bied hy aan.
“Nee, dankie, oom. Ek gaan net eers kyk of die tweeling al wakker is,” maak sy verskoning en verlaat die voorportaal, gretig om alleen te wees om haar posisie as oom Lukas se huishoudster en Jean-Pierre se buurvrou in oënskou te neem.
Dis wonderlik wat harde werk, gesonde kos en voldoende slaap vir ’n mens se gemoedsrus kan doen, dink Sanet terwyl sy die soldervenstertjie oopstoot en dan deeglik afstof voordat sy die ruite met seep en water begin afwas.
Sowat ’n week gelede het sy op Bothasrus aangekom en so byna geglo dat sy op hul buurman verlief geraak het, maar dit was ’n week gelede. Intussen het sy die boord en die tuin vermy, gesorg dat oom Lukas of een van die tweeling alle telefoonoproepe beantwoord en weggebly wanneer kuiergaste opdaag. Gewapen met ’n stoffer, ’n skropborsel, water en seep, het sy die ou Victoriaanse woning binnegevaar en van hoek tot kant afgestof, skoon geskrop, uitgevee en opgevryf.
Nou bly nog net die solder oor, maar as sy na al die rommel om haar kyk, sal sy minstens nog ’n week nodig hê om orde in die stowwerige wanorde te skep, dink sy met ’n tevrede glimlaggie.
Sy weet Jean-Pierre kom gereeld kuier, loop haar gedagtes oor die suidelike ringmuur na die buurhuis, en haar hand wat die nat vadoek vashou, beweeg stadiger oor die ruit. Drome dryf soos ligte somerwolkies haar oë binne en die herinnering aan ’n lang man wat haar sy bruid wou maak, verf ’n glimlag om haar lippe. Sy sug, leun op haar arms op die vensterbank en staar met nikssiende oë oor die voortuin uit.
“Daar is sy nou, Peet! Help my met die leer, jong. Toe, man, ek en die oom kan nie alles doen nie,” klink Gerrie se ergerlike stemmetjie onder Sanet op, maar sy hoor hom praat sonder om werklik in te neem wat hy sê.
As sy daardie verskriklike nag van vier jaar gelede kon uitwis, as sy haar seer en vernedering oor haar liefde met een beweging van haar hand kon wegvee, sou sy dan kon glo dat Jean-Pierre ernstig was toe hy gesê het hy gaan eendag met haar trou? Sou sy kon leer om hom lief te kry? Of sou haar liefde spontaan wees …?
’n Harde stamp teen die vensterbank ruk haar terug tot die werklikheid en sy leun by die soldervenster uit en sien die bopunt van ’n lang metaalleer teen die vensterbank aanleun.
“Haai, Gerrie, wat doen julle?” roep sy en leun versigtig ’n entjie verder by die venster uit.
“Ek, Peet, man, nie Gerrie nie,” roep Peet vies. “Ek en Gerrie het net vir oom Jean-Pierre gehelp om die leer teen die muur te sit. Moenie so ver uitleun nie! Netnou val jy op jou kop en dan is jy kinds!”
“Dankie vir die waarskuwing,” antwoord Sanet vies en wens sy het die moed om verder uit te leun en te sien wat Jean-Pierre doen, maar haar hoogtevrees laat haar die vensterbank vashou voordat sy vra: “Waarom sit julle die leer teen die muur?”
“Oom kan maar opklim. Ek en Gerrie sal die leer vashou,” sê Peet duidelik onder haar.
“Nee! Meneer Du Pont, ek het nie jou hulp nodig om die solderkamer skoon te maak nie. Bly net waar jy is, of anders kan jy alleen die solderkamer skoonmaak!” waarsku sy en voel soos ’n bakvissie wat nie weet hoe om ’n situasie te hanteer nie. Sy sien nie kans vir ’n konfrontasie met Jean-Pierre nie.
“Bly net daar, Sanet!” skree Peet waarskuwend. “As oom Jean-Pierre jou nie kom haal nie, gaan die slang jou byt!”
Sanet ruk om en haar oë soek paniekerig agter opgestapelde rommel na haar onsigbare vyand.
“W-waar is die s-slang?” vra sy, haar stem yl en nouliks hoorbaar.
“Buite, voor die solderdeur,” antwoord ’n diep stem vlak langs haar.
Sy swaai vinnig terug na die venster en kyk in Jean-Pierre se glimlaggende gesig vas en besef dat hy intussen teen die leer opgeklim het, maar haar vrees vir die slang laat haar van haar vrees vir hom vergeet.
“O … jy het gekom. Ek is bang vir hoogtes. Sal jy my help om by die venster uit te klim?” vra sy en beweeg gretig tot in die sirkel van sy uitgestrekte arms.
“As jy beloof om eendag met my te trou …” begin hy en laat sy sin onvoltooid.
“En Elrina dan?”
“Ons sal anderdag oor haar praat. Kry ek eindelik my belofte? Ek wag al ’n week en ek is lankal nie meer geduldig nie,” sê hy en trek haar nader aan hom.
“Maak nou gou, oom!” roep Gerrie ongeduldig van die voet van die leer af. “Oom het gesê ons kry elkeen vyf rand as ons oom help om by Sanet uit te kom. Gaan oom ons nou dadelik betaal, of moet oom eers bank toe gaan? Dis Woensdag en oom weet mos die bank maak Woensdae vroeg toe.”
Sanet verstyf in Jean-Pierre se arms. “Dan is alles beplan?” vra sy bitsig.
“Hoe anders? Jy vermy my asof ek die pes het. Daarom moes ek aan ’n plan dink om jou weer te siene te kry. Dis vreeslik romanties om ’n prinses van verre te hê, maar ek is ’n man van vlees en bloed, daarom hou ek meer van jou in my arms,” antwoord hy rustig.
“Dis hy en sy, Elrina!” skel ’n skerp stem onderkant hulle. “Toe, wat het ek vir jou gesê? Jy draf van die een komitee na die ander vereniging, en intussen draf hy agter die nuwe meisie aan. Jean-Pierre, klim dadelik af en kom hier. Elrina wil met jou praat.”
“Nie sonder my aanstaande bruid nie, tant Ellie,” antwoord Jean-Pierre binnensmonds, gryp Sanet en gooi haar met ’n brandweergreep oor sy linkerskouer, en begin vinnig afklim.
4
Sanet versluk haar aan haar eie asem toe sy skielik kop na onder oor Jean-Pierre se skouer hang, sien tant Ellie van Duuren se skerp rotgesiggie onder haar, kry ’n flitsende beeld van ’n slanke, welgevormde meisie in ’n modieuse tabberd langs tant Ellie en besluit dis die regte oomblik om flou te word. Sy kreun gevoelvol, sluit haar oë en hang slap oor Jean-Pierre se skouer om ook hom van haar floute te oortuig.
“Sanet?” roep hy, sy stem skerp van kommer. “Sanet, het jy pyn?”
“Nee, oom,” sê Gerrie wanneer Jean-Pierre se voete grond raak, “maar ek dink sy is dood, want sy het net haar oë omgedop en so slap geword. Kyk, sy het die nat vadoek wat in haar hand was, ampertjies op my kop laat val.”
“Sies, Gerrie, man, jy weet dis nie lekker as iemand doodgaan nie. Sanet is mos nie dood nie, oom?” pleit Peet.
Sanet voel skuldig oor haar valse floute, wens sy kan ongemerk vir Peet knipoog om hom gerus te stel, maar durf dit nie waag onder tant Ellie en haar dogter se skerp oë nie.
“Moenie jou kwel nie, Peet,” kom dit gerusstellend van Jean-Pierre terwyl hy Sanet van sy skouer laat afgly en haar dan in sy arms optel. “Die arme meisie het net flou geword van die skok oor die slang, maar ek sal haar nou weer by kry.”
“Nou wat staan jy met die meisiekind in jou arms en klou haar vas asof jy bang is jy sal haar laat val?” vra tant Ellie nydig en trippel nader om Sanet van naderby te beskou. “Lyk nogal na haar oom Lukas, nè? Hy is natuurlik ’n baie aantreklike man, maar ek sal haar nou nie juis mooi noem nie – doodgewone ou gesiggie, sou ek sê.” Sy draai haar kop na Elrina en roep oor haar skouer asof Elrina effens hardhorend is. “Jy het niks om jou oor te kwel nie, Elrinatjie. Die ou meisietjie lyk maar vaal en alledaags.”
Sanet oorweeg dit om met ’n skielike stuiptrekking die buurvrou ’n gevoelige skop in die maag te gee, maar besluit daarteen.
Haar floute het darem ’n voordeel: sy lê in Jean-Pierre se sterk arms en luister na die ritmiese geklop van sy hart. Laat ou tant Ellie haar maar vaal en alledaags noem – solank sy in Jean-Pierre se arms kan wees, sien sy selfs kans om met die voortreflike Elrina vriende te wees.
“Hallo, Jean-Pierre. Wat presies het hier gebeur?” vra Elrina en Sanet voel ’n stekie van jaloesie, want Elrina praat met ’n sagte, diep, sensuele stem wat Jean-Pierre se naam soos ’n intieme liefkosing laat klink.
“Dis tog duidelik Sanet het flou geword,” antwoord Jean-Pierre en Sanet wonder of sy arms