moontlikheid dat hy nog leef … Ek is jammer, opreg jammer, maar as Ryno nie dood is nie, is hy vermink en moontlik sterwend.” Hy druk haar hand bemoedigend.
“As ek net nie my sleutels in my motor gelos het nie … Dis alles my skuld! Oom Ryno is dood, en dis alles mý skuld!” roep sy met ’n gevoel van stygende histerie uit.
“Snert! Jy is definitief nie verantwoordelik vir die sotlike optrede van ’n beskonke man nie, Lara. Wees liewer dankbaar Ryno het teen ’n groot vragmotor gebots, want daar is ’n sterk moontlikheid dat die vragmotorbestuurder nie beseer is nie.”
Hy luister saam met haar na die naderende geloei van sirenes en sê dan paaiend: “Jy kan niks verder vir Ryno doen nie, maar jy is self in ’n toestand van skok. Sal ek jou huis toe neem?”
“Nee! Los my hand, Wiehahn! Ek moet daar wees, ingeval oom Ryno my nodig het. En dis my motor – my handsak is nog in my motor. Ek moet met die polisie praat … verduidelik, anders dink hulle dalk oom Ryno het my motor gesteel,” protesteer sy ontsteld en probeer haar hand losruk uit syne.
“Jy sal met die polisie moet praat, maar dis nie noodsaaklik dat jy dit nou doen nie, Lara. Is daar iemand tuis wat –”
“Jy verstaan nie!” val sy hom desperaat in die rede. “Oom Ryno het my nodig, want tant Lynette mag nooit weet dat hy saam met daardie meisie in sy kantoor gedrink het en so dronk was dat hy in my motor weggejaag het nie. Asseblief, Wiehahn, help my … help my …”
Sy kry nie koud nie, maar haar tande klap soos kastanjette opmekaar en haar tong is te moeg om die woorde te vorm, besef Lara en klou onwetend stywer aan Wiehahn se hand vas, haar oë pleitend in syne.
’n Ambulans hou skuins teenoor hulle stil, gevolg deur ’n polisievoertuig.
“Hoe kan ek weier nadat ek jou gedwing het om my te help?” vra Wiehahn, ’n skuldige glimlag flitsend om sy lippe. “Ek veronderstel jy moet daar wees … óns moet daar wees om die polisie se vrae te beantwoord. Maar ons sal eers moet besluit presies wat om aan die polisie te sê,” vervolg hy saaklik en ry oor die gras-eiland om sy motor onder ’n digte kareeboom te parkeer.
Phoebe druk die voordeur agter Lara toe en neem haar in haar arms. “My liewe, liewe kind,” troetel haar stem sag, medelydend.
“Ek is sopnat, Phoebe,” protesteer Lara halfhartig, maar koester haar in die warm veiligheid van Phoebe se arms.
“Deurnat en koud en half verkluim. Het die polisie jou huis toe gebring?”
Lara knik stom. “Ek was só moeg. Vrae en vrae … dieselfde vrae oor en oor. En beëdigde verklarings. Maar hy is dood, Phoebe. Oom Ryno is dood. Hy het gelag en weggery en toe … toe is hy dood. Sommer net dood.”
Lara kyk op en Phoebe lees ’n ewigheid van pyn en onbegrip in haar donker oë.
“Ek verstaan, kindjie. Toe jou pa verongeluk het … ’n Lang siekbed laat ’n mens die dood inwag, dit maak van die dood ’n bekende, maar ’n noodlottige ongeluk oorweldig ’n mens met skok. Toe jy bel en sê –”
“ ’n Kop propvol wetenskaplike feite, maar nie ’n enkelte breinsel wat sorg vir gesonde verstand nie!” val ’n kwaai stem Phoebe berispend in die rede. ’n Mollige ouer vrou stoomroller die voorportaal binne, twee badhanddoeke, ’n winterkamerjas en nagklere in haar arms. “Foei tog, jy lyk nes ’n verdrinkte kat, my arme Laratjie. Maar noudat ek hier is, sal ek sôre,” paai sy en drapeer een van die handdoeke om Lara se skouers.
“Ek dink Lara het ’n warm bad nodig, Heilie,” maak Phoebe kapsie.
“Moenie met jou wetenskaplike breintjie dink as jy tuis is nie, Phoebe. Ék doen die dinkwerk hier,” sê Heilie Geel ferm.
Sy slaan haar arm om Lara se skouers en lei haar in die rigting van die studeerkamer. “Ek het met my eie ou hande vuur in die kaggel gemaak, en daar is ’n termosfles vol lekker soet kakao, my lammetjie. Gemmerkoekies en melktert ook, as jy later honger voel.”
“Dankie, ta’ Heilie,” sê Lara.
In die studeerkamer, waar die kaggelvuur reeds sy weldadige warmte versprei, laat sy Heilie toe om haar te help om van haar nat klere ontslae te raak en haar droog te vryf, voordat sy haar pajamas en kamerjas aantrek.
“Wat staan jy so handjies gevou hier rond, Phoebe?” vra Heilie ongeduldig. “Skink solank vir onse weeskind kakao in terwyl ek haar haartjies droogvryf. Sit hier op die rusbank, Laratjie. My ou arms kan dit nie hou as ek so opwaarts moet werk nie.”
“Ek dink nog Lara moes liewer gebad het,” kom dit afkeurend van Phoebe, wat geen poging aanwend om Heilie se bevel uit te voer nie.
“Ek het jou gewaarsku, Phoebe, ek doen die dinkwerk in hierdie huis. Ek meen Laratjie het oorgenoeg van water en haar eie gedagtes gehad. Sy wil by mense wees wat haar liefhet en verstaan. Dis mos reg, hartjie?”
Heilie vee ’n handvol donker krulle uit Lara se oë en streel dan vertroostend oor haar kop. “Sulke dom, hartseer ogies – amper soos toe ou Boel dood is. Ek kan nie meer onthou wie daardie dag die meeste gehuil het toe ons ou Boel onder die vyeboom begrawe het nie: ek of Karltjie.”
“Heilie, hou op! Jy laat Lara huil,” protesteer Phoebe onthuts.
Sy gaan sit op die rusbank langs Lara en neem die snikkende meisie in haar arms.
“Nes ek beplan het,” kom dit ingenome van Heilie. “Ons het nie almal bakstene waar ons harte moet wees nie, Phoebe. Ons huil, want die hartseer moet uit voordat ons weer heel kan word. Huil tot jy moeg is, Laratjie. Ek dra solank jou nat kleertjies waskamer toe. Ek sal sommer jou haarborsel en pantoffels kry,” vervolg sy, sit ’n boks snesies langs Lara op die rusbank neer en stap die vertrek uit.
Phoebe kyk Heilie met woordelose bewondering agterna. Dan soen sy die huilende Lara op haar voorkop en sê spytig: “Ek is jammer, Lara. Ek probeer so hard om ’n ma te wees, maar ek het nog nie geleer hoe nie.”
“H-hou my net vas, Phoebe,” snik Lara en huil met die troostelose wanhoop van ’n kind wat nie verstaan nie.
Phoebe fluister troetelwoorde totdat Lara se snikke eindelik bedaar en sy haar hand na die boks snesies uitsteek. Sy blaas haar neus, droog haar trane af en kyk met ’n halwe glimlaggie om haar lippe na Phoebe, wat haar besorg dophou.
“Ta’ Heilie is slim, Phoebe. Ek het eers oor ou Boel en toe oor oom Ryno gehuil … sommer oor al die aakligheid van die dag. Maar jy is ’n goeie ma, want jy het my vasgehou. Ek … ek wil nie nou alleen wees nie.”
’n Fronsie keep tussen Phoebe se wenkbroue. “Heilie verras my elke keer, want kyk ek na haar, sien ek ’n ronde, ouerige vrou met ’n stomp neusie, babablou oë en ’n groot mond wat woorde uitskiet soos ’n masjiengeweer. Sy lyk nie slim nie, maar sy slaag daarin om my grensloos dom te laat voel.”
“Ta’ Heilie sê dis haar nuuskierigheid wat haar so slim maak. Maar jy is nie dom nie, Phoebe. Ek het self nie geweet ek wil net huil en huil en nooit weer ophou nie. Het jy gehuil toe ek jou van die polisiekantoor af gebel het?”
Phoebe skud haar kop. “Dit was ’n geweldige skok om van die ongeluk en Ryno se dood te hoor, maar ek was só verlig en dankbaar dat jy nie saam met hom in jou motor was nie, dat ek nie aan trane gedink het nie. Ek het net aanhou dankie sê dat jy nog lewe, kindjie. Maar ek moes besef het dat jy in ’n toestand van skok sal wees. Sal ek ons huisdokter bel, of voel jy nou beter?”
“Leeg, nie beter of slegter nie.” Lara glimlag halfhartig. “As ek enigiets voel, is dit skuldig.”
“Waaroor? Jy het Ryno tog nie gedwing om jou motor te leen nie. Waarom kon hy in elk geval nie met sy eie motor gery het nie?” vra Phoebe onbegrypend.
“Nes ek gedink het!” sê Heilie boos agter hulle.
Sy plak Lara se pantoffels en haarborsel op die rusbank neer en loop na die lessenaar waarop ’n skinkbord met koffiebekers en ’n termosfles staan. “Dis nou tipies van jou, Phoebe: speel staatsaanklaer