ek ’n Phoebe het, nie ’n ma soos al my maats nie. Dit pla jou tog nie werklik dat ek jou nie ‘tannie’ noem nie, Phoebe?” vra Lara gekwel.
Phoebe sug met hoorbare ongeduld en skud haar kop. “Natuurlik nie. My naam is die eerste woord wat jy gesê het, en ek was so trots dat ek my siek gehuil het. Dis Ryno se vrou … Lynette is ’n verveelde, kinderlose huisvrou met te veel tyd tot haar beskikking … te veel tyd om te dink. Of dalk doen haar talle vriendinne haar dinkwerk vir haar, want hulle gereelde teepartytjies is niks anders as skinderpraatjies nie.”
“Ek onthou. Die een keer toe ek haar moes help om tee en koek te bedien, het my ore nooit ophou gloei nie. Hulle bespreek hulle mans en hulle slaapkamerprobleme asof dit koekresepte is! En elke vrou wat groet en uitstap, word deur dié wat agterbly aan repies geskeur. Ek is bly jy hou nie teepartytjies nie, Phoebe.”
“Natuurlik, dis net ’n gemors van tyd. Maar Lynette is my probleem. Sy het talle vriendinne, maar ek is haar vertroueling … of dalk haar biegmoeder.” Phoebe huiwer ’n oomblik en vra dan: “Het jy geweet Lynette is Ryno se tweede vrou?”
Lara giggel onnutsig. “Hou op skuldig lyk, Phoebe: die waarheid is nie skinder nie. Maritsa het my lankal vertel Lynette was Ryno se ontvangsdame en dat hy van sy eerste vrou geskei het om met die jong Lynette te trou. Jonk? Ek wed sy is al veertig!”
“En op veertig is ’n vrou ’n dinosourus?” vra Phoebe wrang.
“Net as sy probeer om soos twintig te lyk en op te tree … A, nou verstaan ek! Tant Lynette het my verlede jaar op my gradeplegtigheid gevra om haar op haar voornaam te noem, maar ek is so gewoond om haar ‘tannie’ te noem … Het sy by jou daaroor gekla?”
“Nee, maar Lynette is ’n bekommerde vrou. Sy het besluit veertig is stokoud, en dat Ryno reeds vir hom ’n jong meisie gekies het of binnekort sal kies – heel waarskynlik sy nuwe ontvangsdame,” antwoord Phoebe en kyk Lara deurdringend aan.
Lara gryp met haar hande na haar gloeiende wange. “Moenie so na my kyk nie, Phoebe! Ek bloos van boosaardigheid, nie omdat ek skuldig is nie. Dink die stommerik van ’n vrou sowaar ék stel in haar stokou man belang?” vra sy verontwaardig.
“Lynette is te lafhartig om jou prontuit te beskuldig, maar sy bel gereeld teen sesuur saans om te hoor of jy al tuis is. Veral wanneer Ryno die aand laat werk of die een of ander vergadering moet bywoon,” vertel Phoebe met opsigtelike ergernis.
“En vandat ek by oom Ryno werk, nooi sy my en ta’ Heilie elke Woensdagmiddag om by haar tee te drink,” sê Lara nadenkend en draai met blitsende oë na Phoebe. “Die ou heks! Sy nooi my net uit omdat sy wil seker maak ek rits nie saam met haar man rond terwyl hy veronderstel is om gholf te speel nie. Sien jy nou? Selfs Lynette glo ek is nie mooi genoeg om ’n jong man te kry nie, daarom is ek verplig om op haar stokou man verlief te raak!”
“Om liefdeswil!” Phoebe kom orent en vervolg ongeduldig: “Ek gaan nie herhaal wat ek oor jou voorkoms gesê het nie, want jy het self ’n spieël. Het jy al besluit of jy ná Nuwejaar saam met my Kaapstad toe vlieg?”
“Vlieg?” vra Lara, haar stem skril van paniek. “Jy weet ek sal nooit my lewe in ’n vliegtuig waag nie! Jy weet my pa is in ’n vliegtuigongeluk dood! Hoekom sê jy nie reguit jy wil alleen gaan vakansie hou nie, Phoebe? Ek en ta’ Heilie sal die huis oppas en mekaar geselskap hou.”
Phoebe sak met ’n sug terug op haar stoel. “Jou pa het in ’n klein, eenmotorige vliegtuigie verongeluk, Lara,” sê sy paaiend. “Karl vlieg die wêreld vol en hy het nog elke vlug oorleef. Hoe weet jy jy is bang om te vlieg as jy nog nooit ’n vlug ervaar het nie?”
“Dis ’n simpel vraag. Ek het jou dit reeds gesê toe jy my gedwing het om ’n paspoort te kry: ek hoef nie in ’n vliegtuig te sit om uit te vind of ek bang is nie – ek ís bang. Hoekom wil jy skielik Kaapstad toe vlieg? Jy het gesê ons gaan langs die Weskus toer,” antwoord Lara verwytend.
“Omdat ek Heilie ook saamgenooi het. Jy ken haar: ek moet op elke dorp en by elke vulstasie stilhou sodat sy kan tee drink en die ruskamers besoek. Ek gee nie om om kort-kort stil te hou wanneer ons langs die kus op toer nie, maar ek kan die pad Kaapstad toe al met toe oë ry. As ons afvlieg, kan ek ’n motor in Kaapstad huur vir ons toer. Asseblief, Lara, doen dit ter wille van my. As Heilie die moed het om op haar leeftyd te vlieg …”
“Dis nie moed nie!” val Lara haar boos in die rede. “Ta’ Heilie het te min breinselle oor om helder te kan dink of bang te wees. Goeiste, sy is al vyf-en-sestig!”
“Wees dankbaar ons huishoudster het vanmiddag by ’n vriendin gaan kuier, anders het sy nou jou ore warm geklap,” probeer Phoebe haar niggie betig, maar ’n moedswillige glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. “Heilie het oorgenoeg breinselle om van haarself ’n oorlas te maak, maar haar liefde en groothartigheid vergoed vir alles. Sy is bereid om saam met jou in my motor Kaapstad toe te ry as jy werklik nie kans sien om te vlieg nie.”
Lara lag verlig. “My liewe ta’ Heilie! Sien jy nou, Phoebe? Ta’ Heilie besef my vrees vir vliegtuie is nie iets soos aknee wat ’n mens as tiener ontgroei nie.”
Phoebe byt op haar onderlip, haar blik nadenkend op Lara. “Ek wil dit nie sê nie, en dalk moet ek nie, maar miskien sal dit jou help, Laratjie. My broer … jou pa het alle belangstelling in die lewe verloor toe jou ma ’n paar uur ná jou geboorte gesterf het. Hy was altyd lief om te vlieg, maar ná jou ma se dood kon hy nie wegbly van sy vliegtuig af nie. Ek het hom verwyt, gesê dat hy jou en Karl afskeep omdat hy al sy vrye tyd in sy vliegtuig deurgebring het, en toe het hy iets vreemds gesê …”
“Wat, Phoebe?” por Lara toe haar tante stilbly.
“Dat hy nader aan jou ma voel as hy in sy vliegtuig is; dat hy soms voel dat as hy aanhou vlieg, hy by haar sal uitkom. Daardie dag toe hy verongeluk het … die brandstof van sy vliegtuig het opgeraak en sy vliegtuig het geval. Miskien was die instrumentepaneel foutief, of dalk het hy doodeenvoudig aanhou vlieg, na sy dood toe gevlieg, omdat dit die enigste manier vir hom was om met jou ma herenig te word,” vertel Phoebe, haar stem sag van ’n ou hartseer.
“Glo jy my pa het selfmoord gepleeg?” wurg Lara die vreeslike vraag uit.
“Nee … want selfs al het hy dit beplan, twyfel ek of hy dit in sy gemoedstoestand as selfmoord sou beskou het. Moontlik was hy só verdiep in sy gedagtes oor jou ma dat hy nie ag geslaan het op die instrumentepaneel nie, of hy het tred verloor met die tyd. Maar ek raai net, Lara. Weet enigiemand waartoe intense hartseer iemand kan dryf? Ek praat nie selfmoord goed nie, maar hoe kan ek oordeel? Soms voel ek dat ek onbewustelik aandadig was aan sy tragiese dood,” antwoord Phoebe met ’n ondertoon van selfverwyt in haar stem.
“Hoe so? Ta’ Heilie het my vertel jy het drie maande verlof geneem om my voltyds te versorg voordat sy my versorging oorgeneem het. En jy was daar om vir Karl liefde en aandag te gee toe my pa nie in staat was om dit te doen nie. Jy het my pa tyd gegee om sy hartseer oor my ma se dood te verwerk, maar hy was te selfsugtig om dit te doen.”
“Die ongenaakbare oordeel van die jeug,” spot Phoebe met ’n skaduglimlaggie. “Dis juis waarom ek soms skuldig voel: as ek nie so gretig was om al jou pa se verantwoordelikhede teenoor jou en Karl oor te neem nie, sou hy miskien sy hartseer gouer verwerk het. Hy het te veel tyd gehad om te dink en te rou oor sy vrou wat hy so innig liefgehad het. Maar ek sal nooit weet nie, want ek is ’n wetenskaplike, nie ’n psigiater nie. En jy raai ook, Lara, want ons sal nooit met sekerheid weet of dit ’n blote ongeluk of selfmoord was nie.”
“Ek verkies om te glo dit was ’n ongeluk, anders moet ek aanvaar my pa was ’n lafaard,” besluit Lara. Sy kyk op haar polshorlosie en spring vervaard op. “Goeiste, dis byna drie-uur! Ek het Maritsa beloof ek sal halfvier by haar wees, maar ek wil eers gaan stort. Dink jy dit gaan reën?” Sy stap vinnig na die venster en sê bekommerd: “Kyk hoe vinnig steek die wolke op, en dis skielik donker. Mag ek jou motor leen, Phoebe? My ou karretjie lek soos ’n sif in ’n stortbui.”
“Jy oordryf, Lara. Jou motor het goeie remme en splinternuwe buitebande. Trek ’n reënjas aan as jou motor so buitensporig