saak?” vra Sanet nuuskierig en wens dan sy het liewer stilgebly, want tant Dassie kyk na haar en ignoreer haar dan.
“Jy het gesê die afgelope drie weke, sedert Sanet haar intrek by haar oom Lukas geneem het, was sy nog net drie keer in die kerk?” vra tant Dassie streng.
“Ja, tannie. Sy woon altyd die oggenddienste by,” antwoord Jean-Pierre sedig.
“Is dit nodig om daaroor rusie te maak?” vra Sanet onthuts. “Ek kon nie saans kerk toe gaan nie, want die tweeling raak in die kerk aan die slaap. Tant Dassie, waarom stel tannie skielik belang in my gereelde bywoning van die kerkdienste?”
Tant Dassie sug met lankmoedige geduld.
“Ek begryp nou wat tannie bedoel,” kom dit gewigtig van Jean-Pierre. “Sanet raak soos tant Ellie van Duuren hier langsaan. Sy is haar dogter se huishoudster en sy is net soos Sanet. Sy kan net nie stilbly nie, selfs al vra ’n mens haar.”
“O, jou …!” sê Sanet, haar gesig rooi van verleentheid.
“Verstaan jy nou waarom ek rede het om my oor jou welstand te bekommer, Sanet?” vra tant Dassie ernstig.
“Nee, tannie, want al gaan ek net soggens kerk toe …”
“My liewe kind, ons bespreek nie jou kerkbywoning nie. Wat my kwel, is dat jy reeds drie weke lank by ou Lukas Grové woon, maar nog nie een aand saam met hierdie aangename jongman – of enige ander jongman – uitgegaan het nie. Sanet, jy was reeds vyf-en-twintig en as jy nie nou jou taktiek drasties verander nie, word jy ’n oujongnooi soos ek,” waarsku tant Dassie.
“En as ek verkies om ’n oujongnooi te word?” vra Sanet uitdagend en wonder waarom haar oë soos twee koppige esels telkens in Jean-Pierre se rigting wil loop.
“Kyk na my,” beveel tant Dassie.
Sanet gehoorsaam en beskou tant Dassie asof sy haar nog nooit tevore gesien het nie. Waarna moet sy nou eintlik kyk? wonder sy.
Tant Dassie se somertabberd is beslis smaakvol en heel waarskynlik peperduur, maar sy koop net altyd die beste klere. Verder lyk sy soos altyd: ’n vrou van nege-en-sestig, lank en donker, met ’n goed versorgde figuur en ’n onberispelike voorkoms. Sanet onthou die ou album in tant Dassie se woonstel. Daarin is foto’s van ’n jong Dassie de Bruyn, ’n pragtige meisie met groot, donker oë en klassieke gelaatstrekke. Tant Dassie is nog aantreklik, maar tyd het die unieke skoonheid van die jeug vir goed uitgewis.
Jeug is die meesterbeeldhouer, want dit skep net die volmaakte; maar tyd is ’n ou man met bewende hande wat probeer voortbou op die skepping van die meesterbouer, maar net daarin slaag om rimpels en plooie uit te beitel en van die ouderdom ’n makabere masker te maak.
Sanet ril en probeer haar somber gedagtes afskud, want sy weet wat sy eintlik vrees: dat sy eendag, soos tant Dassie, oud sal wees sonder dat sy ooit die geleentheid gekry het om diep uit die beker van jeug te drink.
“Ek hou van tannie se nuwe somertabberd,” gooi Sanet ’n rookskerm.
“Moenie vir my jok nie, Sanet,” berispe tant Dassie haar. “Jy het gesien ek is ’n oumens, byna al sewentig, en ek voel reeds die skadu van die sipresbome op my val … maar ek was eenkeer jonk soos jy en ek het geglo die ouderdom is soos die dood deurdat dit net met ander mense gebeur. Ek was jonk en trots en so seker dat ek nie die liefde van ’n man nodig het nie – veral nie van ’n man wat nie na my pype wou dans nie. En toe ek weer eendag in die spieël kyk, toe lyk ek soos my ouma en toe besef ek ek het te lank gewag om te sê ek is jammer en dat ek hom liefhet.”
“Maar ek het niemand lief nie, tant Dassie!” protesteer Sanet heftig en wens sy het die moed om Jean-Pierre te vra om in sy eie huis te gaan rondlê. Hoe kan die man so dikvellig wees? wonder sy driftig. Kan hy nie hoor dis ’n private gesprek tussen haar en haar tante nie?
“Mooi, want ek was bang jy sou daardie eerste vriend van jou nooit vergeet nie,” kom dit ingenome van tant Dassie. Sy wend haar tot Jean-Pierre. “Dan het ons geen verdere probleem nie, Jean-Pierre. Ek is nou hier om die huishouding waar te neem en die tweeling te versorg, en jy kan voortgaan en vir Sanet ’n man soek.”
“Maar, tant Dassie …!” protesteer Sanet en hoop dat sy nie in trane van verleentheid gaan uitbars nie.
“Ek is beskikbaar, tant Dassie. Ek sal sommer vanaand begin om Sanet uit te neem en haar te leer om my lief te kry,” bied Jean-Pierre met vonkelende oë aan.
“Jy kan haar uitneem, jongman, maar in ’n aangeleerde liefde het ek geen geloof nie. Sanet, is jy lief vir Jean-Pierre?” vra tant Dassie reguit.
Sanet sit haar koppie op die tafeltjie langs haar neer en staan op. “Tannie het my laas hoor vloek toe ek nog ’n kind was, maar intussen het ek baie nuwe woorde bygeleer. Ek dink ek loop liewer voordat ek al daardie lelike woorde sê,” antwoord Sanet beheers en wens sy het bly sit en liewer lelik gepraat wanneer Jean-Pierre uitbars van die lag terwyl sy die sitkamer uitstap.
Sanet hou tant Dassie dop terwyl sy ’n goudbruin gebraaide skaapboud en aartappels uit die oond haal en in die lou-oond bêre.
“So ja, nou is die vleis ook klaar,” sê tant Dassie geesdriftig, haal haar vrolike voorskoot af en glimlag vir Sanet, wat haar aangluur met ’n uitdrukking van koppige onvergenoegdheid.
“Moenie frons nie, Sanet, dit gee jou plooie,” waarsku tant Dassie en hou haar kop skeef toe die tweeling se luide geroep en die geblaf van ’n hond hoorbaar word. “Die seuns is terug. Ag, ek hoop net hulle ontstel nie die liewe Bismarck nie.”
“Goeistetjie, tannie het tog nie tannie se poedel saamgebring nie?” vra Sanet.
“Vanselfsprekend. Ek het Jean-Pierre gevra of hy veilig in die voortuin sou wees en hom toe buite gelaat. Arme hond. Hy geniet dit só buite, want hy is sy lewe lank nog ’n woonsteldiertjie. Ek self geniet die ruimte van Lukas se groot huis en …”
“Tant Dassie! Tant Dassie!” jubel die tweeling uitgelate, gryp haar arms vas en druk soene op haar mond en wange. “Hallo, tant Dassie! Hallo, tant Dassie!” groet hulle asof hulle heeltemal seker wil maak dat sy hulle hoor.
“Dis nou genoeg, Peet,” sê Gerrie. “Ons het nou klaar gegroet en nou kan ons maar vra of tannie vir ons lekkers saamgebring het?”
“Tog net nie weer sjokolade vir ou babatjies nie, tant Dassie. Ek hou van taai toffies, want hulle hou langer,” pleit Peet en wag hoopvol op ’n antwoord.
“Waf-waf!” blaf ’n groot, sjokoladebruin poedel en Sanet sien hoe Bismarck omswaai na die gangdeur en dan teen oom Lukas se spierwit tennisbroek opspring.
“Voertsek, jou vervloekte …!” Oom Lukas laat sy sin onvoltooid en steek in sy spore vas toe hy opkyk en tant Dassie met die seuns weerskante van haar in die middel van die ruim kombuis sien staan.
“Middag, Lukas. Ek is dankbaar om te sien jy het intussen ook ’n ou man geword,” groet tant Dassie en bekyk hom krities.
“Oud?” Oom Lukas se helderblou oë vernou tot strepies ergernis. “Ja, Dorothea, oud is ek wel, maar ons mans word mos aantrekliker met die jare, terwyl daar niks leliker as ’n ou vrou is nie.”
“Oom Lukas …” verwyt Sanet en tree vinnig nader aan hom. “Tant Dassie is tog my eie ma se suster. Mag sy dan nie by my kom kuier nie?”
“Jy het my niks van die slim professor-vroumens vertel nie, Sanet. En daardie kuierstorie glo ek nie, want ou Ellie van hier langsaan het my klaar ingelig dat die geleerde doktor genoeg bagasie vir ’n weeshuis saamgebring het en dat sy van Jean-Pierre verneem het dat ek nou ’n huishoudster met ’n doktorsgraad in geskiedenis gekry het,” antwoord oom Lukas en kyk vyandig in tant Dassie se rigting.
“Waf-waf!” blaf Bismarck en spring weer teen oom Lukas se bene op.
“Voertsek, jou …!” bulder oom Lukas, sien hoe Peet die poedel vang en vashou en beduie met ’n swaai van sy arm na die agterdeur. “Gaan sluit daardie