mandjies met tee, koffie en reuse-stukke dikmelkbeskuit vir die werkers. En, het ou Selina alwetend gesê, vir die basie met die seer-seer in sy oë moet Maryn sommer twee stukke beskuit voer, want dalkies word sy hart gesond van baie kos en baie son en … Aan wat die ou vrou kwytgeraak het met haar sewentig jaar se vrye sê, wil Maryn liewer nie dink nie. Maar onmagtig om haarself te keer, hoor sy weer die ou vrou se woorde in haar krakerige stem: “ … en baie son … en ’n vrou wie se hart hy eers sal moet stukkend breek voorlat hy die goue trane daarin met sy oog sal sien, soos die kleipot wat breek voor die water kan uitloop … Jy hoor vir my, Marynatjie, jy hoor vir my …”
Waarom sy die ou vrou se woorde so ter harte neem, kan sy self nie verklaar nie. Sy weet net dit: Marcel Hoffman interesseer haar geweldig. Ek is jammer vir hom, dink sy toe sy die bakkie tot stilstand bring; baie, baie jammer …
Selfs in ’n kort oomblik van selfondersoek, vind sy hierdie gevolgtrekking aanvaarbaar, want sy weet dat sy ’n barmhartige mens is. ’n Gebrek aan meelewing was nog nooit een van haar foute nie.
Gesus deur hierdie klein analise, klim sy uit in die hittige son, voel die weldadige warmte daarvan op haar kaal hals en arms. Soos Elsje, het sy ook net ’n sonrokkie oor haar swemdrag aangetrek. Ek moes my slaprandhoed gebring het, dink sy, want selfs in hierdie kort kwartiertjie gaan die son my karnuffel.
Later sou sy daaraan dink dat sy die son nie eens gevoel het nie, want die skroeiende besef waartoe sy gekom het, het niks met die hitte te doen gehad nie.
Nou stap sy agterom die bakkie en maak die flap oop sodat sy kan opklim om die eerste van die groot mandjies by te kom. Sy het verbasend baie krag in haar skraal lyfie en sy lig die mandjie met die vyf groot flesse met gemak af. Dis toe sy die tweede een wil aftel, dat ’n kragtige, songebruinde hand dit by haar afneem.
“Gee maar vir my,” sê Marcel, en sy kyk met ’n ligte skok af in sy gesig. Hy is so songebruin dat sy groen oë eintlik ligter vertoon; sy hare so gebleik deur sy werk in die oopte dat die kontras tussen die wit en sy donkerige baard nog sterker is.
Maryn verkyk haar.
Sy oorhandig die ander mandjies aan hom sonder ’n woord behalwe ’n gestotterde “goeiemôre”, waarop hy met ’n skrams glimlag reageer.
Toe sy eindelik langs hom op die grond staan, hou sy haar hand oor haar oë om die skerpste son af te weer en bekyk sy handewerk. Die drukgang waarin die beeste een vir een gejaag kan word om gedoseer of ondersoek te word, is van gewone ketelpyp gemaak, en die werk aan die afdak as skuiling vir die beeste vorder fluks. Sy sien dit gaan bloot ’n sinkafdak op pale wees waarvan die kant teen die wind afgeskort word.
“Ek dag jy gaan iets van bakstene bou,” lewer sy kommentaar.
Sy oë rus stil op haar, sak van haar blink swart krulle oor haar bloesende wange na haar mond, wat in ’n onseker laggie getrek is.
“Nie nodig nie,” gee hy sy bondige antwoord. “Die bloekombos daar anderkant sou ook gedeug het, maar toe sê jou pa hy spuit dikwels daar vir die vinke wat die koring in die sagtedeegstadium kom opvreet, en dan sit ’n mens dalk met die beeste opgeskeep.”
“Ja,” sê sy, maar te bly om oor iets met hom te kan praat, “en dis gewoonlik ’n groot gesukkel met die spuitery, want jy weet daardie gif is lewensgevaarlik … en … die bloekombos is nie so ver van die huis af nie!”
“Ja,” sê hy net, en sy weet dis bloot hoflikheidshalwe om te kenne te gee dat hy haar wel gehoor het.
’n Vreeslike mismoedigheid sak oor haar toe, sodat sy afbuk en begin doenig raak met die teegoed. Die eerste werkers staan ook al met breë glimlagte nader vir die oggend se verkwikking, en sy begin die groot emaljebekers met die stomende tee, ryk aan melk en suiker, saam met die brokke beskuit uitdeel. Dié man, dink sy terwyl sy glimlaggend werk, het ’n charisma wat ’n mens sterk trek. Dit, ten minste, lei geen twyfel nie.
Nadat Marcel toegesien het dat al die werkers iets te drinke en te peusel gehad het, draai hy ook na Maryn vir ’n beker tee. Hy bedank egter die beskuit met ’n ingedagte handgebaar. Wat meer is, dink Maryn en roer half opgeruk aan haar tee, is dat hy sekerlik goed weet van sy enigmatiese aantrekkingskrag en voorbereid is daarop om enige toenadering van wie ook al ewe vriendelik te stuit. Sy versluk haar aan die warm tee en begin raserig die bekers bymekaarmaak. Nou ja, vlieg gerus maan toe, Marcel Hoffman! Hoekom ek my met jou moeg maak, weet ek ook nie. Dis genoeg dat my eie Peet dié vakansie so half afwesig is …
Wat sy nie weet nie, is dat hy na haar staan en kyk, na haar knakdun middeltjie in die vrolike blou rokkie, na haar fyn enkels en natuurlike grasie. En sy sien nie dat daar, soos ’n stroming in diep waters, stadig en teësinnig iets in sy oë roer nie – en hoe hy dit met ’n enkele oogknip teen die helder son stil nie.
Sonder ’n woord kom sit hy sy leë beker by die ander in die mandjie.
“Waar’s Pote?” vra sy toe hy nog nie praat nie, maar darem ook nie loop nie.
Marcel gee ’n sug.
“Hy maak hopeloos te veel amok. Ek het hom gisteroggend vir die eerste keer saamgebring, en toe het hy roekeloos aan die hap gegaan aan al die baie hakskene, en die uiteinde was dat die werkers soos vinke aan die pale geklou het. Ek was verplig en gaan maak hom in die Ou Huis toe!”
Maryn kom orent met een van die mandjies in haar hande, kyk na sy gesig hier bokant haar en begin lag. Marcel sien hoe haar bedrukte gesiggie van so flussies ophelder en straal van vrolikheid. Die goedkeuring van netnou kruip terug in sy oë sonder dat hy iets daaraan kan doen, en hy kyk vinnig weg.
“Dis te snaaks vir woorde!” proes sy. “Arme hond! Moet hy nou maar heeldag so toegesluit bly?”
“Ja, wel, wat kan ek anders maak? Dit sal nog erger wees om hom aan ’n ketting vas te maak …”
“O nee, dit moet jy tog nie doen nie!” sê sy met groot oë, staar toe nadenkend voor haar uit. “Mag … e … mag ek … sal jy omgee as ek en Elsje bedags ’n ogie oor hom hou?”
Hy kyk verras na haar.
“Omgee? Hoegenaamd nie! Dit sal eintlik baie gaaf wees as julle kans sien daarvoor. Maar ek waarsku jou, hy kan maar ’n hand vol wees, hoor!”
“Ek glo jou,” sê sy ernstig, en haar hart ruk vreemd toe hy sy kop agteroor gooi en hardop lag. Dis ’n lag wat ’n mens onkant vang. Dit haal iets uit die man wat jy geleer het om glad nie te verwag nie – ’n spontane plesierigheid wat móét spruit uit ’n diepgesetelde opgeruimdheid.
“Jy waag baie, juffrou. Ek bedoel, jy kán my maar glo, want Pote gaan jou al jou dae gee!”
Dit voel vir Maryn asof sy ’n wilde begeerte het om skielik tot die man deur te dring wanneer hy nie so … so bedag is nie, en sy sê: “Marcel, my naam is Maryn. En jy onderskat my!”
Daar val blitssnel ’n swye oor hom. Hy neem ’n diep teug van die warm lug om hulle en bly daarmee in sy borskas staan. Toe blaas hy dit vinnig uit. Sonder om enigsins te reageer op haar laaste woorde, vroetel hy in sy bosak rond en haal ’n dik sleutel te voorskyn. Sy herken dit onmiddellik as die sleutel van die Ou Huis se voordeur, en neem dit toe hy dit na haar toe uithou.
“Nou ja, so sy dit dan,” sê hy. “Ek is jou dankbaar as jy daarvoor kans sien. Wees maar streng met hom, hy behoort darem te luister. Ek sal teen vanmiddag kom loer hoe dit gaan. Ek is juis lus om gou te kom swem …”
“Jy’s welkom. Tot siens dan.”
“Tot siens, juf- … Maryn …” Toe draai hy vinnig om en stap weg na die punt van die afdak waar dit lyk of die werkers moeite het om ’n sinkplaat vas te kry.
Toe Maryn sowat vyftien minute later met die sleutel in haar hand op die groot leiklipstoep met sy dik pilare van sandsteen staan, weet sy vir seker dat haar mond groot was. Sy is nie net versigtig vir Pote nie – sy is doodbang vir hom. Wat op aarde, dink sy verslae, kon haar hiertoe gedryf het?
Die hond moet haar voetstappe gehoor het, want opeens hoor sy hom blaf in die gang, en binne