dieselfde universiteit, het ’n band gesmee wat hulle ten nouste aan mekaar bind. En ’n mens kan nie lank saam met iemand soos Peet leef sonder om hom iewers binne-in jou te voel vasgroei nie.
“Ek het geen deel hieraan gehad nie, Peet,” sê sy eindelik toe die stilte dik word in die nuwe motor.
Hy hou stil, lomp en sommerso in die middel van die pad.
“Ek hoop nie so nie,” antwoord hy, en sy stem tril soos ’n wyser tussen verwyt en beskuldiging, en slaan vas op bitterheid.
“Peet!” adem Maryn. Toe strek sy ’n hand uit na die dakliggie in die kajuit en sit dit aan. “Kyk na my …”
Hy doen dit, maar sy gesig bly koud en sy byna swart oë ver en onleesbaar agter die dik lense.
“Ag Peet,” smeek sy, “jy ken mos vir Pappie! Dis al wat vir hom in die lewe lekker is – om óns te bederf. En hy weet mos jou sin vir waardes is reg!”
“Dis juis die ding, Maryn! Dis my basiese sin vir waardes wat nou hier in die gedrang kom. Ek wil nie meer vat nie, Maryn, ek wil gee! En ek kán dit nie doen solank jou pa my geringste wens vooruitloop nie. Ek is nie een van julle nie, Maryn. Ek is iemand wat my hande kom bak hou het en julle het dit nog altyd net gevul … Dit raak nou my eer!”
“Jy’s te fyngevoelig,” sê Maryn sag, plaas haar hande op sy skouers en leun vooroor sodat haar lippe teen syne is.
Hy kyk na die fyn gesiggie hier dig by hom, die wye diepblou van haar oë en die sensitiewe mond. ’n Mens kan tog vir haar nie kwáád wees nie. Meer nog – ’n mens kan háár nie die sondebok maak nie, al soek jy ook naarstig na een. Met een hand vee hy in ’n sagte gebaar die pikswart krulle van haar voorkop weg en vee vlugtig met sy mond oor hare. Toe sit hy terug.
“Jy ken my dalk te goed,” sê hy. “En jy het reg ook – ek is fyngevoelig, nee, ek is hipersensitief.”
“Ja, jy is. Ag Peet, waarom laat jy Pa nie maar sy gang gaan nie? Laat hom toe om jou te bederf – dit verskaf hom soveel plesier, en dis sy manier om aan jou te toon wat hy vir jou voel.”
“Ja, Maryn,” sug Peet langs haar, “ja, maar ek skaam my … Ek begin al hoe meer besef dat selfrespek geen prys het nie.”
’n Ysigheid vliet deur Maryn se gemoed, sodat sy vinnig op haar mooi sagte manier sê: “Peet, wat gaan van óns word as jy aanhou om só te dink?”
Sy mond gaan ontredderd oop. Sy kom so na aan die kern, so naby … As hulle dit nou oopvlek, kan hulle dit dalk regmaak. Maar dan sal sy moet weet dat hy nie weer iéts van haar pa gaan aanneem voordat hy stewig op eie bene kan staan nie. Dit sal beteken dat hy hier en nou die BMW gaan teruggee, kom wat wil. Hy kyk na haar fyn vingers wat op haar skoot in die voue van die wit rokkie gevou lê, die slanke arms soos dié van ’n klassieke danseres, die grasieuse nek en klein kop met die welige blink krulle – maar dis haar oë wat hom vang: diep en troebel omdat sy nie verstaan nie. En hy weet sy momentele verset was net bravade, en daarby bravade wat hy hard moes stook. Hy het eenvoudig nie die morele moed om een klippie weg te vat van al die ander wat hy al opgestapel het, en ’n storting te veroorsaak nie.
“Kom ons ry,” sê hy net, en skakel die motor aan.
’n Opgewonde driestuks wag hulle in op die verligte voorstoep.
“Was dit lekker?” wil oom Frederik kinderlik weet toe hulle uitklim.
“Hy loop asof hy vlerkies het,” sê Peet met ’n glimlag. “Toe, nou is dit julle beurt. Eugene, neem jy hulle vir ’n ritjie!”
Eugene neem die sleutel gretig by hom en hulle maak so. Peet en Maryn gaan solank kombuis toe om koffie te maak. Toe sy klaar die ketel aangeskakel het, trek hy haar opeens in sy arms, druk haar kop, wat skaars by sy skouers kom, teen hom vas. Sy vly haar sonder voorbehoud soos ’n kind teen hom aan.
“Skuus, hoor,” fluister hy in haar geurige hare. “Ek was sommer onplesierig daar in die motor. Jy moenie dink ek is …”
Maar sy druk haar hand vinnig oor sy mond.
“Jy weet mos ek dink nooit nie,” spot sy, en lig haar kop na hom.
Maar hy kyk af na haar sonder die spoor van ’n lag, buig net sy kop en soen haar innig, hou haar vas asof hy haar wil troos.
Toe die ander drie terugkom, gaan sit hulle almal gesellig in die groot sitkamer en koffie drink.
Maryn lig haar beker hoog die lug in en sê laggend: “Die laaste slukkie drink ek op ’n lekker vakansie en ’n groot oes!”
“Soos altyd!” vul Eugene aan, en hy en die ander lig ook hul bekers. Net oom Frederik bly vredig suig aan sy pyp en kyk hulle goedig aan. Toe Peet opkyk, is dit egter Elsje se oë wat hy vang en hy lees daar ’n byna teer besorgdheid – oor hóm, dit weet hy instinktief. Elsje sien miskien meer as wat ’n mens dink. Dié besef laat hom innerlik bewe, en hy staan vinnig op, sit sy beker op die skinkbord op die lae tafeltjie neer en hou sy hand na Maryn uit.
“Net voor die vakansie en die groot oes wil ek darem eers ’n bietjie slaap inkry!” sê hy drogies, en glimlag met haar.
“’n Goeie plan,” sê Maryn net, en neem sy hand. Dan buk sy af na haar pa om hom nag te soen. Die ander sê ook nag, en die meisies is die eerste om in die regtervleuel na hul kamers te verdwyn. ’n Rukkie later slaan die mans hul eie koers in na die ander vleuel.
Maar ten spyte van sy opregte voornemens, slaap Peet nie. Hy kry dit nie eens reg om sy oë toe te maak nie. Nes hy dit wil doen, waaier sy ooglede oop en bly hy ontstig staar teen die diep donkerte van sy kamer totdat sy oë brand en hy hulle weer vervaard moet knip. Dis asof daar ’n basiese ontsteltenis in hom losgekom het die afgelope paar uur. Die nuwe motor is ongetwyfeld die hoofoorsaak daarvan. Hy kon dalk nog die motor geweier het, hoewel hy goed weet dat dit pure wensdenkery is, maar verder sal hy nie veel durf weier nie.
Dan is daar nog Elsje. Sy pla hom. En hy is lief vir Maryn – so lief soos wat ’n mens net vir iemand kan wees aan wie jy nog feitlik jou lewe lank nou verbonde is. Hy verstaan haar, so maal en kolk die donkerte om hom. En toe hy in ’n onrustige slaap verval, is dit om byna dadelik vasgevang te word in ’n verwoede droom.
Maryn se oë gaan oop met die helder getjilp van die eerste voëltjies, en sy is dadelik helder wakker. Nie een wat ooit kan lê as die slaap reeds weg is nie, staan sy terstond op en trek aan – ’n netjiese donkerblou broekpak en ’n fleurige wit bloesie. Sy trek vlugtig ’n kam deur haar kort hare, en ná ’n ligte aarseling grimeer sy haar tog op haar goed versorgde manier. Toe gaan sy uit en trek haar kamerdeur saggies agter haar op knip. Sy loop ligvoets deur die groot slapende huis en glip by die voordeur uit. Oomblikke lank bly sy op die breë stoep staan; sy trek diep teue van die skerp oggendlug in, proe die klam geur van die blinkgroen damwater in haar mond. Dan stap sy uit oor die dounat grasperke tot op die damwal. Die vroeë son stoot bo die wilgers uit en die stil watervlak kaats hom rosig terug. Maryn loop stadig al met die uitgetrapte paadjie op die wal langs, verkyk haar aan die toneel wat sy sedert haar kleintyd ken. Altyd as sy na Damplaas verlang, is dit hierdie blink pan water met sy soom van diepgroen treurwilgers wat sy oproep. Voor haar geestesoog het dit die dieptes van die blou lug daarbo en al die geheimenis van verre mere.
Sy stap droomverlore in die bloeiselsagte oggend en skrik toe ’n kolgans naby haar voete flappend uit die water vlieg. ’n Oomblik staan sy botstil en kyk die groot voël se klimmende vlug met klein verrukking agterna. Toe stap sy aan met versnelde pas om ’n bietjie oefening ook te kry.
Teen die tyd dat sy die digte wilgers aan die ander kant van die dam bereik, is sy kortasem en haar wange gloei. Sy gaan leun teen een van die dik stamme dig by die water, volkome omsluit deur die lower van die lang, soepel takke.
Haar skielike koms laat die oggend om haar trillend tot lewe kom. ’n Paar bleshoendertjies skarrel vervaard weg van die wal af, en hulle is so potsierlik in hul haas dat sy lag. Die helder klanke priem die stilte en laat die klomp spierwit bosluisvoëls wat nog bo in die toppe dut, met vele geklap van vlerke ontwaak en soos ’n hand vol vere die lug in waai. Met