en rustig, ten spyte van die bedompigheid onder die bed.
6
Die volgende dag hou sy haar so stil moontlik in die wa. Later verskuif sy van die goed so effentjies met haar voete sodat sy darem kan sit agter die bedjie. Toe gaan dit klaar beter en kan sy haar bene so ’n bietjie voor haar uitstrek.
Gedurende die nag op Otjimbingwe, toe alles stil en rustig is in die kamp, klim sy uit en gaan stap stilletjies ’n draaitjie in die veld. Sy maak weer haar waterbottel agter uit die balie vol.
Die koffiekan op die dooie vuurtjie trek haar soos ’n magneet. Handeviervoet kruip sy tot by die uitgebrande kooltjies. Die pot met oorskietpap en van die orige vleis staan uittartend eenkant. Baie versigtig haal sy vir haar van die kos uit. Sy vat die koffiekan en kruip tot agter die boom, waar sy al die koffie in haar bekertjie gooi. Toe gaan sit sy die kan terug.
Sy gaan sit gemaklik in haar wa. Koue pap en koffie het nog nooit so lekker gesmaak nie, laat staan nog die koue braaivleis! Versadig gaan lê sy weer op haar matrassie onder die bed en raak sommer dadelik aan die slaap, totdat Hermaans se bulderende stem die kamp wakker skree.
Versigtig lig sy die tentflap ’n klein entjie op om vars lug te skep. Sy sien hoe Hermaans na die vuur stap en die pot se deksel oplig.
Sy wil giggel toe sy die verbaasde uitdrukking op sy gesig sien. Hy kan nie verstaan wat van sy ontbyt geword het nie. Hy lig die keteltjie van die kooltjies af en loer onder die deksel in. Hy kyk om hom heen op die klipperige grond, maar sien geen spore nie. Hy skud ongelowig sy groot kop en stap na sy wa om die ketel vol water te gaan maak.
Elsa sien hoe hy later langs die vuur kom sit en groot beskuite in die heerlike warm koffie druk. Haar maag grom en protesteer van die lus vir die geurige koffie.
Hermaans is vandat hulle uit Tsoabis weg is in ’n aaklige bui. Hy skree dus nou weer wild op die Herero’s, en Elsa laat die tentflap versigtig sak.
Sy hou haar baie stil agter in die wa. As sy net kan hou tot môreaand toe, dan sal hy baie beslis nie meer omdraai nie.
Sy is rasend honger toe hulle teen sterk skemer eers uitspan. Sy loer versigtig uit toe sy die heerlike geur van braaivleis kry. Sy sal darem nou haar eersgeboortereg verkoop vir ’n koppie koffie en van die braaivleis en pap.
Hermaans se slegte bui duur voort en nadat die Herero’s weg is, sit hy nors en stuurs alleen by sy vuurtjie met niemand om verder mee rusie te maak nie.
Elsa wens hy wil gaan slaap sodat sy van die koffie in die hande kan kry. Haar wa staan naby die vuur en daar is ook ’n groot boom waar sy kan skuil.
Die maan sit al hoog toe Hermaans opstaan en na sy wa gaan. Sy wag egter nog ’n goeie uur, totdat sy geen ander geluide as dié van die veld hoor nie.
Weer sluip sy versigtig nader en gaan haal vir haar kos.
Soos die vorige oggend, staar Hermaans onbegrypend na die vleispot. Hier was gisteraand baie beslis nog twee stukke vleis, en nou is daar net een.
Dit kan tog nie die honde of ’n jakkals wees nie. Die pot is dan weer netjies toegemaak.
Elsa slaap nog rustig onder die bedjie toe die watent skielik helder lig is. Sy loer baie versigtig om die verste punt van die kis en sien vir Hermaans groot en breed in die tentopening staan. ’n Onbegrypende frons ontsier sy gesig terwyl hy na die bed kyk waarop net trommels en ander goed staan.
Die tentflap swaai toe en sy hoor hom by die ander waens vroetel.
Die son sit al hoog toe sy eers onder die bed uitkruip om ’n bietjie water in die hande te kry. Sy was heeloggend skrikkerig om te beweeg, want Hermaans het snuf in die neus. Maar nou is dit amper middag en sy wil vergaan van die dors.
Nogmaals loer sy uit en sien dat haar wa weer heel agter is. Alles agter haar is doodstil en veilig. Sy lig die flap groter oop en leun ver uit om by die balie ’n bietjie water in haar bottel te tap.
’n Sesde sintuig waarsku haar. Sy loer verskrik op en sien vir Hermaans lewensgroot by die kant van die wa. Sy groot hand gryp hare vas en met een beweging ruk hy haar uit die wa uit, sodat sy doodverskrik voor hom in die stofpad staan.
“Wat soek jy hier?” Hy kners die woorde afgemete uit.
Sy kyk hom stil aan. Al die vrees vir hom is skielik weg. Sy is net vreeslik dankbaar dat sy nie weer onder die benoude bed moet gaan inkruip nie en glimlag breed op in sy woedende oë.
Wild skud hy haar heen en weer aan haar skouers, maar sy voel dit nie eens nie.
“Daar is nie dalk nog ’n bietjie koffie oor van vanoggend nie? Ek is dood van die dors.”
Sy lippe is styf opmekaar gepers, maar sy kan sweer sy het die skyn van ’n glimlag in sy oë gesien.
“Jy klim nie weer op my wa nie. As jy van jou goed hier in die veld gaan nodig kry, moet jy dit liewer uithaal, want waar jy uitsak, daar bly jy agter.” Hy swaai om, maar draai weer na haar toe. “En nee, daar is nie meer koffie nie.”
Hulle staan alleen agter in die pad en rusie maak terwyl die osse rustig en tydsaam voortbeweeg, onbewus van die stryd hier in die stofpad.
Woedend stap hy by haar verby en rek sy treë om die waens in te haal. Elsa is kaalvoet en die sand brand haar teer voete, wat nog altyd die merke van die vorige blase dra, ongenadiglik.
Sy trek haar hemp se punt uit haar broek en met haar knipmes maak sy ’n merk onder in die hempsoom en skeur ’n strook reg rondom af.
Sy gaan sit plat in die stof en bind die materiaal om haar voete. Liewer hierdie twee kakievoete as om nou weer al die nuwe velletjies oor die stukkende plekke af te brand in die warm sand.
Hermaans loer so ongemerk moontlik oor sy skouer en sien hoe sy haar voete sit en toedraai. ’n Breë glimlag trek om sy mond en verdwyn in sy baard.
So ’n klein klits! Maar sy hart is skielik lig en vrolik en nou lyk die pad nie so lank en eensaam nie. Hy het sommer lus en fluit ’n vrolike Duitse deuntjie.
Hy klap vir Filemon speels teen die blad en beduie vir hom om stadiger te stap. Hy maak of hy nie Filemon se verbaasde gesig sien nie en beduie met sy kop oor sy skouer.
Filemon loer na agter, staan dan verbaas stil en kyk met ’n breë glimlag na Hermaans.
“Ai! Meneer se vrou wou toe nie by die fort bly nie.” Hy lag hard. “Dit is mooi, meneer Hermaans, ’n man se vrou moet by jou wees. Ek het gedink sy sal liewer wil help bou aan die huis as wat sy daar sal wil sit en wag.”
Hermaans trek sy skouers ongeërg op, maar Filemon kan die blink, helder lig in sy oë lees.
Hy het vir Simon en Filemon vertel dat hy eers die huis op die plaas wil gaan regmaak voordat hy sy vrou kom haal. Die eerste dag het hy hulle mos vertel dat Elsa sy vrou is.
Hulle trek die waens onder ’n groot maroelaboom in en Hermaans begin dadelik ’n vuurtjie aanslaan. Hy sukkel om nie hardop te lag vir die komieklike vrouefiguurtjie, met die voetjies stewig toegebind in die kakielappe, wat ver in die pad aankom nie.
Hermaans praat in ’n klik-klak-taal en Kao, wat toe soos Simon voorspel het vir hulle op Otjimbingwe gewag het, kom nader.
’n Breë glimlag trek stadig oor sy geplooide gesig toe hy vir Elsa in haar kakieklere sien met die dik vlegsel wat liggies agter haar kop swaai.
Kao het maar swaar gesluk aan die storie, veral toe Elsa nie meer by hulle was toe hulle op Otjimbingwe aangekom het nie. Hy het ook geen vreemde reuk gekry nie, dit was net Koos se reuk wat nog by die wa was.
Nou kan hy egter sien dat dit nooit ’n klein meneer was nie. Hermaans verduidelik die storie breedvoerig aan Kao, wat haar glimlaggend aanstaar, sy hele plooigesiggie saamgetrek in ’n breë glimlag.
“Jy is ook maar ’n swak waghond, Kao. Jy ruik nie eens sy kruip weer hier weg nie.”
“Ek het vir Koos geruik, maar ek het gedink dit is sy klere wat nog agter in die wa is.”
“Nou,