gevoel van onvergenoegdheid.
“Jy is verlief. Daarom kan jy aan niks kom nie. Ek het mos al gesien hoe jy ’n boek begin lees. Jy lees net een paragraaf of minder, en dan sit jy met oop oë voor jou en uitstaar en droom. En dis presies ook wat gebeur as ek jou vra om groente te help skil of beddens op te maak. Jy vergeet om jou werk af te handel en dink aan daardie belangrike man in jou lewe,” sê tant Dassie en klink soos ’n kenner van verliefde meisies.
Sanet luister eers onthuts en dan met toenemende ergerlikheid na tant Dassie en vra bitsig: “Regtig, tannie? En tannie ken my groot liefde se naam ook?”
“Ek meen so, Sanet, maar omdat ek wil seker maak, het ek by die belangrikste moontlikheid begin en dis jou goeie vriend, Tertius Lindeque,” antwoord tant Dassie, glad nie van stryk gebring deur Sanet se sarkasme nie.
“Tannie het hom tog nie gebel nie?” vra Sanet ontsteld.
“Ja, kind, ek het. Hy het sy telefoonnommer aan Lukas gegee en ek het die jongman toe sommer gisteraand by sy woonstel gebel en hom genooi om te kom kuier. Toevallig is hy hierdie naweek vry en hy het gesê ons kan hom reeds Vrydagmiddag hier verwag, want hy sal vroeg die oggend van Johannesburg af vertrek,” vertel tant Dassie ingenome.
“Wie kom kuier, tant Dassie?” vra Peet, wat nog in sy skooldrag om die deurkosyn loer.
“Sanet se vriend, Tertius Lindeque. Hy kom die naweek by ons kuier … eintlik by Sanet. Daarom moet julle nie lastig wees nie. Dalk moet ek maar met Marie-Louise reël dat julle die hele Saterdag by hulle swem,” antwoord tant Dassie nadenkend.
“Aag, oom Tertius hou van my en Gerrie, want ons ken hom vandat ons klein was. Hy sal nie omgee as ons lastig is nie … ek wed hy sal liewer saam met ons by Marie-Louise wil gaan swem as om hier te sit. Ek wens darem oom Lukas bou vir ons ook ’n swembad,” kom dit verlangend van Peet.
“Peet, kom nou, man! Naas het gesê ons moet gou maak as ons die ding wil leen, want hy gaan krieket speel,” roep Gerrie.
Peet verdwyn in die gang en tant Dassie staan op en betrag Sanet met ’n tevrede glimlaggie.
“Ek gaan solank sorg vir skoon lakens en handdoeke in die groen kamer. ’n Man hou gewoonlik meer van groen as van geel. Jy kan gerus solank jou hare gaan was, want môre is dit Vrydag,” stel tant Dassie voor en glimlag asof sy Sanet ’n guns bewys het.
Sanet kyk tant Dassie met troebel oë agterna, sug en wonder wat tant Dassie sal sê as sy moet hoor dat sý die enigste man finaal verdryf het wat wel saak gemaak het. Want dis wat gebeur het. Sedert tant Dassie se aankoms en openlike verklaring dat sy ’n man soek vir Sanet, het Jean-Pierre skielik besluit dat hy dringende sake in die Kaap het en dieselfde dag nog vertrek. Tant Ellie en Elrina is saam met hom, onthou Sanet.
“Is dít waar die mooi meisiekind sit? Op ’n vaatjie teen die muur om haar blink haartjies droog te maak?” Jean-Pierre se stem is vol warmte en lag. Hy spot selfs ’n bietjie met haar, maar Sanet is net bewus van die vreemde gewaarwording in haar binneste.
“Dan … dan is julle terug?” stotter sy en wens sy kan ophou met glimlag, want sy is tog nie bly dat hy en Elrina terug is nie. Sy onthou dat Tertius vanmiddag kom kuier.
“Veilig terug met ’n verloofring in my sak,” antwoord hy en haal ’n wit ringdosie uit sy hempsak en klap die dekseltjie op. “Gee my jou hand, Sanet. Of dink jy ek gaan toelaat dat Tertius Lindeque jou voor my neus wegraap?”
7
Sanet steek haar hand agter haar rug weg met die impulsiewe gebaar van ’n kind wat gesteelde lekkers probeer verberg, terwyl sy verdwaas na die diamantring en dan na Jean-Pierre staar.
Sy oë lag nog in hare, maar daar is ’n vasbeslote trek om sy mond wat haar duideliker as woorde oortuig van sy erns om aan haar verloof te raak.
“Nee,” sê sy en skud haar kop aanhoudend en kyk weg. “Nee, jy ken my nie.”
Hy lig haar ken op en dwing haar om in sy oë te kyk. “Jy het gelyk: ek ken jou nie, maar wie se skuld is dit?” verwyt hy. “Ek wil jou ken, maar jy vlug voortdurend weg van my. Waarom, Sanet?”
“Ek het jou reeds vertel ek is ’n meisie met ’n onsmaaklike verlede … jy onthou die Engelse se spreekwoordelike geraamte in die kas?” probeer sy spot.
Sy het nie daarna gesoek of daarvoor gevra nie, maar sy het die groot man met die swartbruin oë liefgekry soos sy niemand ooit tevore liefgehad het nie.
Sy wil hom haat, koud en gevoelloos teenoor hom staan, maar as hy by haar is, sing haar hart ’n vreugdelied; en haar bloed pleeg verraad teenoor haar en bruis met ’n feestelike gejubel deur haar are. Haar hart word die trom wat die eeue oue dans van die liefde met ongetemde tromslae uitbasuin en voer haar weg na die duiselende hoogtes van ekstase wat slegs aan die kinders van die liefde bekend is.
Sy het eenkeer geglo dat sy aan ’n gebroke hart sal sterf toe Nardus sy rug op haar gekeer het, maar die pyn van haar vergeefse verlange na Jean-Pierre se liefde is ’n vlammesee van lyding wat geen genesing ken nie.
“Is dit nodig dat ek van daardie geraamtetjie hoef te weet?” vra Jean-Pierre ernstig.
“As jy weet, sal jy my verwerp,” antwoord sy. “Daarom verkies ek dat jy die gawe meneer Du Pont bly, want dis veiliger.”
“Maar jy kan Tertius Lindeque met die verhaal van jou ongunstige verlede vertrou?” vra hy geraak. “Waarom het jy jouself op ’n dorpie soos Bothasrus kom begrawe, Sanet? Was dit met die hoop dat Tertius dan sal besef hoe onmisbaar jy is? Hoop jy hy bring ’n verloofring vir jou saam?”
Sy staar hom onthuts aan.
“Jy maak met my rusie, meneer Du Pont, en jy ken my nie eens nie!” maak sy beswaar.
“Waarom nie? Ek het jou liefgekry sonder om jou te ken en ek is van plan om vandag nog aan jou verloof te raak. Of is Tertius die man wat jou eenkeer seergemaak het? Het jy hom nog altyd lief?”
“Tertius is die man vir wie ek vier jaar lank gewerk het. Hy is die beste vriend wat ek nog gehad het,” antwoord sy eerlik.
“Ek weet hy was jou baas, want wat tant Ellie my nie vertel het nie, het die tweeling uitgelap. Jy sê hy is ’n vriend? Het jy hom lief?” vra hy dringend.
Sy antwoord nie dadelik nie, maar wonder of sy hom nie liewer onder die indruk moet laat dat sy wel vir Tertius omgee nie. Daardeur sal sy haarself beskerm, want moontlik sal hy haar dan in vrede laat, maar die gedagte bring geen troos nie.
“Hoe weet jy dat Tertius vanmiddag kom kuier? Jy en Elrina en tant Ellie was Kaapstad toe en Marie-Louise het my laat verstaan dat julle tot aanstaande week in die Kaap sou kuier,” verander sy die onderwerp.
“Die tweeling het Marie-Louise van die geagte Tertius se komende kuiertjie vertel en Marie-Louise het my onmiddellik gebel. Dis waarom ek ondanks tant Ellie se geskel en Elrina se verwyte vroeg vanoggend teruggekeer het.” Hy kyk na die ring in die dosie. “Is dit nie mooi genoeg vir jou nie, Sanet?”
Sy kyk na die ring en probeer glimlag, maar haar glimlag val plat. “Dis ’n pragtige ring … die mooiste wat ek nog gesien het,” antwoord sy. “Waarom gee jy dit nie aan Elrina nie? Almal op Bothasrus weet mos sy is jou toekomstige bruid.”
Hy kyk na die ring asof dit ineens baie belaglik vir hom is, en klap dan die dekseltjie toe voordat hy dit in sy sak steek.
“Elrina stel nie daarin belang om nou al my ring te dra of my bruid te word nie. Sy is ’n geëmansipeerde vrou wat glo dat sy ten volle gebruik moet maak van haar vryheid dat sy die gelyke van die man is. Ek het die ring vir jóú gekoop, Sanet, nie vir haar of enige ander meisie nie,” sê hy nadruklik.
Maar sy hoor hom nouliks, want sy besef dat Elrina Jean-Pierre se liefde verwerp het. Daarom soek hy nou troos by haar.
Of dalk hoop hy om Elrina jaloers te maak en haar in ’n huwelik met hom te dwing. Moontlik het hy Elrina saam Kaap toe genooi sodat hulle ’n verloofring