sê nie. Julle hoef julle nie oor my te bekommer nie.”
“Dit was Peter se laaste wens.”
“Hoe weet jy dit?” het sy gevra en gelag. “Julle prokureur het my die brief gewys, daar’s geen datum op nie.”
“Maar sy voornemens is nie te betwyfel nie.”
Sy het gesug en die deur wyer oopgemaak. “Kom binne. Ek is nie lus vir baklei nie.” Sy het voor hom uitgeloop na die oop kombuis. “Kan ek vir jou koffie skink?”
Hy het wantrouig na die koffiemasjien geloer, op sy hoede vir die oorredingskrag daarvan. “Ja dankie.”
Sy het in ’n harde, regop stoel gaan sit ná sy vir hulle geskink het. “Ek het heeldag al die verskriklikste rugpyn,” het sy bely. “Weet nie waarvan nie. Ek het tog nie swaar meubels rondgestoot nie.”
Hy het opgemerk dat sy mooi bene het. (Mooier as myne, vanselfsprekend.) En hy moes toegee dat sy wonderlike koffie maak. “Ek het gedink ’n trustfonds sou die beste wees,” het hy abrup gesê. “Vir die kind. Sy skoling, studies, mediese uitgawes. Dis die minste wat ons kan doen.”
Hy was gefassineer deur haar. Ten spyte van wat Paul gesê het, het hy ’n blonde sekspot verwag, ’n skattejagter met gebleikte hare waarvan die wortels roeterig deurskyn, besmeer van maskara en druipend van selfbejammering. Hy het haar begin uitvra oor haar werk en lewe en hoe verder hulle gesels het, hoe meer het hy gevoel dat dit sy fondament was wat aan die wankel was, nie hare nie. Van tyd tot tyd het sy haar lyf gerek en gefrons.
“Ek weet nie waarom my rug so seer is nie,” het sy gesê. “Dit grief my.”
“Miskien moet jy jou dokter bel?”
“Vir wat? Dis seker maar ’n simptoom van my toestand.”
Hy het al sy tweede koppie koffie klaar gehad en het begin voel as hy nie nou loop nie, sal hy dit nooit doen nie. “As ek my prokureur vra om die nodige te doen, sal jy so ’n trustfonds aanvaar?”
“Ja,” het sy onbelangstellend geantwoord. “Doen maar waarvoor julle lus is. Sal jy my ’n oomblik verskoon?” Sy het opgestaan en na die badkamer geloop. Alleen gelaat, het hy hard probeer om nie onchristelike gedagtes oor sy broer te dink nie. Hoe kon Peter ’n meisie soos sy so misbruik?
“Ek raak nie weer aan jou nie,” het Peter my ingelig toe ons bibberend in die donker langs die swembad sit. Hy het sy teddiebeerhanddoek om sy onderlyf gedraai en op die klipbank langs die braaivleisplek gesit.
Ek het my besig gehou met die organisering van my ontoereikende handdoek. As ek dit laag genoeg afgetrek het dat daar lap tussen my sitvlak en die klip was, het my bolyf ontbloot gelê in die klimmende maanlig. Ná ’n ruk het ek dit oopgelos; hy het my tog al gesien en ek was banger vir Johanna se dreigement dat ek aambeie sal kry as ek op koue klip sit. Ek het teruggeskuif teen die bank sodat my rug teen die muurtjie rus en ek my bene lankuit oor die bank kan uitstrek.
“Hoekom nie?” het ek gevra. (Nie dat ek regtig omgegee het nie; hy was per slot van rekening Peter en nie Eduard nie.)
Hy het sy kop geskud. “Omdat ek nie weet hoe jou kop werk nie.” Hy het na my gekyk en vinnig weer weggekyk. “Wil jy nie jou rok aantrek nie?”
“Nee. Ek’s nog nat.” Die oppervlakkige koudheid wat die water veroorsaak het, was aan die verdwyn; die hitte uit die tuin het my vel styf en dor laat voel.
Met die punt van sy handdoek het hy my tone begin afdroog, asof dit sou help. “Sal jou ouers nie wonder waar ons bly nie?”
“Nee.”
“Nee,” het hy saamgestem.
“Wat impliseer jy nou?”
“My ma sou al lankal oor die muur gehang het om uit te vind wat ons alleen hier in die donker doen.”
“My ma loop nie en tob oor ons sedes nie,” het ek hom vertel. “Sy tob oor ander goed.”
“Ja,” het hy gesug. “Ek het so agtergekom.” Hy het my tone gelos en oor die swembad uitgestaar. Die rimpelinge wat ons geswem veroorsaak het, het lankal bedaar, maar ons het albei gewip toe die drywende suierpyp skielik ’n ruk gee en gorrelend begin filtreer. Dit het gelyk na ’n dier wat slurpend oor die swembadbodem soek.
“Wat gaan jy volgende jaar doen?” het hy gevra.
Ek het hom vertel.
“Is jy ernstig?” het hy gevra.
“Ja.”
“Wat ’n vermorsing.”
“Van wat?”
“Jou talent.”
“Hoe weet jy wat my talent is?”
Hy het weer na my gekyk. Die maanlig was helderder en het sy gesig na ’n masker laat lyk waarvan die twee oë donker uitgehol was. “Ek wens jy wil aantrek.”
Ek het afgebuk en ’n hand vol frangipanibloeisels opgetel. Ek het dit omgekeer dat dit soos kappies lyk en een oor elke bors gehang. Dit was nie moeilik nie, daar was nie soveel om te bedek nie, maar ek moes tog terugleun omdat die bloeisels aanhou afval het.
“Daar,” het ek vir hom gesê. “Is dit beter?”
Hy het opgespring, sy klere bymekaargeraap en begin aantrek. “Jy moet gaan swot,” het hy met sy rug na my gesê.
Ek het die blomme afgeskud en ook aangetrek. “Ek dog jy’s so wêreldwys,” het ek vir hom gesê.
“Ek?” het hy gesmoord gevra. “Ek?”
Hy het my oor die muur gehelp en is sonder om te groet reguit na sy motor. Polder, wat heeltyd aan ons kant van die muur op my gesit en wag het, het bly aan my bene gelek en voor my uit gehuppel.
“Is hy weg, darling?” het Ma gevra toe ek inkom. Sy het by die eetkamertafel gesit en skuif aan die stukkies lap van haar laslappieskombers. So lank as ek haar ken, werk sy al aan die ding.
“Ja. Hy’t gevra ek moet dankie sê vir die ete.” Dit was ’n leuen, hy het hoegenaamd niks gesê nie, maar ek het gevoel ek behoort dit te noem.
Sy het oor haar leesbril na my geloer. “’n Mooi man. Hy sal pragtige babas . . .”
“Pragtige babas wat?”
Sy het die lappies rondgeskuif en in die proses ’n paar van die tafel laat afval. Ek het gebuk om dit op te tel.
“Maak,” het sy gesê.
“Waarom sê Ma so?”
“Ek kyk na klein Johan.”
“En?” Ek het oor haar gebuig en ’n geel lappie weggevat waar sy dit tussen twee delikate pienkes wou insit.
“Die neus,” het sy gesê. “En die swaar kaak. Hannes is ’n liewe man, maar . . .”
Ek is vinnig weg na die normaliteit van my wagtende studieboeke.
Dokter Anders was ’n presiese man. Die boeke op sy boekrak was volgens grootte gerangskik en, waar moontlik, volgens kleur. Dit het die rakke skeef laat lyk, asof dit enige oomblik na regs kon omkantel. Nie al die boeke was van tandheelkundige aard nie. Daar was woordeboeke en diverse glansfotoboeke oor sulke uiteenlopende temas as Inka-kuns en moderne boerderymetodes in Hongarye. Ek het afgelei dit was geskenke van dankbare pasiënte. Die onderste twee rakke was vol sagtebandboeke, blitsverkopers, almal dieselfde grootte. Ek het geweet dit grief hom. Dit het die skewe simmetrie van die boonste gegradeerde rakke versteur.
Die meubels in die wagkamer en in sy privaat kantoor was swaar en solied, gemaak om meer as een generasie te dien. Outyds, eintlik. Hy het kennelik nie geglo in die moderne opvatting dat ’n wagkamer lig, vrolik en opbeurend moet wees nie. Sy meubels het ontsag ingeboesem. Vrees ook. Pasiënte het verkommerd na die swaar buffettafel gekyk met sy baie laaie en blink spieëls. “Dis waar hy die tange bêre,” kon ek hulle hoor dink.
Maar