nou gaan nie. Toe, kom drink nog ’n drankie saam met my,” protesteer Ryno, sy tong lomp.
“Jy het reeds te veel gedrink, Ryno-lief. Slaap ’n paar uur lank op daardie gerieflike rusbank voordat jy dit agter ’n stuurwiel waag. Maar ek loop nou,” antwoord die meisiestem vasbeslote.
“Klop hard aan die deur, Lara – gou!” beveel Wiehahn sissend. Hy retireer na die oop voordeur en bly afwagtend staan, sy oë gebiedend op haar.
Lara klop met ’n gebalde vuis aan Ryno se kantoordeur. Sy sien Wiehahn met ’n haastige wuif van sy hand by die voordeur uitglip en roep hard: “Oom Ryno! Is jy hier, oom? Mag ek inkom?”
Dis onmoontlik om voetstappe op die sagte mat van Ryno se kantoorvloer bo die reëngedruis te hoor, maar sy kan haar voorstel watter geskarrel op haar woorde volg, dink Lara met ’n wrang glimlaggie. Sy het altyd geglo die buitedeur wat uit Ryno se privaatbadkamer lei, is daar ingeval hy ’n onredelike kliënt wil ontwyk, maar die deur het duidelik ander voordele: soos om van ’n geheime minnares ontslae te raak.
“Het iemand geklop? Wie is daar?” roep Ryno eindelik, sy stem verder weg as tevore.
“Dis ek, Lara! Het oom ’n kliënt? Sal ek vir julle tee maak?” Lara besef dat sy die situasie terdeë geniet en voel dan skuldig: tant Lynette sal beslis nie saam met haar lag oor oom Ryno se dislojaliteit nie.
“ ’n Kliënt? Ja, ja, ek het ’n kliënt gehad!”
Ryno se stem kom vinnig nader. Dan gaan die kantoordeur oop. Hy vervolg met gul hartlikheid: “Jy weet nie hoe bly ek is om jou te sien nie, Laratjie! Ou mevrou Scoombie wou haar testament vir die twintigste maal verander, en sy het daarop aangedring dat dit nog vandag gedoen moet word. Maar kom binne, kom binne! Sal jy ’n drankie saam met my drink? Jy is mos nou al mooi groot.”
En dis hoe ek wil bly: mooi en groot, dink Lara en draai haar kop weg om nie deur die walms van Ryno se drankasem oorweldig te word nie.
“Nee, dankie, oom. Ek drink nie as ek moet bestuur nie.” Sy kyk vraend rond. “Dan is mevrou Scoombie reeds weg?”
“Ja, ja … nou net. Sy woon mos in ons straat en sy is sommer by die buitedeur van die badkamer uit. ’n Komieklike ou mens, maar skatryk en glad nie suinig om te betaal vir my diens nie.”
Ryno merk dat Lara na die twee gebruikte drankglase staar en borduur oortuigend voort: “Lief vir haar drankie ook, al sy is byna tagtig. Drink graag ’n glasie rooiwyn.”
Tot ’n paar minute gelede was sy lief vir Ryno Marx, want hy was deel van haar lewe vanaf haar kinderjare, dink Lara ontnugter. Oom Ryno en tant Lynette was die vrygewige kinderlose egpaar wat vir haar en al die ander kinders in hulle straat geskenke gekoop het met hulle verjaardae en Kerstyd: wat nooit geweier het om mildelik by te dra as hulle geld moes insamel vir hulle skool se sportklub nie. Dis waarom sy nie eens gehuiwer het om die pos van ontvangsdame te aanvaar toe hy iemand nodig gehad het om hom ’n maand lank uit te help nie.
Sy kyk na die groot man met sy rooi gesig wat met lomp hande probeer om die glase en drankbottels weg te pak. Sy het nooit aan hom in terme van aantreklikheid gedink nie, maar toe sy klein was, het sy gedink hy is ’n mooi oom, moontlik omdat hy altyd vriendelik was. Miskien is hy aantreklik met sy koringblonde hare, diepblou oë en reëlmatige gelaatstrekke, maar sy voorkoms, sy hele menswees vervul haar op hierdie oomblik met ’n gevoel van weersin. Hoe kan enige getroude man so veragtelik optree? Sy sal nooit trou nie, want sy sal nooit ’n man kan vertrou nie, dink sy en draai weg.
“Ek moet nou gaan, oom Ryno. Ek het net my selfoon kom haal. Ek sien jou môre weer,” groet sy oor haar skouer.
“Ek ry saam, Laratjie, want ek moes my motor laat insleep – weer probleme met die petrolpomp.” Hy kom op onvaste bene nader. “Waar het jy jou motor geparkeer?”
“Langs die stoeptrap. Klim solank in, oom. Ek sal die alarm stel en die deur sluit,” antwoord Lara gelykmatig, verlig dat Ryno besef hy kan nie ná soveel drankies bestuur nie.
Sy sluit die voordeur, stap die stoeptrap af en frons onthuts toe sy Ryno agter die stuurwiel van haar motor sien sit, reeds besig om die enjin aan te skakel.
“Nee, ek sal bestuur, oom! Ek glo nie jy –”
“Ry jy of bly jy, Lara?” vra Ryno met ’n harde lag en trek vinnig weg.
“Dis mý motor, ek wil bestuur!” roep Lara boos uit. Maar Ryno lag harder en ry onverskillig in die rylaan af na die dienspad.
Lara hardloop na die rylaan en steek dan verskrik in haar spore vas toe ’n luukse wit motor skielik tussen die digte struike van die voortuin verskyn en langs haar tot stilstand kom.
“Klim in, Lara!” roep Wiehahn uit die motor. “As ons gelukkig is, kan ons ’n noodlottige ongeluk voorkom!”
2
Lara ruk die passasiersdeur van Wiehahn se motor oop, klim in en klap die deur toe.
“Ry, meneer Wiehahn! Ek vermoed oom Ryno het links gedraai, en daar is ’n gevaarlike kruising aan die onderpunt van die dienspad. Ons moet hom keer!” beveel sy, haar stem skril van vrees.
Wiehahn hou sy sakdoek na haar uit terwyl hy sy motor bekwaam in die rylaan af na die dienspad stuur. “Jy het ’n handdoek nodig, maar dit sal help,” sê hy, sy blik turend deur die stortende reën.
“Dankie, meneer Wiehahn,” sê sy, ineens oorbewus van haar druipnat klere en haar hare wat in nat slierte in haar oë hang. “Ek hoop nie ek beskadig die leersitplekke met my nat klere nie.”
“Dis Wiehahn, Lara, nie meneer nie. En ons is albei deurnat. Vreemd, ek het altyd ’n reënjas byderhand as ek Europa besoek, maar ek het nie dié geelperskereën in Desember op die Hoëveld verwag nie.”
Hy bring sy motor aan die onderpunt van die rylaan tot stilstand om links en regs in die dienspad te kyk. “Ryno moes soos ’n besetene gejaag het, want ek sien jou motor nêrens nie. Waarom het jy jou motorsleutels vir die beskonke man gegee?”
“Ek het nie!” ontken sy onthuts. “Ek het my sleutels in my motor gelos, want ek wou net my selfoon kry en dan weer ry. Oom Ryno het agter die stuurwiel ingeklim terwyl ek die voordeur gesluit het en sommer net weggery.”
“Die sot! Dit reën so hard dat ek nouliks die pad kan sien. Vanselfsprekend het hy nie eens daaraan gedink om die motorligte aan te skakel nie. Maar waarheen nou, Lara? Is jy seker Ryno het links gedraai?” vra Wiehahn bekommerd.
“Nee. Dis die pad wat ons huis toe ry, maar ek weet nie waar hy sy eie motor geparkeer het nie. Draai links en ry, Wiehahn. Ek sal bid dat hy êrens stilgehou het om vir my te wag. Of dink jy hy was so dronk dat hy klaar vergeet het van my?” tob sy en tuur angstig deur die reën wat soos ’n soliede grys muur die pad anderkant die motorligte uitwis.
“Ek vermoed Ryno Marx het ’n hele paar drankies gelede die vermoë verloor om enigiets te onthou,” antwoord Wiehahn wrang terwyl hy in die dienspad afry. Hy kyk flitsend na Lara, merk die spanning op haar gesig en sê gemoedelik: “Jou baas sal nie ’n mooi meisie soos jy so maklik vergeet nie. Ek is seker hy wag hier êrens op jou.”
“As oom Ryno iets moet oorkom … Ek ken hom en sy vrou my lewe lank, want ons woon in dieselfde straat. Hulle is huisvriende, amper soos familie …”
Sy byt op haar onderlip toe hulle die onderpunt van die lang dienspad bereik en Wiehahn sy motor skerp links in die pad opdraai en dan weer vinnig regs tot by ’n stopteken. Voor hulle strek die besige snelweg. Die motors kruip soos twee lang, verligte treine in die derde en vierde baan verby, maar alle verkeer het in die twee bane voor hulle tot stilstand gekom.
“Nee …! Nee!” krys Lara, haar stem ’n skor fluistering van ongeloof en skok. Sy staar asof gehipnotiseer na die grusame ongelukstoneel voor haar.
Wiehahn neem haar hand in syne. “Dit is … dit was jou motortjie. Ek is jammer, Lara,” sê hy, warm troos in die aanraking van sy hand en sy stemtoon.
“Die