het oom nie geweet oujongnooiens se kinders lyk almal soos katte en honde nie?”
“Vat nou maar vir Bismarck agterplaas toe, Gerrie, anders kry die arme oom Lukas dalk ’n aanval van apopleksie,” versoek tant Dassie en stoot die seuns in die rigting van die agterdeur.
“Apo-wat, Tannie?” vra Gerrie nuuskierig.
“Beroerte, Gerrie,” sê Sanet ongeduldig en hoor die kombuisdeur agter haar toegaan. Sy kyk moedeloos na oom Lukas. “Sal oom ’n koppie tee of ’n glas lemoensap drink?” probeer sy die gesprek in ’n ander rigting dwing.
“Waarom glo vroumense altyd ’n man wat briesend is, vergaan van die dors? Nee, ek is nie dors of honger nie en ek wil ook nie sit nie. Ek bly net hier staan en wag totdat doktor Dassie aan my verduidelik waarom sy skielik besluit het om haar geleerde siel oor my te ontferm. Of het jy al jou geld op die perde verloor, Dassie?” knor oom Lukas.
“Jy kon my nog nooit vergewe omdat ek my studies voortgesit en my doktorsgraad verwerf het nie, nè, Lukas? Twaalf jaar gelede, op oorlede Daleen se begrafnis, het jy ook smalend daarna verwys. Jy kon mos ook verder geleer het?” vra tant Dassie rustig.
“Dit gaan nie oor jou geleerdheid nie, maar oor jóú, Dassie. Net omdat my broer met jou suster getroud was, beteken dit nie dat ons familie en boesemvriende is nie,” grom hy.
“Gelukkig nie, Lukas, maar Sanet is toevallig my susterskind en daarom gaan ek nie toelaat dat jy van haar ’n oujongnooi maak nie. Die gawe prokureur het my klaar ingelig oor hoe hard die arme Sanet moes werk om jou vuil huis skoon te kry. Drie weke lank, en sy was nog nie een dag saam met ’n jongman uit nie. Dit kan nie so voortduur nie, Lukas, want een oujongnooi in ’n familie is meer as genoeg,” sê tant Dassie.
Oom Lukas kyk haar wantrouig aan en vra ongelowig: “Dan probeer jy sê jy het nie jou oujongnooiskap geniet nie?”
“My lewe was niks eensamer as joune nie, Lukas,” antwoord tant Dassie. “Ek was altyd bedrywig, het altyd nuwe belangstellings bygekry, maar vandat ek afgetree het … dalk bly die mens ’n halwe mens as jy nooit trou nie.”
“So, nè?” Oom Lukas lyk agterdogtig. “Jy het nie dalk self ’n man kom soek nie, Dassie?”
“Ek hoef nie te soek nie, Lukas, want ek ken ’n eerbare man met wie ek sal trou as hy my sou vra. Maar nou moet …”
“Nogal ’n ou flerrie ook, en dit op nege-en-sestig! Wie is hy? Hoekom het jy hom nie saamgebring nie? Of kom jy hier in my huis wegkruip sodat die ou man jaloers kan word en jou gouer kan vra om met hom te trou?” neem hy haar in kruisverhoor.
“Lukassie …! Joe-hoe! Meester Lukas, waar kruip jy weg?” roep tant Ellie se skel stemmetjie in die gang agter oom Lukas.
“Nou wat de joos …?” bars die onvoltooide vraag met ’n diep gegrom uit oom Lukas se keel, terwyl ’n donker gloed van ergernis oor sy gelaat sprei.
“Dis tant Ellie, oom Lukas se dierbare buurvroutjie, tant Dassie,” sê Sanet gedemp en grinnik soos ’n stout kind toe oom Lukas haar boosaardig aangluur.
“O, hier is jy, Lukassie,” koer tant Ellie en vat-vat aan haar hare om te voel of elke krulletjie nog op sy plek is. Sy loer met flikkerende wimpers na oom Lukas wat oor haar troon. “Ek het gekom om jou nuwe huishoudster te ontmoet, Lukas. Is dit nou sý?” vra tant Ellie en beskou tant Dassie onbeskroomd nuuskierig.
“Ellie, moenie my Lukassie noem nie, want dit laat my onbeskryflik naar voel,” versoek oom Lukas.
“Dis jou gal wat jou so naar maak, Lukas. Jy drink te veel koffie. As ek nou jou huishoudster was, sou ek jou niks anders as rooibostee laat drink het nie,” gesels tant Ellie sonder om haar oë van tant Dassie af te neem. “Jy is doktor Dassie de Bruyn, nè? Ja, ’n mens kan sommer sien jy is ’n slim vrou, maar weet jy darem iets van huishou? Jean-Pierre vertel my jy is ’n oujongmeisie wat jou lewe lank skoolgehou het. Waar het jy leer kook?”
“In ’n kombuis,” antwoord tant Dassie met ’n liewe glimlaggie. “Is dit nie waar jy ook leer kook het nie, Ellietjie?”
’n Proeslaggie glip deur Sanet se neus en sy bring haar hand vinnig na haar mond om haar lag vir tant Ellie te verberg. Sy sou nooit kon glo dat haar waardige, statige tant Dassie daartoe in staat kon wees om ’n opdringerige mens soos tant Ellie op haar plek te sit nie, dink sy. Sy kyk met nuwe oë na tant Dassie.
“Dan gaan jy sommer nou twee huishoudsters hê, Lukas?” vra tant Ellie. “ ’n Mens wonder maar net waar jy al die geld kry om die salarisse van jou twee huishoudsters te betaal. Maar ek wou sê wanneer jou geldjies die dag opraak, laat my weet, want ek bied lank genoeg aan om verniet vir jou huis te hou. Ek kan nie arm familielede verdra wat op die rykes teer nie.”
Oom Lukas kyk rustig van tant Ellie na tant Dassie en dan weer terug na tant Ellie, en dan merk Sanet ’n skielike vonkeling in sy oë.
“Ellie, ja, ek sou nie weet nie, maar sodra ek en Dassie ons sommetjies klaar gemaak het, sal ons jou laat weet wie van ons twee die rykste is,” antwoord hy byna gemoedelik.
“Ag, so?” Tant Ellie bekyk tant Dassie van kop tot tone en sê geniepsig: “As jy na haar verlepte ou rokkie kyk, sal jy nie dink sy het geld nie. Nou, dan loop ek weer. Tot siens, Lukas, en laat my maar weet as jy my nodig het.”
“Ek hou liewer ’n poedel aan,” sê tant Dassie wanneer tant Ellie in die gang wegstap.
“Wat laat jou dink ek hou haar aan?” blits oom Lukas. “Sy woon hier langsaan en daarom sit ek met haar opgeskeep.”
“Ja, dis nogal moeilik, Lukas, want dit lyk my jy kan nie jou bure of jou huishoudster kies nie,” sê tant Dassie. Sy lees die opstand in oom Lukas se oë en vervolg vinnig: “Op pad hierheen het ek by julle enigste eiendomsagent op die dorp gehoor dat daar darem ’n huisie of twee beskikbaar is as ek dalk sou besluit om vir my ’n plekkie te koop. Ons kan dan vir Sanet en die kinders laat kies by wie hulle die graagste wil woon.”
Vir Sanet lyk dit of oom Lukas langer word, want hy troon oor tant Dassie en lyk soos ’n roofarend wat op sy prooi gaan afduik.
“Dis afdreiging! Dorothea de Bruyn, dis loutere afdreiging!” rammel oom Lukas soos onweer bokant hulle.
“Nee, Lukas, dis uitmuntende strategie. Nou ja, Sanet, dis dan afgehandel. Kom ons gaan dek die tafel vir aandete,” sê tant Dassie ineens saaklik en stap by oom Lukas verby na die eetkamer.
“As oom meen oom sal werklik nie met tant Dassie oor die weg kan kom nie, sal ek …” begin Sanet paaiend.
“Jy het niks te prate nie, Sanet. Wat laat jou dink dat ek nie daarvan hou om afgedreig te word nie?” vra oom Lukas. Sy oë blink met jeugdige genot voordat hy omdraai en in die gang wegstap met ’n nuwe veerkragtigheid in sy tred.
Tant Dassie kyk op van die boek wat sy lees toe Sanet die woonkamer binnekom en klop-klop met haar hand op die rusbank naas haar. “Kom sit. Ek probeer nou al vier dae lank om ernstig met jou te praat, maar jy is altyd op ’n drafstappie op pad êrens heen,” nooi tant Dassie met ’n tikkie verwyt in haar stem.
“Ek wou eintlik materiaal vir nuwe gordyne vir die seuns se solder-speelkamer gaan koop het …” protesteer Sanet en sug dan oorwonne. “Ek kan seker nie aanhou weghardloop nie, nè, tannie? Soek ons nog ’n man vir my?”
“Jy het dikwels oor Tertius Lindeque daar in Johannesburg gepraat, maar ek het nooit die voorreg gehad om hom te ontmoet nie,” val tant Dassie met die deur in die huis.
“O … Wat laat tannie nou aan hom dink?” vra Sanet verwonderd.
“Lukas het my vertel die jongman bel gereeld om te hoor hoe dit met jou gaan en dat hy net op ’n uitnodiging wag om by jou te kom kuier. Jy weet tog daarvan?” vra tant Dassie.
“Ja … ja, dis alles waar, tannie, maar ek is nie lus vir kuiergaste nie. Om die waarheid te sê, ek weet nie meer waarvoor ek lus is nie, want ek het klaar die huis skoon en aan die kant, en