“Dankie, ta’ Heilie. My mond water al van die lus,” antwoord Lara met ’n onoortuigende glimlaggie en sak weer op haar stoel neer.
“Sien jy kans om later vanoggend saam met my by Lynette te gaan inloer?” vra Phoebe aarselend, haar blik ongerus op haar niggie wat lusteloos aan ’n stuk beskuit peusel.
Lara kyk sku op. “Seker maar … Ek wens ons kon sommer gebel het, maar ons is huisvriende en tant Lynette …”
“Sjuut!” Phoebe hou haar hand gebiedend op. “Dit klink soos Lynette se stem.”
“… vertel wat ek van haar dink! Ek het reeds met ’n joernalis gepraat. Ek sal sorg dat die hele land weet die listige Lara is verantwoordelik vir my man se dood!” klink Lynette se stem verwoed uit die gang op. Dan storm sy die kombuis binne, gevolg deur ’n verontwaardigde Heilie.
Phoebe staan op en loop Lynette tegemoet. “Ek is so jammer oor Ryno se dood, Lynette. Ek en Lara was van plan om later vanoggend oor te kom om ons simpatie te betuig. Wil jy saam met ons koffie drink?”
“Kon jy nie hoor wat ek vir Heilie gesê het nie?” vra Lynette, haar stem bewend van woede. Sy gluur Lara aan, verterende haat in haar groenbruin oë, en rig ’n beskuldigende vinger na haar. “Daar sit sy met haar mooi, onskuldige gesiggie – sy, die moordenares van my man!”
“Lynette! Om liefdeswil, moenie dinge sê waaroor jy later berou gaan hê nie. Om watter rede sou Lara Ryno tot sy dood wou dryf?” vra Phoebe met ysere selfbeheersing.
“Vra háár waarom! Ek weet net sy het hom dronk gemaak en hom toe gevra om haar motor huis toe te bring, moontlik omdat sy geweet het hoe swak die remme is. Waarom wou jy my man dood hê, Lara? Wou hy my nie ter wille van jou los nie? Ryno het mý liefgehad, jou arme ding. Jy kon hom dronk maak, hom verlei met jou popgesiggie, maar hy was myne. Ryno sou my nooit ter wille van ’n goedkoop meisietjie gelos het nie!” tier Lynette en ontbloot haar tande in ’n smalende gryns.
Lara bly roerloos langs haar stoel staan. Tant Lynette lyk soos altyd, dink sy. ’n Deftige geklede, blonde vrou met groot, groenbruin oë, ’n hartvormige gesig en ’n klein neusie en mond. Maar dis ’n nuwe tant Lynette, besef sy. Die nuwe oom Ryno was ’n beskonke, ontroue man en hy is dood; die nuwe tant Lynette lewe, maar sy is ’n ongelukkige vrou wat van balans af gegooi is deur die skok van haar man se dood. Daarom soek sy na ’n rede om te haat – en sy het oorgenoeg rede daarvoor.
Lara trek haar asem bewerig in en slaan haar blik neer. Tant Lynette het gelyk, dink sy verslae. Sy voel só skuldig oor oom Ryno se dood asof sy hom met haar eie hande vermoor het.
Phoebe tree vorentoe en sê met ’n beheerste stemtoon: “Ek kan vir jou die rekening wys van die motorhawe wat Lara se motor onlangs versien het, Lynette. Haar motor het splinternuwe remme gehad. Glo jy ek sal Lara toelaat om met swak remme rond te ry?”
“Die polisie sê Ryno was dronk. Waarom het Lara hom toegelaat om haar motor te bestuur?” vra Lynette bitter.
Heilie druk haar gesig teen dié van Lynette en snuif hard. “Jy klínk dronk, Lynette, maar jy ruik nie na drank nie. As jy nugter is, vrou, kyk weer na onse Laratjie en kyk goed: lyk dit asof sy sterk genoeg is om Ryno te kon vasdruk om ’n bottel drank in sy keel af te gooi?”
“Moenie onsin praat nie, Heilie. Lara het my man verlei, hom drank gevoer en hom toe oorreed om haar motor in ’n reënstorm te bestuur.” Lynette rig blitsende oë op Phoebe. “Ek het jou vertel van my vermoede dat Ryno en Lara ’n skelm verhouding het, Phoebe. Maar dit was nie net ’n vermoede nie: ’n vrou kan so iets aanvoel; ’n vrou wéét.”
Sy glimlag humorloos en vervolg dan met venynige triomf: “Maar môre sal almal weet wat jou agterbakse Laratjie gedoen het, want ek het reeds my storie aan ’n verslaggewer vertel!”
“Ek hoop die joernalis het meer kennis van die wet as jy, Lynette, anders beland hy saam met jou in die hof vir laster,” sê Phoebe met kille waardigheid.
“Die waarheid is nie laster nie!” snou Lynette haar toe. “Daar was niemand anders saam met Ryno en Lara op kantoor nie. Elna Ackerman het my vertel Ryno het gesê Lara moet die kantoor om eenuur sluit en huis toe gaan, want hy moes die hele dag in die hof wees. Sy het my ook vertel Ryno het Lara gevra om al sy afsprake vir die middag te kanselleer. Kan jy raai waarom?”
“Meneer Wiehahn was daar,” praat Lara vir die eerste maal.
Lynette swaai soos ’n gewonde tierwyfie na haar. “Die geheimsinnige Wiehahn was ook saam met jou by die ongelukstoneel, maar sy naam staan nie in die afspraakboekie nie! Ek was gisteraand reeds by Ryno se kantoor om in die afspraakboek te kyk. Wie is hy? Nog een van jou geheime minnaars?” vra sy minagtend.
Heilie haal hard deur haar stomp neus asem, haar gesig rooi van ergernis. “Phoebe, ek meng nie graag met jou gaste in nie, maar as Lynette nog een maal onse Laratjie beledig, gaan ek vergeet sy is ’n gas en ’n weduvroutjie en haar ’n taai klap gee!” sê sy onstuimig en sug hoorbaar verlig toe die voordeurklokkie die tweede maal lui. “Laat ek drawwe voordat ek tot sonde gedryf word,” vervolg sy mompelend en stoom die kombuis uit.
“As die polisie nagelaat het om aan jou te verduidelik, Lynette: Ryno het Lara se motor geleen omdat syne gaan staan het. Ek veronderstel hy wou gaan vasstel of sy motor nog veilig was. Het die polisie sy motor al opgespoor?” vra Phoebe rustig.
“Hulle het en die motor makeer niks nie,” antwoord Lynette kortaf, haar oë nog nydig op Lara. “Ek waarsku jou, Lara: ek sal die beste advokaat in die land kry en jou laat boet vir my man se dood! Hoe lank het julle ’n verhouding gehad?”
Lara kyk stom na Lynette en pleit woordeloos om hulp met haar oë toe sy na Phoebe draai. Sy snak hard na haar asem toe Heilie met ’n ruiker bloedrooi rose in haar hande die kombuis binnestroom.
“Kyk, lammetjie, kyk!” roep Heilie jubelend uit en plak die ruiker op die kombuistafel neer. “En hier is die kaartjie en dit sê: Baie dankie vir ’n onvergeetlike middag. Van Wiehahn.”
Sy gooi haar kop terug op haar kort nekkie en skaterlag haar verligting uit. “En wat sê jy nou, jou agterdogtige buurvroutjie?” vra sy met ’n treiterende glimlaggie vir Lynette.
Lynette gryp die kaartjie uit Heilie se hand, lees dit en smyt dit langs die ruiker neer. “Ek sal met dié Wiehahn-man praat. Maar ek is nie klaar met jou nie, Lara. Die hele straat weet reeds dat jy agter my man aangeloop het, en binnekort sal die hele land weet!” dreig sy, gluur Lara aan en stap die kombuis kop omhoog uit.
“Die liederlike gifgogga!” brom Heilie. “Is jy met stomheid geslaan, Phoebe? Doen iets om Lynette se skinderbek te snoer!”
Phoebe luister na die toeklap van die voordeur en sê gelykmatig: “Dis reeds te laat, Heilie. Lynette het sedert gistermiddag tyd gehad om haar storie te versprei. Maar Lara het voor die ouer inwoners van ons straat grootgeword en hulle ken haar. Hulle sal hulle nie aan Lynette se onsinnige stories steur nie.”
Sy draai na Lara, wat haar met die oë van ’n gekweste wildsbokkie aanstaar. “Dis alles reg, kindjie. Selfs Lynette besef dat haar aantygings teenoor jou vals is.”
Lara lig haar ken onbewustelik, ’n trotse lig in haar oë.
“Nee, Phoebe. Tant Retha het my verlede Sondag by die kerk gevra waarom ek ná my jaar gemeenskapsdiens nie liewer gaan vakansie hou as om by oom Ryno te werk nie. Ek het verduidelik ons gaan eers in Januarie toer, en toe knipoog sy vir tant Luzaan en sê sy verstaan baie goed, want Ryno is ’n alte aantreklike man. Ek het gedink die ou tannie yl, maar ek weet nou: tant Lynette het my naam beswadder nog voor oom Ryno se dood.”
Sy blik vraend na Heilie, wat aamborstig kug. “Skinder hulle oor my, ta’ Heilie?”
Heilie haal haar skouers op en antwoord onbesorg: “Aag, my lammetjie, mense skinder altyd as hulle niks anders het om te doen nie. Ou Retha lyk soos ’n stokou perd en Luzaan herinner my aan ’n honger likkewaan – hulle skinder oor jou omdat jy ’n prentjiemooi meisiekind is, en dan is jy nog