Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

nie die eerste Iris wat ek ontmoet nie.”

      Ek moes op my lip byt om nie by te voeg: en jy ook nie die eerste Peter nie.

      “Mag ek maar hier by jou sit?” het hy gevra.

      Ek het om my rondgekyk. Behalwe die stoel waarop ek gesit het, was daar net ’n klein lamptafeltjie wat nie stewig genoeg gelyk het nie. “Waar?” het ek gevra.

      “In my woonstel?”

      Ek het my glas neergesit. “Waar is jou woonstel?”

      “So ’n ent met die gang af.”

      “In hierdie gebou?”

      Hy het geknik.

      “Wat van jou vriendin?”

      Hy het gegrinnik. “Watter een?” Hy het sy kop geskud asof hy die ligsinnigheid van hom wou afskud. “Ek het alleen gekom. Wat van jou?”

      “Ook.”

      “Waarvoor wag ons?” het hy gevra en my aan die hand regop getrek.

      Ek is saam met hom na sy woonstel.

      Voor ek die aand uit is, het Johanna by my in die kamer kom staan en gekyk hoe ek my hare borsel.

      “Jy sal iets moet doen met darie hare,” het sy krities gesê. Haar eie hare was in rooi en blou krullers omdat sy amptelik van diens af was.

      “Wat makeer my hare?” het ek gevra.

      “Dis pap.”

      “Net omdat jou eie hare krullerig is,” het ek gesê. “Vertel my liewers hoe dit gaan by Elsa-hulle.”

      Johanna was relatief jonk toe sy by ons begin werk het en ek dink sy het vinnig besef sy is onmisbaar. Sy het Ma leer kook (op ’n manier) sodat ons darem kan eet as sy die dag nie daar is nie, sy het ons ons hare leer vleg ná Ma Elsa op ’n dag skool toe gestuur het met drie vlegsels, sy het al die sleutels in die huis bymekaargemaak en in ’n bak by die voordeur gesit sodat die eindelose gesoek na motor- en huissleutels ’n einde kan kry. Waar sy vandaan gekom het, het sy ons nooit regtig vertel nie. Dit het probleme veroorsaak in die dae toe sy nog ’n pas moes dra, maar Ma se vaagheid wanneer sy Johanna moes registreer, het die owerhede so gefrustreer dat hulle nooit stappe gedoen het nie.

      “Sy’s my niggie,” het sy op ’n keer vir die man gesê.

      Al wat Johanna ons vertel het, was dat haar pa swart was en haar ma bruin. Sy self was lig van vel met pragtige, sterk swart hare wat sy om die beurt met Vaseline platgedruk of met rollers opgepof het, afhangende van haar bui of etniese identifikasie. Van trou wou sy niks weet nie.

      “Dankie vir my,” het sy gesê. “Ek ken darie ding.”

      “Watse ding?” het ons stout gevra.

      Sy het die vadoek in ons rigting geklap en die onderwerp verander deur te vra wie se vuil wit sokkie dit is wat sy onder die platespeler opgetel het. Die tsotsi’s het haar bygekom toe sy nog jonk was, het Elsa my later eendag vertel. Blykbaar het sy dit by Johanna gehoor.

      “Elsa is vrek dom,” het sy my nou geantwoord.

      “Sy is nie,” het ek lojaal geantwoord. “Sy’s vrek slim.”

      “Dom met bybies.”

      Met twee kinders uit die huis het Ma begin voel Johanna is verveeld en ná ’n paniekerige oproep van Elsa, twee dae ná sy met die baba by die huis gekom het, het Ma Johanna soontoe geneem en gevra sy moet help.

      “Natuurlik is sy dom met ’n baba. Dis haar eerste.”

      Johanna het gesnork. “Sy sit vir hom en kyk of hy gaan ontplof.”

      Ek moes haar kortknip, dit was tyd om te ry. “Maar jy help haar darem?”

      “Natuurlik!”

      “En ek moet ry.”

      “Waar’s jou boyfriend?”

      “Jy weet ek het nie een nie.”

      Sy het haar oë opgeslaan dat ek net twee wit sirkels in haar bruin gesig kon sien. “Keer my as ek dit verkeerd het,” het sy teatraal aangekondig. “Jy gaat alleen na die paartie?”

      “Ja.”

      “Wat het van die Riekie-man geword?”

      Ek het my tjalie om my skouers geknoop. (Ek was daarin toegedraai toe ek gedoop is en was verknog aan die ding.) “Herder, Johanna, ek het hom twee jaar laas gesien.”

      “Dan’s dit hoog tyd jy kry ’n ander een.”

      Profetiese woorde.

      Toe ek ná die partytjie deur die donker, besadigde strate huis toe ry, het ek my verwonder dat ek my maagdelikheid so vinnig, so maklik en so ondeurdag aan Peter afgegee het. En dit bloot omdat sy fisionomie en naam my aan iemand anders herinner het.

      Ek het byna die posbus op die hoek naby ons huis omgery, so ingedagte was ek.

      My pa het my leer bestuur. Oorspronklik. Sy bevele het bestaan uit ’n kortaf: “Nee, só,” of ’n nog korter: “Oppas!” Ná ek die motor in trurat gesit het sonder om eers die koppelaar te trap, het hy ’n bestuurskool gebel en vir my ’n afspraak gemaak.

      Ek moes my instrukteur in die middestad ontmoet en toe ek by hom kom, het hy reeds gaperig in die motor gesit en wag.

      “Kan jy bestuur?” het hy my gevra ná ons gegroet het.

      “Nee.”

      “Klim in,” het hy beduie. Hy het reeds in die passasiersitplek gesit, dus het ek geen ander keuse gehad nie, ek moes agter die stuurwiel inskuif.

      “Ek kan nie in die stad ry nie,” het ek gesê. Ma se verskoning.

      Hy het met groter oorgawe gegaap, ’n koerant oopgeslaan, sy voete teen die paneelbord vasgeskop en gesê: “Ry.”

      Luigat, het ek gedink, en die motor aangeskakel. Dit was ’n kleinerige motortjie en hy het net drie keer gespring voor hy teen die geparkeerde motor voor ons uitgeklim het.

      Ek het langs die motor in die warm son gestaan en wag vir die polisieman om klaar te praat en al sy dinge neer te skryf. Om die tyd te verwyl, het ek gekyk na die duiwe wat nes gemaak het agter ’n neonbord wat die bestuurskool geadverteer het.

      “Sy’t dit ekspris gedoen!” het die instrukteur beduie. Sy gesig was rooi en opgeblaas.

      “Hy’t gesit en koerant lees,” het ek vertel. “Dit was my eerste les.”

      Ná ’n halfuur het die polisieman begin lyk soos die man in die paskantoor nadat my ma met hom gepraat het. Ek is huis toe en met my volgende les het ek ’n nuwe instrukteur gehad.

      Fantasie en werklikheid het nie in Peter se woonstel oorvleuel nie. Wanneer ek alleen was, het ek my storie poleer en al my karakters se motiewe verfyn, maar gekonfronteer met werklike geure en klanke en aanraking het my fantasieë verdwyn.

      Peter was werklikheid. Hy het hare op sy bors, voorarms en bene gehad. Sy asem het soet geruik, na wyn. Hy het my ernstig ontklee asof ek ’n ou manuskrip was wat hy by ’n antikwaar opgetel het, asof my vergeelde tjalie sou verbrokkel as hy dit rof hanteer.

      Ná die tyd het hy nie omgedraai en aan die slaap geraak soos wat ek verwag het nie. Hy het op sy elmboog geleun en fronsend na my gekyk.

      “Was dit lekker?” het hy gevra.

      “Nogal.” Ek het gegaap, want ek het ’n glas wyn saam met hom gedrink omdat ek nie aanstoot wou gee nie.

      “Nogal?”

      “Ja.”

      “Jy bedoel dit was al beter gewees?”

      “Nee. Dit was die eerste keer.”

      Hy het regop gesit. “Die eerste keer?”

      “Ja.”