Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 6


Скачать книгу

fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy met die een span osse tydsaam afstap na die suipplek toe.

      Hy bly verbaas stil toe sy eie stem tot hom deurdring. Nou waaroor sou hy dan nou so vrolik en opgewek voel? Hy is dan nog briesend kwaad vir die klein klits, wat hom weer so om die bos gelei het. Hy skud sy groot kop effens, maar die woede waarvan hy homself wil oortuig, wil nie in hom opstoot nie en lustig hervat hy maar sy vrolike gefluit.

      Nadat sy vuur gemaak en die vleis solank opgesit het, stap sy ook maar af na die water toe. Sy wil gaan kyk of sy tog nie vanaand iewers kan bad nie. Maar die water is modderig en glad nie geskik vir dié doel nie.

      Hermaans sien haar verlangend na die water staan en kyk en weet wat sy nou die heel meeste begeer.

      Hy kom staan stil langs haar, sy oë op die pragtige span rooi afrikanerosse wat die wêreld om die water stadig tot ’n pappery trap.

      “’n Bietjie hoër op, met die rivierbedding langs, is ’n lekker fontein. Dit is net te moeilik om daar in te kom met die osse. As jy jou goed kry, dan vat ek jou met die perd soontoe om te gaan bad.”

      “O! Sal jy? Dankie, Hermaans, dit sal heerlik wees.”

      Sy spring vinnig om en verdwyn in die rigting van haar wa.

      Die handdoek word op die bedjie oopgesprei en sy draai sommer al die benodigdhede in die handdoek toe. Daar is seep, ’n waslappie, ’n borsel, asook skoon onderklere en ’n wit rokkie met fyn groen blommetjies.

      Hermaans wag al vir haar buitekant die wa. Hy lyk so groot en fors op sy perd en sy wonder bekommerd of die perd hulle albei sal kan dra. Hermaans self is seker so swaar soos twee mense.

      Ongeërg hou hy sy hand na haar uit en trek haar vinnig voor hom op die perd. Sy bloos toe sy arms om haar gaan om die leisels vas te vat.

      Dit is ’n goeie halfuur se ry voordat hulle by die fontein kom. Daar is ook nie veel beskutting nie, net ’n groterige bos naby die fontein.

      Hy help haar van die perd af en haal sy bondeltjie uit die saalsak.

      “Effens laer af maak die stroompie ’n poeletjie. Ek sal solank daar gaan bad.”

      Hy stap aan, maar vyf tree verder draai hy eers weer om en kyk bekommerd na haar. “Sal jy nie bang wees so alleen hier nie?”

      Elsa staar hom verbaas aan. “Nee, nee, ek sal nie bang wees nie.”

      “Wel, ek is net sowat honderd tree verder, gil maar as hier dalk ’n slang of ’n ding kom.”

      Haar stem is sag en haar oë is vol vertroue toe sy antwoord: “Ek sal, dankie, Hermaans.”

      Ingedagte kyk sy hom agterna. So ’n groot, ruwe man, wat vandag so onverwags ’n sagter kant van sy menswees gewys het. Dat hy nog sowaar oor haar veiligheid bekommerd kan wees, en dit nadat sy gedink het hy gaan vreeslik kwaad wees vir haar.

      Sy was haar hare en bad heerlik in die koel fonteinwater. Tydsaam trek sy aan en gaan sit op ’n klip om haar hare droog te vryf.

      Nadat sy die ergste water met die handdoek uit haar hare gevryf het, borsel sy dit in die laatmiddagsonnetjie. Dit is nog klam en klou krullerig teen haar wange. Sy sien egter vir Hermaans aankom en pak al haar goedjies weer netjies bymekaar sodat hy nie vir haar hoef te wag nie.

      Hy is skoon gebad en lyk vreemd in sy blou, geruite hemp en skoon kakiebroek. Maar dan besef sy dit is nie die klere wat hom vreemd laat lyk nie. Hy het sy baard afgeskeer!

      Sy gesig lyk onnatuurlik bleek noudat die welige bos baard af is. Hy is jonger as wat sy gedink het ... en ontstellend aantreklik en manlik!

      Hermaans se oë, wat haar stil dophou, is vol terg en Elsa laat hare verleë sak. Na ’n rukkie kyk sy op. Haar keel is droog en sy kan aan niks dink om te sê nie.

      Sy staan stadig op, haar oë nog steeds op sy vreemde, bekende gesig. Hermaans vryf oor die kaal area terwyl hy haar nog steeds ondeund dophou.

      “’n Bebaarde aap! Dit is mos wat jy my genoem het ... of hoe, Koos?”

      “My naam is nie Koos nie. Dit is Elsa.”

      Hy lag net en lig haar op die perd voordat hy hom gemaklik agter haar inswaai.

      Sy arms gaan weer om haar en hierdie keer voel en ruik sy soos ’n vrou. Haar hare is los en die windjie waai dit saggies oor sy wang. Die sagte materiaal van haar rokkie streel sy harde hande en arms en die vroulikheid van haar nabyheid maak hom heeltemal lighoofdig.

      Elsa is styf teen hom. Sy harde liggaam stut haar veilig en gespierd van agter, sodat sy stewig sit. Sy sit skuins op die perd en leun liggies teen hom aan en geleidelik ontspan sy sodat die ritme van die perd se stadige stappie hulle tot ’n absolute eenheid laat saamsmelt.

      Die skemerte sak stadig oor die veld en Elsa wens hulle kan nog ure en ure so aanhou ry. Sy voel so veilig en beskerm ... So tevrede!

      Hermaans voel hoe sy teen hom ontspan en sy arms gaan ’n bietjie stywer om haar. Sy gesig is half verdwaal in die geurige hare en hy het al sy wilskrag nodig om haar nie weer te soen nie.

      Sy nugter verstand waarsku hom egter al van vanmiddag af toe sy so skielik weer uit die wa te voorskyn gekom het. Hy moet sake hulle gang laat gaan. Hy sal net baie op sy hoede moet wees. As sy en Strassen saamwerk, sal hulle binnekort van hom hoor. Hulle is nou in die gebied, of sal binne die volgende dag of twee in die gebied wees waar Kurt blykbaar, as hul veronderstelling reg is, besig is om ’n skrikbewind te voer.

      Maar selfs dié negatiewe gedagtes maak nie dat hy haar op hierdie oomblik minder begeerlik vind nie. Sy lippe rus vir ’n breukdeel van ’n sekonde baie sag op haar hare.

      Elsa voel die ligte beweging en die verstywing van sy armspiere om haar en dit ontstel haar nie in die minste nie. Ewe skielik is dit lekker om so naby Hermaans te wees, om te weet hy is hier en is nie meer kwaad vir haar nie, dat hy haar aantreklik en begeerlik vind.

      Sy glimlag geheimsinnig en verslap heeltemal teen hom. Haar kop nestel in die holte van sy skouer agter haar en haar slaap skuur vlindersag teen sy wang.

      Hy fluister hees by haar oor. “Jy speel met vuur, hoor! Ons is alleen hier in die veld ... en ... en ek is net ’n man.”

      Sy sit haar hande op syne, wat die leisels voor haar vashou, en draai haar kop sodat sy na hom kan kyk.

      “Jy sal my tog nie leed aandoen nie, Hermaans. Jy is ’n dierbare, goeie mens, al brom en blaf en vloek en swets jy so. Ek het al jou hart gepeil ... ek ...”

      Sy kop sak vinnig af en sy lippe sluit warm en hongerig oor hare terwyl sy nog met hom praat.

      Haar handjie skuif op en streel saggies oor sy gladde wang. Hy kreun soos ’n gewonde dier, sy arms span baie styf om haar en hy druk haar teen hom vas.

      Die geluid van perdepote en die klap van ’n geweerskoot dring skielik tot hulle deur.

      Dinge gebeur so vinnig dat hulle nie besef wat aan die gang is nie.

      Vier of vyf gemaskerde ruiters storm skielik uit die bosse. Die een pyl reg op Hermaans af en stamp hard teen sy perd, sodat hy wild op sy agterpote gaan staan en vir ’n oomblik heeltemal van balans af is.

      Een van die gemaskerde mans gryp vir Elsa voor Hermaans nog tot verhaal kan kom en jaag met haar weg die bosse in. ’n Skoot klap hier by Hermaans se perd en die dier steier weer verskrik op sy agterpote.

      Teen die tyd dat Hermaans die verskrikte dier weer tot verhaal gebring het, verdwyn die laaste ruiter vinnig die bosse in.

      Hermaans sit vir ’n oomblik stil. Stadig oormeester die woede hom en toe jaag hy soos ’n besetene na sy kamp toe.

      7

      Elsa gil lank en deurdringend. Toe kom die lewe stadig terug in haar verskrikte liggaam en sy byt en kap met haar vuiste. Haar ontvoerder is egter veel sterker as sy en sy weet dat haar gespartel en gegil nutteloos is.

      Die aanvaller druk haar styf teen hom aan sodat sy omtrent nie kan beweeg nie.