aan. “Ek gaan net vir my ’n helper of twee by ou Paulus haal. Hy het juis gesê sy seuns wil dié vakansie graag werk en hulle is mos flukse manne. Ek dink ek moet heel eerste die kalfie se nuwe bande aansit, en daarvoor het ek hulle hulp bepaald nodig …”
Peet luister met een oor na Eugene se pratery. Peet luister altyd half na Eugene, want hy weet Eugene spreek sy gedagtes een vir een uit soos hulle by hom opkom. Hy kan dit maar doen, dink Peet nou ook weer met vae humor; Eugene het ’n rein hart en hoef nie te vrees wat by sy mond gaan uitkom nie. Peet sug meteens diep. Wat laat hom tog nou weer in so ’n rigting dink? Nee wat, keer hy sy gedagtes netjies aan, hy weet buitendien veel beter wat met die kalfie, die sleepwa wat by die perd en leunwa pas, skort. Hy self het Juliemaand al, toe hulle mielies gestroop het, gesien die kalfie kort nuwe bande, maar dis nie wat hom nou laat ophou werk en ingedagte na Eugene laat staar nie.
“Sê my,” roep hy, sodat Eugene by die groot deure omdraai en hom vraend aankyk, “het jy gister gesê dat Marcel geweier het dat jou pa ligte in die Ou Huis insit?”
Eugene staan Peet hand in die sy en beskou.
“Ja-nee,” antwoord hy half traag, “hy wil niks weet nie. Hy sê as daar ligte in te sit is, sal hy dit self uit sy eie sak doen – en buitendien hou hy van lamplig …” Hy wag ’n rukkie voordat hy half laggend en tog teësinnig byvoeg: “Jy moes Pa se gesig gesien het toe die man dit sê … jy veral sou dit geniet het!”
Daarop het Peet niks te sê nie en hy raak bedrywig by die stroper. Eugene kom nader, ’n ligte frons op die gladde voorkop wat so tekenend is van sy algeheel goedige geaardheid.
“Ek dag jy sou dit toejuig dat daar nog iemand is wat hom teen my pa kan verset,” sê hy, ’n onseker trekkie van ’n lag om sy gul mond.
Peet verstil langs die stroper, staan effe weg en draai om om met sy kuite teen die trappies wat na die stroperkajuit lei, te leun. Met die pols van een besmeerde hand druk hy sy bril reg op sy neus.
“Eugene,” begin hy met sy mooi gemoduleerde stem, en hy voel hoe die afstand tussen hom en Eugene tasbaar word op hierdie hete oggend, “ek wil my nie teen jou pa verset nie, die hemel weet …”
“Tog doen jy dit,” sê Eugene met sy kenmerkende, sporadiese onwrikbaarheid. “Jy het nog skaars met jou nuwe motor gery. Dit staan al die afgelope week agter slot en grendel. Selfs Maryn sien dit raak!”
“Ek weet,” antwoord Peet kalm, “ek weet. Maar jy, en miskien die ander ook, vertolk dit heeltemal verkeerd. As julle dink dat ek dit nie waardeer nie, het julle dit mis, Eugene. Ek is so dankbaar dat dit vir my voel ek moet hier rondkruip!”
Altyd gou om die emosionele ewewig te herstel, glimlag Eugene weer.
“Ek verstaan jou nie altyd nie, Peetman – maar dis maar goed so.”
“Probeer dit verstaan, Eugene,” sê Peet ernstig, maar hy weet by voorbaat dat hy bloot aanspraak maak op ’n soort broederlike simpatie, nie werklike begrip nie. Eugene kán nie begryp hoe hy voel nie. En Maryn mág nie begryp nie. Want sy sal ongetwyfeld voel dat hy nie mooi weet wat hy wil hê nie, en dit sal tog ook nie waar wees nie.
Kopskuddend stap Eugene uit en maak asof hy nie weet dat Peet onsiende deur sy dik bril na hom staar nie.
Peet werk tien minute lank skynbaar onverstoord terwyl gedagtes wild deur sy brein kolk. Op ’n oomblik toe sy gedagtes regtig wil vassteek by hom en Maryn, kom Elsje die skuur binne met ’n skinkbord vol teegoed. Toe hy opkyk en haar gewaar, is hy dadelik bewus van die strammigheid in sy keel, en hy verwens homself hartlik daaroor. Maar, besluit hy opeens toeskietlik, dit kan hom vergewe word – sy is so oorweldigend mooi. Hy wonder vlietend of Eugene ooit werklik besef hóé mooi Elsje is. Selfs nou, sonder enige grimering en met haar goue hare – witgeel gebleik deur die somerson – los op haar skouers, is sy asembenemend. Sy het ’n koel, wye katoenrokkie aan bo-oor haar baaikostuum en haar lang bruin bene is so welgevorm dat sy oë sommer vanself van die kartelige roksoom sak na die sierlike lyn van kuit en enkel. Maar dis na haar oë dat hy uiteindelik kyk, in die hoop … Hy keer die gedagte aan net voordat sy brein dit behoorlik kan formuleer, beskou haar net fyn. Haar groot blou oë is vriendelik, dog met versigtige spekulasie, op hom gerig.
“Hallo,” sê hy vinnig. “Waar’s Maryn dan?”
“Hallo,” groet sy met haar spierwit glimlag, “waar’s Eugene dan?”
Peet gee Elsje ’n wye, vriendelike glimlag.
“Eugene het gaan hulp soek by ou Paulus, Els. Jy sien, hier’s net te veel om te doen voordat ons volgende week begin stroop. Oom Frederik reken die vier heel boonste lande na Driefontein se kant toe is reg daarvoor. Jy moet dit net sien, dis sommer so geelwit,” en hy beduie met die hand. “Dit wieg as die wind so waai …”
“Baie mooi,” sê Elsje saggies. “Ek en Eugene het gister daarlangs gery met die bakkie. Maar jy weet, hierdie tyd van die jaar, met die natuur so vol in drag, maak my so half onrustig … Dit laat my voel ek is nie heeltemal in stemming met die dinge rondom my nie, asof ek in ’n groter volwassenheid te kort skiet.”
Peet staan asof versteen, steek ’n stowwerige en beoliede hand uit om die tee wat sy na hom uithou, te neem, stort ’n hele plas in die piering.
“Dis … ’n opwindende tyd van die jaar,” stem hy ’n bietjie aweregs saam, tuur in sy koppie en sluk die kokende tee sonder ’n oogknip af. Hoe gouer hy klaar drink, hoe beter. Hy wens Maryn wil ook kom. Waar is sy in elk geval? Dis die eerste maal hierdie vakansie dat hy en Elsje heeltemal alleen is, en dit ontstel hom. Die feit dat hy weet hy’s dwaas ontstem hom nog meer. Elsje is Eugene s’n en klaar, klaar, kláár. Hy wat Peet is, is glad nie in die prentjie nie.
“Dink jy dis opwindend?” vra Elsje skerp, voordat hy sy kop bymekaar kan kry om weer na Maryn te verneem. “As jy so dink, is dit omdat jy gelukkig is hier. Dis jou wêreld en jou mense!”
“Wát laat jou dit dink?” vra Peet vererg, en bars daarmee deur sy skans. Hy word nog kwater toe hy sien dat dit is wat sy gesoek het. Haar pragtige mond is halfoop in afwagting op sy verdere woorde, maar dis haar oë, gloeiend en baie ernstig, wat hom laat sluk. “Jy … kan nie sommerso ’n aanname maak nie,” sê hy lamlendig.
“Ek weet hoe jy voel oor die motor, Peet,” sê sy onverwags, asof ’n wind die woorde van netnou weggewaai het.
Maar hy kry tog ’n hou in.
“Ek dag dit het ook jou mense en jou wêreld geword, Els?”
“Dit het,” sê sy kalm, en sy wenkbroue lig omhoog. “Maar nie in die verhouding waarna dit op die oog af lyk nie.”
Dit laat hom stilbly, doodstil. Hy staan haar en aankyk en sluk-sluk aan ’n droë kol in sy keel. Toe kapituleer hy.
“Ag, Els, wat die motor betref – ek dink nie jy moet te veel insig probeer hê in Damplaas se dinge nie.” Sy stem word skor. “Dit sal net ontnugtering bring.”
“’n Mens kan jou blind hou en net so ontnugter raak,” antwoord sy knap, en vir die eerste keer sluip daar in haar stem ’n klankie in wat hom weer na haar laat kyk. Haar beeldskone gesig is afgewend en haar skraal hande is krampagtig om haar elmboë gevou. Toe sy weer opkyk na hom, skiet sy die blonde hare uit haar gesig met ’n enkele kwaai kopbeweging, haar wange rooi van ingehoue emosie. Tellings lank hou hul oë mekaar in ’n blik waarin hulle mekaar miskien vir die eerste maal werklik herken.
Sy lag weer, maar dis ’n lag wat niks verder as haar mond kom nie. Toe stap sy vinnig uit die halfskemer van die skuur. Toe sy uit is, laat vaar Peet sy greep op die stroperketting en kom staan in die middel van die vloer tussen die klomp gereedskap. Sy hande rus op sy heupe en sy kop hang vooroor asof die wil om dit regop te hou, meteens losgeskiet het weens die spanning van die afgelope kwartier. ’n Mens, dink hy, kan vir hom angsaanjaende voorstellings maak van allerlei dinamiese gebeure, maar vandag weet hy vir seker dat ’n statiese ding in jou gemoed kan swel met al die geweld van ’n donderstorm en die skrik van weerlig.
Elsje! Elsje met die goue hare