jy werklik lyk. Maar soos wat gaan Elrina lyk as sy daardie grimering afkrap?”
“Ek grimeer my gesig ook, oom, hoewel ek deesdae te besig is om daaraan te dink. E … wanneer laas het Tertius gebel?”
“Was dit nou gister? Nee, eergisteraand. Maar hy het beloof om weer te bel, want toe hy nou die derde keer bel, het ek hom laat verstaan dat jy nie lus voel vir telefoonpraatjies nie. Hy klink soos ’n verstandige mens, want hy het gesê hy wil maar net weet of dit nog goed gaan met jou, en dat hy weer sal bel. Is die man verlief op jou?”
Sanet sug en skud haar kop stadig. “Nee, oom, maar ek dink hy verbeel hom dat hy my liefgekry het,” antwoord sy. “Gerhard het nog vir my die werk by Tertius gekry ná al daardie dinge van vier jaar gelede toe ek uit my ou pos bedank het. Tertius het die berigte oor my … en die dinge in die koerant gelees en Gerhard het met hom daaroor gesels, maar hy het my nogtans as rekenmeesteres van sy maatskappy aangestel.”
“En hy het van jou … van daardie man geweet?” huiwer oom Lukas.
“Van Nardus van der Berg?” Die naam rol met gemak van haar tong af en sy besef dat dit die eerste maal in baie jare is dat sy sy naam hardop uitspreek. Sy besef ook dat sy naam die ou towermag om haar innerlik ineen te laat krimp, vir goed verloor het.
Wanneer het dié wonderwerk gebeur? vra sy haarself af. Jare lank het haar gedagtes weggevlug voor daardie naam, maar nou kan sy dit noem en aan hom dink sonder om die pyn van vernedering te ervaar.
“Ja, dit was mos die jongetjie se naam,” lok oom Lukas se stem haar terug tot die werklikheid. “Het jy Tertius van hom vertel?”
“Nee, oom, want hoewel ons uit die staanspoor vriende was, het ons nooit oor persoonlike dinge gepraat nie. Tertius het my laat verstaan dat hy nie in nog ’n ligte flirtasie of ’n vurige liefdesverhouding belanggestel het nie, en ek was maar te dankbaar daaroor, want ek het ’n vriend nodig gehad, nie nog ’n man wat my sou seermaak nie. Ons was vier jaar lank goeie vriende, maar die laaste paar maande het Tertius se houding ’n subtiele verandering ondergaan en …” Sy swyg en soek na die regte woorde.
“Hy het jou liefgekry?” vra oom Lukas reguit.
“Ek glo nie, maar hy dink hy het my lief. Tertius was al ses-en-dertig en hy is soos ’n liewe, ouer broer vir my. Ons deel heelwat belangstellings, ons kan lekker gesels en soms net saam sit en niks sê nie, omdat ons mekaar verstaan. Maar dis nie liefde nie, oom. Ek glo ek het ’n gewoonte in Tertius se lewe geword, en omdat hy niemand anders liefhet nie, glo hy hy het sy gewoonte liefgekry,” spot sy met ’n skewe glimlaggie.
“As Tertius ’n goeie gewoonte is, as hy ’n meer betroubare man is as wat daardie Nardus was, waarom trou jy nie met hom nie?”
“Sonder liefde, oom? Ek kan nie glo dat so ’n huwelik ooit ’n sukses kan wees nie.”
“Jy kan leer om hom lief te kry, want hy het dit klaarblyklik reeds geleer,” redeneer hy.
Sy skud haar kop beslis. “Nee, oom Lukas. Ek sal altyd bang wees dat hy eendag, dalk tien jaar later, die regte meisie sal raakloop, en dan? Wie weet, dalk het ek dan reeds geleer om hom lief te kry. Dalk is daar kinders, maar in so ’n geval sal ek hom sy vryheid moet teruggee, want ek weet mos nou hy het my nie werklik lief nie.”
“Jy klink baie seker van jou saak.” Oom Lukas swyg met ’n peinsende uitdrukking op sy gelaat. “Dan weet jy hoe dit voel om opreg lief te hê? Dan was jou gevoel vir Nardus so groot dat niks dit kan vervang nie?”
Oom Lukas se woorde bring ’n storm van verwarring in haar binneste. Sy besef wat sy vir Nardus ervaar het, was ’n jeugdige heldeverering gepaard met ’n oordosis van verliefdheid. Maar liefde? Ewigdurende liefde?
Jean-Pierre se gesig verrys voor haar geestesoog. Nee, Jean-Pierre is ’n verraaier wat van haar vertroulikheid humorlose grappe maak, wat haar agter haar rug bespreek met ’n meisie wat haar agting nie werd is nie. Maar waarom kan sy hom dan nie haat nie? vra haar hart.
“Nardus behoort tot die verlede, oom Lukas, en al kon ek, sou ek hom nooit weer deel van my lewe wou maak nie.”
“Dis goed as jy dit werklik glo, want as die liefde van ’n leeftyd in jou lewe kom en jy trou nie met die een wat jy liefhet nie … My lewe was nooit leeg nie, maar soms kyk ek terug na die verspeelde lente van my lewe en dan wonder ek waarom het ek nie maar met my tweede keuse getrou nie. Sou ek nie dalk gelukkiger gewees het as ek vandag ’n getroude man en die oupa van kleinkinders was nie? Dan voel ek jaloers op ou Gideon Hanekom hier op die hoek, maar ander kere, as ek na sy vrou, ou Ans, se geneul luister en na ou Ellie hier langsaan kyk, dan is ek maar dankbaar ek het ’n oujongkêrel geword,” sê oom Lukas.
“Ek en Magda en Gerhard het dikwels oor oom gewonder … waarom oom nooit getroud is nie. Dan was daar tog ’n besondere meisie in oom se lewe?” vra Sanet nuuskierig.
“O ja, daar was.”
“Maar sy wou oom nie hê nie?” vra Sanet en voel gekrenk dat enigiemand so dwaas kon wees om oom Lukas se huweliksaanbod van die hand te wys.
“Klaarblyklik nie, want toe ek haar vra om met my te trou, het sy my aan ’n ander nooi probeer afsmeer – so asof ek nie oud genoeg was om te weet wat ek wil hê nie. Ek was toe al ’n man van drie-en-dertig. Ek het geweet wie ek liefhet en sy was self nie meer ’n kind nie, daarom het ek net daar padgegee.”
“En oom het nooit teruggegaan na haar toe nie?” vra Sanet.
“Om wat te doen? As ’n meisie jou liefhet, sê sy ja, anders mors sy almal se tyd. Sy wou my nie gehad het nie en ek het gesorg dat ek haar nie weer lastig val nie, hoewel die ander meisie kort daarna getroud is en jare lank gelukkig getroud gebly het.”
“En oom se meisie?” wil Sanet weet.
“Nou, wat van haar geword het kan my nie raak nie, want ek het gesorg dat ek die afgelope veertig jaar uit haar pad bly en ek is van plan om dit vir die volgende veertig jaar ook te doen,” antwoord hy.
“En tant Ellie, oom?”
Oom Lukas se ruie, grys wenkbroue wurm saam in ’n diep frons van ergernis. “Nes ’n keffertjie … daardie klein rotgesiggie met die rooi geverfde haartjies. Sanet, wat sukkel party vroue tog so om te aanvaar dat hulle oud word? Hoe sal ek nou lyk as ek besluit om my hare te kleur?” vra hy misnoeg.
“Hoe sal tant Ellie lyk as sy besluit om te skeer, oom?” vra Sanet met ’n onnutsige glimlaggie.
“Um, ook ’n antwoord op alles, nè?” Hy glimlag. “Nou ja, ek gaan nie daaroor stry nie, maar die arme Ellie maak net ’n groter spektakel van haarself met haar rooi haartjies. En om my huishoudster te wil speel … Kind, die mens sal my mos tot raserny dryf, want sy praat ’n sloot in die grond … en dan sê sy eintlik niks nie.”
“En daarby is sy ’n onderdorper, nè, oom?” spot Sanet.
Oom Lukas se oë vernou terwyl hy deur die venster staar, en sy stem is ernstig toe hy antwoord: “Daar woon goeies en slegtes in die bo- en onderdorp, daarom oordeel ek nie. Is Elrina werklik anders as ou Ellie omdat sy in die bodorp woon?”
“Seker nie,” beaam Sanet en voel verleë. “Goeie en slegte mense kan seker nie in streke verdeel word nie, maar …” Sy breek haar sin af en kyk afwagtend na oom Lukas wanneer die gelui van die telefoon in die studeerkamer hoorbaar word.
“Ek sal gaan,” sê hy, staan op en loop die sitkamer uit terwyl Sanet die leë teekoppies op die skinkbord pak.
Sanet loop in die gang af en by die studeerkamer verby, die skinkbord in haar hande, en steek verras langs die deur vas toe sy oom Lukas bulderend hoor roep: “Maar, goeie genugtig, Dassie, het jy nie ore aan jou kop nie? Bly stil en laat ek klaar praat.”
Sanet sit die skinkbord op ’n muurtafeltjie en gaan die studeerkamer haastig binne. Oom Lukas kyk op, gewaar haar en skree weer in die spreekbuis:
“Hier is sy nou. Praat self met haar!” Hy neem die gehoorstuk van die telefoon