dertig jaar nog nie haar stand van onderdorper afskud nie en daarom is sy ’n verleentheid vir Elrina en al die Van Duurens. Ek is jammer vir tant Ellie omdat sy basies ’n dom, eerlike mens is, selfs al kan sy soms venynig met haar tong wees.”
“Dan is dít hoe die hef in die vurk steek? Elrina is Jean-Pierre se aanstaande bruid?” vra Tertius simpatiek.
“Dit het vir my ook so geklink,” antwoord Sanet met ’n skewe glimlaggie en pak die vuil koekbordjies en koppies terug op die skinkbord. “Kom, oom Lukas-hulle het ons seker lank genoeg alleen gelaat. Ek moet tant Dassie met die aandete gaan help.”
Tant Dassie bekyk Sanet, wat besig is om ’n sjokoladekoek uit die oond te haal.
“Ek verstaan dit nie,” verklaar tant Dassie uit die bloute.
“Die oondhitte is die belangrikste, want dan is die koek altyd ’n sukses,” antwoord Sanet terwyl sy die laagkoek op ’n draadstaander omkeer om koud te word.
“Goeie genugtig, Sanet, ek praat nie van die koek nie. Ek is ’n ervare koekbakster wat geleer het hoe om dit te doen!” bars tant Dassie uit terwyl sy ’n vadoek ergerlik rondswaai. “Ek praat van jou en die jongman!”
“O … Tertius.” Sanet glimlag. “Ek het ’n vermoede hy gaan binnekort leer wat liefde werklik is.”
“Regtig? En hoe meen jy om hom te leer as jy hom in Marie-Louise se arms dryf? Gisteraand het julle tot middernag by haar gekuier en vanoggend moes ek hoor jy het gesit en lees terwyl hy en Marie-Louise gekuier het, want Jean-Pierre was saam met Elrina uit. En vanoggend het hulle tot net voor middagete saam tennis gespeel en op die oomblik swem hulle saam. Ek sal my glad nie verbaas as Tertius sommer vanaand daar eet en slaap nie!” kom dit onstuimig van tant Dassie.
“Dis een bed minder vir my om op te maak,” antwoord Sanet bedees.
“Maar, Sanet …” Tant Dassie draai dié kant toe en daardie kant toe uit pure ongeduld en vra dan reguit: “Is jy dan nie lief vir die jongman nie?”
“Nee, tant Dassie, nie soos tannie wil hê ek moet hom liefhê nie,” antwoord sy. “Tertius is net ’n baie goeie vriend wat my bygestaan het toe ek bitter alleen was, maar van liefde was daar nooit sprake nie … nie van daardie spesiale liefde nie.”
“Maar hy het so gereeld gebel. Lukas was oortuig dat die seun jou liefhet, want hy het elke keer uitgevra of hier nie jongmans by jou kuier nie,” redeneer tant Dassie verwonderd.
“Net voordat ek hierheen gekom het, het Tertius hom skielik begin verbeel hy wil met my trou, maar dit was seker maar net ’n reaksie omdat ons soveel jare lank vriende was en hy bang was om my te verloor. Ek het geweet hy het my nie lief nie, want ek was net ’n aangename gewoonte in sy lewe. En dit lyk asof ek gelyk gehad het, want as ek al ooit ’n verliefde man gesien het, is dit Tertius Lindeque!” vertel Sanet laggend.
“Maar … jy het dan so pas gesê hy het jou nie lief nie,” kom dit verward van haar tante.
“Nie vir my nie, tant Dassie, maar vir Marie-Louise!” Sy lag weer. “Ek dink Marie-Louise is ’n skat van ’n meisie en al wat werklik pla, is dat ek haar as buurvrou sal verloor as sy en Tertius trou.”
“Glo jy hulle is ernstig?” vra tant Dassie oorbluf.
“Tertius was sy lewe lank baie seker van homself en sy gelukkige oujongkêrelskap, maar ná ons kuiertjie gisteraand by Marie-Louise, het hy my tot halfdrie wakker gehou om oor ’n meisie te praat wat ek in elk geval ken,” sê Sanet.
“Sanet, ek praat nie graag oor die dinge wat lankal gebeur het nie, want dit het tog geen nut nie, maar as ek mag vra, het jy dalk nog daardie Nardus van der Berg lief?”
Sanet glimlag. “Nee, tannie, beslis nie. Ek begryp volkome waarom hy destyds so opgetree het en daarom verkwalik ek hom ook nie langer nie. Hy was net nie die regte man vir my nie, dis al.”
“Dis goed so, want as jy iemand anders ontmoet en liefkry, is jy nou vry om te trou,” sê tant Dassie tevrede.
“Nee.” Sanet skud haar kop. “Hoe kan ek, tannie? As ’n man enigsins waarde aan sy goeie naam heg, sal hy nie met my kan trou nie, want daardie koerantstories …”
“Maar, kind, dit was net ’n klomp bogstories wat die koerante opgedis het! Ons wat jou ken, weet wat die waarheid is. En ’n jongetjie wat jou liefkry, sal ook nie aan die waarheid twyfel nie,” val tant Dassie haar heftig in die rede.
“Ek weier om die man wat ek liefhet …” begin Sanet, maar swyg wanneer sy swaar voetstappe en ’n luide gemiaau in die gang hoor. “Is dit oom Lukas?” vra sy, dankbaar dat sy nie haar gesprek met tant Dassie hoef voort te sit nie.
Oom Lukas kom die kombuis binne met ’n groot, spierwit kat met lang hare en blou oë in sy arms.
“Dag!” groet hy kortaf, loop na die kombuiskas en haal ’n poedingbordjie uit. Hy sit die bordjie op die yskas neer, streel met ’n groot hand oor die kat se kop en sê troetelend: “Toe nou maar, oubaas se katte. Is jy honger, hè? Ek gaan vir jou ’n lekker bakkie melk en ’n groot stuk vleis gee. Oubaas se mooi ou dogtertjie sal nie honger ly nie. Kom, ons sit jou neer en kry die melk en vleis.”
“Lukas Grové, is jy heeltemal van lotjie getik?” blaas tant Dassie verontwaardig.
Oom Lukas ignoreer haar, maak die koelkas oop en haal die melk en ’n pak vleis uit en hou die vleis na Sanet uit.
“Sny dit vir my ou meisietjie in klein stukkies, want sy sal net verstik as ’n mens haar ’n groot stuk gee. Ek sal haar self voer,” sê hy en gee vir die kat ’n bakkie melk en gaan sit dan op die naaste kombuisstoel om haar met ’n tevrede glimlaggie dop te hou.
“Waar kry oom die kat? Sy lyk baie soos my Lida wat ek moes weggee voordat ek hierheen gekom het. Ek het skoon vergeet om Tertius te vra hoe gaan dit met Lida en my kanarie, Esmé,” gesels Sanet terwyl sy ’n mes uit die laai haal.
“By die Neethlings. Hulle trek mos aan die einde van die maand, want Bertus het ’n verplasing Bellville toe gekry en toe vra hy my of ek nie van iemand weet wat ’n kat wil hê nie. Dis nou hoe ek Dorothea present gekry het,” vertel oom Lukas en beklemtoon die kat se naam, maar kyk nie na tant Dassie nie.
“Dorothea?” vra tant Dassie, haar stem ongewoon skril, terwyl onweer oor haar gelaat skuif. “Lukas Grové, waarom noem jy jou vet kat na my?”
“Jy sal jou wat verbeel, Dassie.” Oom Lukas gluur haar aan. “Toevallig het die kat aan Bertus se vrou, Thea Neethling, behoort, daarom het ek die kat na haar genoem, want sy is Dorothea gedoop.”
Tant Dassie lyk afgehaal en verklaar vies: “Dis ’n simpel gewoonte om diere na mense te noem.”
“Juistement, Dassie, maar wie het daarmee begin? Of glo jy oorle Bismarck was nie ’n mens net omdat hy ’n Duitser was nie?” vra oom Lukas sober.
“Maar wat dan van oom se hooikoors?” probeer Sanet ’n wending aan die gesprek gee.
“Um, dis nogal toevallig, maar dit was Dassie wat my laat besef het dat ek my hooikoors ontgroei het, want haar poedeltjie het my nie gepla nie. Ek dag toe ek het nou net mooi genoeg gehad van ’n oujongnooi en haar gekoer oor ’n geraamtetjie van ’n brak, daarom sal ek vir my ’n kat aanskaf en probeer agterkom waarom Dassie aldag en heeldag so oor haar ou gemmerbrakkie tekere gaan. Nou ja, ek is sommer klaar lief vir Dorothea, want sy is darem so sag en wollerig. Katte is darem baie skoner diere as honde, nè, Sanet?”
“Vermakerig … nes ’n kind!” ontplof tant Dassie. “Ek waarsku jou, Lukas Grové, as daardie kat aan my Bismarck raak, is daar oorlog!”
“Juistement, Dassie, want ek laat nie ’n kaal brak my kat verwilder nie. Ons sal wel ’n huis vir jou poedelbrak kry, daarom hoef jy jou nie onnodig te kwel nie,” stel oom Lukas haar gerus.
“En wat laat jou dink dat ek my ou seuntjie sal weggee? Lukas, ek is ’n vrou van vrede, maar as jou kat …”
“Pssst!”