Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 9


Скачать книгу

van ’n stokou pruimboom.

      “Ja, Sanet?” Jean-Pierre kom agter die stam te voorskyn en eet smaaklik aan ’n pruim en betrag haar met vriendelike belangstelling.

      “Jean-Pierre, jy is ook ’n aap!” bars Marie-Louise uit. “Ek doen al die moeite om Sanet oor haar gevoel vir Tertius uit te vra, en jy kom luister ons soos ’n stout kind af.”

      “Ek is ’n haastige man, want daardie meneertjie van Gauteng kan nou enige oomblik hier opdaag en intussen loop ek met my meisie se ring in my sak rond. Komaan, Sanet, raak verloof aan my,” pleit hy en haal die ringdosie uit sy sak. “Ek verwaarloos my slaap, my etes, my praktyk en my boerdery … en dis alles jou skuld. Toe, meisie met die droomoë, gee vir my ook ’n droom,” versoek hy met speelse erns.

      “Haai, wanneer het jy die ring gekoop, Jean-Pierre?” vra Marie-Louise nuuskierig.

      “Hy en Elrina het dit saam gekoop, maar sy wou dit nie hê nie en daarom probeer hy dit aan my vinger kry,” spot Sanet.

      “Dis nie Elrina se ring nie,” sê Marie-Louise terwyl sy dit uit die satyn lig en aan haar eie vinger steek. “Kyk, Sanet, dit pas vir my en jou vingers is net so skraal soos myne. Het jy al gesien hoe dik is Elrina se vingers? Dis waarom sy so graag handskoene dra.”

      Sanet trek haar asem sag in, probeer die saadjie van hoop in haar binneste doodsmoor, maar pleit met haar oë dat Jean-Pierre Marie-Louise se vermoede sal bevestig.

      “Is … dit waar, Jean-Pierre?” vra sy.

      Hy kyk nie na haar nie, maar sy gesig verstroef en hy neem die ring by Marie-Louise en prop dit in sy broeksak.

      “Ek neem aan dis jou vriend, Tertius Lindeque. Sal jy ons voorstel, juffrou Grové?” vra Jean-Pierre vyandig en kyk oor haar kop na die agterdeur.

      8

      Sanet draai stadig om en kyk vas in Tertius se glimlaggende gesig. Hy bly staan en hou sy arms uitnodigend na haar uit en sy huiwer nie, maar storm teen sy bors aan.

      “My mooiste meisiekind … ek het so verlang na jou,” praat sy stem sag en warm in haar oor, sy arms beskermend om haar terwyl hy haar teen hom aandruk.

      “Tertius …” fluister sy en voel vir die eerste maal werklik veilig sedert daardie middag, byna ’n maand gelede, toe sy hom in sy woonstel gegroet het.

      Hy was vier jaar lank haar enigste vriend, vier jaar lank die man wat haar gevreesde geheim geken het sonder om ooit daarna te verwys. Vier jaar is ’n lang tyd om vriende te wees … lank genoeg om lief te kry.

      Sy huil sonder dat sy dit besef, en voel dan hoe haar snikke haar skouers laat ruk. En sy weet sy huil oor die verwarring en hartseer wat ’n nuwe liefde in haar lewe gebring het, en klou Tertius vas asof sy glo dat hy haar enigste redding is.

      “Sanet … Sanet … hoe dan nou?” vra Tertius. “Hier, gebruik my sakdoek, en vertel my wie laat jou so vreeslik huil.”

      Sy lig haar kop op, neem sy sakdoek en droog haar trane af.

      “Beter?” vra hy, hou haar op armlengte aan haar skouers vas en lag in haar oë. “Is dit ek wat jou laat huil het?” vra hy met ’n tikkie kommer in sy stem.

      Sy glimlag sku. “Nee … nee, ek is sommer net laf …” Sy sluk droog, kyk ongemaklik by Jean-Pierre verby, skaam om sy oë te ontmoet, en vervolg: “Dis Jean-Pierre du Pont en sy suster, Marie-Louise. Hulle is ons bure.”

      “Bly te kenne,” groet Jean-Pierre formeel, skud Tertius se hand en gaan haastig voort: “Jammer ek kan nie langer vertoef nie, maar my vennoot kan nie al die werk alleen behartig nie. Sien julle.”

      “Ons verstaan,” antwoord Tertius tegemoetkomend. Hy kyk reeds na Marie-Louise. “Ek verkies in elk geval die meisies se geselskap,” skerts hy en steek sy hand na Marie-Louise uit. “Hallo. Ek is dankbaar om te hoor die aantreklike ou is jou broer en nie jou man nie. Mag ek jou maar op jou naam noem?”

      “Asseblief, ja. Hallo, Tertius,” groet Marie-Louise en kyk onseker na Sanet, asof sy bang is dat Tertius dalk te vriendelik met haar is en haar hand net ’n bietjie te lank vashou. “As julle my sal verskoon … julle het seker baie dinge om oor te gesels.”

      “Niks wat nie tot later kan wag nie,” sê Sanet vinnig en kyk na die klein, fyn buurmeisie en die lang, breedgeskouerde Tertius. “Hou asseblief vir Tertius geselskap terwyl ek vir ons iets te ete en te drinke gaan haal, Marie-Louise. Tertius, stel jy belang in ’n warm melktert en tuisgebakte konfyttertjies?”

      “Stel ek nie belang nie!” korswel Tertius en lê sy hand op Marie-Louise se arm. “Kom ons sit hier onder die boom en dan vertel jy my intussen waarom jy nog nie ’n blink ring aan jou vinger dra nie. Of is mooi meisies so volop op Bothasrus?”

      Sanet gee Marie-Louise nie die geleentheid om haar versoek te weier nie, maar laat haar en Tertius alleen en draf weg na die agterdeur. Waarom moes Tertius op so ’n kritieke oomblik sy verskyning maak? tob sy terwyl sy die ketel vol water tap. As Jean-Pierre net die geleentheid gehad het om haar te verseker dat hy die ring wel vir haar gekoop het …

      Jean-Pierre glo sy het Tertius lief, maar as sy Tertius in Marie-Louise kan laat belangstel, sal Jean-Pierre gou besef dat Tertius nie die man is wat saak maak in haar lewe nie. En wie weet, dalk hou Tertius werklik van Marie-Louise. Dalk kry hy haar selfs lief en dan sal sy nie nodig hê om hom weer ’n keer te sê dat sy net in sy vriendskap, maar nooit in sy liefde sal belangstel nie.

      Tertius bly onder die peperbessieboom op Sanet wag terwyl sy Marie-Louise na die gebruiklike oorklimplek langs die ringmuur vergesel. Hy speel met ’n teelepel teen sy leë teekoppie en glimlag lui en nadenkend toe Sanet weer by hom aansluit.

      “Dis Jean-Pierre du Pont, nè, Sanet?” vra hy. Dis nie werklik ’n vraag nie, maar ’n stelling.

      “Ek … weet nie wat jy bedoel nie,” stamel sy ontwykend.

      Hy steek sy hand uit en trek haar op die tuinbank langs hom neer.

      “Ons is te lank vriende om vir mekaar halwe waarhede te vertel, Sanet,” sê hy, met ’n ondertoon van verwyt in sy stem. “Ek het jou lief en daarom is ek seker oorgevoelig oor die dinge wat jou raak. Net een kyk na jou en die donker man, en ek het geweet jou hart behoort aan iemand anders.” Hy lê sy hand op haar arm en gee dit ’n begrypende drukkie. “Het hy jou lief, Sanet?”

      “As jy dit so maklik kan sien … dink jy hy en Marie-Louise weet ook ek het hom lief?” vra sy ontsteld.

      “Hulle ken jou nie vier jaar lank nie – en dalk is hulle nie lief vir jou soos ek jou liefhet nie,” glimlag hy.

      “Moenie dit sê nie, Tertius. Ek is ook lief vir jou, maar …” maak sy skuldig kapsie.

      “Ek weet. Daarom gaan ek nie ’n dramatiese liefdesverklaring aan jou doen nie.” Hy skud sy kop en laat met ’n speelse gebaar haar blonde krulle deur sy vingers gly. “Daar in Johannesburg het ek my die afgelope maand wys gemaak ek kan nie ’n dag langer sonder jou leef nie, dat ek Bothasrus toe sou kom en jou sou vra om my vrou te word. Ek het selfs ’n ring gekoop …”

      “O, nee …!” roep sy ontsteld uit.

      “Kom nou, Sanet, jy weet mos ek kan ’n ring bekostig,” spot hy. “Ek het besluit ek vertrek nie sonder jou nie, of met ten minste die belofte dat jy voor die einde van die jaar met my sal trou nie. En wat gebeur?”

      “Jy verstaan nie, Tertius, want al …” begin sy, maar hy lig sy hand en beduie sy moet eers wag.

      “Ek kry my meisie onder ’n peperbessieboom en haar oë is vol hartseer en verwarring en die aantreklike man langs haar lyk asof hy moord kan pleeg … en ek kry die gevoel ek sal die slagoffer wees. En toe, om alles te kroon, huil sy haar hart uit in my arms en toe weet ek sy het iemand anders liefgekry,” sê hy en Sanet soek bang na verwyt in sy oë, maar vind net begrip.

      “Hoe het jy geraai?” vra sy sag.

      “Ek