niertjies, asook die netvet en vetderm lê netjies in ’n skotteltjie wat eenkant op die boomstomp neergesit is.
Behendig werk haar skraal hande. Sy maak alles netjies skoon en sny dan die lewer in klein blokkies.
Sy sien vir Hermaans na sy wa stap en roep agter hom aan: “Oom moet sommer die kruie en goed saambring.”
Hy kom sit die kruie en ander speserye by haar neer en stap toe af na die osse om te kyk of alles daar reg is vir die nag.
Die gestopte vetderm lê sissend op die kole en stuur ’n watertandgeur die lug in, wat Hermaans al van ver af ruik. Gedagtig aan sy geweldige aptyt het sy roosterkoeke gemaak en ook die res van die lewer stukkend gesny en in die netvet gestop.
Hy kom sak lui agter haar teen die boomstam neer. “Hmmm ... dit ruik lekker! Jy moes eerder ’n vrou gewees het, ou Koos. Dit is darem ’n vermorsing dat ’n man so lekker kan kook.”
“As oom se ma vir oom geleer het, kon oom self sulke lekker kos gemaak het.”
“Jy weet, ou Koos, al wat vir my vreeslik snaaks is, is dat jou ma so ’n opgepiepte seuntjie soos jy so ver alleen laat kom.”
“My ma is vyf jaar gelede dood. My pa ook ... drie maande gelede.”
Hermaans knik met sy kop en sy oë is sag en bejammerend op haar. “My ma is ook dood toe ek nog ’n klein seuntjie was ... sommer nog ’n baba.”
“Lewe oom se pa nog?”
“Ja, maar hy is maar wild, jong! Dit is dié dat sy vyf seuns nie veel beter is nie. Vloek en drink! Party dae raak dit vir my te veel. Dan moet jy darem weet hoe erg is dit.”
Elsa kyk hom bejammerend aan en Hermaans kyk ongemaklik weg. Meteens ontstel die seun se groot bruin oë hom. Hy betrap hom kort-kort dat hy van sy vloekwoorde insluk net omdat die klein bog hom altyd so ernstig aankyk as hy sulke woorde gebruik. Vandat die outjie hom vanmiddag vertel het dat sy pa ’n predikant was, verstaan hy hom ook beter.
“Nou moet jy vir ons van daardie kos aangee, ou Koos, ek vergaan van die lus. Dit ruik darem lekker!”
Elsa hoop sy bord hoog op en gee dit vir hom aan. Hy eet in doodse stilte, maar sy kry ’n lekker warm gevoel toe sy sien hoe hy dit geniet en hoe gou die kos in sy bord minder word.
Hy vee sy mond met die agterkant van sy hand af en kyk waarderend na haar. “Is daar nog?”
Sy staan op en gaan haal sy bord. Hermaans sit lui agteroor en kyk na die skraal figuur wat gebukkend oor die rooster staan. Die verpiepte klein bog kan darem lekker kos maak, dit sal hy erken.
’n Sliert van haar lang hare het bo losgekom uit die knippie en hang effentjies onder die hoed uit.
Hermaans leun vorentoe en kyk na die snaakse ding agter haar nek. Hy dink eers dit is ’n wurm of iets wat op haar hemp se kraag sit, maar dan sien hy dit is ’n stringetjie hare.
Hy knip sy oë en kyk weer. Die mannetjie het dan gesê hy het glad nie hare nie, en wat loer dan nou daar onder die hoed uit?
Hy ontvang die bord sonder om kommentaar te lewer oor die hare wat onder haar hoed uithang en eet smaaklik klaar. Onbewus van die verraaier agter haar rug, staan sy weer op om sy bord by hom te neem en vir hom koffie aan te gee. Die haarsliertjie het verder losgeskud en hang tot onder haar skouers.
Hermaans beskou haar aandagtig. Skielik is die rede vir haar skaamheid en skugterheid vir hom so helder soos daglig. Dit is g’n seun nie, dit is ’n meisiekind!
Hy onderdruk die skielike woede in hom. Hy sal graag wil sien wat haar plan is. Hy maan homself tot kalmte, want hy het baie lus om haar storm te loop en te konfronteer.
Sy is natuurlik ook glad nie sewentien nie. Vir ’n vrou kan sy heelwat ouer wees. Hoekom sou sy so ’n ding aanvang? Wat is haar doel?
Haar wange is blosend en Hermaans kyk skerper na haar. Met haar gesondheid skeel ook niks. Hy het nog nie een keer gesien dat sy kortasem of uitgeput is nie.
“Jy sê jou oom bly op Tsumeb. Wat is sy naam nou weer?”
“Gert Fourie.”
“Is dit jou pa se broer?”
“Nee, sy neef.”
Hermaans probeer haar toets. Hy ken vir Gert Fourie baie goed. “Wat is sy vrou se naam nou weer? Ek kan nooit haar naam onthou nie.”
“Meidrie! Dit is nogal vir my so ’n oulike naam. Sy is op die derde Mei gebore, vandaar die naam.”
“Dis reg! Ek het geweet sy het ’n snaakse naam.”
Hermaans beskou haar peinsend. Sy ken dus vir Gert Fourie. Dalk is sy regtig familie van hom.
Hy sal baie graag wil weet wat sy in hierdie woeste, ongetemde land wil kom doen as dit nie oor gesondheidsprobleme gaan nie.
Sy oë raak peinsend. Haar ouers is albei dood. Maar sy behoort tog iewers ander familie as die sluwe, gladde Gert Fourie te hê wat na haar kan omsien.
Vir die eerste keer sien hy hoe wit en skraal haar hande is. Hy dink aan vanmiddag toe hy haar gevra het om die handdoek te bring. Die lag stoot sommerso vanself na bo en sy gesig vertrek in ’n diep plooi.
“Lag ... oom vir my?” Elsa vee verleë oor haar gesig.
“Nee, ek dink sommer aan ’n grappie. Maar ek kan dit nie vir jou vertel nie, dit is ’n grootmensgrappie.”
Elsa sê niks verder nie, want sy het ’n baie goeie idee van die soort grappie wat dit sal wees, en kyk net blosend weg. Sy gooi die orige koffie uit die ketel. Dit val sissend in die gloeiende kole en stuur ’n vaalgrys rokie wolkerig die lug in.
“Is jy dan al vaak?”
“Hmmm.” Elsa knik haar kop.
“Nee, man, sit dat ons nog kan gesels. Ek is vanaand niks vaak nie.” Hermaans stop weer sy pyp en teug diep daaraan sodat die rook in ’n spiraaltjie uitborrel.
Elsa staar gefassineerd na die rook. Hermaans hou die pyp na haar uit. “Probeer! Ek dink jy is nou groot genoeg om ’n dampie te maak.”
Sy skud haar kop en die haarsliert agter haar rug waai liggies heen en weer. “Nee, ek wil liewer nie. Netnou ... netnou word ek siek. My pa het vertel hoe siek hy was die eerste keer toe hy gerook het.”
Hy rook eers rustig sy pyp klaar voordat hy opstaan en die stof van sy broek afslaan.
“Nag, Koos.”
“Nag, oom.”
Elsa stap vinnig na haar wa. In die wa haal sy die hoed af en skud haar hare los sodat dit sag op haar skouers val. Dan borsel sy dit goed uit.
Sy lees gewoonlik saans eers haar Bybel en bid klaar sodat sy die lamp kan doodblaas voordat sy in die donker uittrek. Sy is bang dat Hermaans haar silhoeët teen die seiltent sal sien.
Die wit nagrokkie hang sag om die vol vroulike postuurtjie toe sy die stywe band om haar bors met ’n sug van verligting losmaak.
Die blos lê warm op haar wange toe sy dink aan die ongemaklike posisie waarin sy vanmiddag daar by die fontein was.
As sy net weet dat sy Hermaans kan vertrou, sal dit tog maar beter wees om vir hom te sê sy is ’n vrou. Maar hy is so rof en ru. Sy is bang vir hom ... bang vir wat hy aan ’n vrou kan doen.
Vir ’n jong seun is hy ’n heeltemal skaflike reisgenoot; as hy tog net nie so wil vloek en lelik praat nie. Die borsel verstil in haar hand. Hy vloek tog die afgelope dag of wat minder en vanaand het hy dit amper nie een keer gedoen nie. Sy moet net aanhou bid vir hom. Die Here kan van hom ook ’n baie bruikbare mens vir sy koninkryk maak.
Hermaans loop ’n draai deur die veld en gaan sit stil onder ’n boom, diep in die skaduwees waar hy “Kosie” se wa mooi in sig het.
Hy wil seker maak of sy ’n vrou is. Dalk is dit ’n eksentrieke ou seuntjie wat sy hare