of die lewe altyd so baie met geweld en dood te doen het. Is daar dan nie iets anders ook nie? Iets wat ’n mens gelukkig kan maak sonder vrees dat dit van jou weggeneem sal word?
Maar sy is bly dat Lorenzo weg is …
2
Die dag breek helder oor die see en die boeg is swart teen die blink water. ’n Vars bries hou die seile liggies gebol aan die maste, sodat hulle rustig voortvaar na die horison, na Marseilles, waar hulle sal moet vasmeer om voorraad op te laai.
Die afgelope uur al swem vier dolfyne voor en langs die skip en speel in die skuimende water wat die boeg breek. Die kaptein sien dit altyd as ’n goeie teken, en as hy so iets raakloop, drink hy. As dit ’n slegte teken is, drink hy ook.
Isabeau hou die stuur net liggies met haar hand vas, haar gedagtes ver van waar sy nou is. ’n Jaar nadat sy aan boord van die El Querrero gekom het, het hulle gehoor dat Lorenzo die geveg oorleef het en dat hy in die tronk is. Niemand kan met sekerheid sê of hy al vrygelaat is nie. Die enigste rede waarom hy nie gehang is nie, is omdat niemand kon bewys dat hy ’n seerower is nie. Hy is immers op die ander skip gewond.
Ná ’n jaar en ses maande aan boord van die El Querrero het Isabeau nie meer geweet waar sy wil wees nie. Filipe sorg vir haar en hy is soos ’n pa vir haar. Buitendien, sy het reeds een maal in haar lewe haar anker verloor. Dis nie iets waarvoor sy weer kans sien nie. Sy is nog maar ’n kind en die wêreld daar buite, het sy ontdek, is wreed en genadeloos.
By Filipe voel sy veilig. Solank hy haar daar wil hê, wil sy daar bly, omdat sy nêrens anders het om heen te gaan nie. As sy eendag groot is, het sy gedink, sal sy van die skip af weggaan en ’n dame word.
Hy het haar naam verander na Solita.
“Ek hou van dié naam … dit beteken allenige enetjie,” het hy gesê. “As ek ’n dogtertjie sou hê, sou ek haar Solita noem.” Hy het geglimlag en sy het gewonder waarom hy haar naam verander.
“Maar ek is Issi, Filipe,” het sy beswaar gemaak.
“Terwyl jy hier tussen ons is, moet jy ’n naam vat wat by die skip sal bly as jy eendag weggaan. As jy eendag terugkeer na die land om weer ’n goeie lewe te lei, vat jy jou regte naam terug. Niemand sal weet dat jy ’n seerower was nie, want jou nuwe naam sal hier op die skip bly. Terwyl jy hier is, sal mense jou as Solita leer ken, ’n seerower, en hulle sal nie weet dat jy Isabeau is op die land nie.”
Toe het sy verstaan, en sy het ingestem dat haar naam na Solita verander word. En ná ’n tyd het sy die nuwe naam gewoond geraak en selfs daarvan gehou.
Nou het daar al vyftien jaar verloop en is sy nog steeds op die skip. Haar drome om eendag ’n man en kinders te hê, het sy diep weggebêre waar niemand dit sal ontdek nie. Hierdie is die enigste lewe wat sy nou nog ken, en sy kan nie ’n gewone man vra om dit met haar te deel nie. Dalk bestaan Isabeau nie meer nie, dalk het sy werklik Solita geword. Maar sy weet sy sal nooit vir Simon kan vergeet nie. Sy dra al die jare nog sy knoop om haar nek.
Natuurlik is daar Jean, maar sy wil liewer nie aan hom dink nie. Hy het twee jaar gelede by die skip se bemanning aangesluit, en van toe af probeer hy by haar vlerksleep. Hy is vier en twintig en sy al amper drie en twintig, dus eintlik al verby die hubare stadium. Meisies trou lank voordat hulle twintig jaar oud is. Geen ander man sal nou nog na haar kyk nie.
Die seerowers terg haar oor Jean en dit maak haar nog meer steeks. Hy is nie die soort man wat sy eendag wil hê nie. Hy is vriendelik en nie te onaardig nie, maar … wil sy regtig haar hele lewe op ’n seerowerskip deurbring? Iewers diep in haar weggesteek, is Isabeau nog, en sy wag om eendag vrygelaat te word.
En dan is daar die herinneringe aan die dorpie waar sy agt maande van haar lewe deurgebring het. Dit was die gelukkigste agt maande wat sy ooit geken het. Baie maal as sy mismoedig raak, dink sy aan Simon. Dan droom sy van die dag dat sy hom weer sal sien.
Hulle was geesgenote, almal het dit geweet. Sy beeld het vir haar reeds vervaag, sy onthou nog net hoe ’n wonderlike maat hy was. Sy kan nog sy aansteeklike lag hoor, en sy onthou die gevoel van veiligheid wat sy by hom gehad het.
Maar sy het hom verloor die dag toe Lorenzo haar daar weggeneem het en haar pa en ma vermoor het. Haar hand klem stywer om die stuur. Met haar hele hart wens en hoop sy dat Lorenzo nie meer leef nie. As hy nog leef, sal sy hom met haar eie hande vermoor en dan die gevolge dra, sy gee nie meer om nie. Daar is niks behalwe haar lewe wat sy nog kan verloor nie, en daar is bitter min wat dit vir haar nog die moeite werd maak om te leef.
Dagbreek is haar geliefkoosde tyd van die dag, want dis ’n nuwe dag en dit bring nuwe hoop. Elke dag het die moontlikheid om met vreugde te eindig, maar dagbreek is ook ’n mooi tyd, ’n stil tyd waarin ’n mens alleen met jou gedagtes kan wees. Dis die tyd wat sy saam met Simon agter die skape aan is veld toe, en dan het hulle die dou van die gras afgelek en hulle verbeel dat dit towernektar was.
Sy vat-vat aan die knoop aan die skoenriem om haar nek. Haar ouers is albei oorlede, en al verlang sy soms nog na hulle, sal sy hulle nooit weer sien nie. Maar Simon … Die hoop is nog altyd daar dat sy hom weer iewers sal raakloop. Maar hy sal haar nie herken nie, en dalk sal sy hóm nie herken nie. Vyftien jaar kan ’n mens baie verander. Dis ’n vae hoop, maar hy is haar hoop om weer eendag ’n normale lewe te lei.
Die kompas se naald bly doodvas op een koers en hulle vaar voorspoedig voort. Solita weet dat sy, wanneer hulle by die hawe aankom, haar swart mansbroek, laarse en wit wyemouhemp sal moet verruil vir ’n tabberd waarmee sy aan wal moet gaan. Dis vir haar baie moeilik om haar soos ’n dame te gedra, want negentig persent van haar tyd bring sy tussen die rofste soort mans deur.
Filipe het haar deur die jare probeer leer hoe ’n dame sit en praat en aantrek, want hy was eens op ’n tyd die seun van ’n welgestelde man. Sy pa het alles verloor, en Filipe het op Lorenzo se skip beland en geglo dat dit net tydelik sou wees. Sedert Lorenzo verdwyn het, is hy die kaptein en wat seerowery betref, doen hy nogal goed. Daar was dalk eens op ’n tyd iets soos verfyndheid in hom te bespeur, maar lankal nie meer nie. En met die lelike littekens oor sy wang jaag hy ordentlike vroue die skrik op die lyf.
Mooi klere en fyn maniere is egter die laaste ding wat nou in haar gedagtes is. Die afgelope paar jaar hoor hulle telkens van ’n man wat seerowers meedoënloos jag. Hulle het nog nie met hom te doene gekry nie, maar almal van hulle weet dis net ’n kwessie van tyd voor dit sal gebeur. Baie seerowers wat in sy hande geval het, is al tereggestel. Die probleem is dat dit baie moeilik is om ’n skip uit te ken voordat dit amper by jou is.
Tot dusver was hulle baie gelukkig dat hulle pad nie met dié van Armand du Bois gekruis het nie. Stories doen die rondte dat hy ’n ouerige man met een oog en ’n houtbeen is. Hy was ’n uitmuntende swaardvegter, totdat sy been deur seerowers se kanon afgeskiet is. Van daardie dag af jag hy hulle met soveel wraak en haat dat dit die seerowers die skrik op die lyf jaag.
Sy sug.
“Ek wil nie vir altyd hier bly nie,” sê sy hardop. “Ek wil weer eendag Isabeau wees.”
Filipe maak sy verskyning onder op die dek en klim met die trap op na die kasteel. Hy kom staan by haar.
“Ons behoort voor die middaguur in die hawe vas te meer. Ek het die goed wat jy moet gaan verkoop in ’n sak gesit.”
“ ’n Dame dra nie ’n sak met goed nie, Filipe, jy het my dit self gesê.” Sy kyk net vlugtig na hom.
Hy lag. Met so baie gapings in sy mond waar tande makeer, lyk hy soos ’n boemelaar, maar sy weet dat agter daardie afstootlike uiterlike ’n man met ’n goeie hart skuil.
“Dis ’n mooi sak, Solita,” sê hy. “Dis die soort waarmee ’n dame op reis sal gaan.”
“En waar het jy dit gekry?” wil sy weet.
“Op een van die skepe wat ons …”
“Beroof het?”
Hy trek ’n gesig. “Ja, seker maar. Ek hoort nie hier nie. My pa was ’n handelaar, en dis wat in my bloed ook is. Net