begin van die jaar af? Jy is glad nie meer dieselfde mens nie. Jy’s so buierig en bedons, ek kan niks met jou uitrig nie. En altyd te moeg vir my, of jy het te veel werk. Ek moet bedel vir ’n uur van jou aandag.”
“Wys net hoeveel aanvoeling jy vir my probleme het,” snik sy in halwe wrewel, halwe verdriet. “Jy wil dit maar aaneen geringskat as ek by jou kla. En kyk waarmee kom jy glad vorendag. Ek en meneer Paulter.”
“Ek het gesê ek is nie blind nie,” herhaal hy dwarskoppig. “En wanneer jy eendag terugdink aan my woorde, onthou dan om te erken dat ou Daantjie Momberg nie volkome onnosel was nie.”
Blind van verontwaardiging swaai sy weg van die verligte winkelvenster waarin daar, van alle dinge, onaantreklike ysterware uitgestal is, en steek die straat oor. Al is dit hoe ver koshuis toe, sy sal met haar voete loop.
Hy laat haar wegkom.
Maar voordat sy een blok ver is, luier die kewer langs haar. Sy maak of sy nie hoor of sien nie en hou haar pas vol. Hy bly langs haar voortry, staan-staan, tartend.
Oplaas besef sy dat hy besig is om ’n gek van haar te maak. Sy ruk die linkerdeur oop en klim in, stomend van woede. “Die duiwel ry jou as jy hierdie onsin loop en versprei,” dreig sy. “Ek skaam my dood as meneer Paulter van jou teorieë moet hoor. Jy is te dikwels ledig, ek stem saam met jou ma. Sit kastig by jou boeke, maar jy sit en slaap daar. En dink nonsens uit.”
“Nog iets?” vra hy met lui geduld.
“Moet in hemelsnaam nie so vreeslik geduldig klink nie. Jy’s selfs te verdomp lui en traak-my-nieagtig vir die eise van ’n rusie.”
“Ek glo maar net nie daaraan om ’n vlieg met ’n voor-hamer dood te slaan nie.”
“Dan is ek nou seker die vlieg. Toe maar, ek sal nie verder oor jou neus loop nie. Genoeg is genoeg. Dè.”
Sy spook om die ring van haar vinger af te kry. Hy hou teen die straatkant stil en met ’n lag vou hy haar hande toe met syne sodat sy haar pogings om die ring te verwyder moet staak. “Sien jy? Klaar vasgegroei, die ou op-skuld-ringetjie. Of so nie het jy net nie hard genoeg probeer om dit af te kry nie.”
Hy soen haar aaneen en aaneen, totdat haar snikkerige woede begin swig.
“Asem,” versoek sy met ’n snak.
“Weet jy wat?” vra Danie.
“Wat?”
“Jy het jou oë toegemaak toe ek jou soen.”
“Verbasend.” Sy kan nog nie uit haar vel klim van vriendelikheid nie.
“En weet jy hoekom?”
“Nee.”
“Jy het gebid vir meer.”
“Ai, Danie.” Sy weet nie wat om te doen nie. Onder die oppervlakte, so voel dit vir haar, het dinge onherroeplik verander. Sy voel nie meer daardie veilige koestering van hulle verhouding soos vroeër nie. Daar is eerder ’n spanning aan die opbou, die spanning wat alle onvolmaakte dinge aankleef.
“En hoor hier, Petrus: daardie ring het ek nie vir jou gegee om met elke rusietjie van jou vinger af te probeer pluk nie. Dis goedkoop, verstaan.”
“Die ring?”
“Die dreigement. Die ring ook, maar toe maar.”
Afgekoel sit sy langs hom. En nou het ons nog nie uitsluitsel gekry oor volgende jaar nie, besef sy misnoeg. Hy is so oorrompelend, jy kan net nie vir hom kwaad bly nie.
Dalk was hy reg toe hy ’n tydjie gelede voorgestel het dat hulle in Junie moet trou. Hier sit hulle, en sy het nie eers ’n plekkie waar sy hom kan binnenooi en vir hom ’n koppie tee maak nie. Geen wonder hulle raak so gefrustreerd dat hulle in mekaar se kele wil afklim nie.
En sy móét vir hom sê dat hy minder gereeld moet kom. Sy moet, maar kan nie. Hulle is vanaand te skrynerig vir mekaar. Sy kan nie nog sout daarin vryf nie.
Sy kom nêrens anders meer nie. Was weke laas by Rina, en dié sal haar beslis kwalik neem. Sy voel mos die Schoons het haar in allerlei ellendes gedompel en hulle toe onttrek. Die kort besoek van Marius voordat hy operasionele gebied toe is, het alles skynbaar net nog meer gespanne gemaak.
Toe Petro en Danie hom gaan groet die aand voordat hy weg is, kon jy die atmosfeer met ’n mes sny. Sy moes haar vererg vir haar broer wat, groot en gesond en sonbruin, soos ’n vis op droë grond in sy eie woonplek lyk. Terselfdertyd, met ’n soort nuwe volwassenheid, moes sy besef dat daar nie ’n eenvoudige pad tussen man en vrou is nie.
“Hy moet haar net ’n week vir my gee,” het Danie met die terugry gebrom.
“Ag, wat sal jy tog kan doen? Sy lewe in ’n wrok, en dis ’n dood vir ’n huwelik.”
“Gits, ’n mens sou sê sy het geen aandeel gehad in die kleintjie wat hulle oorval het nie. Maar sy is ’n bedorwe brokkie, dis wat sy is. Verbeel jou, Marius mag nie die kind vir oulaas vashou nie, dis die bloedjie se slaaptyd.”
“En Marius is dikmond omdat daardie ou met die muissnorretjie vir Rina werk toe opgelaai het.”
“Wat wil hy anders hê, hy het self dan nie ’n ryding nie.”
“Jy erken dus dat my broer nie so onskuldig is in die vervreemding nie. Hy wil voorregte opeis, maar nie aan sy pligte herinner word nie.”
“Natuurlik is hy ’n slapkous. Maar sy is ’n geitjie, en ek kies ’n slapkous bo ’n geitjie.”
“Danie, ek kan my soms in haar plek indink. Sy was haar ouers se liefling, nou is sy van hulle ook vervreem. Hulle wou mos die kind hou sodat sy nie met Marius hoef te trou nie. Toe weet sy van beter . . . dalk ook maar uit koppigheid.”
“As ek na hulle twee kyk, verstaan ek jou beter, Petrus. Hulle is ’n baie sprekende les van te veel te vroeg, voor hulle gereed was daarvoor. Bly maar kophou, hoor. As jy dit enduit regkry, gee ek jou ’n vierplaatstoof as trougeskenk.”
“Dis duidelik hulle vertrou mekaar net sover hulle mekaar met die oog kan sien.”
“En met rede, dink ek.”
“Ek weet darem nie of Marius . . .”
“Ou dier, ek wil eers jou broer se vlerkies sien voor ek glo hy is ’n engeltjie. Maar toe maar, sy vrou se horinkies hoef ek nie te sien voor ek glo sy is ’n duiwel nie.”
Nietemin voel Petro dat sy Rina nie as ’n verantwoordelikheid durf afskryf nie. Die waarheid is die waarheid: ter wille van Marius Schoon het Rina van haar eie, welvarende familie vervreem geraak, en ’n mens kan haar nie bloot aan haar lot oorlaat en lekker kry omdat sy maai wat sy gesaai het nie. Dat sy ’n trotse, koppige geaardheid het, is gewis. Maar Petro is self ’n vrou en voel ’n soort weerloosheid diep onder die oppervlakte by haar skoonsuster aan, ’n hunkering na begrip.
Ons sou so baie vir mekaar kon beteken het, dink Petro meermale. My eie mense is ver, net soos hare. Sy het sekerlik probleme waaraan sy graag lug sou wou gee. Sy ly ’n lewe van meet en pas waaraan sy nooit gewoond was nie. Sy voel verbitterd en veronreg. As sy tog maar wou uitpraat, sou dit help. ’n Mens moet dit in elk geval bewonder dat sy nie los en vas kla en bieg, nie sover Petro kan agterkom nie. Daardie hooghou van die kop is skynbaar ingebore.
Ek sou haar ook as ’n vriendin verwelkom, dink Petro. As sy my net wou vertrou. Ek soek ook raad.
Want raadop is sy deesdae, verterend ongelukkig omdat sy en Danie nie meer by mekaar kan wees sonder om van mekaar te verskil en vies uiteen te gaan nie. Dis net asof hy nie werklik wil verstaan dat sy nie meer ’n sorgvrye student is nie, dat sy nuwe sorge en laste het en dat sy simpatie nodig het.
En daar is die ontwakende vermoede in haar hart dat hy hom doelbewus daarvan afsluit, dat hy die bestaan daarvan wil ontken omdat hy nie gemoeid wil wees met onbehaaglikhede en ongerief nie. Dis nie dat sy met hom fout wil vind nie; dis net dat ’n minder bekende kant van sy persoonlikheid finaal tot haar begin deurdring. Sy sal