dink jy is ’n preutse, Victoriaanse oujongnooi, Phoebe. Sy sê dis haar lewenstaak om jou uit jou inhibisies te skok – voordat ek saam met jou op die rak beland,” terg Lara laggend en draf die eetkamer uit na die voorportaal waar sy haar handsak gelaat het.
“Selfrespek is nie preutsheid nie. Maritsa is ’n breinlose flerrie wat al sedert haar tienerjare ’n gebrek aan inhibisies het!” kom dit driftig van Phoebe terwyl sy Lara na die voorportaal volg. “Wat het sy vir vanaand beplan? Weer een van haar deurnagpartytjies van drank en dwelms?”
“Phoebe …!” probeer Lara haar verwyt, maar die afkeurende uitdrukking op haar tante se gesig laat haar gierend van die lag teen die kapstokkas aanleun. “Ek het jou gesê Maritsa geniet dit om jou te skok. Sy is gewild onder die mans en sy is dol op dans en partytjies, maar sy is net so bang vir drank en dwelms soos ek. Het jy geweet sy is ’n hoërskoolonderwyseres? Ek en sy het nie ons grade gekry met behulp van drank en dwelms nie. Ons is jonk en ons het vriende en kennisse wat wel misbruikers van drank en dwelms is, daarom is ons bewus van al die gevare.”
“Ek hoop so!” Phoebe kyk fronsend hoe Lara eers in haar handsak rondvroetel en dan die inhoud daarvan op die blad van die kapstokkas omkeer. “Sal ek raai? Jy het weer jou selfoon by die kantoor laat lê.”
Lara sug met oordrewe selfbejammering en pak die inhoud van haar handsak vinnig terug. “Ja, ek het, maar ek sal nie eens vra of ek net een ou oproepie van ons landlyn af kan maak nie. Jy is suinig, Phoebe – vrek suinig!”
“Nee, ek gebruik net my gesonde verstand. Die laaste keer toe jy van ons landlyn af gebel het, het jy en Maritsa drie uur lank gesels. Die foon is daar vir ons gerief, nie vir sosiale kuiertjies nie. Jy moet jou selfoon maar by die kantoor gaan haal, dis in elk geval gevaarlik om saans daarsonder uit te gaan. Ry versigtig, en dink na oor my voorstel om Kaap toe te vlieg.”
“Ek vlieg nie!” roep Lara boos oor haar skouer en draf vinnig na haar motor toe die eerste swaar druppels reën begin val.
Dank die hemel my motor het goeie remme, dink Lara terwyl sy met intense konsentrasie haar voertuig deur die stortende reën stuur. Sy volg die dienspad langs die hoofweg en draai regs op in die rylaan na die groot privaat woning wat Ryno Marx in sy kantoor omskep het. Sy bring haar motor langs die stoeptrap tot stilstand, hou die sleutel gereed in haar hand en hardloop kop onderstebo die trap op na die voordeur.
“Is jy deel van die orgie?” vra ’n donker, grimmige manstem terwyl ’n groot hand soos ’n staalband om haar boarm sluit.
Skok smoor die vreesuitroep in Lara se keel en laat ruk haar kop werktuiglik op. Hy troon oor haar – ’n lang, breedgeskouerde man met silwer vlamme van woede in sy ligblou oë wat hulle soos vloeiende staal in die reënskemering laat glim. Sy digte, donkerbruin hare val oor sy voorkop en die kraag van sy hemp. Sy aristokratiese neus pas by die sterk beenstruktuur van sy gesig, sy hoekige ken en ferm mond, fokus haar gedagtes verward op die man voor haar.
Hy skud haar liggies aan die arm. “Antwoord my! Het jy by Marx en Monette kom aansluit?” rasper sy stem, sy oë geskreef onder sy saamgetrekte wenkbroue.
Sy probeer om te praat, maar haar tong voel bevrore van vrees. Wie is hierdie man wat uit die bloute voor haar verskyn het en haar vashou asof hy ’n wetsoortreder is? Hy lyk nie soos ’n misdadiger nie, maar hy is smoorkwaad. Sy het egter méér rede om kwaad te wees, want niemand het die reg om haar vas te gryp en soos ’n stuk vodde rond te ruk nie.
Sy klem haar hand in ’n vuis en skree uitdagend bo die gedruis van die reën op die dak: “Los my! Los my, of ek roep oom Ryno!”
Hy los haar arm vinnig en sy sien hoe die woede uit sy oë vlug. Dit maak plek vir verwarring. “Oom Ryno?” herhaal hy vraend.
“Ja! Hy is ’n oom van amper vyftig en sy vrou se naam is Lynette, nie Minette of Nanette nie. Maar wat soek tannie Lynette hier?”
’n Kwelgedagte laat rek haar oë wyd. “Het oom Ryno skielik siek geword? Ek weet hy gebruik medikasie vir sy hoë bloeddruk. Is jy ’n dokter?”
’n Flitsende glimlag verhelder die man se oë soos sonlig agter ’n reënwolk. “Allermins. Ek is Wiehahn. Werk jy hier?” vra hy, sy blik op die bos sleutels wat sy nog in haar hand vashou.
“Ja. Ek het my selfoon in my kantoor vergeet.” Sy byt op haar onderlip en kyk hom met fronsende onbegrip aan. “Wat het jy van ’n orgie gesê? Glo jy oom Ryno en tant Lynette het kantoor toe gekom om dronk te word?”
“E … nee. Ek vermoed ek is verkeerd ingelig. Ek is jammer as ek jou laat skrik het, juffrou …?”
“Lara Wiese,” sê sy dadelik, verbaas oor haar onvermoë om kwaad te wees vir hierdie vreemde man wat haar oomblikke gelede nog vir haar lewe laat vrees het. Nee, nou oordryf sy. Sy het aanvanklik geskrik, maar sy is nie bang vir hom nie, want sy oë straal ’n innerlike krag en integriteit uit.
“Lara,” herhaal hy haar naam asof hy die woord op sy tong proe. “Dit klink soos musiek. Bly te kenne, Lara. Vra jou oom Ryno om ’n sekuriteitsheining op te rig. Die digte struike en bome in die voortuin maak ’n mooi vertoning, maar dis nie veilig nie. Tot siens,” groet hy en draai weg.
“Tot siens, meneer Wiehahn,” groet sy met ’n onverklaarbare gevoel van teleurstelling. Sy wou langer met hom gepraat het, besef sy. Dit laat voel haar soos ’n gek en sy sluit die voordeur haastig oop. Sy stoot die deur oop en tik die kode op die paneelbord in om die alarm af te skakel. Toe stap sy na haar lessenaar om haar selfoon te soek.
Die bekende klank van Ryno Marx se lag laat haar verras na sy toe kantoordeur kyk. Meneer Wiehahn het gelyk gehad: oom Ryno en tant Lynette is saam op kantoor. Sy ontdek haar selfoon in die boonste laai van haar lessenaar en stoot die laai vinnig toe. Sy sal net by oom Ryno se kantoor inloer om hom en tant Lynette te groet, besluit sy. Sy is tog reeds laat vir haar afspraak met Maritsa, en sy sien nie werklik kans vir haar terugtog huis toe deur die stortende reën nie.
Die druisende reën op die dak smoor die klank van die oopgaan van Ryno se kantoordeur, maar die helder elektriese lig versluier nie die realiteit van wat Lara voor haar sien nie: Ryno in ’n vurige omhelsing met ’n onbekende blonde meisie.
Lara staan versteen, haar hand nog op die deurknop, nie in staat om net vinnig agteruit te tree en die deur weer toe te maak nie.
’n Groot, warm hand glip oor haar mond en neus; nog ’n hand sluit om hare wat nog krampagtig die deurknop vasklou.
“Doodstil!” adem ’n manstem in haar ore, sy asem ’n warm streling op haar wang. Sy weet sonder om te kyk wie dit is, en sy tree gewillig onder die druk van sy hand agteruit sodat hy die deur geluidloos kan toemaak.
“Is jy ’n privaat speurder, meneer Wiehahn? Het tant Lynette jou gehuur?” vra Lara gedemp toe hy sy hande laat sak.
“Nee, op albei vrae. Ek doen net ’n guns vir my beste vriend.” Wiehahn glimlag verskonend. “Ek is jammer ek moes jou deel maak daarvan, maar toe jy die voordeur agter jou laat oopstaan, was die versoeking te groot om te weerstaan. Dis makliker om die getuienis van jou eie oë te glo – en nou weet ek vir seker. Ek is dankbaar jy het nie gegil nie.”
“Met jou yslike hand op my neus en mond? Ek het geskrik, totdat ek die geur van jou naskeermiddel herken het.” Sy glimlag skeef. “In my werk is die geure van vloeistowwe soms lewensgevaarlik, veral as die bottel nie ’n etiket het nie.”
Hy frons verwonderd, lyk asof hy haar wil uitvra, maar kyk vinnig na Ryno se kantoordeur toe Ryno se harde lag weer vanuit sy kantoor opklink.
“Ek sal vir jou ’n ruiker stuur om dankie te sê, Lara, maar nou …”
“Nee, wag!” val sy hom in die rede. Sy gryp hom impulsief aan sy baadjiemou vas en ruk dan haar hand met ’n gevoel van verleentheid weg. “Ek gaan nie hier bly nie. Wat oom Ryno agter tannie Lynette se rug doen …”
Sy swyg toe ’n meisiestem skielik aan die ander kant van die deur opklink. “Nee, Ryno! Ek het lank genoeg gekuier, jou kantoor bewonder en die drankies geniet, maar ons speel met vuur.