my vrou is nie. Sy gaan met Kurt Strassen trou.”
“Daardie jakkals!”
“Ja, Kao. Jy sal jou oë moet oophou as ons nou hier naby die Waterberge kom. Die mense sê hy is weer hier rond.”
“Ja, meneer. Ons sal die juffrou ook moet oppas. Daai man ... hy is nie mooi nie!”
“Ja, Kao, ek sal bly wees.”
Kao verdwyn stil tussen die bosse toe Elsa nader kom. Sy sak moeg langs die vuurtjie neer en begin stadig die lappe van haar voete afdraai.
“Jy kon my darem ’n kans gegee het om my skoene aan te trek.”
“Jy gee my nooit ’n kans nie. Jy maak net soos jy wil!”
Sy kyk hom ernstig aan. Dan begin ’n glimlag in haar oë en sprei stadig tot om die vol lippe.
“Hallo, Hermaans. Kan ek maar vir my ook ’n bietjie koffie op jou vuurtjie maak?”
“Gmf!” Maar weer soos vroeër, kan Elsa sweer sy het die skyn van ’n glimlag in sy oë gesien.
Hinkepink stap sy na haar wa en gaan trek weer die paar pantoffeltjies, wat al taamlik gehawend lyk, aan. Sy kry haar ketel, koffie, suiker en beskuit onder die bed en stap daarmee na die vuurtjie toe terug.
Hermaans se koffie is klaar en hy eet lustig aan sy beskuit. Met sy skerp mes kerf hy vir hom biltong fyn en kou tussendeur nog aan ’n lang stuk droëwors.
Elsa skuif haar keteltjie op die vuur en hy kan die vonkel nie uit sy oë hou nie. Hy sien hoe verlangend sy na die droëwors kyk. Gemeen breek hy vir hom ’n stuk af, waaraan hy oordrewe smaaklik kou.
Hy kyk haar vol in die oë. “Steel mos snags ’n man se ontbyt uit die pot uit, nè?”
Haar groot bruin oë, wat hom ernstig aankyk, is die ene onskuld. Maar dan proes sy meteens van die lag.
“O! Dit was lekker. Koue koffie het nog nooit so lekker gesmaak nie. Hermaans, kan ek maar solank van jou koffie kry terwyl ek wag dat myne trek? Ek is so dors!”
Hy staan op en gooi vir haar haar bekertjie vol, wat sy met al twee haar hande vashou.
Sy kyk op in sy oë, wat sag en glad nie meer so kwaai na haar kyk nie, en glimlag vir hom.
Blaas-blaas van gulsigheid drink sy die warm koffie en Hermaans hou haar stil dop.
Hy hou die orige droëwors na haar uit en kerf ’n klompie biltong in haar bord, wat hy sonder ’n woord voor haar instoot.
Tevrede en versadig leun sy later agteroor. Die afgeskeurde hemp trek voor op en ’n dun strepie van haar wit vel loer onder uit.
“O! Baie dankie. Nou voel ek weer ’n mens.”
Hulle pak die goed terug in die waens en Elsa staan ongemaklik rond. Sy weet nie of Hermaans regtig bedoel het dat sy nie weer in die wa mag ry nie. Sy vra nie vrae nie, want met genoegdoening kom sy agter dat sy baie meer met hom uitgerig kry deur nie rusie te maak nie.
Hy stap na sy wa toe en kom terug met die botteltjie goed wat hy die vorige keer aan haar voete gesmeer het.
“Sit daar op die stomp sodat ek hiervan kan aansmeer.”
“My voete is vuil en vol stof.” Sy lag ongemaklik.
Hy draai om en kom met ’n beker water terug wat hy oor haar voete uitgooi. Dan droog hy haar gehawende voete sorgvuldig met sy sakdoek af.
In stilte smeer hy die brandende goed aan die skaafplekke, wat weer rooi en gevoelig is van die stap.
“Baie dankie ... e ... meneer ...”
Stil hou die blougrys oë hare gevange. “Hermaans klink beter.”
“Baie dankie, Hermaans.”
Hy druk die botteltjie se prop in en steek dit in sy sak voordat hy omdraai en na sy wa stap.
Elsa hink agterna. Toe sy by sy wa verbykom, gaan sy staan.
“Kan ek nie maar ’n rukkie voor by jou op jou wa ry nie? Dit is vreeslik warm en bedompig binne-in my wa onder die bed.”
Hy kyk af in die blosende gesiggie en iets roer in hom. Hy het lus en soen die sagte mondjie en druk die bruin hare teen sy skouer vas sodat hy nie in die groot kalfie-oë hoef te kyk nie.
Hy trek sy wenkbrou op, buk dan vinnig af en tel haar met een beweging bo-op die bankie.
Sy trek die vars lug diep in haar longe in. “Dit gaan lekker wees, veral as die aandkoelte kom.”
Hulle praat nie veel nie. Elsa probeer ’n paar keer om ’n gesprek aan die gang te sit, maar Hermaans reageer nie. ’n Grom of ’n kopknik is die meeste wat sy uit hom kry.
Elsa gee later die stryd gewonne. Sy geniet maar net die vars lug na die twee dae se bedompigheid. Die stilte is egter nie hinderlik nie en in harmonie ry hulle voort.
Dit is drukkend warm en op die gesigseinder is wit wolkies besig om saam te pak. Elsa kyk na die wolke en wonder stilweg of dit dalk binnekort gaan reën. Sy sien hoe Hermaans kort-kort bekommerd na die horison kyk en dit bevestig haar vermoede.
“Dit lyk of dit wil reën?” vra sy.
Hy haal sy pyp versigtig uit sy mond en skreef weer sy oë op die horison.
“Nie binnekort nie. Daardie wolkies is te yl. Maar as hulle so begin, kan ons reën verwag.”
“Is dit baie moeilik om met die waens te trek as dit reën?”
“Onder normale reëntoestande is dit nie so erg nie – dit hou ’n mens net ’n bietjie op. Maar as dit kwaai reën, is daar baie probleme.”
Hermaans draai skielik na haar. “Luister! Ek wag nog steeds vir ’n verduideliking. Wat soek jy hier? En waarheen gaan jy?”
Die wind is vir ’n oomblik heeltemal uit Elsa se seile. Sy het nogal gedink hy aanvaar haar hier en sal haar nou saamneem.
“Moet net nie weer ’n storie uitdink nie. Ek sal jou waaragtig oor my skoot trek en die waarheid uit jou foeter as dit nie anders kan nie.”
“Ek wil tot by oom Gert gaan, as jy my sal saamneem, asseblief, Hermaans.”
“Wat wil jy daar gaan maak?”
“Hy is die enigste persoon wat ek hier in Suidwes ken, al familie wat ek het. Hy sal my help om Kurt op te spoor. En as ons nie vir Kurt kry nie, dan het ek darem ’n dak oor my kop.”
“Jy sou ’n dak oor jou kop gehad het by die sendingstasie ook.”
“Maar ... dit is anders. Ek moet vir Kurt kry – ek is seker daarvan hy is iewers in groot gevaar. Ek kan mos nie so handjies gevou sit en nie eens probeer om hom te soek nie.”
“Hoekom is jy so koppig? Hoekom gaan jy nie terug en vergeet heeltemal van hom nie?”
“Maar ek is verloof aan hom. Ek is lief vir hom!”
“Luister nou na my, jy is net so min verlief op Kurt Strassen as wat ek op hom verlief is.”
Elsa kyk hom eers stil aan, maar dan kom haar humorsin ongeskik na vore en begin sy lag terwyl sy hom onderlangs beloer.
’n Fyn glimlaggie verskyn om Hermaans se mond en hy kyk nie na haar nie, maar hou sy oë stip voor hom in die pad. Elsa se gesiggie versomber. “Maar ek is, regtig ek is ... baie lief vir hom. Hy is so ’n dierbare mens, so sag en liefdevol, ’n beter eggenoot sal ek nooit kry nie.”
Hermaans antwoord haar nie, sy wenkbroue trek net saam en Elsa frons bekommerd.
In doodse stilte ry hulle verder.
Vroeg namiddag, terwyl die son sommer nog hoog sit, span hulle uit.
Elsa wip van die wa af en gaan krap in die koskis om te kyk wat hulle vanaand kan eet. Sy gaan vir hulle ’n potjie kos kook, met rys en aartappels en uie, en