die trane opnuut oor haar wange loop. Sy vee ongeduldig met haar handrug oor haar oë, drink die kakao proe-proe en glimlag vir Heilie wat haar vraend dophou. “Dankie, ta’ Heilie. Ek dink my neus is toe ná al die gehuil, want die kakao smaak net lekker soet en warm.”
“Ook maar goed, Laratjie, want sterk drank is ’n slegte gewoonte. Maar vertel ons nou: wat het Ryno besiel om in jou motortjie rond te rits as hy ’n luukse motor met lugsakke en al besit?” vra Heilie. Sy neem op ’n gemakstoel plaas en bly penorent sit, gereed om te luister.
“Dis ’n lang, aaklige storie …”
Lara kyk met ’n uitdrukking van onmag in haar oë na Phoebe, haal sidderend asem en sê dan gespanne: “Ek wil nie daaroor praat nie, maar ek moet vir iemand vertel. Die polisie het geweet oom Ryno het gedrink, want hulle kon die drank aan hom ruik, maar ek kon met eerlikheid vir hulle sê dat ek hom nie sién drink het nie. Ek het in my verklaring gesê oom Ryno het my motor geleen omdat sy motor êrens bly staan het, en dat meneer Wiehahn aangebied het om my huis toe te neem. Hy sou ook, maar toe kom ons op die ongeluk af …”
“Is … was meneer Wiehahn een van Ryno se kliënte?” vra Phoebe aarselend.
“Dit was die eerste maal dat meneer Wiehahn ons kantoor besoek het. Ek het aan die polisie gesê meneer Wiehahn het opgedaag net voordat oom Ryno weg is met my motor, en meneer Wiehahn het dit beaam. Die polisie het vir meneer Wiehahn gesê hy kan maar gaan, want ek sal oom Ryno kan uitken.”
Lara sluit haar oë en byt hard op haar onderlip, haar stem ’n skor fluistering toe sy vervolg: “Dit was nie meer oom Ryno nie, want sy gesig … Ek het na sy pinkiering met die robynsteen gekyk en vir die polisie gesê dis hy, want … want sy gesig was byna onherkenbaar geskend.”
“Wat ’n traumatiese ervaring,” sê Phoebe sag, haar hand strelend oor Lara se skouer. “Dis jammer meneer Wiehahn kon Ryno nie uitken nie.”
“Dis hoe ek voel: jammer dat ek my selfoon by die kantoor vergeet het, jammer dat oom Ryno dood is, jammer vir tant Lynette en jammer vir myself. Net jammer, jammer …”
Lara laat sak haar kop in haar hande toe die trane haar opnuut inhaal.
“Jy kan ons môre alles vertel, Lara. Wat van nog ’n beker kakao?” vra Phoebe paaiend.
“Nee, ek moet daaroor praat, anders gaan dit ’n nagmerrie bly,” antwoord Lara met ’n desperate lig in haar oë. Sy haal diep asem en vervolg dringend, haar stem trillend van ontsteltenis: “Tant Lynette mag nooit weet nie, maar oom Ryna was dronk en … en daar was ’n meisie saam met hom in sy kantoor.”
“Die javel! Het ek jou nie lankal gesê Ryno – mag hy in vrede rus – knyp die kat in die donker nie, Phoebe?” Heilie probeer om vroom te lyk, maar sy glimlag tog triomfantelik.
“Jy het, Heilie, maar jy wantrou alle mans,” antwoord Phoebe met ’n ongeduldige suggie en draai terug na Lara. “Dis ’n gevaarlike aantyging om teen enigiemand te maak, Lara. Was die meisie nie net een van Ryno se kliënte nie?”
Lara skud haar kop en vertel dan van die middag se gebeure terwyl Phoebe en Heilie stilswyend luister.
“Deur skande en skade word ’n mens wys – as jy nou nie ongelukkig is en voor die tyd doodgaan nie,” lewer Heilie kommentaar toe Lara eindelik swyg.
“Die arme Lynette!” sê Phoebe geskok. “As sy van Ryno se ontrouheid moet hoor, sal dit haar verpletter. Ek is dankbaar jy en meneer Wiehahn het niks oor Ryno se private doen en late aan die polisie gesê nie, Lara. Ryno se drankmisbruik was in elk geval verantwoordelik vir die ongeluk, nie sy ontrouheid aan Lynette nie.”
“Dis hoe ek ook gevoel het, en gelukkig het meneer Wiehahn saamgestem.” Lara kyk met troebel oë na Phoebe. “Ek wens ek het dit nooit geweet nie, want ek sou oom Ryno liewer wou onthou het as die gawe oom van my kinderjare.”
“Ag, bog met jou, hartjie! Ryno was al die jare ’n stoute man, maar net ek was slim genoeg om dit te weet. En nou gaan ons almal van die lekker whisky-kakao drink en melktert en gemmerkoekies eet. Sit julle maar. Ek sal alles aandra, want sit ek langer, kry ek eelte,” kom dit onstuitbaar van Heilie, wat orent kom en vlugvoetig vir haar gesette figuur na die lessenaar toe beweeg.
“Lara, het jy gesê die meisie se naam was Sanette?” vra Phoebe nadenkend.
“Sanette of Nanette – ek kan nie onthou nie, of dalk wil ek nie. Sy is deel van iets wat ek bitter graag sal wil vergeet,” antwoord Lara, maar sy weet dis nie die volle waarheid nie.
Sy sal die groot man met die besonderse silwerblou oë nooit kan of wil vergeet nie, selfs al weet sy hy sal nie sy belofte hou en vir haar ’n ruiker stuur nie.
Lara kom die kombuis binne, adem die geur van varsgebakte anysbeskuit in en kyk verras na Heilie, wat met ’n stomende beker koffie voor haar aan die kombuistafel sit en aan ’n groot stuk beskuit smul.
“Môre, ta’ Heilie. Hoe kry jy dit reg? Ek sukkel nog om wakker te word, maar jy het klaar beskuit geknie en gebak,” sê sy bedroë.
Heilie sit agteroor op haar stoel en kekkellag vermakerig. “Wat vra jy nog, hartjie? Julle arme wesies ruik net aan ’n sopie whisky en julle kap om! Selfs Phoebe was al voor nege-uur gisteraand in die bed en vas aan die slaap. En reken, nie een van julle twee het eens agtergekom dat ek nie saam met julle whisky-kakao gedrink het nie,” vertel sy en lag weer skaterend.
“Jy is ’n skaamtelose ou sondaar, Heilie Geel,” sê Phoebe met misnoeë agter Lara. Sy kom die kombuis binne en loop na die koffieperkoleerder. “Ek moes tien minute lank onder ’n koue stort staan om daardie wattegevoel uit my brein te spoel. Presies hoeveel whisky het jy in die kakao gegooi, Heilie?”
“Kef, kef, kef! Nee a, Phoebe, jy is ’n waardige professor met ’n kop propvol chemie en goeters, nie ’n dikmond kind wat met iemand anders rusie maak oor jou eie oortredinge nie,” antwoord Heilie verontskuldigend en lag geluidloos dat haar skouers skud. Sy kug ’n paar maal agter haar hand toe Phoebe haar toornig aanstaar en vervolg met vrome selfverwyt: “Haai, nee, ek moenie jou uitlag nie, Phoebe, want jy was in ’n allerverskriklike toestand van skok, daarom kon jy nie die whisky ruik nie.”
“Ek was vanselfsprekend ontsteld, maar daar skort niks met my reukorgane nie,” sê Phoebe vies. Sy dra twee bekers koffie na die kombuistafel toe. “Kom sit en drink jou koffie, Laratjie. Ek neem aan jy het ook soos ’n klip geslaap, maar jou gesiggie is nog bleek.”
“ ’n Hele bottel whisky in die kakao en jy kon dit nie ruik nie, Phoebe? As ek jy is, mens, maak ek haastig ’n afspraak met my dokter,” kom dit doodbekommerd van Heilie.
Phoebe sien die ondeunde vonkeling in haar oë en klik haar tong ergerlik. “Ek dink ek moet my koffie in die eetkamer gaan drink voordat Heilie my werklik tot drank dryf. Kom jy saam, Lara?”
“Klim van jou perdjie af, my skatlam,” paai Heilie en stoot ’n bak met vars beskuit oor die tafelblad na Phoebe toe. “Sit en eet van my lekker anysbeskuit. Dalk was my hand ’n bietjie swaar toe ek die whisky by die kakao gegooi het, maar jy en Laratjie het dit nodig gehad. Twee sulke wit gesiggies en hartseer oë … Ek wou julle nie babelaas gee nie, maar ek moes iets doen om julle goed te laat slaap.”
Phoebe glimlag ten spyte van haarself. “Jy het ’n wonderlike vermoë om my dankbaar te laat voel oor iets waaroor ek my eintlik moet vererg, Heilie. Maar dankie, in elk geval. Ek en Lara het ’n goeie …” Sy breek haar sin af toe die voordeurklokkie deur die huis klingel. “Ag nee! Ek sien allermins kans vir kuiermense op my nugter maag.”
“Ai toggie, dis my skuld, Phoebe,” erken Heilie sugtend. “Maar jy weet mos al: ek kry so ’n aardige bedompigheid op my bors omdat ons agter hoë ystertralies moet leef, daarom sluit ek die tuinhek vroegdag oop. Is jy nou weer vies vir my?”
“Nee, Heilie. Laat ons besoekers maar op die klokkie lê – ek drink nou eers rustig my oggendkoffie,” antwoord Phoebe en neem by die tafel plaas.
“Ek sal van hulle ontslae raak, Phoebe,”