poedel tekere gaan, en oom Lukas wat nie eens probeer om op te hou met lag nie.
“Ek is jammer, tant Dassie. Die tweeling het seker gemeen hulle kan Bismarck net so goed skeer soos enige hondesalon,” sê Sanet verskonend en sy voel skuldig omdat haar hartseer veroorsaak dat sy nie genoeg aandag aan die tweeling gee nie.
“Ag, is nie, Sanet,” sê Gerrie. Hy skuifel die woonkamer onseker binne en bly langs haar staan. Hy kyk na Peet wat ewe halfhartig die vertrek binnekom en by hom kom staan, en verduidelik: “Ons het maar net gemeen ons sal oom Lukas help om nie hooikoors te kry nie en toe het ons Naas van Tonder se haarknipper geleen.”
“Gerrie jok nie, Sanet,” beaam Peet plegtig. “Ons sou gistermiddag Naas se haarknipper geleen het, maar toe is sy ma by die huis. Ná pouse oefen ons nog die hele tyd sport en daarom het ons gou-gou saam met Naas huis toe gegaan en die haarknipper gaan haal.”
“Terwyl julle eintlik by die skool moet wees?” vra oom Lukas en lyk vir die eerste maal afkeurend.
“E … ons het klaar gehardloop, oom, en ons was bang as ons nie vandag die haarknipper kry nie, gaan Naas dit nooit vir ons leen nie,” verduidelik Gerrie en staan nader aan Sanet se stoel.
“En weet oom hoeveel moes ons betaal vir die leen van die haarknipper? Drie rand! Eers het die skelm Naas gesê dit sal net een rand kos, maar toe ons by sy huis kom, het hy gesê dis nou drie rand, want dis ’n elektriese knipper. Weet oom hoeveel lekkers kan ’n mens met drie rand koop?” vra Peet, diep verontwaardig oor hulle vriend se skelmstreke.
“Drie rand is ’n hoop geld om vir jou hooikoors te betaal, Lukas,” praat tant Dassie onverwags. “Ek meen jy skuld die seuns drie rand.”
“Wil jy die kinders boonop in hulle kwaad sterk, Dassie?” blaf oom Lukas. “Hulle draai stokkies, skeer jou brak poedelnakend en …”
Sanet giggel en dit laat oom Lukas frons. “Poedelnakend, oom … dis nogal letterlik in Bismarck se geval,” sê sy verskonend.
“Oom hoef nie die drie rand terug te gee nie,” sê Gerrie vinnig. “Sien, ons moes iets vir Bismarck voer terwyl ons hom daar in die buitekamer geskeer het, en toe vat ons die bak maalvleis in die yskas. Gelukkig het oom-hulle tee gedrink en toe het Peet gou-gou die maalvleis kom haal.”
“En Bismarck het daardie hele bak vleis geëet?” vra tant Dassie en staar die poedel op haar skoot verbysterd aan.
“En drie van my lekkerste toffies,” lig Peet haar in en kyk kwaai na Bismarck. “Maar hy is so ’n vraat dat hy sommer die toffies heel ingesluk het. En toe ruk hy los en hardloop huis toe.”
“Dalk kan oom sommer sy stert met oom se elektriese skeermes kaal skeer, want ons sal nou vinnig moet deurdraf skool toe en die haarknipper vir Naas gee. Of sal Bismarck se bietjie hare nie vir oom hooikoors gee nie?” vra Gerrie belangstellend.
“Hooikoors,” sê oom Lukas en skud sy kop asof die woord hom verbyster. “Los maar my hooikoors, seuns, en hoop maar die ou gemmerbrakkie kry nie verkoue en longontsteking noudat hy so poedelnakend deur die lewe moet gaan nie …” Hy merk die breë, ingenome glimlagte op die seuns se gesigte en bulder onverwags: “Draf, julle onnutte! Nee-a, ek sal nie toelaat dat julle dros nie!”
Die tweeling vlieg die vertrek uit asof oom Lukas se woorde vuur onder hulle voete gemaak het, en Sanet luister na die geklap van hulle skoene op die geplaveide tuinpaadjie en die metaalgeklingel van die tuinhekkie wat oopgeruk en toegeslaan word.
“Miskien moet ek hulle liewer met die motor skool toe vat en aan die skoolhoof verduidelik wat presies gebeur het,” sê Sanet bekommerd.
“Ek sal gaan, want hulle het Naas van Tonder se haarknipper vergeet. Ek sal sommer die knipper saamneem en aan Louw du Plessis verduidelik dat die seuns se oortreding ter wille van my hooikoors was,” sê oom Lukas en staan op.
“Ek wonder tog oor daardie hooikoorsstorie, Lukas,” kom dit agterdogtig van tant Dassie. “Toe jy jonk was, het jy nooit hooikoors van dierhare gekry nie.”
“Toe ons jonk was, Dassie, het jy ook nie van soggens vroeg tot saans laat met ’n orige poedel op jou skoot gesit nie. Ek kan my so vervies vir ’n oujongnooi met ’n skoothondjie … daar is mos genoeg mense in die huis om lief te hê sonder om jou tyd op ’n liederlike brak te mors!” sê hy kwasterig.
“Daar is ’n besondere band tussen my en Bismarck, Lukas, want hy is al tien jaar lank soos ’n kind in my huis … Miskien het ’n man dit nie nodig nie, maar as ’n vrou alleen woon, is dit goed om te weet daar is darem nog ’n asempie in die huis om die eensaamheid buite te hou.”
“Natuurlik kan ek dit verstaan, maar ek praat van nou. Hier is ’n huis vol mense en dit is seker nie nodig dat jy nog so oor die brak tekere gaan nie. Laat hom op die grond lê – die mat is sag genoeg – en moenie hom alewig vashou asof jy bang is hy sal val nie. Honde hoort in elk geval buite,” snou oom Lukas en begin wegstap.
“Jou siel is ongetwyfeld kleiner as dié van ’n mier, Lukas Grové,” verklaar tant Dassie met kille waardigheid, onbewus daarvan dat oom Lukas breed glimlag en vir Sanet knipoog voordat hy uitstap.
Sanet vee Bismarck se bruin poedelhare wat oor die vloer van een van die buitekamers versprei lê bymekaar en gooi dit in die vullishouer voor die agterdeur.
“Haai, wag vir my, Sanet!” roep ’n meisiestem skuins agter haar. Sy kyk om en sien Marie-Louise deur die boord aangehardloop kom.
“Dis ’n verrassing.” Sanet glimlag bly en weet sy voel getroos oor Marie-Louise se besoek omdat sy Jean-Pierre se suster is. “Is jy lus vir ’n koppie tee?”
“Dis te warm, dankie, en ek het nou net koeldrank gedrink.” Marie-Louise kyk na die agterdeur en dan na ’n groen tuinbank onder ’n peperbessieboom in die agterplaas. “Sal ons daar gaan sit? Dis koeler hier buite,” stel sy voor.
“Seker,” willig Sanet in en stap saam met haar besoeker na die tuinbank. “Ek wou jou reeds iets gevra het,” vervolg sy terwyl sy op die bank gaan sit.
“Nie voordat jy my vraag beantwoord het nie,” sê Marie-Louise glimlaggend en vervolg nuuskierig: “Wat het jy met my broer aangevang? Hy het in die dierbaarste stemming denkbaar tuis gekom, oor die ringmuur geklouter om jou te kom groet en ’n halfuur later teruggekeer en gedreig om moord en selfmoord te pleeg. Is Jean-Pierre verlief op jou, Sanet?”
“Hoe moet ek weet?” vra Sanet oorbluf en voel hoe sy bloos. “Ek bedoel, ons weet almal hy gaan met Elrina trou.”
“Dis wat Elrina en tant Ellie en ’n paar ander oningeligtes glo, maar ek twyfel lankal al daardie storie. Jean-Pierre was reeds vyf-en-dertig en daar is niks wat keer dat hy vandag nog trou nie. Elrina het haar studies ’n jaar gelede reeds voltooi, maar hulle is nog nie eens verloof nie. Lyk Jean-Pierre soos ’n man wat sal toelaat dat ’n meisie hom aan ’n lyntjie hou?” vra Marie-Louise nugter.
“As ’n man ’n meisie werklik liefhet …” Sanet huiwer en praat dan vinnig: “Jean-Pierre het gesê Elrina glo sy is ’n geëmansipeerde vrou wat haar vryheid bo ’n gelukkige huwelik stel. Ek kan verkeerd wees, maar ek glo Jean-Pierre flankeer met my omdat hy Elrina in ’n haastige huwelik wil dwing.”
“Dit is natuurlik moontlik, maar waarom het hy dan aan my gesê dat hy met jou gaan trou?”
Sanet se oë rek wyd van ongeloof. “Het hy dit … sowaar gesê?” Sy sluk droog en byt hard op haar onderlip, byt totdat sy seerkry, asof sy hoop dat die werklikheid van haar pyn haar van haar droom sal laat vergeet.
“Ja, maar ek weet nie meer wat om te glo nie. Hy het my daardie eerste dag, toe jy en die tweeling hier aangekom het, vertel hy gaan met jou trou, maar tot dusver het hy jou nog nooit uitgeneem nie en nou was hy vier dae lank saam met Elrina en tant Ellie in die Kaap. Jou tant Dassie vertel my julle verwag jou vriend van Johannesburg, daarom het ek gewonder … Gaan jy met Tertius trou, of hou jy maar net van hom?”
Sanet staar voor haar uit en wonder watter antwoord