Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

tog noem hy haar ‘my hart’,” het ek volgehou. “As sy sy hart is, is sy die belangrikste orgaan.”

      “Iris, Iris,” het hy gemaan. “Jy neem die lewe te letterlik op.”

      Eduard het uit sy stoel opgespring toe Greta in die deur van die badkamer verskyn en haar aankondiging doen.

      “Dink jy regtig so?” het hy gevra en Paul tot in die verste duisternis verwens.

      “Ek is bevrees so.”

      Hy het sy motorsleutels van die koffietafel opgetel. “Ek sal jou hospitaal toe neem.”

      Greta het die koffiemasjien afgeskakel en die vensters toegemaak. (Dit moet ook nie inreën terwyl sy weg is nie.) Eduard het haar tas opgetel en die deur oopgehou. (Hulle het nie vervaard rondgehol soos Elsa en Hannes nie.) In die motor het sy op haar asemhaling gekonsentreer en so deeglik en diep gehyg dat sy begin bleek word het.

      “Ek is bang,” het sy erken. “Dis nie meer ’n abstraksie nie. Dis seer.”

      Hy het nie geantwoord nie. Hy het wel ’n vae plan gehad om haar weer te probeer sien, maar om betrokke te wees by die geboorte van sy broer se kind was nie deel daarvan nie.

      “Hoekom het julle so lank gewag?” het die suster by die kraamafdeling met hulle geraas. Sy het Eduard weggedu. “U kan die toelatingsvorms gaan invul, meneer, u vrou is in goeie hande.”

      “Sy is nie . . .” het hy begin, maar is in die rede geval deur die kwaai suster.

      “Sy is, meneer, sy is. Laat my toe om daaroor te oordeel.” Greta het haar handsak in Eduard se hande gedruk. “Die vorms . . . dis alles daar,” het sy gehyg en haar bene probeer optrek tot teen haar bors.

      Met haar handsak is hy terug na die ontvangslokaal. Die klerk het goedig gewag terwyl hy soek na die vorm waarna Greta verwys het, maar toe hy dit kry, was al die nodige inligting soos volle name, identiteitsnommer en so meer, beskikbaar.

      “Het u ’n kredietkaart?” het sy gevra toe alles neergeskryf is. “Ons maak ’n afdruk en wanneer u vrou die hospitaal verlaat, vul ons die juiste bedrag in en kan u u kwitansie kry sodat u weer op u beurt van u mediese fonds kan terugeis.” (Dis wat ek bedoel met besonderhede. Ek het niks oor die hoof gesien nie.)

      “Ja, natuurlik,” het hy gesê.

      Toe alles afgehandel was, het hy verlore rondgestaan. Om koelbloedig om te draai en huis toe te ry, het verkeerd gevoel. Buitendien het hy nog Greta se handsak by hom gehad en sy kon dit later nodig kry.

      “Tweede verdieping, links,” het die klerk vriendelik gesê. “Teen dié tyd is hulle reg vir u.”

      Eduard het opgegee en met die hyser boontoe gery. ’n Ander verpleegster het hom gevra wie hy soek en toe hy Greta se naam sê, is hy summier in ’n teaterjas gevou en deur ’n glasdeur gestoot waar hy haar onder skerp ligte sien lê het, gedrapeer in groen steriele doeke. (Of hulle dit regtig gedoen het, het ek nie geweet nie en Elsa het ook nie gesê nie, maar ordentlikheidshalwe het ek dit maar bygevoeg.) Dit het dadelik geblyk dat haar rugpyn deur die dag die aanloop van die geboorte was en dat hy haar net betyds by die hospitaal gekry het.

      Haar oë was baie groot toe sy hom beteuterd in die deur sien staan. “Nee . . .” het sy begin praat, maar die volgende kontraksie het haar woorde in ’n gil verander. Hy het by haar kop gaan staan en sy hand uitgehou toe sy na hom gryp. Vir verduidelikings was daar nie tyd nie. Die dokter en suster het simpatiek maar ferm bevele gegee en dit was onmoontlik om almal se aandag te kry en hulle in kennis te stel dat hy nóg eggenoot nóg vader was en eintlik by sy eie huis sou wou wees.

      Minute later het die dokter aangekondig dat dit ’n seun was. Greta se mooi oë het vol trane geword.

      “Het jy gehoor?” het sy gevra en die nat bondeltjie teen haar gesig gedruk.

      Hy het net geknik, te oorweldig deur die oomblik om iets te sê. Toe hy later huis toe ry, was hy verstom om op sy horlosie te sien dat dit byna middernag was. Dit het vir hom gevoel asof die hele drama nie langer as tien of twaalf minute geduur het nie. Sy ritme was versteur; sy normale koel, berekende gedagtegang was chaoties en onsamehangend. Hy was vyf en veertig jaar oud en nooit getroud nie. Hy was ’n terughoudende mens, bang om betrokke te raak, meer tuis met syfers as met mense. Hy het teësinnig by ’n meisie ingeloop met geen ander doel as om ’n embarrasserende situasie so gou moontlik afgehandel te kry nie. In plaas daarvan het hy intiemer betrokke geraak by haar lewe as by sy beste vriend s’n.

      By sy huis aangekom, het hy reguit na die telefoon geloop en Paul se nommer geskakel.

      “Ja . . .?” het Paul gesê.

      “Het jy al geslaap?”

      “Nie eintlik nie . . .” (Sy liefdeslewe het ooreenkomste getoon met Peter s’n, seker dié dat hy so simpatiek was.)

      “Ek wou jou net vertel dat ek Greta gaan spreek het.”

      “Greta?” het Paul gevra. “Nie juffrou Knowles nie?” Sy stem was vol stoute insinuasies.

      “Ek moes haar hospitaal toe neem en het by haar gebly tydens die geboorte. Dis waar ek nou vandaan kom. Dis ’n seun.”

      Daar was ’n lang stilte en toe ’n tikgeluid.

      “Hallo?” het Eduard geroep.

      “Kan jy herhaal wat jy nou net gesê het?” het Paul gevra. Sy stem het nou wakker geklink.

      “Jy’t my gehoor.”

      “Jy was by?”

      “Ek het geen keuse gehad nie.”

      Nog ’n lang stilte. “Wel . . .” het Paul gesê. “Veels geluk.”

      “Ek praat weer môre met jou,” het Eduard gesê, die gehoorstuk neergegooi en soos ’n dooie in die bed geval.

      En toe, op ’n dag, net so, uit die blou lug (by wyse van spreke – in werklikheid het dit gelyk na reën) was Peter weer daar. Dit was my etensuur en vir ’n wonder het ek gevoel na rondloop, miskien omdat die wolke ’n sekere beweeglikheid aangemoedig het ná ’n baie warm paar weke.

      Hy het op die marmerrand van die binnenshuise plantbak gesit, so ’n paar meter van die hysbakdeur af. Ek het hom eerste gesien en ’n paar sekondes net na hom gestaan en kyk. Hy het donkerder gelyk. En hariger. Sy kop was vantevore ook donker, maar het ’n verbleikte skynsel gehad, seker as gevolg van die son. Nou was dit swart en nogal lank in sy nek. Ten spyte van die koeler weer het hy ’n donkerblou oopnekhemp aangehad en sy borshare het teen sy nekkuiltjie uitgekruip. (Wyle Peter van Greta was blond.)

      Hy het opgekyk, sy oë ’n slag geknip en opgestaan. “Iris,” het hy gesê.

      “Middag.” Ek het om my rondgekyk na die bewegende mense wat deur die winkelkompleks gestroom het. “Wag jy vir iemand?”

      “Nee.” Hy het ’n skouersak by hom gehad, die soort met ’n lugredery se naam en leuse daarop. “Waarheen is jy op pad?”

      “Nêrens. Dis etenstyd, maar . . .”

      Hy het my aan die elmboog gevat en saam met hom geneem na die Italiaanse restaurant net ’n ent verder. Die helfte van die tafels was binne en die res buite in ’n afgekampte gedeelte wat versier was met plastiekklimranke.

      “Ek wil nie buite sit nie,” het ek gesê. “Die mense kyk wat ek eet as ek hier sit.”

      Binne het ons in die hoek gaan sit. Dit was leeg; die ander eters het kennelik nie omgegee om na gestaar te word nie en het die buitenste tafeltjies vol gesit.

      “Wat het van Amerika geword?” het ek gevra.

      “Dis nog daar.”

      “En jy?”

      “Ek is drie weke hier.”

      “O.” Ek het die spyskaart bekyk. Twintig soorte pizzas, die standaardversameling pastageregte en omelette. “Hoekom?”

      “My