by die huis kom met boorlinge van die eiland. Claude het ’n swart broer gehad en ’n wit suster en alhoewel sy ouma bytende opmerkings kon maak oor die gemengde bloed van haar bure, het sy haar eie kleinkinders se velkleur nooit raakgesien nie.
“Ons moet Elsa soontoe stuur,” het Kara tersyde opgemerk en verder geluister na sy stories van mahoniebome en reënwoude en varings so groot soos ’n man.
Of daar miere buite ons tuinmure was wat wel tot Claude se vel deurgedring het, het ek nooit gehoor nie. Hy het vir Ma ’n geborduurde tafelkleed gegee en ons verseker dit was ’n onvergeetlike vakansie. Kara was baie stil ná sy vertrek.
“Jy moet met hom trou,” het ek vir haar gesê. “Pak jou goed en vlieg agter hom aan.”
“Hy’t my nog nie gevra nie,” het sy gesug.
Maar haar beurt op die verhoog was verby. ’n Ander speler het vorentoe getree en ons aandag opgeëis. Pa. Hy sou aan die einde van daardie jaar aftree en ons het almal aangeneem hy sal by die huis bly en dikwelser gholf speel. Ons was verkeerd.
“Ek gaan boer,” het hy aangekondig.
“Boer?” het Ma geprewel.
Pa het jare gelede ’n aandeel in ’n wildsplaas gekoop sodat hy nie hoef rond te val vir ’n plek om te gaan jag nie. Nou het hy ons kort en kragtig vertel dat hy sy vennote uitgekoop het en van plan was om met beeste te boer.
“Wat van ’n huis?” het Ma gevra en om haar rondgekyk na haar geliefde besittings.
“Ons kan in die rondawels bly en aanbou.”
“Goggas,” het Ma gesê. “Hulle val uit die dak.” Sy was net een vakansie saam met hom gewees, daarna het sy by die huis gebly. “Mens het ’n geweer nodig as jy na die kleinhuisie loop.”
“Ons sal ’n badkamer bou.”
“Die leeus sal Polder opeet,” het sy aan nog iets gedink. “Die seekoeie sal hom vertrap.”
Polder het sy naam gehoor en opgekyk na ons.
“Wat is ’n seekoei in Nederlands?” het Ma haar tot my gewend.
“’n Nijlpaard.”
“Sien jy kans vir nijlpaarden, Polder?” het sy hom gevra. Hy het gegrom en na die voordeur gedraf.
“Ek gee nie om wat julle sê nie,” het Pa beslis. “In Desember trek ek bosveld toe. Dié wat wil bly, kan bly.”
Ma het gebly.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.