tion>
1
Soos alle predikante het Elnatan Wait ipekonders. My man. Hy is vier en dertig jaar oud.
Maar anders as by sy kollegas in hierdie omgewing, almal ouer as hy, het die kwale van die baie bejaardes in hierdie gemeente, die gereelde sterfgevalle en daaropvolgende begrafnisse hom na net agt jaar ingehaal. Hy dra al hoe swaarder daaraan, ek sien dit.
Ek het hom lankal gesê hy moet weer begin draf soos toe ons studente was. Dit was tog nie so lank gelede nie – hy sal vinnig weer in die gewoonte kom. Ek is seker die drafskoene lê nog hier iewers rond, sê ek vir hom, ek sal vir jou ’n sweetpak kry, een van die nuwer soort met die ligte, dun materiaal. Ons kan dit in die stad gaan koop as jy nie daardie soort inkopies hier in die dorp wil doen nie.
Maar hy het gekeer. Dráf? In dié dorp? het hy gesê. Ten aanskoue van al wat leef en beef en skinder? Is jy mal!
Later het hy tog gesê dán klim hy liewer elke dag teen die kerktoring uit. Ou Koba Koster doen dit ten minste drie keer op ’n Sondag. Buitendien sal niemand hom daar sien nie.
Dit was só vreemd, weet jy? Hy praat mos nie meer nie.Dit was sweerlik die langste sin wat ek hom in ses maande gehoor sê het. Maar dit was beslis ’n grappie. Hy het nog altyd hoogtevrees gehad – die vernaamste van alle ipekonders.
Toe het ek in die dorp se verflenterde biblioteek gaan soek en op Lore of Running afgekom. Sommige bladsye was uitgeskeur, party was bekrap, maar die aantreklikheid van die fikswordprogram wat die skrywer voorstel is dat dit aanvanklik nie baie van jou vra nie. Jy begin deur doodgewoon te stap. En ek het gedink dat dit, meer as enigiets anders, hom sou aanspoor. Ek het die boek op sy bedkassie neergesit.
En dit het gewerk! Is ek bly om aan jou te rapporteer. Oeps! Dalk is dankbaar ’n meer gepaste woord vir ’n pastoriemoedertjie. Hoe ook al, hy moes net eers die jaarlikse beplanningsvergadering oorleef – presies een byeenkoms waar ’n klompie ou mans vir mekaar sit en gluur. Niemand is lus daarvoor nie – nie hy nie, nie hulle nie. Hy wil net hê dit moet klaarkom. Húlle verkies iets om oor te baklei, iets waartéén hulle kan wees.
Ag, ek praat al weer te veel. Maar hoe nou ook anders? Jy wil dan weet. Dis net … ek kan myself nie help nie, ek is so versigtig. Paranoïes. Hy het dit só op my hart gedruk. Gee jy om as ek gou die gordyne toetrek? Dit word vroeg warm. Die toegetrekte gordyne help regtig, dit hou die ergste hitte buite. En ek bly deesdae maar binne as dit kan.
Waar was ons nou weer? O ja, ná daardie vergadering was daar die begrafnisse wat so óp mekaar gekom het – drie begrafnisse, drie dae. Daar kom maar sulke tye, dan sien ek hom nie, hy bly in die studeerkamer en die deur bly toe. Dis net vreemd, dit was so vroeg dié jaar. Die winter is eintlik die doodgaantyd hier.
Maar saans voordat hy sy bedliggie afsit, hoor ek hoe hy in die gehawende ou boek blaai. Hier en daar lees hy. En toe kom die finale bewys: Hy het die oefenrooster wat voor in die boek is gaan fotostateer. Ek het die papiere op sy lessenaar gesien lê.
Ek het maar nie my hart daarop gesit nie; niks oortuig my sommer nie, nie meer nie, jy sal verstaan. Die feit van die saak is egter dat hy op Saterdag 1 Februarie ’n kortbroek aangetrek het – die vorige aand reeds het hy sy ou tekkies in die pakkamer gaan uitgrawe.
Sy selfoon is saam. Hy is tog so bang iemand bel en hy kan nie antwoord nie. Ek kan hom seker nie kwalik neem nie. Watter moeilikheid hét hy nie al gehad oor hy nie op aanvraag beskikbaar was nie. Maar vir een keer het ek nie omgegee dat hy almal tog so ter wille is nie. Wat toe vir my saak gemaak het was dat hy opgestaan het en aangetrek het en Dag Een se stappie aangepak het.
Toe is hy weg, uit by die voordeur. Ek weet tot vandag toe nie presies watter koers hy gevat het nie, tóé het ek nie twee keer daaroor gedink nie. Ek was net bly vir die begin, sonder om te waag om enigiets verder te hoop. Miskien is hooploosheid ’n groter sonde as ongeloof.
Haai, ek sê die verskriklikste goed! Ek is jammer oor my simpelgeit, maar ek hoop jy kry nou ’n idee waardeur ek die laaste tyd moes gaan. Wat ek alles by hom gesien en gehoor het. Nee, eintlik net gesién het. Hy praat mos nie meer nie. Daarom is dit goed jy vra jou vrae liewers vir my.
2
Begin met stap, stel Tim Noakes in sy boek voor. Dominee Wait is bly vir die eenvoudige opdrag, in ag genome die minder ideale omgewing; sy onwilligheid.
Amptelik het Silwer Streams ses teerstrate – drie af, drie dwars. Maar vyf daarvan, kla die dorpsmense met oortuiging, is meer gat as straat. Vat nou maar Noordstraat, met daardie gevaarlike dongas; ook maar goed weinig van dié straat se bewoners – dis ouer mense en meestal armes wat in die sub-ekonomiese huisies woon – het hulle eie motors. Dit is dus net die kinders wat af en toe kom kuier, en die dokter en die dominee wat vir siekte en dood ontbied word, wie se voertuie die risiko’s dra. En dan is daar die skandalige Suidstraat waar die teeroppervlak in lang dwarsstroke oopgekap is om pype of kabels te lê. Wat ná twee jaar nog nie opgedaag het nie. Sedertdien lê die halfopgevulde slote maar so. Vlak grafte.
Maar dan is daar die middelste straat – vir almal se begrip die hoofstraat. Die genadige uitsondering; die een wat deur die provinsiale owerheid in stand gehou word en dus redelik gereeld herstel word. Dit kom al die pad van die plase af, glip oor die nasionale pad, klief die dorp in twee en steek uiteindelik, ná ’n langerige afdraand, die rivier met ’n eenrigting-laagwaterbruggie oor. En van daar af word dit, in die dorpsmond, die tuislandpad.
Dit is daardie bruggie aan die onderpunt van Rivierstraat wat Elnatan Wait se aanvanklike bestemming is, sy omdraaipunt vir hierdie eerste stappie. Maar voor hy daar kom, moet hy eers Kerkstraat se gate trotseer. Eintlik, weet hy, behoort hy dankbaar te wees vir dié dwarsstraat wat voor die kerk verbyloop. Die ander twee is doodsake. Skoolstraat is feitlik onbegaanbaar. En die meeste van Koöperasiestraat se teer het, soos sy koöperasie, lankal vergaan.
Dis al klaar warm. Maar van die rook uit die lokasie wat later oor die nasionale pad aangedryf sal kom is daar gelukkig nog geen teken nie. Wat help dit jy gaan stap om jou longe oop en jou hart aan die pomp te kry en dan kry jy net nóg gif in? In die winter is dit ’n verstikkende gemors, veral soggens en saans. In die somer is dit nie heeltemal so erg nie. Nou is dit net die hitte. Hy weet hy moenie hier wees nie.
Ook maar goed hy het toe nie die sweetpak se baadjie aangetrek nie. Die broek sit in elk geval soos ’n uitgerekte sak aan hom, dít is buite die kwessie. Die kortbroek moet maar doen. Daar is nog nie mense op straat nie, in elk geval nie gemeentemense nie.
Verby die kerk, die breë plein langsaan waar die kerkgangers lankal nie meer parkeer nie – hulle het te min geword. Sondae staan al die motors binne die kerkkompleks se omheining; dit is in elk geval veiliger só. Kerkplein is nou die dorp se taxistaanplek en Vrydae en Saterdae slaan die smouse hulle tafeltjies daar op of sprei hulle grondseile oop. En sommer teen die straat maak daar oornag ’n hoop tuinvullis of ’n swart sak met huisafval ’n onwelriekende verskyning. Dominee Wait word genoop om sy asem op te hou terwyl hy haastig verbystryk. Iewers teen sy regterslaap spring ’n ongemaklike klopping op.
Hy trek diep asem in toe hy voor die Portugees se drankwinkel verbygaan en blaas dit uit voor King’s Cash Loans wat langsaan ingedruk staan. Drank en duur geld teenaan mekaar, die een teer op die ander.
Wanneer laas het iemand voor die poskantoor gevee? Die skuifhek staan wyd oop. Dit word nooit meer toegemaak nie, weet hy; watter nut het die nuwe palissade-heining nou? Oorkant is Paul Vincent se koerantkantoor met die breë stoep. Meer stoep as kantoor. Meer kantoor as koerant.
Uiteindelik die hoofstraat se kruising. Hy waag dit om die hoek. Piet Paai moet net nie reeds oop wees nie. Gelukkig lê die pak oggendkoerante uit die stad nog voor die kafee se toe deur. En gelukkig is daar nie motors hierdie tyd nie. Hiervandaan is dit afdraand rivier toe. Hy weet hy moet maar terughou teen die hoogtetjie af – wat help dit jy begin te vinnig? Sy kuite begin al klaar te trek. Die klopping wat langs sy voorkop ontstaan het, hamer nou laer af, tot in sy nek.
Haastig verby die losieshuis.