koester, dring hom ook nou op wat haar eie verhouding betref: daar is geen eenvoudige weg tussen man en vrou nie. Spanning en pyn sal daar altyd wees, maar die kuns is om dit te kan verwerk. Slaag iemand ooit volkome daarin?
As iemand opgewasse kan wees om spanning te verwerk, moet dit immers Louis Paulter wees, hy wat ’n gevorderde student in sielkunde is. Dikwels egter merk sy ’n kommerkeep tussen sy oë, sien sy hoe hy aan tafel kos in sy mond sit sonder dat hy behae daarin het of die smaak laat registreer.
Sy wens sy kon dinge vir hom ligter maak. Sy is nie blind vir die feit dat daar veel meer op sy skouers neerkom as wat enige mens in staat is om alleen te dra nie. En daarby het sy die indruk dat sy vrou nie by hom staan nie.
Hierdie gevoelens hou Petro egter vir haarself. Dis vir haar ontstellend dat Danie na al die jare jaloers begin raak. En daarvoor kies hy vir Paulter uit. Waarom? Daar is immers ander, jonger onderwysers op die personeel wat hy as ’n bedreiging kan beskou as hy ’n sondaar soek. Sy bid dat Paulter nooit moet uitvind van hierdie aanklag nie. Sy sal hom nooit weer in die oë kan kyk nie.
Sy probeer dan ook uit die pad van hom en sy vrou bly waar dit nie om skoolwerk of toesigdiens gaan nie. Om die waarheid te sê, sy gebruik die aangebode badkamer so min moontlik. Sy deel maar met die dogters, ondanks die aardige reuk van karbolseep of wat ook al. Sy trotseer dit liewer as dat sy so intiem met die Paulters moet deel. Daardie eerste keer wat sy haar buite die badkamerdeur in Paulter vasgeloop het, bly haar op ’n hinderlike manier by, so asof iets in verband daarmee nie afgehandel is nie. Iets bly nog nawerk, in die lug hang, roepend om opklaring. Was dit ’n aanspraak, ’n atmosfeer, ’n aanvoeling, en van wie het dit uitgegaan?
As jy eendag terugdink, moenie sê dat ou Danie heeltemal onnosel was nie, het Danie tydens hulle jongste meningsverskil gesê. Dit ontstel haar. Daar was so ’n donker ondertoon in sy voorspelling. Sy kry dit nie uit haar gemoed verban nie.
Ondanks oplaaiende werk voor die kort herfsvakansie, knyp Petro ’n tydjie af om na Rina toe te gaan. Dis nie te ver om te stap nie, en sy beplan om terug te wees voor aandete . . . en Danie.
Die vinnige stappie in die bros aandlug van vroegherfs doen haar goed. In hierdie tyd is alles suiwerder, konkreter. Dis nie soos die kortstondige bloeityd van herfs nie. Die swaar, goudryp voldraenheid van die natuur is selfs tussen beton en teer voelbaar. Blare kraak uiteen onder haar vinnige voetsole. ’n Weemoed wat buite beskrywing lê, omvou haar. Sy ondervind die sonderlinge drang om te huil en te huil, nie van verdriet nie, maar wel vanweë ’n besef van die onomstootlikheid van dinge. Elkeen spook en spartel, jaag sy eie heil na; maar op die ou end besef jy dat jy heeltyd besig was om uit ’n bestemde baan te beur.
Rina is al tuis met klein Hennie wanneer Petro daar aankom. Tot laasgenoemde se verbasing is haar skoonsuster sonderling vriendelik en opgeruimd, wat weer Petro se vermoede bevestig dat ’n mens die vrou net beter moet leer ken om haar te verstaan.
Sy versoek Petro om vir Hennie te bad solank sy vir hom aandkossies maak. Die atmosfeer raak heel huislik. Petro moet erken dat Rina weet hoe om ’n woonplek interessant te maak. Sy het ’n moderne, kleurvolle aanslag in haar tuisteskepping. Jy kan sien dat sy ’n bietjie anders as die doodgewone grootgeword het. ’n Bossie naeltjieblomme in ’n vasie sprei ’n hemelse geur deur die beknopte woonplekkie, terwyl droë roosblare, in ’n piouterbak gemeng, bydra tot die geur wat eie is aan Rina.
Marius moet haar behou, dink Petro met pyn in die keel. Daar kan vir hulle ’n wonderlike lewe wag. As hulle net eers die gedwonge skeiding agter die rug kan kry en padgee uit hierdie benouende woonstelkompleks waar jy die bure se kleintjies kan hoor skree, ’n reuk van kookkos in jou neusgate kry en skril vrouestemme hoor.
“Het jy goeie nuus gehad?” vra Petro toe sy begin besef dat Rina se goeie bui ’n stootjie van buite moes gehad het.
“Of ek goeie nuus gehad het?” eggo Rina met ’n lag. Sy het ’n skerp profiel, wye mond, honger, soekende oë. Hande wat lyk of dit iets wil aangryp wat haar ontwyk. “Ek gaan vir ons naam maak, jong,” vervolg sy. “Een van die dae sal julle dalk trots kan wees op my; dan sal ek nie net meer die feeks wees wat skande oor julle huis gebring het nie.”
“Jy weet dis nie waar nie, Rina. Dis nie hoe ons jou sien nie. As dit die rol is wat jy vir jou uitgesoek het, kan jy nie sê dat óns jou so sien nie.”
“Jy’s warmpatat, hoor. ’n Rol. Ek sal jou maar vertel. Jy weet mos ek gaan elke Saterdag perdry, dan vat ek vir Hennie saam. Hy moet perde leer ken, sy oupa is ’n ryk boer en dalk erf hy nog iets daarvan as sy moeder eers vergewe is.”
“En toe?” vra Petro. Maar terwyl Rina nog praat, begin sy reeds met verbluffende helderheid weet wat haar skoonsuster wil sê. Maar sy luister verder asof sy niks vermoed nie.
“Nee, verlede Saterdag ontmoet ek toe iemand daar. Eintlik het hy die eienaar gevra om my aan hom voor te stel. Toe hy boonop hoor ek het ’n bietjie drama geswot en ek kan ’n paar note sing en nog perdry ook . . .”
“Die ou wat die film kom maak?” vra Petro, en dink vlugtig aan Barbara Paulter.
Sy kry sterker as voorheen die gevoel dat bane vir jou bestem is waarteen jy tevergeefs met jou eie kragte beur.
6
“Gaaf van jou om my te kom opsoek,” se Stacey Vaughan en sy blik ondersoek vir Barbara met ’n sonderlinge, ontledende dringendheid.
Hulle staan nog in die portaal, waarheen Ontvangs hom ontbied het.
“Ag, ek lees toe in ons ou plaaslike bladjie dat jy hier is om sake deur te kyk, en dat jy in die King’s tuis is. Nietemin, ek sou jou darem sekerlik tussen Sentour se perde raakgeloop het. Ek . . . ek gaan gereeld daar ry, weet jy?” Sy hou hom fyn dop, maar hy verraai niks. Dis net die vreemde, gelaaide blik wat oor haar bly dwaal.
“Stacey, het jy geweet dat ek nog hier woon?” probeer sy vanuit ’n ander front. Volgens haar beraming moes hy haar reeds na sy kamer genooi het.
“Natuurlik,” antwoord hy amper te geredelik. “En dit bly vir my ’n raaisel dat jy nog met die latswaaier getroud is. Het jy hom lief?”
“Hoe sal ek sê?” Haar mond plooi in ’n siniese glimlag. “Hy is goed vir my, maar jy weet tog: eenmaal ’n kunstenaar, altyd een. Om nou in ’n koshuis te moet sit en luister na klagtes oor meisiekinders se vuil wasgoed, en oor kos en lawaai, whau.” Sy waai haar kastig koel met twee wapperende wit hande, tuit haar mond.
Hy vat haar na die ruim sitkamer. “Is jy nog so besluiteloos oor jou drankies?” vra hy argeloos toe ’n kelner langs hulle verskyn. “Is dit nou ’n droë martini, of G&T, of Bloody Mary, of port met suurlemoen?”
“Vanaand drink ek wat jy drink. Ons moet weer op dieselfde golflengte kom.” Sy onthou met ’n tikkie ongemak dat sy elke keer ’n nuwe keuse gehad het, spesifiek nadat sy ’n ander vrou iets interessants of uitdagends hoor bestel het. Ja, sy wou vir Stacey daarmee beïndruk, en is dit ’n sonde?
“Whisky on the rocks vir ons albei,” bestel hy.
Sy voel dat dit alreeds vordering is om ou gedeelde herinneringe op te roep. “Wat was jou teorie nou weer? Hoekom vat jy nooit soda by nie?”
“Nie teorie nie, feit. Maak jou nie so gou dronk nie. Dis eintlik heel eenvoudig: hoe minder water daarin, hoe langer duur dit voor die alkohol jou bloedstroom bereik.”
“En waarom sou jy langer sober wou bly?” tart sy hom toe die ysblokkies in hulle glase klingel.
“Ek staan aan die begin van ’n groot opdrag, engel. Ek moet nugter bly en hard werk. En ek soek talent, groot talent.”
Die plesier sprei oor haar gesig. Tot dusver was sy ontsenu deur sy bekwame en saaklike manier van doen. Sy kon kwalik die ou Stacey Vaughan herken, die joller wat daarvan hou om uit die tuig te breek wanneer die geleentheid hom ook al voordoen. Maar, nou ja, hy is deesdae sy eie baas en moet sy eie klok lui as die kop van die opkomende Floreat Produksies.
Sy wonder hoeveel hy onthou . . . van hulle twee tydens die verfilming van Wilde Jasmyn.