bly. Dan sal ons nie weer hoef te trek nie.”
Lizette druk haar styf teen haar vas. “Ek wens dit was moontlik, chérie, maar die Kaap de Goede Hoop is baie ver van Frankryk af.”
Hulle sorteer die goedjies verder sonder om veel te praat. Hierdie keer, dink Isabeau, gaan ons sommer binne ’n maand al trek. Sy het haar pa hoor wegry op die ou knol wat hulle gebruik om hulle produkte mark toe te vat, en sy is baie seker daarvan dat hy na die dorp is om hulle reis te gaan reël. En sy sien hoe haar ma elke af en toe trane uit haar oë vee. Hierdie keer gaan hulle baie gou trek.
Daar is vir Isabeau net een hartseer: sy sal Simon nooit weer sien as hulle eers weg is nie. Hulle twee is beste vriende, en sy het al dikwels saam met hom uitgegaan as hy die skape gaan haal. Hulle doen omtrent alles saam, al is hy amper vyf jaar ouer as sy. Eintlik is hulle twee onafskeidbaar.
“En dié lang gesigte?”
Sy kyk vinnig op en lag opgewek. “Simon!”
“Bonjour, Simon,” groet Lizette, en dan kyk sy na Isabeau. “Gaan julle maar. Daar sal nie meer baie geleentheid wees nie.”
“Merci, Mamá!”
“Bonjour, madame!” lag Simon, en hy haal sy flenterhoed af en buig voor haar ma asof sy ’n hertogin is. Lizette lag net.
Isabeau huppel vooruit na die vlaktetjie waar die skape gewoonlik wei.
“Hoekom het jou ma gehuil?” vra hy.
Sy gaan staan en kyk terug na hom. “Ons gaan trek.”
“Maar julle woon nog maar agt maande hier!”
“Ek weet, maar as daar ’n man in die nag na my pa toe kom, dan weet ek ons gaan trek.”
Sy begin weer loop en probeer die punt van haar skaduwee op die paadjie raak trap.
“Met wie gaan ek dan gesels?”
“Met Bella.”
“Bella weet niks van wolkemense nie.”
“Het jy haar al gevra?”
“Ja.”
Sy kom voor hom staan. “Ek sal weer terugkom en dan sal ek groot wees en dan sal jy nie meer vir my moet wag omdat ek nie so vinnig kan loop nie.”
“Belowe?” Hy lag vir haar.
“Belowe!”
“Kom ons maak ’n regte belofte. Gee my jou skoenrieme.” Toe sy beswaar wil maak, sê hy: “Ek sal ander vir jou by die huis gee.”
Hy sny twee knope van sy baadjie met sy mes af en steek ’n skoenriem deur elkeen. Dan bind hy een om haar nek en een om syne. “Nou het ons ’n regte belofte.”
Sy lag en voel gelukkig, ten spyte van die donker wolk wat oor haar en haar gesin hang. Simon is die beste vriend wat sy nog ooit gehad het, en die knoop om haar nek sal haar altyd daaraan herinner dat sy eintlik hier hoort, dit maak nie saak waar sy is nie.
Hulle jaag op die rug van sy muil en lag en geniet die middag. Toe die son begin watertrek, besef Simon dat hy in groot moeilikheid by sy pa is. Isabeau sprankel nog van die heerlike agtermiddag en sy huppel terug huis toe. Net vir ’n kort tydjie het sy van die vorige nag en van haar ma se ongelukkigheid kon vergeet.
Miskien, dink sy, sal daar vir haar en haar ouers iewers vorentoe iets beters voorlê as wat hulle tot nou toe geken het. En sy sal eendag terugkom hierheen, na Simon.
In die weke ná Lorenzo se besoek sorg Isabeau dat sy elke oomblik wat sy kan by Simon is. Hy is altyd bly om haar te sien. Soms lê hulle op hulle rûe in die weiveld en soek na die mense in die wolke. Dan vertel Simon vir haar allerhande wonderlike stories oor die wolkemense en lag hulle oor snaaksighede. Ander kere vang hulle vis in die rivier, en een keer val sy in en kom sopnat en vol modder by die huis aan.
Haar pa laat alles toe en haar ma sê niks, want hulle weet dat sy binnekort van Simon sal moet afskeid neem, en hulle twee is soos Dawid en Jonatan bymekaar. Simon stel nie in meisies belang nie. Al is hy twaalf jaar oud, is hy nog pure kind. Hy is ’n dromer, en hy en Isabeau droom die grootste drome as hulle bymekaar is. Net die afgelope tyd is daar ’n demper op hulle vrolikheid, want die dag van haar vertrek kom al nader.
Haar pa is dikwels weg, en sy hoor hom en haar ma baie keer tot diep in die nag praat oor dinge wat sy nie verstaan nie. Pedro se naam word genoem, en ook Lorenzo se naam, maar sy verstaan nie waaroor dit gaan nie. Dis dinge wat lank terug gebeur het toe sy nog maar ’n baba was, en nie een van haar ouers praat ooit met haar daaroor nie.
Drie weke ná Lorenzo se besoek daag hy onverwags weer een nag by hulle huisie op. Hy eis die geld wat haar pa moes gekry het.
“Dis te min tyd!” roep Gaston desperaat uit. “Jy het gesê dat jy eers oor twee maande sal terugkom!”
“Ek is haastig en ek wil dit nou hê!” bulder Lorenzo.
“Dis onredelik!”
“Ek sal jou wys wat is onredelik!” skreeu Lorenzo.
Hy swaai om, stamp die buitedeur oop en storm uit. In die modderstraat draai hy om en skud sy vuis in die lug. “Jy gaan bitter spyt wees! Ek sal jou wys wat maak ek met mense wat my beroof!”
Dan swaai hy om en stap driftig die donkerte in.
Gaston kom na Isabeau en Lizette waar hulle in die kamer verskrik op die bed sit. Haar ma hou Isabeau styf vas en sy kan voel hoe sy bewe.
“Ons moet môreoggend trek,” sê haar pa. “Ons kan nie ’n minuut langer wag nie. Ek is bevrees die man is mal, en hy sal julle twee leed probeer aandoen. Voor die dag breek, moet ons vlug.”
Lizette begin alles bymekaarkry wat op die muilwaentjie moet gaan. Isabeau hardloop heen en weer met alles wat sy kan aandra. Hulle neem ook nie alles saam nie, want as hulle die waentjie te swaar laai, sal hulle nie vinnig kan wegkom nie. Net die noodsaaklikste gaan saam.
Gelukkig is dit somer en hulle slaap sommer op die kaal beddens. Voor die dag breek, is al drie op. Hulle raap en skraap die laaste goedjies bymekaar.
Gaston loop uit om die kissie agter die huis te gaan uithaal, maar dan versteen hy. Ses ruwe mans met kapmesse staan hom en inwag. Hy storm die huis in.
“Hulle is hier!” Hy kyk verwilderd om hom rond. “Kruip weg!”
“Waar?” vra sy vrou paniekerig.
“Bly net so lank as moontlik binne. Miskien kan ek met Lorenzo praat.” Hy soen sy vrou en toe vir Isabeau en sê: “Ek kom terug!”
Dan draai hy om en hardloop na die buitedeur. Lorenzo staan vir hom en wag.
“Ek het kom haal wat my toekom! Ek wil dit nou hê, of ek brand die dorp af!”
Gaston gaan ’n tree nader. “Ek het nog ’n week of twee nodig, Lorenzo. Pedro is dood, maar hy het nie die kis by hom gehad nie. ’n Ander man het die kis gevat, hy bly in Marseilles en leef in weelde. Ek sou vandag soontoe gegaan het om daar na hom te gaan soek.”
Daar is ’n kort stilte en dan sê Lorenzo: “Jy wou weggehardloop het! Al jou goed is op die muilwa gelaai!”
“Ek moet my vrou en kind saamneem. Ek kan hulle nie alleen hier los nie.”
Lorenzo kom nader met ’n grynslag op sy gesig. “Is jy bang ek sal hulle seermaak?”
“Ek … dink nie jy sal so iets doen nie.”
“Verkeerd! Ek sal hulle albei doodmaak as jy nie my geld gee nie!” bulder Lorenzo.
Dan draai hy om na sy manne. “Breek die dorp af! Brand hom af! Soek die kis met geld!”
“Wag! Nee! Niemand anders het iets met hierdie saak te doen nie!” skreeu Gaston, maar hulle steur hulle nie aan hom nie. Die mans vaar die dorp in en steek brand so ver as wat hulle gaan. Vroue gil en kinders skreeu histeries soos wat die ruwe mans hulle hardhandig