nie glo nie.” Sy frons en sê ongemaklik: “Jy moenie te haastig wees om al Elrina se stories te glo nie, Sanet. Sy aard maar na haar ma Ellie, selfs al kyk sy op haar neer. Ek is self nie dol oor tant Ellie en haar bitsige tong nie, maar ek kry haar tog jammer, want Elrina gee nie om waar of wanneer sy haar verneder nie,” sê Marie-Louise.

      “Gee Elrina ooit om wie onder haar giftige tong deurloop?” vra Sanet en probeer om die beeld van Jean-Pierre se gesig met ’n ergerlike veeg van haar hand voor haar oë uit te wis.

      “Glad nie, veral nie as sy jou as ’n bedreiging beskou nie.” Marie-Louise betrag Sanet stil en sê huiwerig: “Ek kan my net verbeel, maar ek het die indruk gekry dat Jean-Pierre werklik van jou hou.”

      “Jammerte is ’n wonderlike motivering,” antwoord Sanet sinies.

      “My liewe mens, jy glo tog nie daardie stories van Elrina dat Jean-Pierre jou as ’n oujongnooi met komplekse beskou nie?” vra Marie-Louise onthuts.

      “Ek was al vyf-en-twintig,” antwoord Sanet afgetrokke.

      “En ek het jou reeds gesê ek is agt-en-twintig, maar ek het geen noemenswaardige liefdesteleurstelling gehad nie behalwe dalk toe ek in graad agt op die hoofseun van ons skool verlief was.” Marie-Louise lag vonkelend. “Deesdae trou meisies nie meer almal voordat hulle mondig is nie. Liewer alleen en gelukkig, as getroud en ’n kandidaat vir ’n egskeiding. Of dink jy werklik ek is te maer en verpiep en te onaantreklik om ’n man te kry?”

      “Jy?” Sanet giggel. “Moenie laf wees nie, mens. Jy is baie mooier as Elrina.”

      “Dankie, jy is my lewenslange vriendin,” grinnik Marie-Louise. “Gaan jy nou saam met my ’n koppie tee drink?”

      Sanet kyk op haar polshorlosie en trek haar asem hoorbaar in. “Goeiste, nee, dis al byna halftwee! Oom Lukas sal wonder waarom betaal hy my ’n salaris as ek by die bure rondkuier in plaas van om vir hom middagete te maak. Ek moet dadelik gaan,” sê sy ontsteld en stap vinnig na die agterdeur.

      “Maar jy sal weer kom kuier?” roep Marie-Louise agter haar.

      “Kom kuier jy liewer by my,” antwoord Sanet en drafstap weg na die ringmuur.

      Marie-Louise is ’n skat van ’n mens. Daarom het sy so hard gepoog om haar te verseker dat Elrina die stories uit haar duim gesuig het. Maar net Jean-Pierre weet van haar liefdesteleurstelling, daarom kan net hy gesorg het dat Elrina daarvan te hore gekom het.

      Hy gaan eendag met haar trou, het hy gesê. Hy het haar sy bruidjie genoem en dit het gelyk asof hy dit bedoel. Hoe kon sy so dwaas wees om hom te glo? vra sy haarself af, ’n harde trek van bitterheid om haar lippe.

      Maar nie weer nie, beloof sy haarself en klim oor die ringmuur en hardloop tussen die bome van die vrugteboord deur huis toe.

      Oom Lukas plaas ’n skinkbord met twee koppies op die teewaentjie neer, trek die waentjie tot voor Sanet wat op ’n gemakstoel in die sitkamer sit, en gaan sit skuins teenoor haar op sy geliefkoosde stoel.

      “So ja, nou voel ek minder skuldig, want ek het die middagete en die tee gemaak,” sê hy ingenome.

      “En ek het rondgeloop. Oom laat my soos ’n stokkiesdraaier voel,” kom dit verleë van Sanet terwyl sy vir hulle tee inskink.

      “En hoe moet ek voel?” Oom Lukas neem die koppie by haar en volg haar met sy oë terwyl sy terugkeer na haar stoel. “Jy werk soos ’n slaaf om die huis van hoek tot kant skoon te kry en dan wil jy boonop vir die etes ook sorg. Dit kan nie so aanhou nie, Sanet. Die huis skitter nou van voor tot agter en ek hoop jy sal voortaan meer dikwels by die bure kuier. Ek verwag mos nie dat jy elke dag moet tuis sit en bediende speel nie.”

      “Ek geniet dit, oom Lukas,” antwoord sy gelykmatig.

      “Jy bloos wanneer jy jok. Daarom moet jy liewer die waarheid praat.” Oom Lukas glimlag goedig toe sy hom gekrenk aankyk. “Dalk sal jy dit nog meer geniet om kos te kook as een van jou ou vriende vir ’n naweek kom kuier. Daardie jongman Tertius Lindeque het nou al drie keer gebel om met jou te praat, maar omdat jy gesê het jy wil geen telefoonoproepe hê nie, het ek maar elke keer die praatwerk gedoen.”

      “Dan het oom nie vir tant Ellie gejok toe oom gesê het Tertius het gebel nie?” vra sy verras.

      “En waarom sal ek jok?” Hy kyk haar verwonderd aan en vervolg: “Die seun wil kom kuier, en noudat die huis skoon is, kan jy hom seker toelaat om te kom. Dalk sou dit ou Ellie se groot mond snoer … verbeel jou, om jou ’n oujongnooi te noem! Haar opgesmukte modepop van ’n dogter lyk maklik dertig of ouer, al is sy nog nie behoorlik droog agter die ore nie.”

      “Elrina is ’n mooi meisie en sy weet hoe om aan te trek,” sê Sanet met eerlike