jy jou romantiese spanning?
Ná ’n week of twee van tob, het ek die storie begin aan die einde van die swangerskap. Daar was hierdie man, sien, ’n oujongkêrel, ryk genoeg en aantreklik, ’n Eduard eintlik. Hy het nie vreeslik in meisies belanggestel nie, maar sy jonger broer het. Sy naam was Peter. (My karakters het altyd Engelse of buitelandse name gehad en die verhaal het ook êrens anders afgespeel. Selfs my vrugbare verbeelding kon nie romanties raak onder Suid-Afrika se bakkende son en interne probleme nie.) Ek, of liewers: sy, was nie een van Peter se meisies nie, sy was bloot ’n goeie vriendin. Die meisie by wie hy sy hart kon kom uitpraat. ’n Maat. Maar op ’n gegewe aand kom hy by haar aan, baie laat. Hy het te veel gedrink, kan sy dadelik sien toe sy eers wakker is. (Sy het al geslaap.)
“Wat makeer?” vra sy en begin koffie maak.
Hy trek sy das los en val op haar bed neer. Terwyl hy haar vertel hoe sy meisie hom teleurgestel het en hoe alles die afgelope weke met hom verkeerd gaan, moet ek miskien ’n bietjie agtergrond inskets.
Sy bly alleen in ’n ateljee-tipe woonstel. Basies net een baie groot vertrek met ’n badkamer êrens op die agtergrond. Wat sy doen, weet ek nie. Iets vaags soos ’n proefleser, in elk geval iets wat sy by die huis kan doen. Miskien was sy selfs ’n skryfster. (Sy was my alter ego en ek was altyd besig om stories te versin.) Ek wou nie tyd mors met wonder waar haar geld vandaan kom en hoe sy dit regkry om brood en melk te koop nie. Feit bly, sy het geld gehad, miskien van ’n ryk oom geërf.
Aangesien ek nie te veel tyd wou mors met hierdie deel van die verhaal nie, het ek ook nooit Peter se treurmare in besonderhede uitgewerk nie. Greta (dit was haar naam, ver verwyder van Iris) het hom koffie gegee en later langs hom gaan lê om hom te troos. Sy was per slot van rekening sy beste vriendin, die een op wie se skouer hy altyd kom huil het. Daarby was sy deur die slaap en dus nie so helderdenkend soos sy moes gewees het nie. Hoe dit ook al sy, hulle bring die nag in mekaar se arms deur en toe sy die volgende oggend wakker word, is hy weg. Hy stuur vir haar ’n bos rose met ’n kaartjie by waarin hy om verskoning vra vir sy swak gedrag van die vorige nag. Hy hoop nie hy het haar in die verleentheid gestel of hulle vriendskap bederf nie.
Sy voel verleë oor haar eie swakheid, maar aan die ander kant is sy ’n moderne, geëmansipeerde jong vrou en mors nie te veel tyd met verwyte oor iets wat nie meer verhelp kan word nie. Peter kom loer nog van tyd tot tyd in en hulle is albei bly om te sien hulle vriendskap is so sterk soos altyd. Hy vertel haar ook dat hy ’n paar maande Amerika toe gaan, op aandrang van sy broer, sodat hy een of ander kursus kan bywoon. (Hy moes van die toneel verdwyn sodat ek die ellelange nege maande kon verbykry.) Hy is ’n vennoot in sy broer se sakeonderneming, maar sy broer is nie gelukkig met sy bydrae nie. Hy is te veel van ’n losbol en rokjagter.
Maar op ’n dag klop hy weer aan haar deur, die ene vrolikheid en baie bly om terug te wees. En hy skrik toe hy haar sien, want sy is onteenseglik swanger.
“Greta!” sê hy. “Hoe het dit . . . wie het . . .?”
“Dis wat gebeur as ’n mens jou vriende probeer troos,” sê sy kalm.
Hy word bleek. “Jy bedoel dis ek?”
Sy lag. “Ek gaan jou nie lawe nie, Peter. Sit. Dis net soveel my skuld as joune, die enigste verskil is dat ek dit nou al gewoond is. Moenie so verskrik lyk nie, ek gee regtig nie om nie. Jy weet ek stel nie daarin belang om te trou nie, maar ek het nog altyd gedink dit sal lekker wees om ’n baba te hê.” (Die dialoog het met elke borduurslag verander, maar dit was by benadering wat sy gesê het.) Sy was nie ontsteld nie en het hom verseker sy gaan nie ’n geweerloop in sy nek druk en hom preekstoel toe sleep nie. Alles was onder beheer, sy was gesond en voorbereid.
Haar kalmte het geen effek op hom gehad nie. Hy was baie ontsteld. Sy het gewens sy vyande kon hom sien, al die mense wat altyd gesê het hy het geen gewete nie. Hy was eerbaar, konvensioneel en vasbeslote om die “regte ding” te doen. (Ek kon hom nie ’n onsimpatieke karakter maak nie. Al was hy nie die held nie, het dit nie beteken hy is ’n skobbejak nie. Ek – en by implikasie Greta – heul nie met slegte karakters nie.) “Laat my toe om iets te doen,” het hy gesmeek.
Sy moes hom omtrent by die deur uitstoot. “Ek het niks nodig nie, Peter. Dis nie nodig om skuldig te voel nie. Wat gebeur het, het gebeur. Ek het dit aanvaar, jy sal ook maar moet.”
Of hy dit ooit aanvaar het, sou sy nooit weet nie. Hy is ’n paar dae later in ’n motorongeluk dood. (Wel, ek moes hom van die toneel af kry, moes ek nie? En ’n motorongeluk is ’n truuk wat al deur baie skrywers of vertellers gebruik is.)
Dus, exit Peter en die aksie verskuif na die kantoor van sy broer Eduard. Dis ’n paar weke later; die nege maande is amper verby. Eduard se regsman en goeie vriend, Paul, het ’n afspraak gemaak om hom te kom spreek en in sy hand het hy ’n brief. Dit het saam met al Peter se papiere by Paul beland, wat as eksekuteur van die boedel sou optree.
“Waarmee kan ek jou help?” vra Eduard.
“Lees hierdie brief.”
Die greep uit die verhaal, wat ek nou so vinnig vertel, het in werklikheid maande geduur. Ek kon soms vashaak op die onbenulligste punte, soos: wat het Greta gedra toe Eduard haar die eerste keer sien? Hoe was haar hare gekam? Watse soort koffie het sy vir Peter gemaak toe hy so laat in die nag daar aankom? As dit sterk filterkoffie was, was die daaropvolgende gebeure haar eie skuld, want hulle sou wawyd wakker gewees het. Presies waar het die bed gestaan in verhouding tot die res van die meubels? Waar en hoe het sy Peter die eerste keer ontmoet aangesien sy ’n stil, introspektiewe lewe gelei het en nie gemeng het met stralerjakkers nie? Het haar fisieke eienskappe ooreengestem met myne of was sy langer, beter gebou, mooier?
Om sake verder te kompliseer, het twee dinge gebeur. Elsa se seun is gebore en ek het ’n man genaamd Peter ontmoet.
Die geboorte van Elsa se kind was ’n driebedryfdrama wat ek, Kara en ons ma tot in die fynste besonderhede moes aanhoor, keer op keer op keer. Hoe Hannes gesit en werk het aan die bibliografie van sy verhandeling toe sy die kamer ingesteier kom en aankondig: “Ek dink dis tyd.” Hoe hy deur sy hare gevee het sonder om op te kyk en “uh-huh” gesê het. Hoe sy dramaties moes kreun om sy aandag te kry. Die geskarrel deur die woonstel om die ligte afgeskakel te kry, haar reeds gepakte tas onder die bed uit te sleep en die motorsleutels te soek. Hoe die motor eers nie wou vat nie en toe so skielik vorentoe geskiet het dat sy byna deur die voorruit is. (Haar maag was te groot en die pyn op daardie oomblik te erg om nog te dink aan veiligheidsgordels vasmaak.) Die onnoembare dinge wat aan haar gedoen is toe hulle by die kraaminrigting aankom.
“Ug,” het Kara gesê. “Ek beter solank begin uitkyk vir ’n surrogaatma. Niemand gaan dit ooit aan my doen nie!”
Ma het haar hand gelig. “Dit klink erger as wat dit is, darling. Ek is drie keer daar deur en het dit oorleef.”
“Ma was seker nie so gesteld op persoonlike waardigheid soos ek nie,” het Kara gesê. Die hoek van haar mond het stywe, afkeurende plooitjies gemaak.
“Laat ek verder vertel,” het Elsa hulle vermaan. Sy het regop gesit teen hooggestapelde kussings en haar rooi hare was blinker as ooit vantevore. Ek het gewonder of dit met hormone te doen het en of sy bloot oordryf het toe sy die geboorte self beskryf het. In bioskoopprente het die vrou altyd rondgekrul op die bed en haar hare was ’n gemors; natgeswete stringe teen haar kopvel. Tensy ’n middernagtelike haarkapper Elsa se kop gewas en gekam het, lieg iemand. Maar ek het nietemin ’n aantekening gemaak van die glansende prag van haar hare sodat ek dit op Greta kon toepas wanneer die regte oomblik aanbreek.
“Dis grusaam,” het Kara gesê toe die vertelling eindelik verby was. “Ek verbaas my dat jy jouself sover kan bring om daaroor te praat.”
“Dit was die moeite werd,” het Elsa gesê en afgekyk na die bondeltjie wat langs haar in ’n bedjie op wiele gelê het. Hy was aan die slaap, maar vir my het hy kwaad gelyk, asof hy sy tante Kara se opmerking onderskryf.
“Besef jy ons is nou tantes?” het ek vir Kara gevra.
Sy het nie ingenome gelyk nie.
“En Ma is nou ouma,”