voor ek tevrede was met die ligging van haar badkamer en kon voortgaan met die choreografie van haar en Eduard se bewegings. Ek was baie gesteld op korrektheid. Die wette van die werklikheid moes gehoorsaam word. Koffietafels moes nie in die pad wees wanneer daar skielik beweeg moes word nie, gordyne moes net genoeg lig inlaat, telefone mag nie op ongeleë oomblikke gelui het nie. As Greta klouend aan die muur uit die badkamer kom en hees aankondig: “Ek dink dit het begin,” moet iemand die ligte afskakel en die koffiemasjien ook. Ek wou nie dat die woonstel afbrand terwyl my drama hom ontvou nie.
Ek kon nie vir ’n meer ideale werk gewens het nie. Ek was nie afgesonder nie, daar was altyd genoeg mense om mee te klets. Kinders het die minste vrees gehad en het gesellig op die mat gesit en teken op papier wat ek vir hulle gegee het. Ek het die plante gehad om na om te sien, die rekeninge en indekskaarte vir intellektuele stimulasie en die tandartsstoel om in te lê tydens my etensuur.
Pa het elke aand ’n nuwe opmerking gemaak oor my werk, almal variasies op die tema van: spoeg afvee, of: hiervoor het ek jou op universiteit gehou. Soos Polder se vlooie, was dit hinderlik, maar iets waaraan ’n mens wel mettertyd gewoond raak.
“Objekteer dokter Anders nie teen jou kloosterrokke nie?” het Kara my gevra.
“Jy’s ’n mooi een om te praat. Buitendien, ek dra ’n wit oorjas.”
Ek het gehou van my voorkoms. Ná jare waarin ek my hare probeer krul het, het ek dit nou in ’n loodregte lyn vyf sentimeter onder my ore laat knip. Johanna het dit sommer vir my gedoen met Ma se naaldwerkskêr, want haarkappers wou altyd begin stileer en “kom ons probeer dit só”. In die winter het ek swart kouse en plat toerygskoene gedra. My “kloosterrokke” was almal grys of swart.
“Jy lyk so druipstert,” was Elsa se kommentaar. “Asof jy ’n vlugteling is.” Sy self, met ’n jaar oue kind op die heup, was so netjies soos altyd. Haar voorgeboortelike figuur was terug waar dit moes wees, danksy harde oefening en my ou geroeste fiets. Sy het weer begin skoolhou omdat hulle ’n huis wou koop en die kind is soggens by Ma en Johanna afgelaai.
“Nog ’n kind om te leer,” het Johanna by my gekla. “Van bleddie voor af. Hoe om te eet en sy broek vas te maak.”
“Dis darem iets nuuts. Ons was almal dogtertjies.”
“Selle ou storie.” Sy het die kind aan sy voet gegryp toe hy verbete in die rigting van die stoeptrappies begin waggel. “Ek dink dis tyd dat ek aanmaak.”
Dit was ook ’n ou refrein. Elke paar jaar het sy besluit ons waardeer nie haar gawes nie, dis tyd dat sy loop.
“Jy sal tog nie, dis vir jou te lekker hier by ons.”
“Ek sal! Om rond te trek, is in my bloed. Die gesittery op een plek is nie vir my nie. Ek aard na my voorvaders.”
“Watter een?” Afhangende van haar bui was almal van Dingaan tot ’n televisieheld haar voorvaders.
“My oupa,” het sy waardig gesê. “Die seevaarder.”
“’n Matroos?”
“Darie hare van jou lyk sleg,” het sy teruggekap. “Natuurlik was hy nie ’n matroos nie. ’n Groot man met ’n rooi baard.”
“Rooi? Is dit waar Elsa se rooi hare vandaan kom?”
“Loop,” het sy vir my gesê. “Jy’t g’n respek vir my voorsate nie.”
“Hulle fassineer my. Dis net dat daar soveel van hulle is.” Sy het klein Johan opgetel en met hom kombuis toe gestap. Polder is stertswaaiend saam. Hy het vinnig geleer dat oorskietkos mildelik oor die vloer gesaai word wanneer die baba eet.
Vir Peter het ek nie weer gesien nie. By Paula het ek gehoor hy werk in Amerika. Sy het nie geweet ons ken mekaar nie en het bloot ’n handvol inligting in my skoot gegooi (soos dat sy gaan trou) onbewus daarvan dat die een brokkie uitgeval en by my bly lê het.
’n Paar maande later het ek ’n poskaart van hom gekry. ’n Mooi foto van ’n onnatuurlike blou waterval met ’n beer langsaan. Ek is baie besig, het hy agterop geskryf. Ek werk hard daaraan om jou te vergeet.
Dit kon nie te moeilik gewees het nie; daar was min om te onthou.
Dokter Anders was besig om van sy vrou te skei. Dit het hy my vertel toe ons een oggend hospitaal toe moes ry om ’n pasiënt te gaan sien wat in ’n motorongeluk haar voortande verloor het. Oor die telefoon was sy histeries en het hom gebied om dadelik te kom en afdrukke te maak van haar gebit sodat die saak reggestel kon word. Ek moes saam as handlanger en terwyl ons deur die verkeer gesukkel het, het dokter Anders my van sy vrou vertel.
“Sy praat met my wanneer sy gesigroom in haar mond het,” het hy gesê. “Ek stik vir haar part.”
Ek het net geknik. (Was dit rede vir ’n egskeiding?)
“Sy trek poppe aan,” het hy voortgegaan. “Toe ek nog studeer het, het sy lampkappe oorgetrek. Lelike lampkappe. Nou’s dit poppe. Die hele huis lê vol kaal skedeltjies en pruike. Laaie vol handjies en voetjies.”
“Maak sy dit self?”
Hy het ongelukkig gelyk. “Gelukkig het ons nie kinders nie.”
“Dit verklaar die poppe,” het ek slim gesê.
“Sy was ’n pasiënt van my,” het hy bygevoeg. “Sy’t vir my gevra waarheen gaan die speeksel.”
“Watter speeksel?”
“Wat ek uit haar mond suig. Sy het gedink dit word opgegaar in ’n pot en moet deur my assistent leeggemaak word.”
Ek het hoendervleis gekry en oor my arm gevryf. “Wat ’n afskuwelike gedagte!”
“Maar oorspronklik.”
“Miskien.”
“Nou’t ons niks meer vir mekaar te sê nie.”
Die res van die pad het ek gesit en dink oor die huwelik en gewonder waarom die bevolking van die wêreld so ’n behoefte het om twee-twee af te paar. Elsa en Hannes het mekaar “Mammie” en “Pappie” genoem en teen Hannes se agterkop het die vel begin deurskyn. Paula het meer aandag aan haar trourok gegee as aan haar aanstaande. Johanna was bang vir “darie ding” en Ma en Pa het in gemoedelike onbegrip saamgeleef. Die familie het Kara begin aanhits om tot trou te kom met opmerkings soos: “Ons word geeneen jonger nie,” of “Jy kan nie dat jou klein sussie jou voorspring nie.” En dokter Anders se vrou het gepraat met ’n mond vol gesigroom.
Ek was bly toe ons by die hospitaal kom en aan die werk kon spring. Die tandelose mevrou Rademeyer se man het langs haar bed gestaan en wroeg terwyl ons die rubberpap aanmaak om die afdruk te neem.
“Ek hoop die assuransie gaan betaal,” het sy gemompel en haar lippe styf op mekaar gehou.
“Hulle sal vir die motor betaal, my hart,” het hy gesê.
“Ha!” Vir ’n oomblik het ons haar tandvleis gesien. “Wie gee om vir ’n gebreekte voorruit?”
“Daarsonder kan jy nie ry nie,” het hy miserabel gesê. Ek kon sien wie sy voorkeur geniet.
“Sonder tande kan ek nie leef nie,” het sy gesê voor ons die vorm ingeskuif en haar kake op mekaar geklamp het.
“Het u vrou haar veiligheidsgordel vas gehad?” het ek die man gevra terwyl ons wag vir die rubber om hard te word.
“H’m,” het sy kwaad probeer praat en haar oë heen en weer gerol.
“Nee,” het haar man vertaal.
“Dit sou die skade voorkom het,” het dokter Anders gesê.
“Die voorruit kon nog heel gewees het,” het haar man saamgestem.
Die vrou was gelukkig gewees, het ek gevoel. Haar oë was potblou geswel en daar was twee snye wat met gaasdoek toegemaak was, maar andersins was sy eintlik ongeskend. Behalwe nou die tande, natuurlik.
“Meneer