Helene de Kock

Helene de Kock Omnibus 9


Скачать книгу

geblaf bedaar byna dadelik. Hy moet haar stem herken het van die paar kere dat hy saam met Marcel by hul huis was. Met rukkende vingers sluit sy die deur oop, wag met toegeknypte oë op die gevolge van haar voortvarendheid. Maar toe die deur oopswaai en Pote haar sien staan, gee hy ’n harde blaf van blydskap en kom beruik haar van alle kante, trap-trap toe al om haar rond. Maryn maak haar oë oop en slaak ’n sug van suiwer verligting.

      Voordat sy egter weer die deur kan toetrek, val haar oog op die toneel in die sitkamer, en sy staan versteld. Op die kaal plankvloer lê daar ’n paar los grasmatte; in een hoek van die ruim vertrek staan drie groot leunstoele van rottang met vrolike oranjebont kussings; op ’n ronde rottangtafel met ’n dik glasblad staan ’n outydse olielamp, ’n paar nuwe boeke en ’n foto. Maryn stap binne sonder om twee maal te dink. Die leegheid van die ou huis het teruggetrek tot in die verste hoeke, en in die plek daarvan het daar hierdie paar smaakvolle meubels gekom – én die byna tasbare teenwoordigheid van die man wat sy aande hier deurbring.

      Die hond is op haar hakke. Sy loop skigtig tot by die tafel, buk af en kyk na die foto in die eenvoudige houtraam. Dis ’n mooi weergawe van ’n baie mooi vrou – donker en delikaat van gelaat met groot bruin oë en ’n skugtere lag. En in haar arms ’n allerliefste blonde klein kind. Die vrou druk die knapie met sy bolwangetjies en sagte donshaartjies teen haar vas in ’n opwelling van moederliefde. Die foto het so ’n onmiddellike teenwoordigheid dat Maryn haar asem intrek en haar lip vasbyt totdat dit pyn. Dit is dan Marcel Hoffman se mense … sy mense van gister – hulle wat hy met hom saamgebring het na vandag toe …

      Dis eers toe die hond weer blaf-blaf hier by haar dat sy tot haar sinne kom en haar oë met moeite van die foto losmaak. Sy draai om en stap uit, sluit die deur meganies agter haar en loop agter die hond aan, wat opgewonde voor haar uitdraf in die koel laning. Sy vergeet heeltemal van die bakkie wat voor die Ou Huis geparkeer staan, en loop soos ’n slaapwandelaar in die spikkelskadu van die populiere agter die uitgelate hond aan.

      Sy tref ’n beteuterde Elsje by die swembad aan, en aangesien sy self nie in die mees opheffende gemoedstemming verkeer nie, is sy nie in staat om veel te wonder oor waarom Elsje se oë rooierig is nie. Met ’n fyn aanvoeling vir atmosfeer vra die een nie die ander uit nie, sodat die dag se sessie by die swembad stil verloop en net Pote af en toe ’n ietsie onder die populiere opjaag om darem sy nuutgevonde vryheid te manifesteer, om daarna weer sugtend langs Maryn te kom lê en haar met vraende honde-oë te beskou.

      Dis eers toe Peet hier kort voor middagete na die bakkie kom soek dat Maryn onthou dat sy dit by die Ou Huis vergeet het. Sy is lam van verleentheid daaroor en weet nie mooi hoe om aan Peet te verduidelik wat gebeur het nie, want sy kan aan sy gesig sien hy is haastig. Hy beduie met ’n paar skraps woorde dat hy dorp toe en koöperasie toe en wat nog, wil gaan. Sy weet buitendien self nie mooi waarom sy die bakkie daar vergeet het nie.

      “Pas jy die hond op?” vra Peet ongelowig toe sy oog op Pote val, wat hom ewe gemoedelik lê en beskou. Hy weet goed van Maryn se kleintydse vrees vir honde.

      “Hy kan tog nie heeldag in die Ou Huis opgesluit bly nie!” verdedig sy warm, en hy is gou om die ligte blos te merk wat oor haar gladde bruin wange kruip.

      Hy kyk meteens met nuwe oë na die toneeltjie langs die swembad, vergeet vir ’n oomblik van sy haas om die regte onderdeel vir die perd en leunwa te gaan kry. Hy sien hoe Elsje uitgestrek op die swembadrand lê, en met skaars bedekte apatie een vinger in die helder kabbeling laat hang, haar gesig versteek in die waai van haar arm. En Maryn wat kiertsregop sit in ’n kol son, weg van die bome af, asof sy skielik moet duidelikheid kry oor iets. Die hond wat hap na ’n skelblou naaldekoker wat dit bo sy kop waag, net om weer knus langs Maryn te kom lê asof sy hom grootgemaak het …

      Hy skeur sy oë weg van Elsje se skraal hand wat steeds willoos in die water hang, kyk na Maryn se uitgestote kennetjie en verhoogde kleur, en vra half verwonderd: “Het Marcel jou dan gevrá om na sy hond te kyk?”

      Maryn staan met ’n vloeiende beweging op en kom tot teen hom. Pote staan dadelik op en drentel agter haar aan.

      “Ek het aangebied,” sê sy sag, maar hy sien aan haar gerekte oë dat sy omgekrap is. “En … die hond het vir my weggehardloop en toe vergeet ek die bakkie daar!”

      Hy plaas sy hand paaiend op een stram skouertjie.

      “Vróúmense,” sê hy net, sy oë oor haar kop op Elsje gerig. Háár gesig is styf in haar gevoude arms gedruk, die nat hand nou teen haar oë asof sy die lig wil wegkeer.

      Peet voel hoe ’n onverklaarbare paniek in hom swel, en voordat hy ’n naam daaraan hoef te gee, groet hy haastig en vertrek op ’n drafstap na die Ou Huis om die bakkie te kry.

      Op die sinkplaatpad dorp toe bestuur Peet meganies, hou die stuurwiel lossies in sy bekwame hande sodat die bakkie die speling het wat ’n motor op hierdie paaie benodig – maar willens en wetens herhaal hy in sy gedagtes die gesprek tussen hom en Elsje, weeg elke woord af en vind die somtotaal nog net so ontstellend hoog aan sterk emosie …

      4

      Die paar weke voordat die stropery in alle erns begin, is ’n swaar en swanger tyd. Die boeregemoedere loop hoog, en op Damplaas is dit nie anders as elders nie. Die geringste teken van vog in die lug maak oom Frederik en Eugene paniekerig. Ook Peet, en langsamerhand ook Marcel, raak in geringer mate aangetas deur die wisselinge in die weer. Want die koringlande van Damplaas lê bedags witgeel en glimmend onder die warm son, en as jy op die wenakker loop en bakhand oor die donsige branding daarvan tuur, kry jy die ryp geur van ou hout – genoeg om ’n landman te laat visioene sien.

      Aand vir aand vertel oom Frederik se astigmatiese oë hom dat daar ’n kring om die maan is – ’n seker teken van reën in sy geweste. En aand vir aand kom Peet saam kyk deur sy dik bril en verseker hy oom Frederik dat hy niks te vrese het nie. Soms berus oom Frederik hom sugtend by Peet se sobere profesieë van dorre hemele in die strooptyd, en ander tye begeef sy moed hom sodat ’n handgrootte wolkie hom op ’n oggend met verslaenheid slaan.

      “Ek het jou gesê,” kom pluk hy Peet een rooidag uit die bed en roep na Eugene in die gang af. “Kom kyk nou maar self! Hierdie jaar, seg ek jou, kry ons paddamanne om die wier op die bodem te kom bymekaarskraap!”

      ’n Vaak Peet loop in sy kamerjas saam stoep toe, stik van die lag toe hy die paar wolkies sien. Eugene staan ewe fronsend en vol angstige bespiegeling, nes sy pa langs hom.

      “Nee wat, oom,” glimlag Peet, soek-soek in sy bysiendheid in die grou oggendlig na ’n groter bron vir die ou man se vrese. “As die wolkies nou uitsprei en pensvet maak, dán kan oom so sê …”

      “Almiskie!” sug oom Frederik bekommerd, en Eugene brom iets in sy keel. Peet onderdruk ’n lag; hierdie gepieker oor die weer is vir hom jaar na jaar so vermaaklik dat hy dit nie graag misloop nie en met kwasiwysheid daaraan deelneem. Daar was al jare dat dit nie so snaaks was nie, toe die lande vol water gestaan het sodat die stropers beswaarlik kon inkom. Maar op die een of ander wyse het die geseënde oom Frederik altyd oes gemaak. Gróót ook. En hierdie jaar lyk dit werklik asof dit ’n dubbele seën gaan wees.

      “Vandag,” sê oom Frederik skielik, en sy pyp maak ’n dun blou spiraaltjie dak toe, “begin ons stroop!”

      “Gaaf,” sê Eugene dadelik. “Hoe gouer hoe beter!”

      Dis soos ’n wedloop, dink Peet. Almal trippel koorsagtig rond totdat die skoot knal, en dan is dit holderstebolder en weg met die res. Hy word bewus van die twee mans wat hom begin aankyk, en hy weet hulle wag dat hy sy sê moet sê oor die gereedskap, want dis sy afdeling.

      “Die ysters is reg vir die ding,” sê hy lakoniek, en draai om en loop die huis in om hom te gaan aantrek.

      Ook vir Maryn en Elsje breek ’n heel nuwe tydperk van hul vakansie aan. Van nou af sal hulle hot en haar moet koffie- en teegoed aandra totdat hulle later die skinkery in hul drome voortsit. Want Damplaas se ongeskrewe wet is dat geen keel in die oestyd mag droog wees nie. Daarvoor moet die vrouvolk sorg. Hulle verwelkom ook hierdie gewoel, want ná die weke langs die