Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

was.

      Sy het kuns studeer, elke vakansie gewerk en elke blou duit gespaar sodat sy oorsee kon gaan. Toe sy ná drie maande terugkom, kon sy nie ophou praat oor die katedrale van Europa nie en onder haar arm was ’n dik pak perkamente, natreksels van Middeleeuse ridders en heiliges. Sy het blykbaar die drie maande op haar knieë op koue klipvloere deurgebring en die mistiek van die Heilige Mis, die wierook en die gesnede beelde was ten spyte van haar Calvinistiese opvoeding nou in haar bloed. Sy het mans en aardse genot afgesweer en begin navraag doen oor die vereistes van die Katolieke Kerk. Sy wou ’n non word.

      My ouers het hulle oë opgeslaan, die dominee ingeroep om met haar te kom praat en hom bedees uitgelei ná Kara hom smalend aangehoor en verwerp het. Ek was siek van jaloesie. Dit was presies wat ek sou wou gedoen het. In daardie stadium van my lewe was ek reeds ontevrede met myself en vasbeslote om te verander, om iets anders te wees en te word.

      Hannes se vriend Riekie, doodverskrik deur Kara se piëteit, het my begin uitneem, maar dit was nie lank voor ek uitgekuier was vir sy sweterige hande, sy onbeteuelde aanvalle nes ons alleen in sy motor was en geparkeer onder ’n gebreekte straatlig, of sy benoude asem nie. Ek het hom oorgeskryf tot iets meer na my sin. Voor ek die aand moes uitgaan, het ek sy naam verander na Richard, uitgespreek Rigardt, om ’n rede wat nou nie meer vir my duidelik is nie. Ek het sy bruin borselkop omgetower in golwende donker hare wat amper in sy nek gehang het en waardeur ek my vingers getrek het in ons oomblikke van vervoerde passie. Sy praktiese, stomp hande het sensitief en lank van vinger geword, sy oë intens en versiende.

      Vanaf die oomblik dat hy op die voorstoep gestaan en jolig “Haai,” gesê het, het my beeld begin wankel, maar ek het vasgebyt.

      “Waarom sit jy hier met jou toe oë?” het hy eenkeer gevra toe ons ná ’n opvoering sit en koeldrank drink.

      “Dis nodig, Riekie, dis nodig,” het ek gefluister en geweier om die werklikheid in die gesig te staar. Dit was ’n warm aand en die werklikheid se gesig was bepêrel van die sweet, iets wat nooit met Richard sou gebeur het nie. Richard was vry van alle menslike swakhede en veral liggaamlike manifestasies.

      Ons het selde gaan fliek omdat ek die reuk van springmielies steurend gevind het. Ek het Riekie self steurend begin vind en gewens my ouers wil my verbied om hom te sien. ’n Paar van my vriendinne het ook met studente uitgegaan en hulle ouers het ’n stokkie daarvoor gesteek met die verskoning dat hulle dogters eers matriek moes deurkom. My eie ouers het nie ’n woord gesê nie.

      “Ma,” het ek haar eenkeer trompop geloop waar sy in die sitkamer gestaan en staar het na ’n verlepte rangskikking rose. “Ek dink nie dis ’n goeie ding om so dikwels uit te gaan nie.”

      “Ja, darling,” het sy afgetrokke gesê en die doodste rose begin uitlig. Slymerige water het op die tafelblad gedrup en sy het dit met die agterkant van haar hand afgevee.

      “Matriek is baie belangrik. Julle het dit nog altyd gesê.”

      “H’m,” het sy saamgestem.

      “Paula en Rinda se ma’s het hulle verbied om uit te gaan tot ná die eindeksamen.”

      Sy het verby my gekyk. “Gee my Pa se snippermandjie aan, asseblief.”

      Ek het die rottangmandjie aangegee. “Ma kan nie die nat rose hierin gooi nie. Ek sal ’n plastieksak gaan haal.”

      “Dankie, darling.”

      Ek het die sak vir haar gehou terwyl sy die rose uitsoek, en my aanslag hernu. “Buitendien is Riekie te oud vir my.”

      “Ek dag hy’s net twee jaar ouer as jy?”

      “Nee, vier. Hy was mos eers in die leër.”

      “Nou toe nou.”

      Dit was baie duidelik dat sy my weer eens nie gehoor het nie. Ek het tot die punt gekom. “Ek wil hê julle moet my verbied om hom weer te sien.”

      Sy het vir die eerste keer na my gekyk. “Nee, my ding, waarom sou ons dit doen? Riekie is ’n gawe seun.”

      “Ja, maar ek moet leer vir matriek.”

      “Sukkel jy?” Sy het angstig gefrons.

      Ek was besig om moed te verloor. “Nee, Ma.”

      Sy het weer verby my gekyk na die geplunderde rangskikking. “Sou dit help as ons haar vertel dat sy haar mooi hare sal moet afknip?”

      “Wie se hare?”

      “Kara. Hulle skeer dit mos stomp af voor hulle daardie kappie en sluier opsit.”

      Ek het geril omdat ek toe nog in die stadium was waar my lang, dik hare vir my so belangrik soos Simson s’n was. Soms het ek natgesweet wakker geskrik ná ’n droom waarin iemand my vasgepen en kaal geskeer het. “Ug,” het ek gesê. “Ma kan dit maar probeer . . .”

      “Ja,” het sy gesê en die plastieksak by my gevat. “Gaan doen jy nou jou huiswerk. Ek sal die sak weggooi.”

      Daar was geen ander raad nie. Ek sou Riekie self moes verbied.

      “Waarom?” het hy seergemaak gevra toe ons die aand by die huis kom en soos ons gewoonte was eers ’n ruk in die motor bly sit.

      “Ek dink nie ons pas bymekaar nie,” het ek waardig gesê. Hy het my probeer soen, iets wat Richard se aansien altyd kwaai skade aangedoen het. Richard het teer maar intens opgetree, sy soene het my ruggraat vermurwe. Riekie, aan die ander kant, het net te menslik na my sin opgetree. Ek kon sy harde asemhaling hoor, sy mond was te nat, te groot en te werklik. Dit was byna onmoontlik om sy mond weg te skryf terwyl hy my teen die voorste sitplek vasgedruk het.

      “Dis verby,” het ek gesê, losgeruk en uit die motor geklim. “Kry vir jou iemand anders. Ek is te jonk.” Wat ek eintlik wou sê, was dat ek my krag moes spaar vir die dag as die regte Richard opdaag. Ek het die huis ingeloop en op my bed gaan lê om die volgende hoofstuk te skryf in my epistel oor Richard. Uit die sitkamer het ek my ma se stem gehoor, hoog en desperaat. “Hulle gaan jou hare afskeer, darling!”

      Natuurlik het Kara nie ’n non geword nie en nog minder het Riekie van my af weggebly. Ek het hom maar laat begaan op voorwaarde dat hy my nie soen nie. (As VIGS toe al bekend was, het ek ’n goeie verskoning gehad, maar my geslag was uitgelewer aan ons eie ordentlikheid en moes soek na redes vir ons kuisheid.) Buitendien moes ek ’n maat hê vir die matriekafskeid en Riekie was op sy ongekunstelde manier aantreklik. Aanvaarbaar.

      Waarom Kara van haar plan afgesien het, het ek nooit uitgevind nie. Ek onthou sy het die Moeder Owerste van ons naaste klooster gaan spreek en die wyse vrou het vermoedelik met groot geduld geluister na my suster se stamelende verklaring. Dit moet vir haar gou duidelik geword het dat Kara nie veel meer weet as dat katedrale besonder mooi loodglasvensters, beelde en individuele kapelle het nie. Van dogma het die kind min geweet. Ek vermoed dat die Moeder Owerste baie taktvol was in haar verwerping, want Kara het nog ’n begeesterde lig in haar oë gehad toe sy die aand aan tafel die mededeling doen dat sy afgesien het van haar plan. My ouers se verligting was tasbaar. My ma het vleissous oor haar slaaiblare gegooi en gelyk asof sy wil huil.

      “Hoog tyd dat jy tot jou sinne gekom het,” het my pa gesê en daarmee was die saak afgehandel. Kara het nooit weer daarna verwys nie en stil voortgegaan met haar werk as assistente by die kunsmuseum.

      Elsa, suur omdat die aandag soveel maande lank op Kara gevestig was, het aangekondig dat sy en Hannes wil trou.

      “Hy’s te jonk vir jou,” het Ma geprewel.

      Die gebrek aan logika in hierdie ontplooiende argument het my gefassineer. Riekie was jonger as sy vriend Hannes, maar Hannes was omtrent vier jaar jonger as Elsa, wat teen daardie tyd reeds ’n paar jaar lank skoolgehou het. Ek, en veral my ouers, het al die jare geweet dit is die geval en tog was daar nooit ’n woord van teenkanting nie. Dit was nie asof Hannes skielik jonger geword het nie, hy was dit van die begin af. Ek het dit vir hulle genoem.

      “Ek dink jy moet Hannes eers kans gee om sy voete te vind,” het Pa gesê asof ek nooit eens gepraat het nie.

      “Sy