Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 9


Скачать книгу

sy onseker.

      “Hoe kan ek jou verkwalik omdat jy liefgekry het? Jy was nie kwaad toe ek geglo het ek het jou lief nie … Maar het Marie-Louise se broer nie iemand anders nie?” vra hy.

      “Maak dit saak? Jy ken my storie. Gerhard het my verseker dat hy gesorg het dat jy geweet het ek is die Sanet Grové oor wie die koerante geskryf het, anders sou ek destyds nie die moed gehad het om ’n pos in jou firma te aanvaar nie,” antwoord sy met ’n tam stem.

      “En wat het die storie met jou liefde vir Jean-Pierre te doen?”

      “Hoe kan jy nog vra? Die storie … die koerantberigte was die rede waarom my verloofde ons verlowing verbreek het. Ek onthou die oggendkoerante was vol daarvan en nog voordat ek werk toe kon gaan, was hy voor my woonsteldeur met ’n dringende bevel dat ek sy ring aan hom teruggee, want my skandes kon sy loopbaan skaad …”

      “Die lae lak! Hy kon jou nie baie liefgehad het as hy so ’n onbenulligheid …” bars Tertius verwoed uit.

      “Nee, Tertius.” Sy glimlag en lê haar hand paaiend op sy arm. “My verloofde was ’n wetenskaplike, ’n man wat aan feite geglo het. Daarom is dit moontlik vanselfsprekend dat hy ook in my geval eerder die feite as die waarheid kon glo. Ek verkwalik hom nie, want dis heeltemal waar: hy kon my nie baie liefgehad het nie. Ek weet in elk geval nou dat ek hom nooit met ’n volwasse liefde bemin het nie.”

      “En nou vrees jy dat Jean-Pierre jou ook nie sal glo nie? Dat hy ook liewer sensasiesoekende verslaggewers se koerantstories sal wil glo?”

      “Dit was feitelike beriggewing. Daarom kan ek die verslaggewers nie verkwalik nie. Maar jy het gelyk as jy sê as Jean-Pierre met my trou, moet hy met my verlede trou, en dít sal ek nooit van hom verwag nie. Daar is ’n soort liefde wat die ander se geluk eerste stel, selfs al voel dit asof jy binnekant sterf …” Sy kyk hom stil aan. “Ek hoop jy kry eendag so lief, Tertius, want dan sal jy verstaan waarom ek nie met jou kon trou nie.”

      “Moenie jou oor my kwel nie,” troos hy en gee haar ’n speelse drukkie. “Jy moet net …”

      “Haai, Elrina, het Jean-Pierre al ooit vir jou sulke pragtige storietjies vertel?” laat tant Ellie Tertius sy woorde insluk terwyl hy en Sanet vinnig opkyk in die rigting van die agterdeur. ’n Modieuse Elrina, met elke haartjie op sy plek en haar grimering vars, seil soos ’n pronkende pou op haar en Tertius af.

      “Die twee ou duifies koer, nè?” vra Elrina met ’n glimlag. “Hallo, Sanet. Die tweeling het ons kom vertel jou vriend het opgedaag en daarom het ons oorgekom om kennis te maak.” Haar oë staar intiem in dié van Tertius, wat opgestaan het. “Ons plattelanders is mos bekend vir ons gasvryheid, Tertius.”

      “Ja … dis waar, ja,” antwoord Tertius, effens van stryk gebring deur die onverwagte besoek van twee vroue wat hom op sy voornaam ken, maar van wie se bestaan hy tot dusver onbewus was.

      “Tertius, dis tant Ellie van Duuren en haar dogter, Elrina. Hulle huis is hier links van ons – hulle is ook bure,” stel Sanet hulle bekend en kyk wantrouig na Elrina.

      “Bly te kenne,” groet Tertius, terwyl hy Elrina en tant Ellie se hande skud.

      “Ag, ons wou eintlik nie kom pla nie,” maak tant Ellie verskoning, trek ’n wit tuinstoel nader en plof ongevraag daarop neer, opsigtelik van plan om Tertius en Sanet lank te pla. Sy vra nuuskierig: “Dan is dit sommer praatjies van die tweeling dat hulle gesien het Jean-Pierre het ’n verloofring vir jou gekoop, Sanet?”

      “Asseblief, Ma!” kom dit geïrriteerd van Elrina. “Hoeveel keer moet ek nog verduidelik dat Jean-Pierre vir my ’n ring gekoop het, maar ek toe geweier het om aan hom verloof te raak?”

      “As dit waar is, het jy minder tussen jou ore as wat jou oorle pa gehad het, en hy was maar baie onnosel … dis waarom ek hom so maklik kon ompraat om met my te trou … kê-kê-kê!” lag tant Ellie skel oor haar eie grappie.

      Arme tant Ellie, dink Sanet simpatiek. Die hele dorp glo oom Abraham van Duuren was nie heeltemal nugter die dag toe hy met Ellie Steen van die onderdorp getroud is nie, maar dít besef tant Ellie ná al die jare nog nie.

      “Waarom het jy en Jean-Pierre toe nie verloof geraak nie, juffrou Van Duuren?” vra Tertius belangstellend en gee Sanet se skouer ’n bemoedigende drukkie.

      “Ag, lyk die ou tweetjies nie alte gelukkig nie, Elrina?” trek tant Ellie los voordat Elrina Tertius se vraag beantwoord. “Ek het mos vir jou gesê jy kwel jou verniet oor Jean-Pierre, want as ’n jongetjie al die pad van Johannesburg af kom kuier, het hy vir seker trouplanne. Die twee seuntjies het seker maar daardie storie oor die ring uit hulle duim gesuig.”

      “Ma, bewys ons almal ’n guns en bly stil of gaan gesels met oom Lukas,” snou Elrina haar toe en wag nie op ’n antwoord van tant Ellie nie, maar glimlag met net ’n tikkie meerderwaardigheid vir Tertius. “Jy lyk vir my soos ’n intelligente man, Tertius, daarom sal jy my standpunt oor ’n huwelik verstaan. Dankie, ek sal sit,” sê sy wanneer hy vir haar ook ’n tuinstoel nader bring.

      “Niemand het vir ons koek en tee aangebied nie, maar ek kan seker maar ’n stukkie melktert kry. Nee, sit, sit, Sanet, ek gebruik sommer een van die vuil koekbordjies, want julle is almal skoon mense. Haai, hoekom is hier drie koekbordjies? Wie het saam met julle tee gedrink?” vra tant Ellie terwyl sy ’n groot stuk melktert vir haar uitskep.

      “Marie-Louise, tant Ellie,” antwoord Sanet en veg teen haar lus om te lag oor die boosaardige uitdrukking op Elrina se gesig.

      “Glo jy aan die emansipasie van die vrou, Tertius?” sit Elrina haar gesprek met hom voort. “Glo jy elke vrou het die reg om vry en ongebonde te wees? Die vrou is té lank as die man se mindere, selfs sy willose slaaf gesien, terwyl sy dieselfde en soms ’n hoër intelligensie as die man het. Waarom is die grootste kunstenaars en die beroemde leiers deur die eeue altyd net mans? Omdat die vrou minderwaardig aan die man is? O nee, omdat die vrou nooit die geleenthede van die man gehad het nie. Ek is ’n voorstander vir volkome gelykheid vir die man en die vrou, en ek glo elke vrou wat haar verstand kan gebruik, sal met my saamstem,” sê Elrina effens kortasem, asof haar toespraak haar uitgeput het.

      “Dan glo jy nie aan die huwelik nie?” vra Tertius geamuseerd.

      “Haai, skaam jou, boet,” sê tant Ellie en sluk ’n mondvol melktert in sodat sy hom kan kapittel. “Ek het my dogter reg grootgemaak, maar haar ouma Christina het haar kop vol …”

      “Ma!” roep Elrina haar tot stilswye en draai met ’n glimlag na Tertius toe. “Vanselfsprekend glo ek aan die huwelik, maar ook dáár moet die vrou haar gelyke regte kry. Omdat ek nog baie jonk is, stel ek nie in ’n haastige huwelik belang nie. Daarom is Jean-Pierre ’n bietjie omgekrap op die oomblik.” Sy glimlag simpatiek vir Sanet. “Moenie dat hy jou dalk onder die verkeerde indruk bring met sy stories oor ’n verlowing aan jou nie, Sanet, want hy het my lief. Maar ek waarsku jou seker verniet, want ek kan sien jy en Tertius is dolverlief op mekaar.”

      “Nogal ’n ryk man ook, so vertel die seuns my,” sê tant Ellie. “Ek hoor jy is ’n fabriekeienaar, Tertius. Nogal in die staalnywerheid … Elrina, dink jy nie hy is dalk ryker as Jean-Pierre nie? Jy het mos al dikwels gesê as jy nie vir Jean-Pierre wou vang nie, het jy liewer in ’n stad gewoon.”

      “Moet Ma altyd my woorde verdraai?” vra Elrina nydig en kom vinnig orent. “Ek sal baie graag nog met jou wou gesels het, Tertius, maar my ma is vir my ’n verleentheid. Tot siens. Kom, Ma!”

      “Maar hier is nog ’n hele stuk melktert oor, Elrina. Kan ons nie ’n bietjie langer kuier nie?” vra tant Ellie.

      “Neem die melktert sommer so in die tertbord saam, tant Ellie. Tannie kan later die bord terugbring,” sê Sanet.

      “Nou, dis darem dierbaar van jou, Sanet. Baie dankie,” sê tant Ellie, gryp die tertbord en draf agter Elrina aan na die agterdeur.

      Tertius staar Sanet ’n oomblik lank verdwaas aan en bars gedemp uit van die lag. “Bestaan hulle werklik?” vra hy geamuseerd.