kan beweeg, want sy sal nooit die verskriklike gestamp kan uithou nie.
Dit is al heeltemal donker toe die perd oorslaan in ’n stadige draffie. Sy maak haar oë oop, maar in die donkerte kan sy eers niks om haar herken nie. Haar oë fynkam die aanvallers, maar hulle is nog gemasker en sy kan nie een van hulle eien nie.
Die vrees klou aan haar. Die man wat haar vashou, is in swart geklee en het swart handskoene aan, maar die ander aanvallers het nie handskoene aan nie en dit is swart hande wat onder die hemde uitsteek.
Die gedagte dat sy in die hande van een van Jonker Afrikaner se bendes geval het, maak haar lam van vrees.
Haar trane het lankal opgedroog en met droë oë staar sy om haar heen. Die perde kom tot stilstand en Elsa kan hoë rotswande om hulle uitmaak. Hulle moet iewers in ’n sloep of kloof wees, want hulle is nêrens tussen berge uit nie.
Een van die aanvallers skree iets in ’n taal wat sy nie verstaan nie, maar wat vir haar na ’n inheemse taal klink.
Haar ontvoerder gee haar aan vir een van die ander en klim dan van sy perd af. Hy vat haar hard aan haar arm en begin met haar aanstap, die donkerte in.
Sy rem terug en begin wild ruk, maar hy voel dit blykbaar nie eens nie, want hy sleep haar ongeërg agter hom aan. Hulle stap om ’n rotspunt en begin teen kranse uitklim.
Ongeveer vyftien minute lank sleep-dra die gemaskerde man haar teen die rotse uit, dan staan hulle in die opening van ’n soort skuiling. ’n Rots hang laag oor ’n diep uitholling met rotswande aan weerskante. Binne brand ’n klein vuurtjie wat spookskaduwees teen die rotswand gooi.
’n Skraal man, ook in swart geklee, sit stil langs die vuur, sy oë op skrefies getrek terwyl hy kyk in haar rigting.
Elsa kom verskrik tot stilstand en staar om haar heen. Haar oë rus eindelik op die stil figuur langs die vuur.
Die skraal man praat in dieselfde vreemde taal en haar aanvaller los haar arm, draai om en verdwyn in die skaduwees.
Die skraal man staan op en loop na haar toe. Vlak voor haar kom hy tot stilstand en Elsa trek haar asem skerp in, want dit is Kurt Strassen wat hier voor haar staan.
“Kurt!”
“Hallo, Elsa!”
“Wat ... hoekom?”
“Kom sit hier by die vuur en drink eers ’n bietjie koffie.”
Sy rem verskrik terug toe hy sy hande na haar uitsteek. Nou walg die bleekblou oë haar en die vrees knyp haar keel styf toe.
“Is jy dan nie bly om my te sien nie, Elsa?”
Elsa stap swygend nader aan die vuur en sak op ’n klip neer, haar oë vreesbevange op sy eens geliefde gelaat.
“Ek is jammer dat ek jou nie op Swakopmund kon kom haal nie. Ek is opgehou en sou volgende week daarheen kon gaan. Maar ... ek is so dankbaar dat jy uit jou eie ’n plan gemaak het en tog gekom het.”
“En as ek nie gekom het nie, Kurt?”
“Ek sê mos dat ek jou dan volgende week in Swakopmund sou kom haal het.”
Hy praat net té vinnig en té glad na Elsa se sin. Skielik onthou sy alles wat Hermaans van hom gesê het. Die kaptein en die luitenant se stilswye en onderlangse kyke kom lê helder voor haar en in al die verwarring van die afgelope tyd sien sy eensklaps ’n nuwe patroon.
“Hoekom het jy nie gekom nie? Jy het geweet ek is vreemd en sal nie weet wat om te doen nie. Jy het mos geweet op watter dag die skip sou aankom.”
“Ek weet, Elsa-lief! Maar ek sê mos nou vir jou, ek is verhinder deur omstandighede. Ek kan ongelukkig nie vir jou vertel wat dit is nie, dit is hoogs geheim, maar vertrou my net.”
Hy oorhandig ’n bekertjie koffie aan haar en sy neem dit by hom en drink dit dorstig uit.
“Hoekom al die geheimsinnigheid? Hoekom kon jy my dan nie net by Hermaans se waens kom haal het nie? Hoekom al hierdie drama!”
“Hermaans sou jou nooit laat gaan nie, nie as hy weet jy behoort aan my nie. Hy haat my soos gif en ek het ’n vermoede dat dit die rede is hoekom hy jou saamgebring het. Hy sou dit vir geen ander vrou doen nie.”
’n Smalende trekkie krul om Kurt se mond. “Maar hy het natuurlik gedink hy het ’n houvas op my as hy my verloofde in sy mag het.”
Hy lag hard en lelik en die behoedsaamheid kom lê vas om Elsa se hart. Kurt weet dus nie dat sy haar op Hermaans se wa verskuil het nie. Sy sal dit ook nie vir hom vertel nie.
“Hoe het jy geweet ek is daar?”
“Ons weet alles, my liefling! My manne het my al die nuus vertel nog voordat julle op Tsoabis was.”
’n Fyn glimlaggie plooi om Kurt se mond. “Maar Hermaans Potgieter moenie dink hy is met ’n gek deurmekaar nie. Hy het natuurlik gedink ons sal eers by die Waterberge toeslaan.”
Hy lag weer hard sodat die klank teen die rotswande vasslaan. “Maar hierdie keer het ek hom met toe oë gevang.”
“Kurt, wat is aan die gang?”
Hy skuif tot teen haar en slaan sy arm om haar skouer. Sy druk dit egter vererg weg.
“Elsa, liefling! Jy het my nog nie eens ordentlik gegroet nie.”
“Ek dink jy is my eers ’n verduideliking verskuldig, Kurt!”
“Dit sal moet wag tot later.”
“Andy!” Kurt roep gedemp en omtrent onmiddellik verskyn die man wat haar voor op sy perd gehad het.
“Dit is Andy ... Anderson, Elsa. Andy verstaan nie Afrikaans nie, jy sal moet Engels praat, want hy is van Sweedse afkoms.”
Elsa sê geen woord nie. Sy kyk stip na die groot blonde man en ’n ligte rilling trek deur haar liggaam. Sy gesig is grof en nors en sy kan die wellus in sy oë sien.
Kurt druk hard op haar skouer en praat weer gedemp in Afrikaans. “Moet hom nie kwaad maak nie. Groet vriendelik. Hy kan woedend word en dan is hy nie verantwoordelik vir sy dade nie.”
Elsa staan regop en haar oë blits in die flou skynsel van die vuurtjie.
“Ek sal vriendelik wees met wie ek wil, Kurt Strassen, en ek sê nog jy is my ’n verduideliking verskuldig vir hierdie barbaarse maniere van jou. Wat is jou plan met my? Want as jy dink dat ek nou met jou sal trou, is jy baie laat, meneertjie!”
Kurt staan skielik voor haar. Sy oë is yskoud. “Jy sal doen wat ek sê. Verstaan my mooi!”
Hy draai sy rug op haar en begin in die vreemde taal met Andy gesels.
Andy praat driftig terwyl hy sy groot hande oop- en toemaak, en die vrees kom lê vlak in Elsa en druk haar versmorend vas.
Sy kyk angsbevange van Andy na Kurt, wat haar skerp aankyk en dan sy voorkop op ’n plooi trek. ’n Sarkastiese, smalende laggie plooi om sy lippe.
Hy beduie vir Andy om te loop en stap dan afgemete op haar af en vat haar ru aan die skouers. “Andy sê dat jy en Hermaans Potgieter ’n yslike vryery daar alleen in die veld aangehad het.”
Sy klap sy hande vererg weg. “Wat traak dit jou?”
“Jy is aan my verloof – verstaan ons mekaar?”
“Nee, ons verstaan mekaar glad nie. Ek is nie aan jou verloof nie. Ek was nog nooit aan jou verloof nie, want ek het nog nooit eens ’n ring van jou gedra nie.”
“Ons was privaat verloof.”
“Wel, ons is nie meer privaat verloof nie.”
Hy gryp haar aan haar skouers en skud haar wild heen en weer.
“Haal jou smerige hande van my af, verstaan jy my? En jy raak nooit weer aan my nie, jou lae vuilgoed! Jy, wat my belieg en bedrieg het – en dan hét jy uit die leër gedros!”
Kurt