Скачать книгу

Omelet en ’n slaai.”

      “Nie iets groters nie?”

      “Nee. Die pap was vanoggend verbrand en ek is lus vir eier.”

      Hy het ons bestelling vir die kelner gegee en gesê hy moet gou maak met die wyn, ons is dors. “Waarom was die pap verbrand?” het hy gevra toe ons elkeen met ’n glas koue wit wyn sit.

      “Johanna het dit begin, maar toe het Elsa haar kom oplaai en moes my ma verder kyk. Dié.”

      Hy het geknik en ook ’n stuk brood gevat. Ek het gekyk hoe netjies hy sy blokkie botter uit die silwer papier dop. “Wil jy nie saam met my terugkom nie?” het hy skielik gevra.

      “Na jou ouers?”

      “Nee. Na Amerika.”

      “Ek werk dan.”

      “Kan jy nie verlof kry nie?”

      “Ek weet nie. Ek kan seker.”

      Hy het buierig aan sy brood gekou, ’n diep keep tussen sy wenkbroue. “Is daar ’n man wat sal omgee?”

      Ek het nie geweet wat hy bedoel nie. “My pa, praat jy van my pa? Hy sal nie omgee nie. Dokter Anders sal seker. Hy kan nie sonder my regkom nie.”

      “Jissis, Iris, jy weet wat ek bedoel!”

      Ek het gewens hy het nog sy woonstel gehad, want as hy my toe gevra het, het ek weer saamgegaan. “Ek dag dan jy het van my vergeet?” het ek gevra. “Dis wat jy op jou poskaart geskryf het.”

      “Is daar ’n ander man of nie?” het hy kwaad gevra.

      “Ek weet nie wat jy met ‘ander ’ bedoel nie,” het ek kalm gesê. “Dit impliseer daar is of was ’n spesifieke een om mee te begin.”

      “Ja,” het hy gesê. “Ek.”

      “Dit was ’n jaar gelede en toe het ek jou maar twee keer gesien.”

      “Moenie hare kloof nie. Het jy ’n kêrel?”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      Ek het my hande plat op die tafelblad neergesit. “Wie is nou onlogies? Ek het nie een nie omdat ek nie een wil hê nie.”

      “Sit jy die afgelope jaar by die huis? Elke liewe aand?”

      “Sit jy?” het ek teruggekap.

      Hy het oor die geblokte tafelkleedjie geleun, my aan my skouers opgelig en my gesoen. Hard, so hard dat ek my voortande in my bolip kon voel sny. Toe hy my los, het ons albei te vinnig asem gehaal en ek het verby sy kop gesien hoe die eienaar – die enigste ding in die restaurant wat werklik Italiaans was – ons goedkeurend aankyk. Hy het byna trots gelyk, asof hierdie soort ongebreidelde passie ’n diens was wat hy spesiaal aanbied aan uitverkore klante. Die ander eters het bloot geamuseerd gelyk. Gelukkig het die kelner ons kos gebring.

      “Sê my net een ding,” het Peter gevra toe ons weer alleen was. “Waarom, waarom het jy daardie aand saam met my gegaan?”

      “Dis moeilik om te verduidelik,” het ek gesê. “’n Karakter in een van my stories se naam is Peter en toe jy . . .”

      “Storie? Watse storie? Skryf jy stories?”

      “Nee. Ek dink hulle uit.”

      Hy het deur sy hare gevee sodat hulle regop gespring het om die twee kroontjies. “En ek is deel van so ’n versinsel?”

      “Nee.” Ek het begin eet. “Dis juis my punt, jy is nie.”

      Hy het sy vurk in sy pasta begin draai. “En as ek jou nou weer sou vra?”

      “Ek sal weer saamgaan. Maar jy het nie meer jou woonstel nie. Paula het my vertel.”

      Hy het sy vurk neergesit en die kelner nader gewink. “’n Vriend het syne vir my geleen terwyl ek in die stad is. Het jy ’n motor?”

      Ek het my baadjie en handsak opgetel en agter hom aangeloop.

      Dokter Anders was bly toe Peter terug is na Amerika. Hy het nie van Peter geweet nie, maar my gedrag, lang etensure en swak konsentrasie het wel tot hom deurgedring. Die pasiënte het ook gekla.

      “Waar is die engel wat altyd my hand vashou?” het ou meneer Bruwer vir hom gevra toe ek weer laat was.

      “Hy noem jou ’n engel,” het dokter Anders gegrom toe ek uiteindelik opdaag.

      “Dis omdat hy benoud word wanneer jy so in sy mond grou,” het ek verduidelik. “Hy sê dit voel asof sy lugpyp verstop word en hy’s altyd bang een van die watterolletjies glip weg en verstop dit regtig. Ek moedig hom aan om sy neus te gebruik. Om te dink aan vars lug.”

      “Wat ook al,” het hy gesê. “Ek wens die laatkommery wil nou end kry.”

      “Dit sal,” het ek gesê. “Dis klaar verby.”

      My ouma (Ma se ma) het in engele geglo. Nie net die soort waarvan ’n mens in die Bybel lees en wat gewoonlik in kore gesing het nie, maar die soort wat van tyd tot tyd op aarde kom kuier en met sekere mense gesels.

      Sy was in die hospitaal toe die Engel haar die eerste keer besoek het. Van die skrik het sy een van die pypies losgeruk sodat die vloeistof op haar beddeken gedrup het. Sy het die storie dikwels vir my vertel. Net vir my. Elsa en Kara en Ma sou nie verstaan nie, het sy gesê. Hoe die pypie wind gesluk het en hoe bang sy was die verpleegster kom in en raas met haar.

      “Maar wat het die Engel vir Ouma gesê?” het ek altyd gevra.

      “‘Dis goed,’ het die Engel gesê.”

      “Net dit?”

      “Net dit. Ek wou my hand uitsteek en aan hom raak, maar hy was dun, die bak blomme wat jou ma-hulle gestuur het, het klaar deur sy klere geskyn. Terwyl ek na hom gekyk het, het die tierlelies deur sy rok gewys. Toe was hy weg.”

      Dit was ’n wonderlike storie. “Hoe het Ouma geweet hy is ’n man?” Ek het engele altyd as vroulik ervaar, mooi meisies met lang golwende hare. Soos Kara. Kara was jaar na jaar die hoofengel in die skoolkonsert.

      “Sy gesig, sy gesig. Hy was ’n man.”

      “Het Ouma nooit vir iemand anders vertel nie?”

      “Nee!” het sy ontsteld gesê. “Ons is Gereformeerd, ons glo nie aan geeste nie.”

      “En tog het Ouma hom gesien.”

      “Maar hy was nie ’n gees nie. Nie ’n spook soos ’n mens van lees nie.”

      Jare daarna (want sy het gesond geword, die uitgerukte pypie ten spyt) het sy bly bid dat hy moet terugkom. “Stuur vir my ’n wonderwerk,” het sy gevra.

      Ek het gedink dis die mooiste gebed wat ek nog ooit gehoor het.

      “Toe ek klein was,” het sy vertel, “het ek die woord vir die eerste keer gehoor. Dit was so verskriklik warm en dag na dag het die oes verder verskroei. Jou oupa- en oumagrootjie se gesigte het verval van die kwelling. Toe sê die dominee net ’n wonderwerk kan hulle nou nog red.”

      “En het dit?”

      “Nee.” Sy het voor haar in die niet gesit en kyk asof sy die vervalle gesigte en verbrande oeste nog voor haar kan sien. “Nee, maar toe het ek geweet wat ’n wonderwerk is.”

      Ek het die storie vir dokter Anders vertel terwyl ons gewerk het aan mevrou Buys wat doof is. Sy het altyd haar gehoorapparaat afgehaal omdat die geluid van die elektriese boor onhoudbaar was. Ek dink sy kon wel ons lippe lees, want sy het ’n keer of twee kwaai gefrons en met groter konsentrasie na my gekyk.

      “Dis stront,” het dokter Anders gesê.

      Hy was baie kortgebonde sedert sy egskeiding.

      “My ouma het dit geglo.”

      “Mense